BY DIE DOOD VAN OU NOTTIE

More uit Melkbos

Nottie van Die Burger is dood. Het van 1963 met hom saamgewerk maar moes vanoggend in die koerant lees sy voornaam was Dannny.

Danny Nothnagel – hoeveel enorme nuus is nie in sy amper 40 jaar in die telekskantoor deur hierdie vermaarde (versigtig nou met die spelling!) teleksman se vlytige vingers nie.

Die moord op dr. H.F. Verwoerd in sy bank in die Volksraad op 6 September 1966, Chris Barnard se eerste hartoorplanting op Louis Washkansky op 3 Desember 1967, die vrylating van Nelson Mandela uit die Victor Verster-gevangenis op 11 Februariue 1999, die geboorte van die Nuwe Suid-Afrika in die voetspoor van daardie gewigtige oomblik …

Vir my eerste 25 jaar by die pers het die gekletter van die teleksmasjiene en die onophoudelike stroom inkomende berigte wat in rolle vuurwarm nuus op die vloer neerplons, in die ware sin van die woord die hartklop van die koerant versinnebeeld.

Ou Nottie en sy onbesonge kollegas in hul afgesonderde werkruimtes – ver van die openbare aandag – was onafskeidbaar deel van daardie hartklop. In die donkerste ure vir die land en in sy jubilasies.

Soos die meule maal, het die nuwe tegnologie die teleksmasjien se stem laat stil word. Rekenaars werk amper geruisloos. Nou is die generasie koerantmense wat daardie dae beleef het en dit steeds helder in herinnering roep, ook aan die wegkwyn.

Die son sak oor ‘n era. Die skemerte breek aan. Die Ewige Vernuwing duur voort.

(hvd)

VINNIG MET DIE NUUS

Britse telegrafiste en telefoniste stuur oorlogsnuus huis toe uit die slagveld in die verre Boererepublieke. (Uit: “The War Correspondents, The Boer War”).

Middag uit Melkbos

Ek kruis nie graag swaarde met Leon Rousseau oor Racheltjie de Beer nie, want ek deel sy deernis vir dié stukkie dierbare volksbesit (By, 6 Oktober). Dat hierdie voorste gesaghebbende oor Eugène Marais instinktief beskermend van Marais reageer, is goed te verstane. Hy openbaar in “Die Groot Verlange” immers ‘n diepe gevoel vir daardie komplekse genie.

Rousseau se reaksie op G. Olwagen en Leo Kritzinger se boeiende teorie onderskat die sofistikasie van interkontinentale kommunikasie in die sogenaamde “Roaring Twenties” egter op verrassende skaal. Nuus is allermins in 1921 nog met rookseine, posduiwe, poskoetse, tjoek-tjoek-treine of selfs ouderwetse stoombote versprei!

Trouens, die dinamiese jare ’20 – deur die Franse ook kleurryk “années folles” of “Gekke Jare” genoem – was ‘n era van ontwaking. Die lewe het woema gekry. Snelle vordering op die gebied van o.m. die outomobiel, telefone, telegrafie, rolprente, elektrisiteit, die perswese en, les bes, jazz het die lewenstyl gekenmerk.

Dat dit ‘n tydskrif uit Noord-Dakota dalk toe nog weke of maande kon vat om Suid-Afrikaanse bodem fisiek ter see te bereik, is goed en wel. Maar nuus het vars geword. Dié is al geruime tyd oornag of vinniger deur nuusdienste soos Amerika se Associated Press en Engeland se Reuters kletterend tussen hoofstede geblits. En die Minerstorie was, volgens elke definisie van nuus, ‘n treffende berig wat waarskynlik nie lank in ‘n enkele streekblad versteke sou bly voordat ‘n nuusdiens dit opraap nie.

‘n Mens sou selfs kon beweer dat die wêreld in 1921 al met rasseskrede op pad was om ‘n “global village” te word. Samuel Morse het 80 jaar tevore, in 1835, al almal verstom met sy tegniek om seine telegrafies oor groot areas te versprei. In die 1840’s is die eerste eksperimentele telegraaflyn van Washington na Baltimore gebou. Die Associated Press dateer uit 1846, weliswaar aanvanklik as ‘n “snelroete” met ponies deur Alabama om nuus van die Meksikaanse Oorlog vinnig in New York te besorg; weldra ‘n veel doeltreffender nuusdiens. Reuters is in 1851 in Engeland gestig.

Ponies is gou deur die tegnologie ingehaal. Telegrafiese oorlogsberiggewing van die front af is net agt jaar na die stigting van AP die eerste keer in die Krimoorlog (1854-56) ingespan. In die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) was dit hoegenaamd nie meer ‘n nuutjie nie. Die outeur Raymond Sibbald gee in sy boek “The War Correspondents, The Boer War” (Jonathan Ball, 1993) ‘n insiggewende beeld hoe oorlogskorrespondente (onder wie Kipling en Churchill) lesers uit die verre Boererepublieke ingelig gehou het, as’t ware met hul woorde in die reuk van rook en kruit gedoop.

