Feb 15, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Tokkie by Ukuthula – 1997.
More uit Melkbos
Nuwe vriende in Sabiepark wil hul huis van Nonnetjiesbos (baie uile in sy dakbalke) herdoop tot Peet-rus. Die naam van die nuwe eienaar en die vooruitsig op salig agteroor sit, word daarin gekombineer.
Maar dat Peet tot dusver hoegenaamd rus gekry het, betwyfel ek sterk. Hulle woel. Hulle woel, daardie twee Bloemfonteiners. Noem die plek liewer Immer Timmer, het ek by hulle aanbeveel. Dis ‘n naam wat ek dekades gelede op Buffelsbaai gesien het – ‘n plek met oulike, oorspronklike name. Het ook gehou van Moeg Geploeg.
Om eerlik te wees, sal ek egter nie ‘n vakansiehuis Immer Timmer kan noem nie. Ook nie Moeg Geploeg nie. In die Van Deventerhuis doen Tokkie die timmerwerk. Sy timmer immer. Al ploeg in my lewe was Volkskas se ou logo.
Sal my plek wel Kelkiewyn kan noem – soos vriende van Kleinmond. Genotvol om met ‘n kelkie wyn in die hand die kelkiewyne dop te hou wat met hul lang puntige sterte in die gras skarrel.
Toe ek moes naam kies vir my vakansieplek in Sabiepark het ek Tarlehoet gekies – ietwat raaiselagtig, toegegee, maar ‘n naam uit die Van Deventer-geskiedenis. Dit kom eintlik via die naam van ons huis van langer as ‘n dekade op die hoek van Van Schoor – en Kmdt. Senekalstrate in Bloemfontein, wat dit weer gekry het van ‘n Boesmantjie in een van Elizabeth Vermeulen se verhale oor die Noordweste.
Dis ‘n lang storie. Vir ons beteken dit sommer kortweg: ‘n Plek waar ons lank en gelukkig gewoon het. Ons het die mooi Sjangaanse naam Ukuthula (Vrede van Binne) afgehaal om Tarlehoet op te sit. As ek weer ‘n naam vir ‘n plek sou moes oorweeg, sou ek Ukuthula in die hoed sit.
Baie bepaald in daardie hoed sal wees Kumbaya of Kumbayah, ‘n Kreoolse spirituele lied* wat die Goeie Vader nooi: “Come by here, my Lord” – “Kom hierlangs”. Ons het dit op ‘n CD, soos uitgevoer deur Placido Domingo en Vriende. Hemelse musiek.
Sou graag as ek by my kampvuurtjie sit, wil sit en neurie: Kumbaya, my Lord, Kumbaya. “Here, U is hier, ek voel dit. Kom asseblief, altyd weer.”
Ek sou ook met die naam vir my vriende.wil nooi: Kom hierlangs. Kom in. Kom geniet ‘n kelkie wyn!
Op Buffelsbaai is (was) ‘n huis met ‘n naam wat presies die teenpool is: Hou Verby! Kon dit nooit verstaan nie. Is daardie mense dan kluisenaars? Nee, duisend maal nee vir sulke afsydigheid. Liewer Kumbaya vir my – op geestelike vlak bepaald, maar ook wat lekker geselskap betref.
