BOOM MET BAIE VRUGTE

Naand uit Melkbos

n Man wat baie tot stand gebring het waarvan ander die vrugte pluk. So het ds. Johan Rossouw in die Paarl se historiese Strooidakkerk by sy gedenkdiens hulde gebring aan die baanbreker-nyweraar Jan de Necker wat op 93 oorlede is.

Wat Jan de Necker tot stand gebring het, of as medestigter tot stand help bring het, sluit in Toyota SA, Veka, die Rand-Aksepbank, Bankfin en die Wêreldwye Natuurlewefonds. Daarby was hy voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstuut, jarelange steunpilaar in die Raad van die Universiteit van Stellenbosch, burgemeester van die Paarl en nog wat.

Van vrugte gepraat: wonder hoeveel honderdduisende Toyotas vandag in Suid-Afrika op die paaie is. Sommer heelwat getel in die straat voor die kerk! Die klerereus Veka is spesifiek gestig om vir vroue en kinders ‘n lewenstog te skep. Vir hoeveel honderde Afrikanergesinne het Veka nie in taai jare brood op die tafel gesit nie.? Hoeveel mense is nie op die been gehelp met banklenings waarvoor Jan de Necker bedank moet word nie? Hoe pluk die natuur- en wildlewe nie die vrugte van die Natuurlewefonds nie?

My eie hulde beperk ek tot die heerlike vrugte wat ek al 15 jaar lank pluk van sy versiendheid, saam met o.a. Werner Ackerman, Albert Wessels en Daantjie du Preez, om ons bosparadys Sabiepark by die Krugerhek van die Wildtuin te skep en help vestig.

Die storie van Sabiepark het hierdie fiere man – ‘n man soos ’n formidabele bosveld-boom – my een aand op die stoep van sy en Dalene de Necker se ruim huis op die oewer van die Sabierivier in Sabiepark oor die beste KWV-wyne vertel (Die huis behoort nou aan die De Neckers se dogter, Suné Greeff.). My gasheer het vertel omdat ek hom uitgevra het daaroor; nie omdat hy sy eie beuel wou blaas nie. By al sy ander deugde was Jan de Necker ‘n beskeie plat-op-die-aarde-mens.

Hy het Werner Ackerman die eer gegee. Dié het lank gedroom van so ‘n toevlug ver van die stad se gewoel en rumoer; ‘n plek waar die diere- en planteryk so ongeskonde moontlik behoue bly, en vermoeides in vrede hul batterye kan herlaai.

Die ideaal het begin werklikheid raak toe die nou verwaarloosde sitrusplaas Lisbon aan die Sabierivier (eienaar: David Graaff Foods Ltd) in 1973 onder die hamer kom. Deel daarvan was ‘n lappie ongerepte Bosveldgrond aan die Sabierivier, bekend as sir David Graaff, ouer broer van sir De Villiers Graaff, se persoonlike “sanctuary”.

Ackerman het dadelik die moontlikhede raakgesien. Hy nooi De Necker, Wessels, Du Preez en ‘n landmeter, Phil Jooste, toe om hul gewig in te gooi. Hulle stig ‘n konsortium en dié word die nuwe eienaars van Lisbon (wat hulle na ‘n paar jaar weer verkoop het) – en van Graaff’s Sanctuary.

Kort daarna word die nuwe teerpad van Hazyview na die Krugerhek voltooi en word die “sanctuary” as’ t ware geamputeer van die Sabi-Sand-wildtuin waarmee dit ‘n eenheid gevorm het. Daardie “afvalgrondjie”, feitlik omring deur die Krugerpark en die Sabi-Sand, was nie juis vir landbou geskik nie. Dit was egter ideaal vir die vestiging van ‘n natuur- en wildbewaringseenheid — die toekomstige Sabiepark.

