Jan 20, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Diere kyk terwyl jy slaap. Dit is die raak beskrywing van skoondogter, Mariza, van ons nuwe Sabiepark-plesiertjie met die bespiedkamera wat aan ‘n haak-en-steek by ons Sabieparkse watergatjie gemonteer is.
Ons Hollandse vriende Gert en Caroline Pols wat ons op die spoor hiervan gebring het – hulle s’n het nou in hul afwesigheid raaiselagtig van hul muur verdwyn – noem dit ‘n “trapcam”. Op die boksie van die ingevoerde LtL Acorn-5210a sien ek dat dit ook as “game camera” bekend is.
Hoe ook al, die stewige buks neem outomaties beweging af, en is veral snags ‘n aanwins. Jy sien ten minste wat op jou werf aangaan terwyl jy salig in droomland verkeer. Onder meer ‘n luiperd, hiënas en ‘n muskeljaatkat het al voor die Polse (van Gwarrieboslaan) en die Australiese trefferskrywer Tony Park (van Maroelalaan) se kameras verbygestap.
Die eerste twee aande kon hierdie tegnologies-ongeletterde nie kop of stert van die nuwe speelding se geheime ontsyfer nie. Die frustrasievlak het gevaarlik hoog in my gemoed opgestu. Maar met e-pos-raad van die kenners, die avontuurlike betrokkenheid van die agtjarige tweeling Jacob en Thomas en verskeie doelgerigte probeer-en-tref-slae van die uwe se kant kry ons die kamera se oog aan’t flonker.
Die eerste aand met die kamera in posisie neem ons net die swaaiende arms van die proefkonyne (dis nou Jacob en Thomas) af. Verder lewer die nag se oes ‘n paar mooi stillewes van die watergat.

Die nag van 3 Januarie, my 72ste, sluip ‘n haastige hiëna om 22.08 verby. Die volgende aand om 22:26 kom ‘n spannetjies sebras water drink. Dit ontdek ons teen 06:00 in Oupa en Ouma se kooi toe die tweeling ingestorm kom, hoogs mededingend oor wie se beurt dit is om die foto’s terug te speel.
Die sebras se besoek val plus-minus saam met steune en kreune uit die kinderkamer. Jacob kry nagmerries. Hy’s ‘n seun met humorsin – lekker gelag toe sy oupa hom inlig sy nagmerries was sebramerries.
‘n Dag of wat later kom ‘n (insomniese) hiëna daarlangs (om 02:45). Die kamera tel hom mooi op. Ook die sebras maak weer ‘n draai, hierdie keer net ná sonsondergang (om 19:00). Die kamera neem ‘n halfuur lank lustig foto’s – heel sebras, halwe sebras, voorkwarte en agterkwarte.
Dalk klink die eerste proeftyd se oes nie so indrukwekkend nie. National Geographic, of selfs die SABC se 50/50, sal nie juis oor hul voete val om HvD se geheuekaart te bekom nie. Maar glo my , daardie Acorn dra ná 15 jaar in Sabiepark – ‘n Duisend Dae Langs die Sabie, soos in my voorlaaste boek se titel – ‘n nuwe element by met die potensiaal om nog baie vreugde tot Sabiepark-kuiers toe te voeg.
‘n Stukkie waardevolle advies: Moet net nie vergeet om die kamera aan te skakel voordat jy jou te ruste wend nie ….
(hvd)
Jan 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
In die opbou tot die groot waters wat nou weer deur nuwe vloede deur die Wildtuin se hoofare – soos die Sabie – gepomp word, het die kwik hemelhoog geklim.
Op 10 Januarie het Sabiepark-eienaar Belinda Gillies op Facebook laat weet om 08:00 was dit op haar termometer reeds 31 grade. Twaalf uur later, teen 20:00, was dit steeds 35 grade, aldus my nuwe skuilkamera teen die haak-en-steek by ons watergat.
Tot waar die kwik tussen 12:00 en 14:00 opgeskiet het, is ‘n saak vir diskoers. Dat dit 40-plus was, is redelik seker. Aanvoelbare temperatuur was volgens allerlei KNP-bronne iets soos 46 grade.
