SPOOKDORP OP DIE KANALE

More uit Melkbos

Die vlamme is geblus. Al wat oorbly, is die murasies wat soos geraamtes die lug inreik, die rommel, die verlore drome en die verwoeste lewens van mense wat alles verloor het:

(hvd)

KRONIEK VAN `N KIERIEMAN

Sakkie Perold se grinnikboek van 1976

Naand uit Melkbos

Ja, al is julle hoe hartlik sat en verveeld, gaan ek nog ‘n paar boustene inmessel in my muur van bejaardes van wie vele dinge kon gekrimp het, maar waaragtig nie hul grysstof nie.

Ek werk nie aan ‘n boek met die titel Kroniek van ‘n Kierieman nie (mooiklinkende opvolg vir Kroniek van ‘n Koerantman van amper 15 jaar gelede), maar dit bly ‘n gunsteling-onderwerp – seker maar omdat ons oues soveel beledigings moet sluk, skimpe moet verduur dat ons nie meer is wat ons was nie, en moet saamlag oor lawwe stories oor sogenaamde “senior oomblikke”.

My muur is al mooi hoog gemessel. Eerste steen wat ek vandag op sy plek neersit, kom uit vanoggend se Die Burger: adv.Sydney Kentridge QC, wat in Londen ”verlede week nog, op sy 90ste verjaardag, in ‘n belangrike saak verskyn het.” ’n Regs-metusaleg, soos verskeie ander sy edeles en edelagbares.

In Sakkie Perold se glimlag- en grinnikboekie Glimlag of Grinnnik 1996), lees my liewe Tokkie, altyd ‘n wakker verkenner, verlede week die volgende raak:

Sokrates het op 70 van sy grootste werk as filosoof gelewer. Goethe het Faust op 82 voltooi. Smuts was nog op 78 eerste minister van Suid-Afrika. Churchill was premier van Brittanje op 81. Gladstone het hulle getroef deur op 83 die vierde keer eerste minister van Engeland te word.

In ‘n spesiale vakkie gemerk “Oud maar nog nie koud nie”(daarin is ook die storie van Anthony Quinn wat op 78 ‘n sogenaamde liefdeskind verwek het) bewaar ek ook al geruime tyd ‘n brief van ene Linda in By. Dankie, Linda, vir die volgende juwele:

Robert Frost het bly dig nadat hy 70 was. Wordsworth het sy laureateship verwerf toe hy 73 was. Victor Hugo het Les Miserables geskryf toe hy 62 was. Bacon het sy beste werk geskryf na 60. Churchill het die Nobelprys vir letterkunde verwerf toe hy 79 was. In 2005 was die deursnee-ouderdom van Nobelpryswenners 73.

Colette was 72 toe sy haar beroemdste werk, Gigi, geskryf het. Verdi het Falstaff geskryf toe hy 80 was. Somerset Maugham het sy topverkoper Point of View op 84 geskryf. Sophokles het ‘n deel van die Oedipus-trilogie geskryf toe hy 90 was.

Albert Einstein het laat in sy lewe aan kernsplitsing begin werk. Een van Arthur Rubinstein se grootste klavierkonserte was op 80. (Ander bronne praat van 92.) Pablo Casals het ‘n tjellokonsert gegee toe hy 88 was.

Mag ek byvoeg: Les bes, Hennie van Deventer het hierdie blog geskryf toe hy nog bloedjonk was – twee maande voor sy 72ste verjaardag? LOL. (hvd)

BRAAIVLEIS-INFERNO

More uit Melkbos

Dis absoluut vreeslik. Vriende van ons het ALLES verloor. Met alles bedoel ek hul hele lewe. Die vrou is ‘n sielkundige wat van haar huis af werk. Alle rekords van al haar pasiënte is totaal weg. Baie van die rekords is belangrike wat in hofsake gebruik moet word.

So laat weet Willem van Aardt uit Somerset-Oos se kontrei oor die verwoestende St. Francisbaai-inferno.

‘n Gelukkiger boodskap kom van Boet Troskie uit Bloemfontein: Ons huis is op die eiland en omring met kanale. Dus is ons veilig.

Herman le Roux laat weet uit Randburg: David Serfontein (‘n gemeenskaplike vriend wat ook ‘n Sabieparke-eienaar is) het ‘n huis op St. Francisbaai. Hy weet nog nie.

Jean le Roux laat weet uit Hermanus: Pieter, ons jongste, se skoonpa woon op St. Francisbaai. Ons wag in spanning op nuus.

Reaksie stroom in op die dramatiese Twitterfoto’s wat deur my vriend Leo Kritzinger van Proteahoogte. Brackenfell, vir my gestuur is, en dadelik deur my per e-pos en Facebook verder versprei is.

Die krag van die sosiale media word opnuut beklemtoon. Ek ys in my wese as oud-koerantman oor die onmiddellikheid van hierdie nuwe mededinger. Maar tog … aan koerante bly ek glo. Hulle is “soos moedersmelk”. Dit net terloops.

