Sep 10, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
‘n Oulap se sop loop ver- so was dit altans in die goeie ou dae.
My “Grassnyer” (die 1961-model Fiat 500-Gardiniera) kon iets soos 58 tot 60 myl per gelling haal. Dis ‘n fenomenale 5 liter op 100 km.
Onthou, petrol was toe spotgoedkoop – net oor die 40 sent ‘n gelling (4,5 liter), d.w.s minder as tien sent ‘n liter. Vandag betaal jy heelwat oor die R10 per liter. Jy kan jouself gelukkig ag as jy wegkom met minder as R1 per kilometer.
Ek het gaan Google n.a.v. “Laserstraat”se spoggery in ‘n kommentaar op my vorige blog, “Jou klein klits”. Hy meld sy nuwe 1965 Vauxhall Viva het hom 41 myl per gelling gegee, wat nauurlik self nie te versmaai is nie, veral as jy die verskil in krag en top-snelheid in aanmerking neem.
Vir ‘n arm man se sak was die Fiat egter nommerpas.
Op Google het ek ook die foto’tjie van die rooi stasiewaentjie (identies aan my my donkerbloue) raakgeloop – asook ‘n paar interessanthede wat hier met die nodige erkenning graag byhaak:
K or Giardiniera (1960–1977)
The estate version of the Fiat 500 is the longest running model. The engine is laid under the floor of the boot to create a flat loading surface. The roof on this model also stretches all the way to the rear, not stopping above the driver and front passenger as it does in other models of the same period. The K also features “suicide doors” and was the only model to continue to sport this door type into the 1970s. In 1966 production was transferred to Desio where the Giardiniera was built by Fiat subsidary Autobianchi.[1] A total of 327,000 Giardinieras were produced, later examples having Autobianchi rather than Fiat badging.[1]
Long distance travel in 500s
• In July 1958, seven Fiat 500s, including at least one 500 Sport and several Abarth-tuned 500s, contested the first and only Liège-Brescia-Liège Rally for cars up to 500cc. Though beaten by the Berkeley SE492s and Messerschmitt TG500 on the opening hillclimb, the Fiat 500s showed exceptional durability, battling through this almost non-stop 3300 km event, over testing dirt-road passes in the Italian Dolomites and Yugoslavia, to win. First place was taken by the 500 Sport of Italian Arturo Brunetto and Argentine Alfredo Frieder, second by the Abarth 500 of Luxembourgers Wagner and Donven, with 500s also taking 4th, 6th, 7th, 9th and 13th places. While only 13 of the 29 competing cars finished the rally, all seven 500s did, establishing the car’s credentials as a capable all-round car.
Fiat 500 World Expedition from Australia
• In May 2007, a 1969 Fiat 500 (“Bambino” in Australia) driven by Lang Kidby and his wife Bev started their Fiat 500 World Expedition from Australia. Driving from Vladivostok through Russia they arrived in Garlenda, Italy in time for the car’s 50th anniversary celebration. Shipping from Belgium the car set out from New York to travel all the way to Anchorage, Alaska before returning to Australia—32,000 road kilometres in just 99 days. It is believed to be the smallest car to complete a world circumnavigation.
• On 18 April 2005, a 1973 Fiat 500 linked Bari, Italy, to Beijing, China, in a 16,000 km journey across the whole of Russia and passing through Vladivostok. Driven for 100 days by Danilo Elia and Fabrizio Bonserio, the old and tiny car was followed along its journey by newspapers and television from all over the world. After the long journey Elia wrote a book entitled La bizzarra impresa (ISBN 88-7480-088-6) (“The bizarre exploit”), now available only in Italian and German (Echt Abgefahren, National Geographic Deutschland, 2007, ISBN 978-3-89405-834-0). In April–June 2007, the same car driven by Danilo Elia ran around the Mediterranean sea for more than 10.000 km, being the first Fiat 500 to reach the Sahara dunes.
My bors swel oor my “klein klits”. Dalk het ek hom doerie tyd onderskat!
(hvd)
Sep 9, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Net so ‘n klein blouetjie gehad!
Middag uit Melkbos
Hoeveel blikkies kondensmelk koop ‘n mens vir R200 000? Hoop omtrent soveel as wat jy in 1960 vir R500 gekoop het. Anders het die Italiaanse “skilpadjie”, die Fiat 500, darem allemintig duur geword.