Selfs die “moderne” landlyn (versending van foto’s per telegraaf) is nie so modern nie. Dit is ‘n produk van 1935 – ‘n skrale 15 jaar nadat die aangrypende Hazel Miner-storie, volgens Olwagen en Kritzinger, net dalkies in ‘n verwerkte gedaante in “Die Boerevrou” opgeduik het. Die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 45) kon koerantlesers ook op foto’s grafies uitgebeeld sien.

Hierdie historiese gegewe bewys natuurlik nie daardie twee ondersoekende geeste se teorie nie. Wat dit onteenseglik bewys, is dat Rousseau liefs nie die moontlike konneksie tussen Hazel Miner en Racheltjie de Beer op grond van ‘n wankelplank-argument soos stadige skeepsverkeer moet bevraagteken nie. (hvd)

“MADE IN THE USA”

Middag uit Melkbos

Na aanleiding van vanoggend se artikel in “By” oor die moontlike Amerikaanse wortels van die Afrikaanse heldeverhaal van die Voortrekkermeisie Racheltjie de Beer herhaal ek hier my blog van 2 Augustus 2010 oor ‘n vorige “Made in the USA”-ontnugtering. Laat ons dan nie vergeet dat “Sarie Marais” ook ‘n Amerikaanse rokkie dra nie!

PERD VAN ‘N ANDER KLEUR

“Jippie-jippie jip, ou pêhert!” Ek dag altyd Chris Blignaut se immergroen liedjie “Ou Ryperd” (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) is só Afrikaans soos koesisters. Een van die musikale ontnugterings van my amper 70 (nou amper 72) jaar op aarde was toe ek verneem dit dra eintlik die stempel “Made in the U.S.A.”

“Ou Ryperd” is inderdaad ? vrye vertaling/interpretasie van die VSA se “Old Faithful we roam the range together”. Ja, ‘n perd nie net van ‘n ander kleur nie, maar ook van ‘n ander taal, land en kultuur. Gaan luister maar – Amerika se “Old Faithful” en ons Boere se “”Ou Ryperd” is vinkel en koljander.

Wat opval uit die lirieke is dat die perd in die Amerikaanse weergawe ‘n naam het en die nooi nie. In Afrikaans is dit andersom. Is die Amerikaners liewer vir hul perde en ons vir ons meisies?

Só sing Chris Blignaut en Dozi:

Ou Ryperd, ons ry die pad tesame
Ou Ryperd, so deur die lewensbane
Wanneer jou rydag oor is,
Gaan jou ou lyf lekker rus
Jy, ou Ryperd van my.
Jaag maar aan ou maat
Die maan skyn helder (heller!) vanaand
Jaag maar aan ou maat
My nooientjie sy wag vir my vanaand
O hoor hoe tjank die jakkals op die rivier se brug
En dra my op jou lekker ou rug
Jaag maar aan ou maat,
want my nooientjie sy wag daar vanaand.

KOOR:

Jippie Jippie Jip (x2)
My ou perd
Daar is voer en rus
En jy doen jou bes my ou perd
Dra my oor die rivier se brug
Dra my op jou lekke ou rug
Na my nooi Sannie
Die dogter van Tant Annie op die plaas.

En hier is die lirieke van “Old Faithful”:

Old Faithful, we roam the range together
Old Faithful in any kind of weather,
When the round up days are over,
And the boulevard’s white with clover,
For you old faithful pal of mine.
Giddy up old fella cos the moon is yellow tonight,
Giddy up old fella cos the moon is mellow & bright,
There’s a coyote crying at the moon above,
Carry me back to the one I love,
And you, old Faithful pal of mine.

Nog iets wat ek nie geweet het nie (ek lees dit op die internet) is dat die Tukkies in ‘n stadium (wanneer?) daarvan ‘n patriotiese intervarsity-lied gemaak het:

“Stad van die noorde, O ek verlang na jouhou/ Stad van die noorde, die jakarandas is weer blou-ou/ Al my lief en leed het ek daar aanskou/ op jou wil ek my toekoms bou? Voortrekkerstad, ou Pretoria/ Elke ou Tukkie verlang na jou/ Ons Alma Mater sal ons nooit vergeet nie/ Ou Pretoria …”

Is ek dan die enigste vreemdeling in Jerusalem wat hierdie goeters nie geweet het nie?
(hvd)

SAAM IN DIE KOOI

More uit Melkbos

Met drie seuntjies om 06:30 saam in die kooi het nie eens die boeiende Racheltjie de Beer-storie uit die bekwame penne van gewaardeerde oud-kollegas Ollie en Leo vanoggend in die VanD-huis op Melkbos die aftrek gekry wat dit verdien nie. Maar ek het iets op die hart daaroor. Hou gerus hierdie ruimte dop…

Ek het ook nog iets op die hart oor oumense wie se koppe verreweg nog nie raas nie (Vorige blog: My liewe jong vriend …). Sal ook daarby uitkom.

