NUUS OOR GESKIEDENIS

Middag uit Melkbos

Oor die geskiedenisboek waaroor ek so opgewonde is, Geskiedenis van Suid-Afrika (vorige blog), het ek nou die volgende nuus:

1. Die amptelike bekendstelling deur die Akademie is op 21 Junie. Die boek kos R285,00 plus posgeld. Dit kan direk by die Akademie bestel word. Stuur ‘n boodskap vir aandag Marietjie.

2. Die uitgewers is NB-uitgewers. Die boek sal ook by boekwinkels op die rak kom, dalk nog voor 21 Junie.
(HvD)

DIE LAASTE BOEK

Môre uit Melkbos

Die laaste Afrikaanse boek, het Karel Schoeman sy bekroonde outobiografie enkele jare gelede genoem. Wel, die laaste Afrikaanse boek was dit darem nie werklik nie. Afrikaanse boeke, goeie Afrikaanse boeke, verskyn in `n lewendige tempo, ook toenemend in die vorm van e-boeke.

Lees hierdie aankondiginkie hierbo egter sorgvuldig. Dit kom uit die Akademietydskrif van Maart 2012. Hierdie waarnemer voorspel dit sal die heel laaste boek van hierdie aard wees: `n boek waarin 26 voorste SA historici saamspan om `n omvattende, ewewigtige en geloofwaardige naslaanwerk oor ons geskiedenis te skep, as teenwig vir die skewe haasbek-geskiedenis wat die arme kinders op skool deesdae lepels vol van gevoer word.

Die leierskap van die span is in die bekwame, betroubare hande van Fransjohan Pretorius. Gee my des te meer moed vir wat ek te wagte kan wees.

`n Volgende geskiedenisboek in Afrikaans – as daar weer ene sal wees – sal uit die pen van `n “andersdenkende” of “andersdenkendes” met nuwe insigte, vertolkings en, helaas, ook met heelwat draai in die bal wees. Iemand hoef geen profeet te wees om dit voorspel nie.

Dus: kom ons koop almal die boek, mense. My naam sal ek dadelik op `n lys plaas as ek maar net weet waar. Sal maar by die Akademie se webblad gaan soek by www.akademie. co.za of aanklop by akademie@akademie.co.za.

Verder: kom ons versprei die boodskap ver, luid en wyd. Die Akademie moet my nou maar verskoon as ek dalk veralgemeen, maar hoge akademiese geeste is nie noodwendig goeie bemarkers nie, en die algemene onkunde wat nog onder my eie vriende oor hierdie grootse projek heers, is onrusbarend.

Derdens: koop vir elkeen van jou kinders een. Dit hoort in elke Afrikaanse huis op die boekrak.

‘n Suiwer blik op waar jy vandaan kom, is immers nog altyd `n waardevolle rigtingwyser vir die toekomspad wat jy behoort in te slaan.

LUIPERD BY DIE OOP RUIT!

Middag uit Melkbos

Luiperdstories is vir my soos hondestories, kattestories en perdestories vir sommige mense wat ek ken. Kan nie genoeg van hulle kry nie. Hierdie een kom uit die jongste Wildkaart-tydskrif, Wild, wat pas in e-pos-gedaante by my aangekom het. Nie elke blog-leser is `n Wildkaarthouer nie. Dus speel ek skrumskakel. Hier kom die bal!

Ek stel die outeur (en fotograaf) Doreen Hansen graag hier self aan die woord. In Wild is nog puik foto’s.

Doreen skryf:

Two weeks ago our sons took us to the northern part of Kruger, a section we are not too familiar with. Our sons Arne and Cuan are avid bird-watchers so we were going to find out what it was like to be in a vehicle that stops more often than it moves forward.

Early one morning we were creeping along towards Punda Maria when our sons pointed out a shadow in the road ahead. The word ‘leopard’ was whispered. Very slowly Arne proceeded to approach the leopard, which did not appear to be very interested in us. The engine was switched off and the vehicle rolled forward until we were alongside the leopard. Suddenly the leopard started to stalk something in the grass: he dropped down and we realised that we were parked on top of a drain. The leopard had chased his prey into the culvert/drain and was checking to see if it was still there. We heard a great deal of growling and hissing, clearly the prey was still down there. Within a few minutes the leopard popped back up onto the road; there was no blood on him so he obviously had not yet killed what was in the drain.

