May 4, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Dis kleurryk soos “The Scream” waarop pas `n bod van R925 miljoen toegeslaan is; dis van Tafelberg wat pas amptelik sy toetrede gemaak het tot die eksklusiewe lys van Wêreldwonders … en die beste nuus: ek sal dit sommer vir sommer honderd, twee honderd miljoen minder laat gaan as wat daardie geheimsinnige koper uit Katar bereid was om vir “The Scream” uit te haal.
Nie dat ek my vrolike Melbosse sonsondergang noodwendig wil verkoop nie. Hy hang goed waar hy hang in my eetkamer, met van die een kant die regte uitsig en die ander die uitsig op die doek hierbo. Maar as dit `n honderd miljoen of drie kan inbring …..
`n Ou man kan nie neus optrek vir so `n versterkinkie vir sy pensioen en die potensieel drastiese opwaartse kurwe in lewenskwaliteit wat dit kan meebring nie. Ek het, trouens, laasnag gedroom ek doen met my besonderse bergskildery `n “Scream”. Die koerante skree dit uit: “Grysaard oorweldig deur dermiljoene uit die bloute! Skreeue van vreugde op Melkbos!”
Die skilderes van my “dream scream”, een met `n Melkbos-adres, het volgens eie mededeling, een skemeraand met sonsondergang met `n bottel wyn op die stoep kom stelling inneem op wag vir die Muse. Of die kleureweelde van die Weskus-sonsondergang of die genot van die koue wyntjie die beste in haar skildery weerspieël word, is seker iets waaroor ‘n mens kan bespiegel. Maar dis onortodoks en flambojant, hoor.
Gelukkig is Tafelberg nou amptelik een van die nuwe “Sewe Wonders” – ek was een van die eerstes wat patrioties gestem het ondanks die misdadigheid in onse berg se klowe, wat die verwagte nuwe stroom toeriste tot lang krokodiltrane oor verlore beursies, kameras en ander goeters van waarde kan beweeg.
So tussen ons, sit ek nog met nog minstens vier ander (stemmiger) Tafelberg-weergawes teen my mure – een met ‘n boom hier op die strand van Van Riebeeckstrand, wat dit taamlik uniek maak.
‘n Voordeel van my vyf skilderye vir die ernstige koper van ons eie Kaapse ikoon is dat dit almal jonger modelle is as “Scream”, en dus langer behoort te oorleef. Die oudste – vir diegene wat hou van hul skoonheid gemeng met oudheid – dateer klaarblyklik van lank gelede, hoewel ek die datum nie kan ontsyfer nie. Die prentjie wys Melkbos nog as `n gehuggie. Die ander se jaartalle is 1986, 1996, 1997 en 2007. Splinternuut as ‘t ware.
Wil nou nie my rykword-veiling voorspring nie, dis tog opwindende as die botte so hoër by klim, maar as die stad Kaastad my sonsondergang privaat wil kom koop as logo vir sy nuwe “Wêreldwonder” kan ons gesels. Ek sal selfs oorweeg om te ruil: die ou Nuweland se grond vir my skildery.
Dan het die stadsraad met een slag `n logo wat die wêreld kan verower, en `n nuwe Nuweland in die “Vistenk” by Grangerbaai. ‘n Wen-wen-situasie. Ons almal lag op pad bank toe.
(hvd)
May 3, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Môre uit Melkbos
In die voorportaal of voorhuis van die eie huis of in die huise van familie en vriende het in ons jongdae redelik algemeen, dreigend of belofteryk (hang af hoe jy kyk), `n afbeelding van “De breede en de smalle weg” gehang.
Die “breede weg” is `n vrolike, verleidelike pad met vele verlokkinge en versoekinge. Die pad van die minste weerstand. Die onvermydelike bestemming, helaas, is vuur en verderf. Die hel.
Die “smalle pad” is `n vasbytpad. Jy beweeg daarop volgens Christelike waardes, beginsels en riglyne. Die eindelike prys is groots en heerlik. Jou bestemming: die reënboog-reinheid van die hemel en die ewige saligheid.
Die meeste kinders het seker met `n mate van trepidasie voor so `n geraamde prentjie gestaan, sidderend oor die immerteenwoordige gevaar dat die swakke natuur voor die lekker van die oomblik swig. Dit is so verdeksels maklik om die rug op die “nauwe poort”, die toegang tot die “smalle weg”, te keer … en daar gaan jy!
“Moer toe!” soos die ou op die fiets sonder remme uitgeroep het toe dit die afdraende vat.
Die effens vreemde Nederlands – die land waar die plakkaat blykbaar 130 jaar gelede sy oorsprong gehad het – het vir my begedra tot die gevoel van misterie wat die beelde in jou laat opwel. Onderaan was die Skrifverwysing: Mat. 7:13: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”(Nuwe vertaling).
Dis onse Bybelstudie Woensdagaande wat ons ou klomp o.l.v. Francois Hanekom by die “poorte” bring. Ons trek by Spreuke 4 en steek vas by die pad van wysheid wat jou in die regte koers laat loop. Volgens oomblik toe soek ons net almal padmetafore vir `n vale.
Onder die moderne metafore is onvermydelik slaggate, stilhouplekkies, padtekens, padreëls, waaksaamheid en gehoorsaamheid agter die wiel, spietkops, tolhekke en dies meer.