Wat kan ‘n mens oor so ‘n verpletterende ramp se? Tot 100 paleise in daardie speelplek vir rykes nou swart murasies. Die skilderagtige toneel van imposante wit wonings met karaktervolle rietdakke langs blou kanale waarop bote dobber, is oornag deur ‘n vlammesee verteer. Skade van tot R400 miljoen aangerig (eie vinnige berekening).

Dit alles deur ‘n dwase vleisbraaivuur in ‘n stormwind. Miskien is ek bo alles die dankbaarste dat dit nie my tjoppie en worsie op daardie onheilsrooster was nie. (hvd)

NOG `N GRIEKWASTAD?

More uit Melkbos

Seun in hegtenis

In ’n skokkende wending is Martin Brits (28), seun van die vermoorde ds. Willem Brits (60), in hegtenis geneem weens die wrede aanval Donderdagaand in die pastorie.

Die pastoriemoorde op Harrsimith lewer vandag ‘n boeiende joernalistieke vergelyking op.

Die Burger berig ‘n “nabye familielid” is in hegtenis geneem.

Beeld berig “‘n seun” is vas oor die moorde op die leraar en sy aanstaande skoonseun en die wrede aanranding op sy vrou.

Volksblad noem die naam van die seun wat in hegtenis is. Die flits hierbo is geneem van Volksblad se webblad.

Dit is nie vreemd dat koerante in dieselfde stal nie altyd moeilike besluit eenders neem nie. Die Burger is geneig om die weg van versigtigheid in te slaan – hy loop die reguit pad as ‘t ware. Beeld verras my nogal vanoggend. Dis ‘n koerant wat nie huiwer om dapper besluite oor nuushantering te neem nie.

My ou koerant, Volksblad, is nou die land voor met die “scoop”. Geluk, julle almal. ‘n Oud-redakteur se bors swel van die trots.

Wat vir die waarnemer uit die verre Melkbos opval, is dat Volksblad ‘n nuwe redakteur het, die eerste vrou by A.J.R. van Ryn se lessenaar van Birmaanse kiaat – een waarby ek ook twaalf opwindende jare gesit het.

Ek is 15 jaar afgetree en sit ver van die vuur. Ek dink dat Johanna die regte besluit geneem het – ondanks moontlike reperkussies. Sy moes besef het die Sondagkoerante gaan more die krane oopdraai. Geen sin om op nuus te sit wat 24 uur later op ander voorblaaie geblaker gaan word nie. Sy moes ook die klimaat in die gemeente Kerkenberg en op daardie Oos-Vrystaats dorp aan die voet van die Platberg opgeweeg het: die opwelling van intense emosie en waarskynlik ook rou rassegevoelens. Die pastoriepaar en hul vier aangenome kinders is/was geliefde mense.

Hoe asembenemend die nuus op Harrsmith ontvang moet word, kan ‘n mens net raai. Kry daardie skok egter so gou as moontlik agter die rug. Dit is gesonder vir die hantering van die diepe kollektiewe trauma as skadelike bespiegeling en gerugte. Hoe ook al, Johanna, jy het gou in daardie warm stoel jou spore verdien!

‘n Aspek wat ook boei, is dat sowel die Harrismith-moorde as die Griekwastad-moorde in Volksblad se lesersgebied was. Die Griekwastad-gesinsdrama het enorme uitdagings aan Volksblad gestel. Hy het met eer uit daardie neerdrukkende oefening getree.

In hoe ‘n mate sy ervaring met Griekwastad se netelighede Volksblad se mense geslyp het om met Harrismith ferm raak te vat, is ‘n antwoord wat net uit Bloemfontein kan kom. Dat dit ‘n faktor moet gewees het wat daardie koerant weer in die joernalistieke resies voor geplaas het – ook voor sy twee groter en bekender susters – is egter onteenseglik, meen ek.

Kom ons haal almal ons hoede vir Johanna van Eeden en haar span af. (hvd)

NASKRIF:

My aandag is daarop gevestig dat Beeld in sy laaste uitgawes vanoggend wel ook die naam gepubliseer het van die seun wat weens die pastoriemoorde op Harrismith in hegtenis geneem is. Verheug my, want vir Beeld het ek ook ‘n sagte plekkie na al die sakke sout wat ek in die eerste ses jaar van sy bestaan saam met die ander Beeld-pioniers in Doornfontein opge-eet het.

Dalk het Die Burger ook die naam in sy stadsuitgawe. My vorige blog is egter geskryf op grond van die uitgawe van Die Burger wat ek op Melkbos voor my gehad het, en Beeld se webblad wat ek daarna, om 08:00, besoek het.

Saktye het seker ‘n rol gespeel – maar dit bly ‘n feit dat Volksblad voor sy groter susters die nuus op sy webblad gehad het. Webblaaie het na my tyd gekom,. maar dit sou my verras as Volksblad se webblad deur ‘n gunstiger saktyd bevoordeel sou gewees het.