* Ek weet ek vat hier kortpad en dat oor die regte oorsprong nogal omstredenheid heers. Dat die naam Kumbaya uit die een of ander Kreoolse dialek kom, staan egter, wat my betref, vas. (hvd)
Feb 12, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Liewe ou Piet ….. Dit was die opskrif van die hoofartikeltjie in ‘n spesiale Piet Gouws-uitgawe van Beeld se personeelkoerant, Beeld-Intro, met die ou vriend se vroeë aftrede in September 1998 weens swak gesondheid. Liewe ou Piet …. só sal sy kollegs hierdie kleurryke joernalis van die ou garde in deernis onthou. Hy was Piet ……
* Die skynbaar sorgelose ou met die skewe, goedige en lakonieke glimlag en ‘n hart van goud;
* Die “bok vir sports”, die lekker kuierkameraad, die geesvanger en spanbouer;
* Die “vrek gawe ou” wat jou om sy pinkie kon draai – een van sy redakteurs se woorde;
* Die vasbyter wat met Job se geduld die soms harde slae van die lewe verduur het;
* Die ou op die speldedieet wat letterlik duisende van dié skerp stukkies staal opgekou of tussen sy vingers verfrommel het;
Hy was ook die Piet wat agter sy kasuele, amperse laisez faire-fasade geseënd was met ‘n vlymskerpe verstand, ‘n werksetiek soos min en hope, hope kreatiwiteit – eienskappe wat in die joernalistiek vir hom interessante, uitdagende deure laat oopgaan het, en in sy latere lewe van hom ‘n waardevolle steunpilaar van Patricia de Lille gemaak het toe sy nog die OD gelei het.
Hy was die ou wat by sy afsterwe van base, sy portuurgoep en mense wat onder hom gewerk het, gloeiende getuigskrifte soos die volgende gekry het:
* Hy was die beste nuusredakteur waarvoor jy kon vra; wat ‘n wonderlike verhouding met sy redaksie en ‘n goeie nuussin gehad het, en altyd kalm, ordentlik en regverdig was.
* Sy manier van menswees het jou laat voel dat die wêreld n vriendelike plek is met goeie mense op wie jy sal kan staatmaak as jy oor n klip struikel.
* Hard werk of hard speel, PG was altyd in die voorste geledere;
‘* Hy het die aarde verlaat sonder een vyand.
Veral van ‘n nuusredakteur is dit merkwaardig, het een van die huidige generasie opgemerk. Sprekende as ‘n nuusredakteur van die oudste ou garde kan ek haar woorde van harte beaam.
Ironies genoeg, het ook goeie ou Piet – soos baie ander goeie ouens voor hom – periodiek deur diep waters gegaan. Dink maar aan Job. Hoeveel keer Piet in en uit klinieke en die hospitaal was, het niemand seker van boek gehou nie. Hy sou ongetwyfeld kwalifiseer vir ‘n pensioen as Hospitaal-veteraan. As jy besorg navraag doen, is jy deur sy gelatenheid getref.
Piet, Pieter, Petrus, Pieta of Pietie Gouws was ‘n plaasseun wat hoofseun en atletiekkaptein op Excelsior geword het. Sy rekord van 4:43 … “of daar rond” … vir die myl het 12 jaar gestaan. Dit was natuurlik voor sy kennismaking met “smoukies” en ander lang, koue verversings met ‘n swart etiket.
Via Kovsies het hy begin 1966 by Die Volksblad kom inval. Met sy goedige glimlag en aweregse wyshede het die jong verslaggewer gou kollegas se harte gesteel. Ewe gou het ons agtergekom hy is ‘n gebore joernalis. Binne ‘n jaar was hy Wes-Transvaalse verteenwoordiger. Toe Beeld in 1974 gestig word, het ek hom dadelik gekies as een van die Gideonsbendetjie van ses of so wat saam met my die Vaalrivier oorgesteek het.
By Beeld was hy aanvanklik die nuusredakteur se “linker- en regterhand” met as primêre taak om opgemorste stories “reg te dokter”. Hy was gou een van die “manne”, ‘n bouer van spangees sonder weerga. Hy was ‘n organiseerder van die beroemde/berugte “natstene” van destyds.
Hy is eerlank “ontplooi” na die Wes-Randse kantoor. Later was hy o.m. nuusredakteur van ‘n wenspan in Pretoria, nuusredakteur in Johannesburg, lid van die hoofredaksie, administratiewe redakteur, bylaeredakteur, promosieredakteur, brieweredakteur, selfs sakeredakteur – ‘n pos wat hom nie soos ‘n handskoen gepas het nie, raai ek. Nietemin: By Beeld het hy diep, onuitwisbare spore getrap.
