Dec 12, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Oor begrippe soos mooi, lelik, lekker, sleg, goed, oulik, vervelig – en in die nuwe idioom bepaald ook oor zef en “kommin” – kan ‘n mens nie stry nie. Jou oordele, insigte en smaak is ‘n persoonlike, emosionele en dikwels instinktiewe saak.
Takserings kan geweldig uiteenloop. Hierdie ou kan byvoorbeeld hoegenaamd nie verstaan dat mense van sushi hou, dink Die Antwoord is oulik of glo Madonna is mooi nie. Derduisende stem met hul voete (en hul beursies) teen my – dis hul goeie reg, solank hulle my net uitlos.
’n Keer het ek by die Greykollege in Bloemfontein’n toesprakie moes hou. My stelling dat ‘n koerant nie “objektief” kan wees nie, het nogal ‘n ligte beroering veroorsaak. Maar my eie koerant het dan die Cheetahs op die rugbyveld ondersteun en plakkate versprei met die woorde: Die Volksblad skree Vrystaat! Of: Stem vroeg, stem reg, stem Nasionaal! Die Burger weer sal sterwe as hy iets met ‘n Bloubul-etiket moet goedpraat en wou in ‘n stadium van Van Zyl Slabbert niks weet nie.
So kan ek aangaan. Oor die onderwerp van subjektiwiteit kan’n mens eindeloos voortborduur. Ek wil nie, in elk geval nie vandag nie. Die lang aanloop beteken net ek erken dat ek intens subjektief is. Ek was dit toe ek vrou, huis, motor, vriende, elke boek, elke das en elke paar sokkies gekies het. Ek is dit as ek ‘n mening lug as of iets vir my mooi, mooier of dalk die mooiste is.
Wel, hier kom dit: die tafels by ons onlangse Probusdinee op Melkbos was vir my mooi. Mooier as elke ander tafel wat ek kan onthou, hetsy by uithang-bruilofte, spesiale verjaardae, spogdinees, vername okkasies, Nataniël se TV-demonstrasies en wat nog.
Ek wil waag om vir Rina Theron van Atlantic Beach die kompliment te gee dat ek nog nooit by ‘n saal ingestap het wat my asem so weggeslaan het en by ‘n tafel aangesit het wat so ‘n visuele impak op my gemaak het nie.
Rina, wat ek al privaat vir jou gesê het, herhaal ek in hierdie blogruimte met vrymoedigheid: Dit was die mooiste tafel waarby hierdie ou nog aangesit het. Jou harde werk was nie vergeefs nie. Dankie, Frans Ellis, vir die foto’s wat reg laat geskied aan Rina se kunswerk.
(hvd)
Dec 11, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
“Die Bek” kan huil, lees ons vandag in Die Burger in ‘n onderhoud onder vier oë met Beeld se Arnim van Wyk.
Ek dink terug aan 35 jaar gelede. Vir dieselfde Beeld het ek destyds ‘n rubriek geskryf met die naam “Onder Vier Oë”. Op 10 Februarie 1978 het ek met die nimlike “Bek”, Kallie Knoetze, soos Arnim nou in haar onderhoud, diep dinge gesels.
Soos sy droom om die grotes met sy swiepende vuiste plat te slaan en as swaargewig-kampioen van die wereld gekroon te word. Sy afkeer aan ouens wat sy hand probeer pap druk as hulle hom groet …. en, aan die ander kant, ouens wat jou hand net ‘n rukkie te lank bly vasklou na die groetslag. ” Ek is nie ‘n moffie nie.”
Waaroor het ek en Kallie nie alles gesels nie? Oor Suid-Afrika se ander top-swaargewig Gerrie Coetzee vir wie hy min liefde gehad het – soos ook vir alte slim boksskrywers; oor sy bewondering vir Gary Player en die rugbyspeler Thys Lourens, sy gloeiende patriotisme, sy lojaliteit as polisieman, die operamusiek waarna hy graag Sondagmiddag geluister het, sy hunkering na ‘n maatjie vir sy oogappel Kallie-Matt wat toe 8 maande oud was.
Van die naam “Bek” het hy ewe min gehou as van Gerrie Coetzee. As iemand hom buite die boksomgewing “Die Bek” noem, slaan hy hom sweerlik plat, het die ou grote gedreig. Dat die naam na 35 jaar sou voortleef, het hy gewis nie voorsien nie. Hy sou dit nie wou he nie.