Now he started to take an interest in our vehicle. Stealthily he moved along the driver’s side of our vehicle smelling at the wheels and doors. We watched enthralled and marvelled at his incredible beauty. Slowly he moved around to the passenger side of the vehicle and walked right up to the front door. Suddenly Cuan in the front passenger seat ducked down and said: “Close the window, close the window.” There was real desperation in his voice. Arne, sitting in the driver’s seat, looked incredulous and started to ask why Cuan was not closing the window himself, and then realised that the engine was switched off when we were approaching the leopard. Electric windows only work when the ignition is switched on. Frantically the key was turned and the front passenger window started to roll up, it seemed to take forever to close. In the meantime the leopard’s head was almost level with the window.

All four of us were lame with fright and quite breathless. Then quietly Arne said: “Too much of action.” That broke the tension and we all had a good laugh.

This magnificent creature lay down on the road next to our vehicle and for the next 35 minutes we sat and enjoyed this world class experience. Eventually another car came along and the leopard moved down to the drain, checked his prey one more time, more growling and hissing and then slowly moved off into the bush.

Ai, Doreen, vergewe my maar; jaloesie is ‘n lelike ding!

Dalk moet ek ook weer ‘n slag oorry Punda se kant toe as ek van 9 Junie tot 11 Augustus my winterhibernasie in Sabiepark gaan deurbring! (hvd)

VOETE EERSTE BY TRAPPE AF

Môre uit Melkbos

Die spitsvondige Piet Koornhof het in `n stadium oor sy bra wollerige sportbeleid verklaar: As ek `n grap maak, dink mense dis beleid; as ek beleid maak, dink hulle dis `n grap. Moenie nou dink omdat ek ligweg geskryf het oor my vriend wat in `n lyksak op `n Persiese mat ambulans toe gesleep is, is hierdie opvolg-aflewering as humoristies of vermaaklik bedoel nie.

Nee kragtie, ek is doodernstig. Die waarheid is eenvoudig dat argitekte selde in hul ontwerpe rekening hou met die gemaklike afvoering van dooies of beseerdes of siekes per draagbaar. Hulle skep hoekies, draaitjies, smal trappies, vlakke en wat nog wat die verwydering van die dramatis persona kan belemmer.

In Bloemfontein was ons huis `n dubbelverdieping met `n wenteltrap in die voorportaal slaapkamers toe. Gans onmoontlik om iemand in `n uitgestrekte posisie daar af te vervoer. Die opset het my lank bekommer. `n Mens is nie onnodig fatalisties nie, maar teenspoede gebeur wat jou soms afhanklik maak van ambulanse en dies meer.

Uiteindelik het ek `n pad uitgewerk en aan Tokkie gekommunikeer. Agter ons slaapkamer verby was buite `n gangerigheid wat uitloop op ‘n balkonnetjie met steil trappies na onder. Dit was die enigste lewensvatbare roete. Die alternatief sou `n hyskraan wees.

Die saamgestelde foto bo wys dat dit ook maar meet en pas en ratse voetwerk sou verg. Daardie trappies (links) is nie makliker begaanbaar as wat hulle op die foto lyk nie. Trouens, na kwaai kuiergeleenthede het ek hulle liewer vermy! Op daardie balkonnetjie waar Tokkie staan, half weggesteek agter die bloureën, sou die draers, hetsy ambulansmanne of van `n ander kader, eers moes linksom met die prostate Van Deventer ten einde die draagbaar te bestendig.. Daarna sou dit meet en pas wees om met hul kosbare vrag veilig na benede te skuifel.

Dalk, het ek in ‘n stadium gewonder, sal hulle my bo hul skouers moet lig en so afdra, soos `n Indiese oorskot op pad na sy Laaste Vuur.

Toe Ouma `n slag moet hospitaal toe, kon my roete eksperimenteel beproef word. Alles het haarfyn uitgewerk. Die onnodigheid om Ouma as’t ware skouerhoog ambulans toe te dra, het my gemoedsrus verbeter. Met my – ofskoon groter van postuur – sou die aangewese bringers van redding uit nood klaarblyklik ook `n meer ortodokse plan kon maak.

Dit was nooit nodig nie, waaroor ek nooit ophou dankbaar was nie. Maar daarna is ek, soos hulle sê, deeglik gesensiteer. Ek beoordeel huisontwerpe sedertdien ook met die gerief van die potensiële draagbaar-geval as ‘n belangrike voorkeur. Baie huise voldoen, helaas, nie in hierdie vername opsig aan basiese vereistes nie.