Ná aftrede het hy en Esta Kaap toe gekom en in Muizenberg ‘n gastehuis begin. Hier het Piet trek begin kry vir die politiek. Hy het hom by die OD aangesluit en was, soos ek verstaan, ‘n eerbiedwaardige, hardwerkende stadsraadslid. Toe die OD met die DA saamsmelt, het dit die einde van sy politieke loopbaan beteken. ‘n Hoofstuk het in Piet se lewe aangebreek waaraan hy, om weer ‘n Bybelwoord te gebruik, nie veel behae kon gehad het nie. Ek glo hy het in hierdie tyd nostalgies teruggedink aan sy Beeldjare wat hoogtepuntjare was.
Dis my storie. As die indruk kon ontstaan het dat ek Piet as ‘n engeltjie skilder wat nog net vlerkies moes kry, het ek dalk so ietwat oordryf. Joernaliste doen dit mos maar, glo die publiek. Piet, regskape joernalis wat hy was, sou self die eerste wees wat keer: Hokaai, nou begrawe julle die verkeerde man! Maar niks, niks kan iets daarvan wegneem nie dat ons hom almal met ‘n eie skewe, goedige en lakonieke glimlaggie sal onthou as liewe ou Piet.
(hvd)
Feb 10, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Francois Hanekom aanvaar vandag, ná 31 jaar vrugbare diens in die NG gemeente Melkbosstrand, sy emeritaat in wat, om dit sag stel, as ongemaklike finansiele omstandighede in ‘n krimpende gmeente beskryf kan word.
Ek moet tot siens sê, namens elkeen van die 1 500 lidmate. Dit is nie die maklikste takie wat ek al moes verrig nie. Elkeen begroet hierdie skielike emeritaat met sy/haar eie vrae, gewaarwordinge en emosies. Van verbasing tot verdwasing … die reaksie dek ‘n wye register.
Wat sake bemoeilik, is dat Francois geen ortodokse, doodgewone herder was nie – nes die sjarmante /elegante /pikante (kies eie woord) Riana geen bloudruk van ‘n tradisdionele Mev. Dominee is nie. Hulle is … wel … Francois en Riana.
Die woorde van Rykie van Reenen het by my opgekom . Oor daardie perskolos Piet Cillié het sy gesê: Daar was maar een soos hy. Toe voeg sy spitsvondig by: Dalk ook maar goed so. Daar was inderdaad ook net een Francois en Riana Hanekom. Of dit dalk ook maar goed so is? Laat elkeen maar self besluit.
Waaroor ons wel almal dit eens sal wees, glo ek, is oor hul innige menswees. Die twee mens-mense soos min laat jou voel dat die wêreld n vriendelike plek is met goeie, wellewende medemense op wie jy sal kan staatmaak as jy oor n klip struikel. Ek dink veral die ouer garde en gebrokenes beleef Francois intens so. Bejaardes hang aan sy lippe. Gebrokenes skuil graag onder sy vlerk.
Almal sal seker ook saamstem: Francois is buitengewoon kreatief. Hy is lief vir alliterasie, bv. klinker-geloof teenoor kluitgeloof. By hom het ons gehoor van Kat-teologie en Honde-teologie, van God se ICU (I see you), van ballon-Christene en van manne se menoPorssche. Hy is vader van die begrip “preek in ‘n woefkardoes”. In ‘n stadium was die gereelde FvH op die skerm ewe bekend as sy rooi Shopritesak met lekkertjies vir die kinders. FvH staan terloops vir “faks van die hemel”.
Een van sy talente is sy gulle, verfrissende humor, wat soos ‘n fonteintjie uitborrel – dikwels in ‘n goedige gehekel met sy geliefde “Pop” as sy die dag die orrel beman het. En “Pop” is nie een wat haar onbetuig laat nie! Sy kan lustig terugpraat!
