PLETTERVAT!

Middag uit Melkbos

Hoe’s daai vir ‘n plettervat?

‘n Troppie rooibokke kry snuf in die neus; sit op loop en loop hulle vas in die luiperd se hinderlaag. Hierdie unieke foto en nog ‘n hele reeks, die een so manjifiek soos die ander, verskyn in die someruitgawe van “Wild”. Die fotograaf is Martha van Rensburg. Die plek is iewers in die Kruger, vermoed ek.

Daar’s ook ‘n video op You Tube van hierdie skouspelagtige duikslag.

Absoluut asemrowend!
(hvd)

NET EEN LINKERHAND!

More uit Melkbos

‘n HYSBAK ruk stotterend tot stilstand tussen twee verdiepings. Ingehok met vreemdes of stoksielalleen hang jy hier tussen hemel en aarde. Dit is die stof waarvan nagmerries gemaak is.

Tussen ‘n klomp mede-prisoniers kan komplikasies opduik soos oorweldigende sweet- en ander reuke (dalk het iemand knoffelhappies geniet!), dalende suurstofvlakke, histerie, onbeheerbare drang om te piepie … die lys is eindeloos. As jy alleeen is, dreig eensame, honger, koue, uitmergelende ure.

Gister, aan die vooraand van sy 80ste verjaardag, kry Danie Krynauw, oud-burgemeester van Milnerton, die kans om sy mede-Probuslede (‘n sosiale klub vir afgetredenes) toe te spreek oor die onderwerp: Wie is Danie Krynauw? (Almal kry ‘n beurt. Ek sal ook nog moet vertel wie HvD is – ‘n taamlik uitdaging!)

Danie vertel die klub toe in die tyd dat hy private sekretaris vir Kaaplandse administrateurs was (o.a. Lapa Munnik) het hy een laat Vrygdagmiddag in die winter in ‘n hysbak vasgesit en die paniekknoppie gedruk. Dit was al pikdonker in die regeringsgebou, en doodstil.

’n Ou het oor die interkom gevra wat skort. Danie het benoud geantwoord dat die toestel tussen twee verdiepings gaan staan het. Toe sê die ou: “Moenie ‘worry’ nie, sir, dis nou al laat en die mekennieks is algar al huis toe vir die naweek. Maar sir moet net nie ‘panic’ nie. Ons sal Maandagoggend ‘first thing’ vir sir kom uithaal.”

Danie het nie vertel hoe lank hy moes sit nie. Of die storie met ‘n knippie sout gevat moet word, weet ek nie. Met Danie weet ‘n mens nooit.

Hy het byvoorbeeld ook vertel van die die mooi preek een Sondag waarin Melkbosse lidmate opgeroep is om ná die uitspreek van die seën na iemand te stap en vir dié te vertel wat jy in hom of haar waardeer.

Danie (hy is Danie 2) sien hoe sy klubvriend Danie 1 of te wel Danie Grundlingh na hom aangestap kom. ”Danie, ou maat,” knoop Danie 1 ‘n gesprekkie aan: “Ek het lank gedink aan iets wat ek in jou waardeer … maar ek kan werklik aan niks dink nie!”

Wens ek kon Danie 2 se gesig gesien het. Gewoonlik is hy die een wat poetse bak.

Sy Probusmaats was nie verras nie toe hy ook vertel van ‘n besoek aan mnr. J.P. Theart, wat skoolhoof op Beaufort-Wes was, in ‘n tehuis vir bejaardes. Mnrt. Theart was toe al amper 90 jaar oud en het Danie nie herken nie. Maar toe hy hoor sy besoeker is Danie Krynauw het hy dadelik gereageer: ”Jy was die onnutsigste mannetjie wat ek as onderwyser teëgekom het.”

Hy is dit waaragtig steeds, mnr. Theart. Op tagtig – die eerbiedwaardige ouderdom wat hy Maandag 10 Desember bereik. Luister tog maar fyn as dié vent vir jou stories begin vertel soos van die arme vrou wat net een linkerhand het of die pous se vrou wat pas oorlede is ….. (hvd)

MELKBOS-MAKIETIE

More uit Melkbos

Die drinklied uit La Traviata, die drinklied uit The Student Prince, Eitemal se Drinklied – weet nie hoe dit is nie, maar die lied en die vers wat die vreugde van ‘n glasie besing, vind nog altyd by die uwe aanklank.