Ek meen as ek nou `n moderne plakkaat moet ontwerp, sal ek die “smalle weg” vol “poorte” soos tolhekke maak, oral padtekens opsit oor hoe jy moet ry en hoe nie, en agter die bosse spietkops plaas om jou vas te vat as jy oortree. Iemand moet afdwalers immers op spoor hou.
Die spietskops op die “smalle weg” is ouers, onderwysers, leraars en almal in posisies wat ‘n positiewe invloed op soekende jong mense se keuses kan uitoefen, kom ons ooreen. Dis die Groot Owerheid daarbo wat hulle in hul ampte aanstel.
Ek is vuur en vlam oor my “moderne” weergawe van die “breede en smalle” weg. Wil net begin potlode skerp maak vir ‘n HvD-meesterstuk. Toe: ontnugtering, ontnugtering. Op Google moet ek lees ek is te laat. Ene Fokke de Vries uit Urk het reeds `n moderne variant ontwerp, wat fluks bemark word:
“Daarop zijn moderne beelden te zien als een computer en een auto, en zijn ook andersgelovigen te zien, zoals een vrouw met een hoofddoek. Mensen worden met een roltrap naar de hel gevoerd.” Op die nuwe “breede weg” sien ek ook o.m. `n TV-skerm – dit beeld die seksualisering uit wat die samelewing ontwrig. En daardie flertsie in die hoek, is dit nie dalk `n poniekoerant nie? Nee, ek speel sommer.
Wat nie speletjies is nie, is daardie “roltrap naar de hel”. Dit is nogal `n beeld wat aan die ou man vat. Voor my geestesoog word ons ou sondaars, ry op ry, as ‘t ware in die vlamme uitgespoeg!
(hvd)
May 1, 2012 | Hennie van Deventer se Blog


Môre uit Melkbos
Opgewonde toeriste wag hul beurt af om by die bord afgeneem te word met die towerwoorde: “KAAP DIE GOEIE HOOP – die mees suidwestelike (sic) punt van die vasteland van Afrika”.
Veral die Oosterse toergroepe is groot en en die kameras in hul geledere talryk. Ons moet maar geduldig wag, baie paraat ook, want hier is dit soos vanoggend soos by die waters van Bethesda: as dit roer moet jy ook roer!
Uiteindelik het ons ons foto’s – vide hierbo. Dit is, moet ek bely, ons eerste besoek aan dié baken. Vorige kere was dit by Kaappunt vinnig op tot bo, woerts en weg. Hierdie keer bestee ons tyd en geniet elke oomblik. Ook die reuse-branders wat skuimend oor Kaap die goeie hoop se rotse breek en in watervalletjies terugtuimel in die Atlantiese Oseaan in. En die fotonemery.
Sulke bakens is natuurlik vir elke toeris die bewys: ek was daar! Foto’s lieg mos nie. So word die baken ‘n trekpleisters uit eie reg. Skielik besef ek dat my eie “bakenfoto’s” maar bra minnerig is. Was ek in my lewe wel by bloedmin bakens of het ek net nie daarop gekonsentreer om sulke foto’s te versamel nie? Goeie vraag.
Ek praat nou nie van `n foto by `n padbord buite Deventer of `n foto in Harvard se hek of `n foto op die veerboot na Staten Island met Manhattan op die agtergrond of `n foto op die Rooi Plein in Moskou nie, maar foto’s van die ware Jakob: by borde wat aankondig dis die hoogste, die laagste, die langste, die verste of wat ook al.
Kan my herinner aan`n foto op die suidelikste punt van die Floridase eilandjie Key West, wat terselfdertyd die suidelikste punt van die VSA is. Daar is ook `n bordjie wat beduie jy kan nie nader aan Havana, Kuba, kom in die ganse VSA nie. Dan het ek foto’s by borde wat spog: “Most magnificent ….”, “Steepest ….” En wat nog. Maar dis pure reklametaal – iets waarin die Amerikaners uitblink. Hoe bepaal jy in elk geval watter sewe myl of ses of vyf al die ander soortgelyke afstande ter wêreld uitstof?
Is in Europa bakens waar ‘n mens eenvoudig net MOET afgeneem word? Verbeel my toe ons in die Alpe deur die Grossglocknerpas in Oostenryk is, het ek bewus geraak van sy vele onderskeidings: die hoogste (?), die steilste (?), die bekendste (?). Maar waar’s my foto’s van die borde?
In die Verre-Ooste? Ons was in Kobe in Japan vir `n koerante-konferensie – `n wonderwerk van herstel na `n verpletterende aardbewing – maar ek weet werklik nie of ons `n “bakenfoto” het nie. In die Nabye-Ooste in Jerusalem is die Via Dolorosa – net een Via Dolorosa op die aardbol. Die Piramides – is een die oudste, grootste, hoogste, ens. ?
In Suid-Afrika: wat het ons hier wat so gedenk word? Kimberley se Groot Gat? Tafelberg – `n “moderne Wonder” maar is hy die platste of iets? Die Vredefort-koepel? Koeberg!
Hoe ook al. Wat ek eintlik wou kwytraak, is dat “bakenfoto’s” klaarblyklik groot impak het. Dus as jy enigsins met `n “baken” kan spog – hetsy land, provinsie, munispaliteit, stad of wat, kap jou bordjie strategies in. Lig die toeriste in op watter stukke ekslusiewe grond hulle staan. Die mense sal soontoe bly stroom. Die kameras sal nie ophou klik of flits nie. Veral die Oosterse toeriste s’n.
“Ek was hier”…. en hier’s die bewys. (hvd)