UITEINDELIK MYNE!

Middag uit Melkbos

Een van die foto’s wat bo die koppenent van Ouma se sterfbed gehang het, is van my vrou in haar fleurige jeug. Dis ‘n foto met ‘n geskiedenis.

Tokkie was ‘n eerstejaartjie aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege toe sy haar hare by Maison Costa (Francis) laat “doen”, ‘n swart moulose nommertjie aangetrek en na die ateljee van die latere burgemeesterspaar Oom Christo en Tannie Freda Groenewald van Christo’s in Maitlandstraat afgesit het vir ‘n fotosessie.

Dit was haar eerste jaar uit die huis uit en die foto was bedoel as ‘n verjaardaggeskenk aan haar verlangende moeder op haar 50ste verjaardag op 7 April. Amper 50 jaar het dit bokant Ouma se bed gehang: eers in Hertzogstraat en toe in Louisehof, Bultfontein; daarna in Genl. Van Schoorstraat, Bloemfontein, toe in daardie volgorde in O’Kulisstraat, Welgemoed, Penguin Place, Melkbosstrand, .SeaPark, Melkbos, en Groeneweidetehuis, Darling.

Al die jare het ek daardie foto van my vrou begeer. Al is die haarstyl ietwat ouderwets, is daardie skitter-glimlaggie tydloos. Oom Christo en Tannie Freda was boonop kunstenaars met die verfkwas. Hul inkleurwerk is so realisties dat jy in die versoeking kom om jou hand uit te steek en aan die beeltnis van die bloedjong meisie te vat.

Van daardie foto het ek in 1964 ‘n klein weergawetjie gekry nadat my en Tokkie se paaie een aand op ‘n partytjie romanties gekruis het. Wat van die foto’tjie geword het, kan ek tot haar wrewel nie verklaar nie. My wrewel is weer omdat ek nou moet hoor sulke foto’tjies is nogal wyd uitgedeel – as’t ware soos visitekaartjies (haar woord). Sy het die proefblad vir daardie doel sorgvuldig met n skêr opgeknip.

Enkele dae gelede, ná Ouma se dood op amper 99, het die foto my eiendom geword. Dit is hier in my studeerkamer voor my. Dit is ‘n plek waar ek baie tyd deurbring en lank onbelemmerd vir my mooi vrou kan sit en kyk, opnuut dankbaar verwonderd dat ek al die ander kandidate se hande in die as kon slaan. Miskien was dit omdat ek op ‘n rype 25 ouer was, en dalk meer wêreldwys, as die jong boertjies wat skoolkyse was, en die ambisieuse aspirant-onderwysers in hul tweede- en derde jaar wat as nuwe vryers Viljoen-tehuis se stoep vol spore getrap het.

Ek skat ek had ook Ouma gou aan my kant met my entoesiasme vir haar heerlike frikkadelle en boerpampoen (wat ek aanvanklik as salige soetpatats aangesien het). Dit is steun wat deurslaggewend moet gewees het het in ‘n gemeenskappie wat die vreemde koerantmanvryer se attensies aan “hul” dogter met heelwat agterdog bejeën het, het ek later agtergekom.

Maar die foto: dit is nog in die oorspronklike sier-raampie van destyds – ene met twee ogies en ‘n stuk draad agter sodat dit van die prentelys in Hertzogstraat se huis kon hang. Tokkie beweer sy het die opsie van ‘n staanraam verwerp omdat daar nie eintlik staanplek vir ‘n foto in hul huisie was nie. Stem nie saam nie. Wat van op haar klavier?

Nietemin, gehang het dit gehang, en omdat ek ‘n man is met respekte vir die geskiedenis en so moet dit in daardie hangraampie bly … al moet ek dan ‘n baksteen agter staanmaak om my spesiale foto van my spesiale vrou op ‘n spesiale strategiese plek ‘n nuwe tuiste te gee.
(hvd)

LYKWA WORD PAMPOEN

More uit Melkbos

Een Groot Ontnugtering bly oumense wat heengaan, genadiglik gespaar. Hul aardse bestaan kom ten einde sonder dat hulle ooit die verslaenheid sal ervaar het om te hoor hoe nikswerd hul kosbare “begrafnisboekies” in hul lewe van 70, 80 of 90 jaar geword het.

Ons het Sondag van ons eie Ouma Marietjie van Wyk, Tokkie se ma van amper 99, met ‘n aangrypende diens in die NG kerk Melkbos afskeid geneem. Francois Hanekom was die prediker. Hy het opnuut sy meesterskap bewys met ‘n gedenkrede vol deernis en humor, wat ‘n mens opgebeurd met dankbaarheid vervul dat so ‘n mens ook jou lewe aangeraak en verryk het.