By die pas ontwaakte Oupa met die verwaaide hare is van links Jacob, Thomas en Christopher Claassens van Welgemoed. Jacob en Thomas is 8. Vra jy Christopher hoe oud hy is, steek hy drie vingertjies in die lug. Slim kind – aardjie na sy Ouvaartjie. (hvd)

MY LIEWE JONG VRIEND …

More uit Melkbos

Die wysheid van die grysheid word bekroon met die verowering van ‘n reuse-geldprys deur Desmond Tutu vir sy lewenslange, konstante en vreeslose verkondiging van die waarheid. Hy is 81 jaar oud. My behae is groot, want ek stik steeds oor die private opmerking van ‘n prominente jonger leier wat die opinies van ‘n sekere groep afskiet omdat hulle “almal 65, 70 jaar oud is”.

Bid jou dit aan. Sonder dat ek ‘n studie gedoen het, kan ek ‘n lang lys name neerpen van mense van ver ouer as 65,70 wat juis met hul skerpe intellek die toon aangegee het of dit nog doen. Onder hulle tel presidente, premiers, Nobelpryswenners, regters, skrywers, uitvinders, wetenskaplikes …. noem maar op.

Een van my rolmodel-bejaardes is Benjamin Franklin wat sommer skrywer, uitvinder, diplomaat, politieke leier en wetenskaplike in een was. Op 78 het hy die bi-fokale bril gelewer. Op 81 was hy ‘n grondlegger van die grondwet van ‘n onafhanklike Amerika. En toe hy sy oë uitvee, is hy as president verkies. In sy laaste jare – hy is op 84 oorlede – het hy ‘n leunstoel ontwerp met ‘n ingeboude trapleer om sy boeke op die boonste rakke by te kom. Lees, het hy bly lees; enduit het hy kennis gesoek en geskep.

Golda Meir het op 70 die premierskap in Israel oorgeneem; ons eie dr. D.F. Malan het op 74 premier geword en dit gebly tot op 79. Ronald Reagan was 78. Nelson Mandela het op 71 afgetree. Koning Lodwyk 14 van Frankryk, die Sonkoning, was tot aan die einde van sy lewe, op 77, die regerende vors. Dit was in die jare 1700 – minder brille en pille was beskikbaar as vandag!

In Amerika het regter Wesley Ernst Brown tot op 104 sake verhoor – al was hy aan suurstof gekoppel. My Sabieparkvriend Gustav Hoexter (nou 88) was op 73 voorsitter van die Hoexterkommissie wat ingrypende regshervormings aanbeveel het. My matriek-klasmaat Ferdinand Preller is ‘n fikse en dinamiese 72-jarige regter in Pretoria. Hy word as ‘n “jong regter” geag en hou graag skivakansies.

Audrey Blignault het met haar skryfwerk tot diep in die 80’s die lewe vierkant bly aandurf. Leon Rousseau woeker op 81. Ds. A.F. Louw het ‘n boek geskryf: “My eerste 90 jaar”! Myra Scheepers het pas op 80 gedebuteer met “Om die Ngunivure”. My vriend Sarel Venter se swaer Lategan Bredenkamp het op ouer as 80 drie boeke die lig laat sien en gloeiende resensies gekry.

Gryses laat te dikwels toe dat gespot word met hul “senior oomblikke”. Die sangeres Julie Andrews van “Sound of Music-faam” is op 70 minute lank oorverdowend toegejuig ná ‘n konsert in New York se se Music Radio Hall. Die reusegehoor was op hul voete. Was daardie oomblik van glorie nie eerder ‘n “senior oomblik” as ‘n ongemaklike of ‘n verleë oomblik nie? Ek vra maar net.

Ek wil nie vervelig raak nie … kom ons los die “name dropping” daar. My punt is hopelik gemaak. Nie verniet nie word van Bybelse dae by die ouer garde groter insig en ryper oordeel raakgesien en geëer. In lande soos Amerika en Japan word die aftree-ouderdomme opgeskuif om nie die versamelde kundigheid en vermoëns van ‘n kernkorps te vroeg verlore te laat gaan nie.

Dan kom neerbuigende jongeres en verklaar ons almal wat in die 40’s of vroeër gebore is tot gistermense wie se standpunte en insigte op grond van hul “gevorderde jare” verwerp moet word. My liewe jong vriend – jou koker moet dolleeg wees as jy met sulke ligsinnighede verstandige argumente wil afskiet.

Naskrif: Joernaliste brand gouerig uit. Miskien lewe ons te voluit in ‘n te vinnige baan. Een uitsondering is my eerste nuusredakteur by “Die Volksblad”, Gert Terblanche. Die oud-koerantman, -politikus en – diplomaat was gister 90. Hy laat hom steeds geld in briewe aan die pers, diens aan die kerk en op ander terreine. Hy klink, praat en doen soos iemand wat dekades jonger is. Geluk, Oom Gert, uit Melkbos – laat ons gerus vir jong Slimjanne ‘n kollektiewe tong uitsteek!
(hvd)