As ek my kollegas by Beeld en Die Burger onverdiend te na gekom het, is ek jammer. Maar dit verdun nie my trots op Volksblad nie!

KAT SE SNOR

Lang kaal bolip …

More uit Melkbos

Snorre is die onderwerp van ‘n radiogesprek oor die motor se luidsprekers. Dis Snormaand en oweral word mos nou allerlei snorre gekweek vir die jaarlikse kankerinsameling. Voorste kwekers – die hardebaarde as ‘t ware – deel met ‘n geamuseerde Martelize Brink van RSG hul wyshede oor die haredossie op hul bolippe.

Tuis gekom, is ek dadelik spieël toe. Nie dat ek op weligheid aanspraak kan maak nie. Trouens, die gelaat wat na my terugstaar, vertoon maar ‘n ylerige, spierwit gryse strepie haartjies onder die neus, ‘n beskeie eiendomlikheid wat boonop duidelik fyner sorg met ‘n skerp skêrtjie en ‘n stewige hand verg.

Maar dat dit ‘n beleë snor is, is nou maar wors. Die oesjaar is 1957. Ek het in matriek skuins voor die eindeksamen die onderwysers begin aanstoot gee met my entoesiasme om met ‘n wollerige bolip ‘n stelling te maak. Ek het in 1958 as ‘n ienk met ‘n snor by Tukkies opgedaag, en die seniors het my maar laat begaan. ‘n Ou met ‘n snorkannet so bekwaam vuil sokkies was as ene daarsonder.

My snor is dus juis nou dat die matrikulante eksamenlokale vol sit, ‘n gedenkwaardige 55 jaar oud – seker een van die bejaarder snorre in die Republiek. Die kort onderbreking sou ek liewer wou verswyg. Dit was in 1977 in Cambridge,Massachusetts, toe ek een oggend met die skeermes ‘n ligte mistykie began. Die ander helfte van snor moes noodwendig ook waai. Rus in vrede. Marisa, toe ‘n tedere drie, het gegril vir die vreemde pa. Almal wou weet: “What happened to your moustache, Hêni?”

Daardie kaal bolippie het gevoel of hy van my voorkop tot teenaan my ken strek: die langste, naakste stuk vel op my gesig. Oornag het ek die skeermes weer selektief begin aanwend. Die snor (snorretjie) het sy herverskyning gemaak. Ek sit ‘n foto van HvD sans snor hierby – so weerloos het min mense in lewe die uwe al gesien. Aangename kennis, my naam is Hennie van Deventer …..

Ek is jaloers op die ouens wie se indrukwekkende snorre hulle vir die bynaam “Snorre” laat kwalifiseer. Die bekendste “Snorre” van resente tye moet Peter de Villiers (gewese Springbokafrigter) wees. In die geskiedenis was daar heelparty op die SA toneel – “Snorre” de Jager was in die 60’s (glo ek) nogal ‘n rugbyslot van formaat. In die Weermag was ‘n welige snor in ‘n stadium amper ‘n soort rangteken. As ‘n troep ‘n snor sien, salueer hy sommer! (In Noorweë is natuurlik ook hope ouens met die naam Snorre – baie so kaal-bolip soos hulle in die wêreld gekom het. Snorre is daar ‘n gewilde seunsnaam en het niks met die status van jou bolip te doen nie.)

Dit net terloops. Die vraag ontstaan: hoekom ‘n snor? Dat dit jou soenbaarder maak, is waarskynlik ‘n mite, al word in ‘n spreekwoord beweer dat om ‘n man sonder ‘n snor te soen, is soos om sop met ‘n vurk te eet (of iets in daardie trant). My eie kuservaring, hoewel nie uitgebreid nie, het my onder die indruk gebring dat meisies nogal kielierig kan wees.

My snor, moet ek maar bely, het gegroei uit die behoefte om, soos ek bo laat blyk het, as baba van die matriekklas én dan ook taamlik grootdoenerig van nature ‘n uitdagende stelling te maak. “Ek is amper ‘n grootmens! Whê!” Die snor het my, kortom, soos die kat se snor laat voel.

Daarna het gewoonte oorgeneem. Vandag sal ek nie oorweeg om skeermes in daardie kontrei in te steek nie. As die koel seebriesie so hier op Melkbos opsteek, kan ‘n ou se bolip dalk so koud raak dat dit wegkrimp soos iets anders van daardie Weskusser wat nou die dag in Die Burger oor die watertemperatuur gekla het.

Of grootte tel of nie tel nie, is op ‘n ander terrein ‘n onderwerp van debat, amper soos: Wat is die magtigste – die pen of die swaard? Op grootte (van snor) kan ek ongelukkig nie aanspraak maak nie. Maar daardie nederige snorretjie is ekke. So sal ek bly tot my laaste asem vir laas die haartjies roer … of totdat ‘n warkop-verpleegstertjie wat verkeerd geluister het, dalk ook eendag ‘n ligte mistykjie maak oor waar aan my lyf sy my vir die teater moet voorberei. (hvd)