Hy is ook avontuurlik en ondeund. Soms het van sy preke die gemeente laat regop sit. ‘n Keer het ons regopper as gewoonlik gesit toe ons sy preektema verneem: “Hou jy van striptease?” Maar dit was net oëverblindery. Klaar geterg, word dit ‘n verrykende preek – “vintage” Francois.
Anders as sy kollegas, Marius Falck en Hennie Swanepoel, is Francois geen sanger van formaat nie. Maar – het hy sy gemeente by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”. Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..”
‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois is, breek die son gou deur die wolke. Net so met Riana.
Ek het na die begrip “kluitgeloof” verwys. Die kluit het natuurlik ook ‘n ander simboliese betekenis, naamlik die kluitklap op die kis. Oor Francois kan’n mens nie klaar gepraat wees sonder om te vermeld hoe hy as prediker by gedenkdienste uitblink nie. Hy het die kuns bemeester om met ‘n unieke mengsel van deernis en humor die hartseer naasbestaandes so op te beur dat hulle glimlaggend die kerk verlaat.
Francois, jy moet my ook nog begrawe. Onthou, asseblief. (hvd)
Feb 8, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
My blog-argief was nog nooit nuttiger nie as toe Elna Smit, voorsitter van Melkbos-gemeente se Silwerkragvereniging, my Woensdagmiddag hande in die hare kontak.
Weens Eskom-aktiwiteite kan die orkes wat sou musiek maak, nie meer Donderdagoggend hul klankstelsel koppel nie. Kan ek asseblief kom help red? Wel, ek kan nie musiek maak of sing nie (wens ek kon), maar ek voel dit my ridderlike plig en het darem oor die 900 blogs in my argief. Kan seker gou ‘n paar storietjies opdiep.
‘n Storie wat Tokkie dadelik uit die kombuis aanbeveel, is in my blog van 23 Januarie 2013, Boudjies in die bos. Dis die storie van ‘n dame (?) se penarie op die S4 in die Krugerwildtuin toe ons haar met haar G-string op haar enkels betrap. Ek is dadelik entoesiasties. Ek en Elna besluit saam op die tema: DIE NAAKTE WAARHEID. Dan kan ek by die boudjiestorie ook enkele ander anekdotes oor ongemaklike oomblikke sonder klere vir dese en gene aanhaak – die uwe helaas ingesluit.
Van padstorie spring ek na twee badstories. Een keer het die Buurtwag uit pligsgevoel sy intense lig aanhoudend op my en Tokkie, weerloos kaal, in ons hoekbad laat skyn(16/2/2012). ‘n Pragtige jong besoekertjie is weer deur Ceres se aardbewing uit haar gasheer se bad gejaag met net ‘n waslappie as enigste bedekking (Uit Praat-Praat in Tamatiestraat, maar ook iewers in ‘n blog vermeld).
Daarna kom kaalbas-kirpatse in die swembad aan die beurt. Ek kan die Silwerkraggers inlig oor ‘n gesiene egpaar se nagtelike avontuur in ‘n onderdak-swembad in Zell-am-see, Oostenryk (Oos, Wes – Reismoles en ook iewers in ‘n blog). Ook oor ‘n vriendin, Alet van Dyk, se verleentheid op Aliwal-Noord. Toe sy vroeg in die huwelikslewe met ‘n Indiaanse kreet sonder ‘n draad by die deur uitstorm vir ‘n roetinekuiertjie in die koel water, sit haar man en ‘n kuiergas op die stoep grootoog die petalje en aanstaar (27 November 2008).
Langs die swembad kan dinge ook erg skeef loop, soos die bruid wat op die wittebroodsdae van haar tweede huwelik in Quebec, Kanada die bostukkie van haar Playboy-bikini al huppelende op ‘n trampolien verloor (17 April 2008).