Onder Ouma se hopie nagelate dokumentjies was haar doopseël, lidmaatskapsertifikaat, aanstellingsbrief as Sondagskoolonderwysereres wat in ‘n collage op ‘n skyfie op die skerm geflits is. Tussen die dokumente was ook ‘n ander flentertjie vergeelde papier … die eerste kwitansie op haar begrafnispolis, wat op 1 Augustus 1947 uitgeneem is. Foto hierbo.

Daardie eerste premie van drie sjielings (plus-minus 30 sent) het noodwendig oor die jare groter geword. Met hoeveel weet ek nie. Wat ek wel weet, is hoeveel gemoedsrus en tevredenheid haar opbetaalde polis my liewe skoonma besorg het. Die teenwoordigheid van die ondernemer se boekie in haar handsak – soos haar ID-boek en “radioliksens” – was ‘n stut waarmee sy, soos derduisende tydgenote, deur die lewe is.

Hul begrafnisse is betaal, het daardie garde goedgelowig geglo, en glo party steeds van harte. Party verwag selfs dat ná alles nog ‘n neseiertjie sal oorbly wat onder die kleinkinders uitgedeel kan word!

Uiteindelik , 65 jaar later, was Ouma se polis ‘n skamele R869 werd – die prys van ‘n goeie kisruiker.

Polisiehouers kry darem boonop ‘n korting van R2 000 op die totale koste van die begrafnis. Soos ek ondernemers se ingewikkelde tariefstruktuur nou leer ken het, beteken dit dat naasbestaandes hulle maar moet klaarmaak om van R5 000 af (heel basies) tot tienduisende meer uit eie sak op te dok. Dit sluit nie die koste vir die graf of nis in nie.

Ek pen hierdie neer in die grootste deernis, en hoegenaamd nie met ‘n beswaarde gemoed nie. Verstaan tog mooi. Seker maar min mense se harte sal so verhard wees dat hulle oor begrafniskoste van ‘n geliefde sal skeef opkyk of kla.

My tema is maar net dit: dat ‘n mens – veral ‘n oumens uit ons era – met min dinge so “vir ‘n raaid gevat” is as met hul begrafnispolisse, en die vae beloftes waarmee hulle hulle lewenslank laat troos het. Soos Aspoestertjie se koets, het hul lykwaens as’t ware ook pampoene geword!
(hvd)

VRIEND VAN DIE MONUMENT

Blik op die Monument uit die lowerryke gedenktuin

Uit Melkbos

Hoeveel Suid-Afrikaners was onlangs by die Taj Mahal maar lanklaas, indien ooit, by die Voortrekkermonument?

Om Monumentkoppie, buite Pretoria, het ek ook lank – te lank – verbygery. Enkele jare gelede het ek op die ingewing van die oomblik ingedraai. Die besoek was voedsel vir die gees. ‘n Mens het opnuut onder die indruk gekom van Moerdyk se grootse skepping en die nalatenskap van die heldegeslag wat daar vereer word.

Dit was in ‘n sekere sin ontnugterend om te sien hoe buitelanders na die monument stroom, aan gidse se lippe hang en lofbetuigings in die besoekersboek neerpen, terwyl Suid-Afrikaners in groter getalle Loftus volpak.

Dinge is egter aan die verander. Deur die idealisme van Gert Opperman, die Erfenisstigting en ‘n Gideonsbende toegewydes herwin die Monument kosbare grond in die kollektiewe Afrikaner-geheue. Die mense woeker met die een insiatief op die ander.

Die jongste is ‘n kampanje om mense in te katrol as Vriende van die Voortrekkemonument. Die doel van die klub is om lede van die gemeenskap nader aan die Voortrekkermonument- Erfenisterrein te trek en, natuurlik, broodnodige fondse in te samel. Bewaring van daardie erfenis is ‘n reuse-onderneming en kos baie, baie geld.

’n Mens kan jou aansluit as ‘n gewone lid teen R200 per jaar of lewenslank vir R2 000. My tjekkie vir R2 000 is in die pos. Nou wag ek op my spesiale sertifikaat – al is my uitstal-muur vol – en beloofde lapelkenteken, wat ek met trots sal vertoon.

Ander voordele vir ‘n lid behels o.m.

– Heeljaar gratis toegang tot die terrein;

– Korting van 10% vir die Sondagmiddagbuffet by die Monument-restaurant aangebied word;

– Verlaagde tariewe vir sosiale- en kulturele geleenthede en toere;

– Uitnodigings aan lewenslange lede na minstens een aktiwiteit per jaar as gaste van die besturende direkteur;

– Gereelde inligting oor alles wat by die Monument gebeur.

Eintlik is hierdie goed bysaak. Trots wees om te behoort en trots wees om te wees wat jy is, behoort eintlik die deurslag te gee.