Ek het in 1960 as derdejaar-Tukkie ‘n Fiat 500 by my ouers gekry – een van die eerste 500-stasiewaentjies, met die deftige naam Giardiniera. My vriend Pierre le Roux het, toe ek by Kollegehuis daarmee opdaag, my ryding terstond die “Skoolbus” gedoop. My kar is ook deur studentemaats onvleiend die “Grassnyer” genoem.
Daardie pynlikheid net terloops. My punt is eintlik dat daardie splinternuwe plaasvervanger vir my ou “Santa Maria” (‘n Peugeot 203 van 1953) my ouers, as ek reg onthou, plus-minus R500–R600 uit die sak gejaag het. Vandag lees ek in “Rapport” ‘n mens dok nou meer as R200 000 vir so ‘n oulike kêreltjie in sy byderwetse gedaante uit.
Die kondensmelk kom in by wyle Fred Schnetler se kondensmelk-prysindeks. Soos in die geval van die Big Mac-indeks kom dit daarop neer dat pryse van produkte plus-minus in verhouding met mekaar gebly het. As jy doerie tyd tien blikkies kondensmelk (of soveel Big Macs) vir iets moes uithaal, sal dieselfde ding jou vandag nog rondom tien blikkies (of soveel Big Macs) kos.
Met die Fiatjie is hierdie indeks onder druk geplaas, vrees ek. Maar in alle billikheid die Fiatjie van nou en die Fiatjie van toe is nogal perde van ‘n ander kleur. Daardie outjie met sy piepklein-wieletjies se 17 perde onder die vloer van die kattebak het langer as ‘n minuut gespook om van 0 tot 100 km per uur te “versnel” – kwalik ‘n ryding vir die nuwe geslag. Vandag versnel (sonder aanhalingstekens, let wel) die Fiat van 0 tot 100 in ‘n handvol sekondes. Selfs die grootste jappie swel van trots op sy Fiat-blitsbuksie in sy motorhuis.
My outjie het op ‘n epiese reis van Bloemfontein na Kaapstad vir die Parlementsitting van 1963 – ek was toe parlementêre verslaggewer – my geduld nogal beproef. Nadat ek die eerste aand tot by Beaufort-Wes aangekruie het (die Wawiel-motel), het eers ek laterig die tweede dag die noordelike stasgebiede van Kaapstad bereik. Ek was ongeduldig en gedaan, en is dadelik na my skoolmaat wyle Carel Weeber by die Trust Bank om ‘n lening te vra. Daarmee het ek ‘n gebruikte Cortina gekoop, wat later my en Tokkie se vrykar geword het. Hy was lekker ruim met genoeg beenspasie en so. Hy kon ook die teerpad vreet!
Aan die verandering van lewenswyse (van ‘n Fiat 500 tot ‘n Cortina 1500) het ek enkele weke gelede rede gehad om te dink toe ek in Kuilsrivier by Carel se gedenkdiens was. Ek glo my goeie maat het oor my betroubaarheid ‘n goeie woordjie by die kredietbestuurder gedoen. Dankie, Carel!
Eintlik wou ek destyds ‘n Mini koop, daardie klein windgat ikoontjie van die Britse motorbedryf. Maar op Klerksdorp was nie een op die vloer nie, en ek het eenvoudig te erg gebrand vir nuwe wiele om een in Johannesburg te gaan haal. Dalk was dit uit die oogpunt van ratsheid ‘n fout, maar sou ek met ‘n vinniger Mini nog ewe veel pret gehad het?
Ten slotte: laat die nuwe 500 nou maar so ougat wees soos hy wil, dis die koddige 500’tjie wat tesame met die Vespa en die Lambretta die arm Italianers ná die Tweede Wêreldoorlog die weelde van wiele laat leer ken het. Ek glo ‘n generasie Italianers het tot aan die einde van hul dae aan hul eerste 500’s lojaal gebly.
Hoe kan ek dan anders as lojaal wees aan my klein klits? Dus hulde, ou maat, by herhaling. Ten minste dan ter wille van jou suinigheid met brandstof (jy het van Bloemfontein na Kaapstad omtrent net ‘n paar stewige wynglasies vol petrol geledig). Tweedens ter wille van die eindelose pret wat jy my en my Kollegevriende besorg het.