Nietemin: dit was bloedig warm. Dalk die warmste dag in Sabiepark in eie heugenis vir hierdie bejaarde ou lyf. Die withelmlaksmanne het met hygende oop bekkies op stoepe lafenis teen die versengende son kom soek. Troupante het op takke langs die pad sit en snak.
Ons is die oggend met die Claassens-tweeling, Jacob en Thomas, Onder-Sabie toe. Vir ons moeite sien ons toe meer olifante in een oggend as ooit te vore – die noorde van die Wildtuin kan gaan slaap. Op die “dag van die olifante” leer ons toe ook ‘n natuurles: hoe uiters hittesensitief die arme olifante met hul dik, skurwe velle is.
Oral in die benede-Sabie was blinknat olifante in troppe of een-een in die water, wadende, spuitende en plassende. By die Sunsetdam was vier. Op die Salitjepad was by haas elke watergat of suiping ‘n modderbad op volle dreef.
Iets nuut vir hierdie olifant-bewonderaar was die saambondeling van klein gesinsgroepies onder sambreel-doringbome. Hulle staan soos ‘n swart muur in die skaduwee, die ore driftig flappende om hulleself en hul kleintjies af te koel.
Een kleintjie op die Tshokwanepad was plat teen die grond in die selfgeskepte skaduwee tussen haar mamma se pote. Ons dag die klein diertjie het aan hitte-uitputting beswyk. Toe bemerk Tokkie ‘n sprankie lewe. Ons sien ook hoe ‘n boetie of sussie, self skaars ‘n klompie bakstene hoog, met die slurp om die neergevelde olifantjie vroetel – duidelik in grote deernis, ter opbeuring.
‘n Anderster soort “hygroman” speel hom voor ons af.
Om by Engels ‘n begrip te leen, dring dit op hierdie oggend, 10 Januarie, opnuut tot my deur waaraan die word “pagiderms” ontleen word: die uiterste dik velle van drie tot vier cm sonder sweetgaatjies maar met ontsettend baie senuwee-eindpunte.
Dis ‘n bloudruk vir hitte-belewenis op ‘n manier wat ons in ons lugversorgde motors nie kan snap nie. Dit is ook die rede waarom olifante baie lief vir water is – om te drink en te speel. Bulle kan tot 200 liter per dag drink.
Olifante verloor in baie warm weer tot vyf liter per uur – voggies wat broodnodig is om die dik vel elasties te hou. Hoe meer water ‘n olifant verloor, des te meer moet hy of sy natuurlik inneem.
Diep teue drinkwater wat direk maag toe gaan, word dan aangevul deur stortwater met die slurp op te suig en behaaglik oor die lyf te spuit. So speel hulle onderling, hou hulle aangename en welwillende sosiale verkeer in stand en bly hulle in uitmergelende temperature aan’t lewe.
Die “dag van die olifante” was inderdaad ‘n dag in die natuur se klaskamer!

Naskrif: Renosters is natuurlik ook “pagiderms” . Tussen Skukuza en Onder-Sabie het ons drie op die teerpad gekry wat duidelik – weens die watermerke en modder op hul lywe – in die Sabierivier gaan baljaar het. Gelukkig was geen stroper in sig nie!
.
Jan 16, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Hartenbos in die Kersvakansie het my mond laat oophang: die woonwadorpe soos legkaarte; die gesellige kuiery in die strate van die tradisionele “Kardoodorp”; die geur van tjops en wors op die rooster; duisendes van alle ouderdomme wat in hul bonte stranddrag in die strate dwaal en op kraampies toesak; die see van lywe in die branders…
’n Boere-enklave, noem party hietrdie vakansiedorp aan die Tuinroete by Mosselbaai ietwat uit die hoogte. ‘n Heerlike, informele vakansiedorp waarin ontspanning hoogty vier in die somerseisoen – so lyk die lewendige dorp wat rondom die kern van ‘n rustige ATKV-oord opgeskiet het, eerder vir hierdie vlugtige besoeker.