Vir moleste by die see gaps ek uit Sakkie Perold se Glimlag of Grinnik die storie oor die ou wat by Waenhuiskrans deur die branders uit sy broek geskud word, en toe moes ontdek die reddende jêmblik is ‘n blikkie sonder boom (12 Novemer 2012).
Toe’s ‘n halfuur verby – nog net tyd vir twee kort storietjies wat oor ooms se vindingryke planne vir ‘n bietjie loerplesier. Een het meisies uit ‘n plaasdam laat spaander met ‘n witleuentjie oor ‘n “krokodil”. Die ander het sy mooi buurvrou haar handdoek laat afwerp vir die R500 wat hy hy buitendien vir hulle skuld (27 Februarie 2008).
‘n Vraag kan wees of dit nie perdalks ‘n skurwerige onderwerp vir ‘n byeenkoms van ‘n gemeentes se oues van dae is nie? Verneem graag as iemand so dink, maar naaktheid is mos darem van die sondeval af ‘n Bybelse onderwerp en ‘n aanvaarde (?) tema vir grapjastery. Tog ‘n bekende storie daardie ene van die Engelse predikant wat sy preek oor die sondeval onderaan bladsy twee skielik onderbeek. “And Adam said to Eve ….,” lees hy. Blaai om, blaai terug en blaai weer om. “And Adam said to Eve… “Toe bra moedeloos: “There seems to be a leaf missing!”
Feb 6, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Moet ons ‘n traan wegpik vir die nuttige sakdoek?
Ek hoor ontstellende dinge:
1. Kinders vat nie meer sakdoeke saam skool toe nie;
2. Pajamabaadjies kom nie meer met bosakke nie.
In my dae moes ons die skoon sakdoek op die skoolbank neersit met die hande netjies langs mekaar bo-op. Juffrou het dan kom inspekteer of die naels skoon is. Vandag staan in die klaskamer glo bokse snesies vir daardie opwellende lastigheid in die neus, ens.
Self slaap ek al jare met my sakdoek onder die kopkussing. Ek ken egter mense wat hul sakdoeke in die bosakke van hul nagkabaaie bêre. Hulle soek hulle kaduks vir modelle wat nog daardie gerief bied. Hulle is reddeloos, die arme drommels.
Hoekom sou dit so wees? Die gebruike van die nederige sakdoek is immers legio. Vir die manlike lyf (waarvan ek uit die aard van die saak meer kennis dra) bied dit o.m. uitkomste t.o.v. die oog (‘n lastige traan), die neus (die onaangenaamhede wat daar ontstaan) en onder die naeltjie (as mis gekorrel is).
Vir allerlei ander ongewensde plassies kan jy maar net in jou sak vroetel. Van sweet tot spuug. Die oplossing is byderhand.
Een van die toppunte van galante ridderlikheid is in my boekie om ‘n skoon sakdoek te kan uitpluk as ‘n tranerige fliek of iets in dier voege ‘n blinkheid in die mooi ogies van jou metgesel laat opwel.
Deesdae se hartseer-meisiekind moet seker dan maar in haar handsakkie vroetel vir ‘n snesie of hoe? So onromanties.
Wat prop jy in die bosak van jou beste pak klere as jy die dag so ‘n tikkie ekstra windmakerig wil wees?
En wat doen jy sonder sakdoek aan die oorlogsfront? Hoe uitgelewer is jy nie as die vyand die oorhand begin kry en ‘n regte-egte witvlag is nie byderhand nie? In die oorlogsannale lees ons immers dikwels van sakdoeke wat goedskiks as simbole van oorgawe moes dien. Nou sal iemand seker sy onderbroek moet uitpluk, maar dié is ook meesal gestreep of met kolletjies.
Hoop die uwe het hier die kat aan die verkeerde kant beet en dat alles net ‘n kwade gerug is. ‘n Lewe sonder die sakdoek, verbeel jou! Hoeveel armer, en in hoeveel onhanteerbare penaries, gaan ons nie wees nie?
(hvd)