Kan boonop nie onthou dat jy een keer onklaar in ‘n werkwinkel was nie. Wat ‘n getuigskrif vir Italiaanse kwaliteit en duursaamheid! (hvd)
Sep 7, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Lieflike aand op Melkbos se strand
More uit Melkbos
Aitsa. Nou is ons bekoorlike dorp (dorpie) darem vir jou behoorlik op die mêp! As jul kan jol soos ons kan jol, dan jol jul in die “sittie hol”!
Moet bely die ou man is ietwat uitgeboul met “Die Burger” se voorbladnuus vanoggend oor al die kooi-kaskenades. Meeste buite-egtelike verhoudings in die hele Kaap, verbeel jou!
Weet wel van een of twee Melkbossers wat “Rapport” en/of “Huisgenoot” (dalk selfs “Son”) gehaal het, en nie in die sportuitslae-kolom of die TV-programskedule nie. Het ook tot my verbystering gehoor die ACVV het ‘n keer op ‘n kerkbyeenkoms vir oumense komplimentêre kondome uitgedeel. Maar het regtig nooit gedink ons melk-en-heuning-tuiste se bekoorlikheid setel in ons onbehoorlikheid nie.
Trouens, ek dag ons lang strande en eindelose seetonele is Melkbos se groot bates. Ook die hemelse uitsigte op die berg in sy verskillende kleurskakerings. Om nie te praat van die Weskus se skilderagtige sonsondergange nie. Die gemoedelike rustigheid. Die geselligheid …
Ek dag party buitestaanders dink aan Melkbos as die tuiste van die “bose” Koeberg – “O, die arme drommels!” Party weet dalk van onse fynbos-gholflandgoed wat in vele opsigte toonaangewend is. Party ry net op die N7 verby op die “Great Namibian Highway” en sien die yslike nuwe paaienetwerk wat by die Melkbos-afdraai tot stand kom.
Maar nou: nou’s ons darem voor in die koor met iets gans anders, hoor. Boonop – glo dit as jy wil – die “tweede stoutste” woonplek in die Kaap.
Laat my dink aan die storie hier uit die Swartland op ons drumpel. Die leraar kom rapporteer somber aan sy kerkraad die gemeente is nou tweede in die ring met drankverbruik. Antwoord die een ouderling hulpvaardig: ‘Moenie ‘worrie’ nie, dominee. Ek sal met die ‘boys’ praat. Ons kan nie ‘settle’ vir tweede nie!”
Maar laat ons nou nie oor die “binne-inligting” van die here (seker dames en here!) Ashleymadison.com te opgewonde raak nie. Soos ek Melkbossers ken, is hulle (met die prominente en plek-plek dalk ook minder prominente uitsonderings) ‘n doodgewone gemeenskappie, sout-van-die-aarde-mense, betroubaar en eerbiedwaardig, met wisselende libido’s altemit, maar darem nie so dat dié wat op daardie terrein uithang, ons dorp in die skande steek nie.
Kortom, het julle, liewe lesers van hierdie blog, al van iets soos ‘n reklamefoefie gehoor? Broers en susters, hier’s hy. Ashleymadison/com soek duidelik nuwe klandisie. Nou kom vis hy hier op Melkbos se droë duine.
Daarmee “Uit Melkbos”: “Ik heb gezegd.”
(HvD)
Sep 6, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Ek woon in ‘n oord. Nee, ons het nie stil-stil na ‘n plek van versorging verhuis nie. Maar dit is wat ek in Doendinge vir Afrikaans, nuusbrief van die Vriende van Afrikaans, lees. Ons straat is ‘n Place, en volgens dr. John Pauw is ‘n place in Afrikaans ‘n oord.
Dr. Pauw verskaf die volgende lysie van al die verskillende benamings vir strate:
Lane – steeg
Avenue – laan
Alley – allee
Street – straat
Place – oord
Way – weg
Walk – deurloop
Crescent – single
Highway – hoofweg, deurpad
Drive – rylaan
Close – slot
Walk – laan
Wat ek mis op die Pauw-lys is onder meer boulevard, parade en grove.