Omvangryke navorsing en lang onderhandelinge met die destydse provinsie Transvaal het gevolg. Daarna laat die vyf stigters nie gras onder hul voete groei nie. Jooste – hy was tot onlangs nog ‘n eienaar – was stadsbeplanner van Klerksdorp. Hy het die gebied opgesny in erwe van rondom een hektaar elk, dienste is aangelê en ‘n skilderagtige piekniekterrein ontwikkel. Sir David se “sanctuary” sou nou vir al hoe meer mense ‘n persoonlike heiligdom word.

Aan kopers het dit nie ontbreek nie, aanvanklik net uit Suid-Afrika, maar later ook al hoe meer uit die buiteland, uit Amerika, Brittanje, Kanada, Nederland, die Emirate — almal gebind deur een nasionalisme: hul liefde vir die natuur.

Vir baie eienaars – tot vandag toe – is hul hektaar in Sabiepark veel meer as net ‘n wintervakansie-bestemming. Dit is ‘n “eie Bosveldplasie”, die vervulling van ‘n tradisionele hartsverlange na ‘n stukkie erfgrond wat van geslag tot geslag oorgedra sal kan word. Vir daardie wonderlike nalatenskap, ‘n bos Sabieparkse tarentaalvere vir Jan de Necker! (hvd)

LEKKERBEKKE EN LIEGBEKKE

More uit Melkbos

Die flambojante Louis Luyt en die ewe flambojante koerantman Jack Viviers was maatjies, wat in die jare 70 gereeld ‘n voortreflike skaapsaaltjie (“saddle of lamb”) saam geniet het in Luyt se deftige kantoorsuite in Aucklandpark, Johannesburg.

Een keer het Jack my saamgenooi. Ek was toe nuusredakteur by Beeld en Jack die tweede-in-bevel. Hierdie Vrystater se oë was soos pierings oor al die weelde, elegansie en styl – onder meer die voorste landgoedwyntjie in die duurste kristal en ‘n kelner uitgevat in witter as wit, wat vooraf kom verneem presies hoe gaar of ongaar elkeen graag sy vleisie op die bord sal wil hê.

Louis en Jack se nostalgiese stories oor verre lande – en veral die top-restaurante van verre lande –het my ietwat ontuis in daardie geselskap laat voel. My buitelandse ervaring was in daardie stadium beperk tot ‘n vlugtige besoek aan Duitsland op uitnodiging van Lufthansa en ‘n Europesese toer, georganiseer deur die Bloemfonteinse reisonderneming Rontoer in samewerking met Die Volksblad. Kulinêre belewenisse in die orde van die Luyt-Viviers-klas was ver buite my ervaringsveld.

Nietemin, met smaak word oor die geurige skaapvleis toe ‘n spesiale kos-ekspedisie van my kollega en ons wellewende gasheer in herinnering geroep – ene wat begin het met ‘n goedige verskil van mening oor waar die beste “steak” ter wêreld geniet kan word.

Jack se kandidaat, as ek reg onthou, was ‘n eetplek iewers in Buenos Aires. Louis Luyt was adamant dat die lekkerste “steak” wat hy in sy dag des lewens geproe het, in ‘n restaurant in Sydney was.

Jack was nie een wat maklik toegegee het as hy glo aan sy saak nie.

Moeg van Jack se gekarring, speel Luyt toe sy troefkaart. “Kom ek gaan wys jou.”

Die twee is in Luyt se private straler vinnig oor Australië toe, en direk na die restaurant in Sydney waar die forse Suid-Afrikaanse miljardêr nie eens die spyskaart hoef te raadpleeg nie. Hy weet presies wat hy soek en wat hy sy joernalis-gas wil laat proe.

“Erken nou,” het Luyt aangedring toe hulle mes en vurk neersit. “Moet erken,” het Jack toegegee terwyl hy sy servet toevou.

Toe’s hulle lughawe toe waar die straler gereed gestaan het vir die lang vlug terug Johannesburg toe.

Ware storie? Ek twyfel nie. Jy kon baie dinge van Louis Luyt en Jack Viviers se. Jy kon nie sê daardie twee lekkerbekke is liegbekke nie.
(hvd)