Wel, dit het. Na 35 jaar is “Die Bek”steeds “Die Bek”. HY noem selfs sy padstal “Die Bek”. Goeie bemarking.
Maar dieselfde “Bek” is dit nie. Hy is eintlik ‘n “regte ou softie” bely die “tawwe tienie” van destyds wat skares na die kryt gelok het. Hy huil maklik, en het emmers vol trane gestort toe hy sy kleinseun Nuan (4) met sy bakkie raakgery het.
“”Die Bek” ïs nog “Bek” – maar hy is ook nie. Almal verander maar in 35 jaar. Wonder hoe het ekself verander.
(hvd)
Dec 9, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
“Jingle Bells” en ”White Christmas” klink weer op in elke winkelsentrum. Dit gebeur elke jaar hierdie tyd van taamlik lank voor Kersfees af.
Op die patroon van herhalings in die Kerstyd (deesdae blykbaar, volgens die kaartjies wat ons ontvang, al hoe meer net bekend as die “Holiday Season”) herhaal ek graag my storie van twee jaar gelede waarin die geografiese verskil tussen die Bybelse Betlehem en die Vrystaatse Bethlehem (met ‘n h) ter sprake kom.
’n Sproetgesig-haasbekkie, self ’n wyse man in ‘n Kersspel, verklaar vol selfvertroue: die Kersgebeurde het hulle in die ander Betlehem (sonder ‘n h) afgespeel omdat hulle in die Vrystaatse Bethlehem nie drie wyse manne kon kry nie!
Vanjaar het daardie storie vir die uwe meer relevansie. Eie kleinseun, Christopher Claassens (3), was by sy speelskooltjie ‘n trotse wyse man. Kompleet met mantel, Russiese hoed en ‘n potloodsnor “soos Oupa”. Daarin het ek ‘n verskuilde pluimpie gelees: Oupa/snor/wyse man – verstaan jy?
Duideliker kan ek tog nie die konnotasie uitspel nie (‘n mens is darem nie so verwaand nie!).
Wyse manne is nie werklik tot die Ooste beperk nie. Seuntjies van Amazimtoti tot Zastron draf in Kersspelle as wyse manne op. Plek-plek is selfs ‘n Herodessie. Meisietjies staan tou vir die rol van Maria. Nie my skuld dat daar nie wyse vroue in die Bybelstorie is nie.
Moes glimlag toe ek ‘n keer in ‘n gemeentekoerantjie lees van die klein Mariatjie, moeg gerepeteer aan ‘n Kersspel. Sy kla toe by haar ma: “Mamma, dis harde werk om ‘n maagd te wees.”
Net maagde sal werklik weet hoe swaar dit is om teen alle aanslae in hul status te handhaaf.
Uit George rapporteer ons skoondogter, Mariza, van die meisietjie wat in een so ‘n spel die rol van herbergier vertolk het. In ‘n stadium verloor sy volledig belangstelling in die doen en late op die verhoog, storm eenkant toe, sprei haar hande wanhopig omhoog en roep pleitend: “Mamma, ek wil piepie.”
Die juffrou probeer paai, maar die kind bly haar behoefte uitkreet. Mamma het amper agter in die saaltjie gesit. Sy storm vorentoe, gryp die knypende “herbergier” en verdwyn met haar in die arms by ‘n sydeur uit.
Na ‘n paar minute keer hulle terug, glimlag van verligting op die “herbergier” se gesiggie. Die Kersspel het tot stilstand gekom vir die piepie- breek. Sy val egter dadelik weer in, en alles gaan voort asof daar geen onderbreking was nie.
Maar as n mens wil piepie wil jy piepie – herbergier of wie ookal! (hvd)
Dec 8, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Van Melkbos tot Stuttgart
More uit Melkbos
In die woonbuurt Kernen, Stuttgart, het ‘n sneeulagie op die grond en ‘n temperatuur van 0°C “ons Duitser”, Thomas Kuchar, ingewag na die lang pad terug van Melkbos af, via Johannesburg en Istanboel.
Thomas het drie maande lank in ons gastewoonstelletjie op Melkbos gewoon terwyl hy in Atlantis by Daimler-Benz se gietery indiens-opleiding ondergaan het.