Vir diegene wat nog twyfel, gaan kuier ‘n slag weer by Monumentkoppie, staan in verwondering voor en binne die monument self, dwaal rond in die skilderagtige, lowerryke gedenktuin waaroor die indrukwekkende struktuur troon, besoek die Erfenisstigting se omvattende boekery, ontdek die “plaas”….

Monumentkoppie lyk heelwat anders as die een wat ek as kind – ons was daar in matriek in 1957 op ‘n dagbesoek aan Pretoria– en student onthou. Dit vervul jou met dankbaarheid en trots.

Heerlike wete: As ek weer daar kom, is ek nie meer sommer net ou Hennie van Deventer van Melkbos nie, maar Hennie van Deventer, Vriend van die Monument!
(hvd)

QUE SERA, SERA! (2)

More uit Melkbos

Tokkie se ma, Marietjie, is vanoggend skuins oor ses minder as ‘n maand voor haar 99ste verjaardag in die Groeneweide-tehuis op Darling oorlede. Sy was 63 jaar ‘n weduwee (‘n rekord?) wat haar eie potjie moes krap.

Haar twee kinders, Fanie en Tokkie, het in sware omstandighede uitgestyg: hy in atletiek, sy in musiek.

Ouma Marietjie was jare lank ‘n beminde inwoner van Bultfontein. Dis waar ek haar (via haar mooi dogter) leer ken het.

Sy was die rede waarom ek nooit van skoonma-grappies gehou nie!
(hvd)

QUE SERA, SERA

Middag uit Melkbos

Ek los Tokkie ‘n rukkie alleen by haar ma wat, ‘n maand voor haar 99-ste verjaardag, úitgeteer, baie verswak, met starende groot oë en sonder ‘n geluid in haar bedjie op die onderste vlak van die netjiese Groeneweide-tehuis op Darling lê.

In die sitkamer tel ek die boek op wat ek saamgebring het: “Leer ken die Bybel in 30 dae” deur J. Stephen Lang. Ek blaai na bladsy 449. Ek is nou op Dag 21: Oor Tekens en Wonders.

Die volgende oomblik klink klaviernote op. Die wysie klink-klink bekend. Toe val die ylerige stemme in, oorwegend vroue, hoor ek. Elke woord – ai, hoe goed ken ek dit nie uit my matriekdae op Volkies, Potch nie! – registreer duidelik in my ore:

When I was just a little girl
I asked my mother, what will I be
Will I be pretty, will I be rich
Here’s what she said to me.

Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future’s not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.

When I was young, I fell in love
I asked my sweetheart what lies ahead
Will we have rainbows, day after day
Here’s what my sweetheart said.

Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future’s not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.

Now I have children of my own
They ask their mother, what will I be
Will I be handsome, will I be rich
I tell them tenderly:

Que Sera, Sera,
Whatever will be, will be
The future’s not ours, to see
Que Sera, Sera
What will be, will be.

“Que Sera, Sera”, whatever will be, will be – die sprankelende Doris Day se trefferopname was in 1957 weke lank op LM Radio se Treffersparade. Selfs Perry Como se pragtige “More” is in die tweede plek gedwing.

Ek dink aan die ironie dat juis die oumense dit vandag in hierdie oomblikke sing. Elkeen dink seker in haar hart aan haar eie “que sera, sera”. Soos ek aan ons dink – en aan Ouma s’n. Ouma wat al 63 jaar alleen haar paadjie vind nadat Tokkie se pa jonk dood is.

Die boek vergete, staan ek op en stap na die oop deur van die eetsaal waarvandaan die singery kom. Voor die klavier sit ‘n grys dame. Die ander tafels waar die mobiele inwoners pas tee gedrink het, sit vol vroue. Elkeen het ‘n boek voor haar. Konsentreer op die woorde. Baie met ‘n leesbril op punt van die neus.

Die laaste akkoorde sterf weg. “Pragtig gesing”, hoor ek ‘n matrone se pluimpie. Toe roep iemand: “Nommer 9”. Die pianis begin die note voel-voel. Kry die ritme gou reg. En die ou dames begin weer sing:

One day when we were young
That wonderful morning in May
You told me you loved me
When we were young one day

Sweet songs of spring were sung
And music was never so gay
You told me you loved me
When we were young one day

You told me you loved me
And held me close to your heart
We laughed then, we cried then
Then came the ti-ime to part

When songs of spring were sung
Remember that morning in May
Remember you loved me
When we were young one day.

Ek dink aan Gracie Field en Miliza Korjus wat “One day when we were young” so meevoerend kon sing op plateaande by Volkies, aan handjies-vashouery onder die galery in die skoolsaal, sommer aan alles en almal van daardie eendag toe ons nog jonk was.

Eendag lank-lank gelede. Vir party langer as vir ander. Soos vir Ouma aan die vooraand van 99 – as sy dit gaan haal.

Skielik pak ‘n aangedaanheid my soos die digte mis vandag hier op Melkbos.
(hvd)