Penguin Place se ontsnaproetes is self ook maar nie van die allergerieflikste nie. Die see was hier die deurslaggewende vir die transaksie. Om die draagbaar deur die slaapkamervenster te tel, lyk egter na `n opsie. Trouens, ek is een oggend deur daardie venster, pak klere en al, kerk toe terwyl bouers op die enigste ander roete obstrukies veroorsaak het met hul troffels, sement en hopies teëls.

Die les, liewe vriende, is om betyds te “recce”” wat gaan in jou tuiste vir wat. As jy eers op die draagbaar lê, kan jy nie meer self opdragte gee en moniteer dat dinge reg loop wanneer jy moet voete eerste by die deur uit nie. Soos daardie oubaas wat vir sy kinders plegtig laat belowe het hulle sal hom versigtig dra graf toe.

“By daardie laaste driffie moet julle ekstra versigtig wees dat die kis nie kantel nie – nee, wag, daar moet ek liewer self oorvat!”
(HvD)

GLIMLAG NET DÊM SÊD, ASSEBLIEF!

More uit Melkbos

`n Snaakse rolprent met vele uiters snaakse toneeltjies was The Fast Lady, `n Britse komedie van 1962, met gewilde Carry On-sterre soos Stanley Baxter, Leslie Phillips en James Robertson Justice. Ene Julie Christie het daarin haar debuut gemaak – en wat `n loopbaan!

Die Fast Lady is egter nie me Christie nie – dis ‘n swierige Bentleymotor. Ek wou in die gangetjie rol van die lag vir ‘n toneel waarin twee ambulansmanne ‘n pasiënt, toegewikkel in verbande, op `n draagbaar oor die straat dra. Dan kom die Bentley oop en toe aan met `n onbeholpe Stanley Baxter agter die stuur.

Die manne in uniform sit die draagbaar neer en laat spaander. Die pasiënt beur pynlik stadig orent en begin uit die pad van die aanstormende kar hinkepink – net-net betyds. Heerlike fliekmoment.

Ambulans-sake is natuurlik nie juis lag-sake nie. My vriend Pierre le Roux het op Tukkies van `n lykwa gepraat as `n “beentuintaxi. `n Ambulans was dan `n “aspirant-beentuintaxi”. Die konnotasie laat `n mens kriewel. Die wie-wie-wie van die ambulans-sirene is nie ‘n gunsteling-geluid nie.

Vir `n verwante insident in ons voortuin in Genl. Van Schoorstraat, Bloemfontein, in die 80’s kon ‘`n mens ‘n glimlag darem kwalik onderdruk. Huishulp Miriam het krul van ‘n raaiselagtige buikpyn. Die ambulans kom. Op pad van die hoë stoeptrappies na die hekkie struikel die draers. Miriam val kadoems! van die draagbaar. Een oomblik was almal bedremmeld. Toe staan sy op, skud die grassies van haar af, klim terug en gaan lê weer plat op haar rug. (Die buikpyn was gelukkig nie ernstig nie – anders was daardie glimlag om die mondhoeke natuurlik terstond doodgevee.)

Nie lank gelede nie verras twee “para-medics” ‘n groepie van ons op `n ander manier. ‘n Vriendin val met die opstaanslag by `n Bloubergse restaurant soos ‘n liniaal agteroor. Die kopklap op die teëls weerklink. Almal kloek om die bewustelose dame. Toe sy bykom, wil sy orent beur. Besorgde hande druk haar egter plat. Sy moet stil lê soos ons op die rugbyveld sulke beserings gehanteer sien. Eers `n nekstut, dan beweeg. Goue reël. Die kelners klim met hul boordensvol borde heen en weer bo oor die gevalle vriendin.

Uiteindelik daag die ambulans op. Twee manne met draagbaar en al die ander moontlike nodige toerusting. Een vinnige kyk na die bloed aan haar kop, toe is die plastiekhandskoene aan. Volgende dan die nekstut? Moenie glo nie. Hulle sleep `n stoel nader, kry haar onder die arms beet en lig haar op die sitplek. Almal ys, maar gelukkig was die nek nie beseer nie.

Waaroor jy jou dalk net `n dêm sêd glimlaggie durf veroorloof, is die vreemde ervaring van `n Melkbosse vriend Vrydag. Sy rug gee by die huis in. Ambulans kom, maar met die draagbaar vorder hulle nie na wense van vlak tot vlak en om die skerp hoeke nie. Een kry `n ingewing. Uit kom die lyksak. My vriend word sonder seremonie daarin toegerits en op een van sy gade se deftige Persiese matte voordeur toe gesleep – sonder verdere komplikasies!

Wie, wie, wie (wie? wie? wie?) – tog net nie ekke nie, asseblief! (HvD)