Saterdagaad het Eitemal (die oud-Kollegeman W.J. du P. Erlank) se Drinklied in my kop gedraai: Nog ‘n skuinse grappie, kêrels/nog ‘n glasie wyn/en die gore werklikhede/sal in mis verdwyn. Vonkelwyn en skaterlaggies/ sprinkel oor ons leed/ tot ons al die muf miserie/om ons heen vergeet. Styf gearm huis toe slinger/onder singlawaai, wyl die dronk ou wêreld om ons/ rondomotalie draai.

Skuinse grappies was volop toe ‘n 30-stuks oud-redaksielede van die dagblad Die Volksblad ‘n Kaapse makietie hier op Melkbos hou. Glasies wyn is van vroeg middag geklink – ook vonkelwyn (Villieria Blanc de Blancs se Cap Classique nogal, het ek agterna op die etiket gesien). Skaterlag het opgeklink. Telkemale, Veral van een tafeltjie in die hoek waar bekende grapjasse saamgebondel was.

“Gore werklikhede” het inderdaad in mis verdwyn voor die oorheersing van sentimentele onthou-jy-nogs uit die jare 60, 70 en 80 in Bloemfontein en elders waar die manne en vroue om den brode vir DV geswoeg het … van die grootste uitgelatenheid was oor Pieter Cronjé se briljante personifikasies van Piet Koornhof, ook al lank onder die langboompies.

Huidige vreugdes was o.a. die teenwoordigheid van Henriette Loubser, nuwe redakteur van Huisgenoot, dag en datum presies 25 jaar nadat sy, toe nog Henriette Anderson, as groentjie by Die Volksblad ingestap het. Een van die “amptelike foto’s” was van haar tussen haar eerste nuusredakteur, Philip van Rensburg, en eerste redakteur, die uwe. ‘n Getekende botteltjie Hanepoot het sy weg na haar gevind.

Op ons eie André J. Brink (Brinkie) is ‘n heildronk geklink. Hy het die vorige dag sy assistent-redakteursdeur by Huisgenoot finaal toegestoot. Vanoggend kon hy laat slaap.

Johan van Wyk, geliefde skrywer van die rubriek Stop van Myne, se eerste boek, So was dit, is op pad – ook daaroor is die glasies gevul. (Terloops, twee deurlugtige skrywerslede van die groepie kon nie teenwoordig wees nie … niemand minder nie as Deon Meyer en Chris Karsten!)

Jan en Nancy Oosthuysen vier oormore hul 53ste troudag – “ja, skink maar nog enetjie, asseblief”.

Nie aan alle “gore werklikhede” kon ontsnap word nie., Een van die Volksbladders het in die VanD’s se gasteboek geskryf: “‘n Laaste voorreg. Lief vir julle almal.” Sy bewoënheid was tasbaar. Hy is ‘n baie siek man.

Die fees is gereël deur die sogenaamde “Omgeegroepie” van oud-Volksbladders wat spontaan gegroepeer het en vier keer ‘n jaar saam kuier. Die naam kom van een van hulle wat soms ‘n botsing van datums met sy “Omgegroepie” ondervind het. Toe doop hulle hulle self terstond ook “Omgeegroepie”. Nou moet hy kies watter “Omgeegroepie” hy wil bywoon!

Om die okkasie des te meer luisterryk te maak, is van die beskikbare “ou mense” ook genooi. ‘n Spesiale verassing vir die meeste was dat daardie groepie 70-plussers ingesluit het die klassieke, pyprokende Boesmanlander Jan Scholtz en sy vrou, Marlene, uit Bloemfontein. Hulle kuier tot more by kinders in Durbanville.

Van 15:00 af het alle paaie na Melkbos begin lei, en is die aangename reuke van lam op die spit deur die windjie aangedra. Toe die weste verkleur in een van die skouspelagtigste sonsondergange in ‘n lang tyd en die wind wat die hele week woes geruk het, soos op ‘n teken ophou waai, was dit of dit spesiaal se gereël is: skitterende choreografie.

In een vername opsig is van Eitemal se Drinklied afgewyk. Niemand het, na my wete, styf gearm huis toe “geslinger” onder “singlawaai” nie. Almal is vol lewensvreugde, maar tog stemmig (en stewig) hier weg. Philip van Rensburg is sonder komplikasie deur ‘n padblokkade. Johan van Wyk het wel op die R300 ‘n hond getref. Dit was die hond se skuld. Blerrie hond. (hvd)