In elk geval, Hartenbos besit klaarblyklik ‘n onoortreflike trekkrag wat Desember op Desember skouspelagtig ge-aktiveer word. Soos ‘n reuse-magneet trek hy uit elke hoek van die land die getroue Hartenbossers na die Suid-Kaap Sommer baie kom uit Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, ens. Hulle kom slaan tent op, haal die hortjies van vakansiehuise af, of keer terug na rondawels en woonstelle waarvoor hulle al jare die deposito uithaal nog voordat hulle huiswaarts keer vir hul gewone roetinebestaan die res van die jaar.
Hartenbossers, ek verstaan nogal julle passie vir julle plek, veral ná salige ure op die stoep van ‘n mooi vakansiehuis hoog teen Loerielaan met skilderagtige uitsigte op die riviermond. Die sonsonderganger en voëllewe is hemels. Dankie, Cules en Dalene Malan van Faerie Glen in Pretoria vir die Van Deventer-ontdekking.
Juis van Cules en Dalene se stoep doen ek en Tokkie een oggend ‘n spesiale Hartenbos-ontdekking. Wonder hoeveel van die geswore Hartenbos-tradisionaliste ken daardie geheim!
Die geheim van die flaminke.
Ek en Tokkie gewaar hulle skuins onderkant ons teenaan die eilandjie terwyl die ander huisgenote nog slaap. Die flaminke vlieg sierlik weg voordat enigiemand anders verrys. Ons deel Cules-hulle mee hoe prentjiemooi die vlug van die flaminke vir ons was … en bemerk dadelik ‘n vreemderige reaksie. Opgewondenheid? Bepaald. Ook teleurstelling en ‘n tikkie jaloesie. Maar voeg skeptisisme by.
Flaminke? Is julle sekert dit was flaminke?
Flaminke inderdaad. ‘n Mooi swerm.
Foto’s?
Nee, my kamera was in die slaapkamer.
O.
Gelukkig keer “ons”: flaminke die aand terug, en die volgende dag en die dag daarna. Cules-hulle sien die flaminke die eerste keer in die tien jaar dat hulle hier op Hartenos kom uitspan. Die bure kiek ewe geesdriftig van hul braaistoep af – vir hulle is dit ‘n eerste waarneming in 15 jaar.
Met hierdie kennis tot my beskikking begin ek toe ook links en regs foto’s neem. ‘n Mens moet darem bewapen wees as ‘n Hartenbosser perdalks die “dom inkommer” se waarnemings wil bevraagteken.
Maar waar daardie besoekers vandaan kom? Moet dit nie vir my vra nie. (hvd)
Jan 15, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Wel, hier’s ons weer terug op Melkbos . Die bosvakansie is agter die rug. Die berg en die branders sorg gelukkig vir ‘n ewe mooi oggend- en aandtafereel as Sabiepark in sy somerglorie.
Stadigaan begin ek die revolusies opjaag om weer te begin blog – het nogal ‘n paar dingetjies wat ek graag wil deel.
Net eers die volgende van die hart kry:
As jy in die bos afgesonder is, chroniese slagoffer van MTN en Vodacom se stryd oor watter een konstant die swakste sein kan produseer, raak jy nogal van die radio afhanklik. RSG slaag egter daarin om in twee vername bulletins, om 19:00 en weer 07:00 die volgende oggend, ‘n kriekettoets soos ‘n stopstraat te ignoreer.
Maar iewers in Karatsji was ‘n busongeluk met ‘n paar beseerdes. Hygend hert!
(hvd)
Jan 7, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
Goeie more uit Sabiepark
Diegene wat gister in Skuka in die kerk was, sal weet wat 20cmb13 beteken.
Dis ontleen aan ‘n ou-ou Christelike kode en beteken: Mag Christus ons huise (huise) in 2013 seen.
In Latyn: Christus mansionem benedicat.
Dit is my wens vir alle blogvriende.
Ons kuier nog lekker in die bos. Die blog hervat na 15 Januarie.
(hvd)