Hy was later soos ‘n seun in die huis. Het byvoorbeeld vir ons Duitse lekkernye gebring wat hy vir sy gaste voorberei (een heerlike slaai met ‘n naam wat beteken lafenis vir ‘n wandelaar, of so iets). Op sy drarekenaar het ons sy Duitse lewenswyse op ‘n groot verskeidenheid foto’s leer ken – as amateur-brandweerman en op staptogte in die Alpe saam met sy pa en broer. Ongelooflike natuurskoon.
Tog het hy hom nooit ophou verwonder aan Tafelberg nie: Die platheid van die “tafelblad”, die uitsigte op die Atlantiese kus. Die wandelpad berg-op van Kirstenbosch se kant af was vir hom ‘n hoogtepunt. Ook die pikkewyne by Boulders. Die Vyf Grotes by Aquila …. Thomas het naweke nie stilgesit nie.
As Tokkie vir hom ‘n Suid-Afrikaanse gereg wil laat proe, plak sy net sy naam op die deur. Kort voor lank kom hy die trappe af met ‘n waarskuwende “Hallou..ou..ou”. As die bordjies terugkom, is dit silwerskoon. Hy is ‘n netjiese kêrel, wat, toe hy die oggend weg is, nog vir oulaas die opwasbak blink gevryf het.
Tokkie meen die konstante netheid van die woonstel getuig van grootword sonder huishulpe. Sy gee tog vir Thomas se ouma ook punte. Ouma het hom geleer om niks te laat rondlê nie, vertel hy. Maar hoe ook al, Thomas se vriendin, Stephanie (ook ‘n amateur-brandweerlid), wat in Kernen gewag het, is ‘n gelukkige meisie, verklaar my vrou, en kyk my deurvorsend aan.
Thomas is saam Kerssangdiens toe in die NGK Melkbosstrand en het op sy laaste Saterdagmiddag lekker saamgekuier by ‘n spitbraai saam met oud-Volksblad-kollegas. Hy is deur al my Sabieparkfoto’s in die boeke in sy woonstel met ‘n fynkam. In ons gasteboek het hy by sy vertrek, ná ‘n laaste glasie Amarula saam, o.m. in Afrikaanse neergepen: “Baie dankie”.
Uit Kernen het Thomas “mit freundlichen Grüßen” laat weet die weer is nie so sleg as wat hy gevrees het nie. Temparature is rondom 0°C en die son skyn. Ons is op pad stoep toe vir ‘n koue wyntjie in perfekte weer, het ek laat terugweet. Geen blaartjie roer nie. Dis mos soos dit is. Draai jou rug en dinge verander, ten goede of ten kwade.
Ons geniet die windlose dae. Wat ons nie geniet nie, is om weer te begin onthou om saans die binne-alarm te aktiveer. Geen ridder op ‘n witperd in die woonstel wat die ou mense in nood sal hoor gil en in hul slaapkamer te hulp snel nie. (hvd)
Dec 7, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Nou net Herman Giliomee se boeiende boek Die Laaste Afrikanerleiers neergesit.
Dis ‘n moerse boek. Van die begin tot die einde was ek opnuut vasgegryp deur die tragiese geskiedenis van die Afrikaner se futiele strewe na ‘n resep vir die een of ander vorm van magsbehoud; die verhaal van soekers wat nooit vind … en wat uiteindelik minder as ‘n hand vol vere oorhou.
Ook tragies weens die lot van al ons Afrikanerleiers, soos dit my tevore nooit so in ‘n geheelbeeld getref het nie:
1. Verwoerd wat in sy bank in die Volksraad vermoor word met ‘n dolk in die hande van ‘n versteurde immigrant;
2. Vorster wat vernerderd en verbitterd Oubos toe sluip, gediskrediteer deur die absurde Inligtingskandaal;
3. Die dinamiese PW wat onkapabel raak weens beroertes;
4. Die ANC-betowerde Van Zyl Slabbert wat in sy selfgeskepte politieke woestyn hoopvol maar vergeefs wag op ‘n reddende klop aan sy deur;
5. FW de Klerk wat tot in ‘n laat stadium in ‘n gekke sinsbegogeling bly dink hy en Mandela gaan saam die land regeer – die Kaap is Hollands.
Moet erken, ek was as redakteur ook maar onrealisties hoopvol meegevoer deur die valse sjarme van die mistieke ANC-“redders” uit onse onstuitbare politieke vryval; het ook maar bly vasklou aan die lekkergeloof dat dinge hier “anders” sal wees. Toe was dit nie.
Afrika,o Afrika!
(hvd)