Hollywood het sy beroemde Sunset Boulevard (wat sou Charlize Theron dit by die huis noem?), Melkbos het ‘n Pelican Parade (word alewig met Penguin Place verwar) en in Durban was ons adres in my kinderdae Botanic Grove 9 (al bome wat ek kan onthou, was ‘n paar papajabome hier en daar, maar die twee rye huise is wel geskei deur ‘n yslike stuk, heerlike gras).
Vraag een in hierdie onbegrypende gemoed is hoekom onder die son soveel betitelings vir ‘n doodgewone straat bestaan? Omdat “variety”die “spice of life” is, soos die Engelse sê?
Dat ‘n singel (crescent) ‘n ander soort straat as die gewone is, begryp ek. ‘n Regmerkie dus vir daardie naam. Maar – en nou is ek nie moedswillig nie – naas onse Penguin Place op Melkbos is ‘n Strandstraat wat in die praktyk ‘n singel is, en tog nie ‘n singel genoem word nie. Wie het so besluit en hoekom?
Wat Penguin Place betref:
‘n Mens wil graag suiwer Afrikaans besig. As ek skielik sou meedeel ek woon in Pikkewynoord sal Melkbossers my seker skeef aankyk. Klink Simonstatterig, of Bettysbaaierig, of Robbeneilanderig. Maar Melkbosserig?
Baie ouens soek hulle nou al gedaan na ‘n kompleks as hulle hoor van Penguin Place 11. Pikkewynoord 11 gaan hulle bepaald helemaal in die bed sit.
Nou vra hierdie Boertjie raad, asseblief: moet ek of moet ek nie? Moet ek my taal suiwerder probeer hou of moet ek maar voorstrompel op die pad waarop ek my bevind. Dis ene wat na Penguin Place lei, nie na Pikkewynoord nie.
Of, behoede my: woon ons perdalkies in Penguin-oord? (hvd)
Sep 5, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Behoede my tog van melodrama, maar in elkeen se lewe kom “laastes”. Die verskyning van “Lewensgroot en Groter” is in die uwe se lewe so ‘n “laaste”. ‘n Tyd vir tot siens.
Die boek met blogs oor mense in hierdie en ander ruimtes – ook ‘n blog oor Ton Vosloo wat voor sy 75ste op 29 September hier sal verskyn – is gister by my afgelewer. Die opgewondenheid was soos altyd. Die lekker van skryf het ook nog nie afgeslyt nie. Vir die uitdagings van bemarking sien ek egter nie op 72 meer kans nie, baie dankie.
Dankie aan die lesers van my pennevrugte vandat “Scoops en skandes” in 1993 by Tafelberg gepubliseer is – ‘n leeftyd van amper vier dekades gelede! Daardie lesers sluit vele vriende in wat teen wil en dank HvD-titels op hul boekrakke MOET vertoon.
My skryfwerk is in wese niks anders nie as joernalistiek. Soms goed gekamoefleer! Ek skryf oor mense en dinge; nie altyd in deernis nie, maar meesal met diepe waardering vir die waarde wat vriende, bekendes en selfs wildvreemdes op my lewensreis tot my ervaringswereld toegevoeg het.
Dankie vir die gewillige of onwillige onderwerpe wat tussen die omslae van HvD-boeke opduik.
Dankie aan e-boeke vir Afrika wat hier skuins voor die laaste vlagstryking vir “Spore in die bos” in Kindle-weergawe op Amazon laat verskyn het – ‘n heuglike “eerste” vir ‘n ou wat lank geglo het hy is met ‘n tikmasjien getroud “tot die dood ons skei”. Die virtuele era het my, soos op die agterflap van “Lewensgroot” vermeld, in ‘n stadium oor my toekoms in die perswese laat wonder.
Nou het ek ‘n Kindle in my laai. Ek voel soos ‘n kind met ‘n nuwe speelding as “Spore in die bos” so voor my oë op die skermpie voortrol. My olifant “Mayafudi” het inderdaad ver paaie gestap.
Ns. Dat Anton J. Jansen uit die verre Taiwan in sy resensie so mooi oor die wel en wee van ou “Mayafudi”skryf, was ook op die laaste skryfskof ‘n genoegdoening. Heerlike nagereg – ryk en lekker!
(HvD)