DIE “DING”EN DIE “DAAD”

Môre uit Melkbos

Die vrymoedigheid waarmee deesdae in die media as ‘t ware gulp oopgeknoop word (bestaan gulpe met knope nog?), herinner hierdie ou gryse joernalis aan die dae lank-lank gelede toe ons oor dinge onder die belt ietwat skroomvalliger berig het.

Dat ons die presidensiële penis so op sy wetenskaplike naam sou noem, was eenvoudig ondenkbaar. Beskrywende woorde vir die kontrei onder die naeltjie was taboe, ook die sesletter-woord vir die vroulike weergawe – ja, man, die ene wat rym met Regina! Al die “troetelnaampies” (?), manlik en vroulik, wat nou oral in beriggewing insluip, was eksklusief vir die manne se kroegpraatjies of as die vroue uithaak by `n bruidskombuis.

Ouer joernaliste kan interessant bespiegel oor wat in hul berigte oor Brett Murray se berugte skildery sou uitgehang het. “Skaamdele” dalk? Nee, miskien darem te eksplisiet. Ek kan my redakteurs herinner wie se voorkeur sou wees vir “stuk van sy onderlyf”. Een spesifieke ou sou dalk met sy rooi pen “stuk van sy onderlyf” doodgekrap het en vervang het met “deel van sy anatomie”!

Glo my vry, in daardie tyd is selfs nog weggeskram om “molestering” of “verkragting” by die naam te noem. “Molestering” het dalk nog net naamloos in donker hoekies plaasgevind. “Verkragting” – nou-ja, die bestaan daarvan het darem formele erkenning gekry in die begrip “kriminele aanranding”- asof alle aanranding nie krimineel is nie.

Dat klere (selfs onderklere) in die proses woes afgepluk of -geskeur sou kon word, was te verregaande om hoegenaamd te kontempleer. Nee “klere is versteur”. Selfs woorde soos gulp, broekie, bra (eerder buustelyfie) is eenvoudig uit berigte geredigeer.

“Seks” was eenvoudig “die daad”. “Die daad het plaasgevind”- finisj en klaar. Die daad kon “beskernd” plaasvind of “onbeskermd”. “Kondoom” – wat’s dit? Nuuskierige kinders kon raai watter vreeslike ding daardie “daad” dan kon wees, maar hulle durf nie vra nie. Sulke monde sou “met seep uitgespoel” word!

Een bloeddorstige vrou met `n skerp mes het in die jare 90 dalk meer gedoen as om haar man van sy “skaamdeel” te bevry. Haar “daad” (wat geen seksdaad was nie!) was dalk in ‘n sekere sin ook vir die media bevrydend. Die “stuk van sy anatomie” wat by John Wayne Bobbitt in die slag van die slagtersmes gebly het, was waarskynlik, in my nadenke oor hierdie groot saak, die kritieke faktor om die woord “penis” woerts uit die mediese handboeke te lig en op die koerante se voorblaaie staan te maak (as dit nou `n gelukkige woordkeuse in die betrokke omstandighede is!).

Na die Bobbitt-era is stelselmatig in die media al hoe minder doekies omgedraai. Kan ek julle lus maak met die belofte om volgende keer meer (en met groter openhartigheid) oor hierdie eiesoortige media-evolusie (tog net nie media-ovulasie nie, asseblief!) te skryf? (HvD)

GRATIS ADVIES VIR DIE LAAN

Môre uit Melkbos

Weet nie waarom wroeg die Hillside Times se mense so in 7de Laan nie. Die hantering van sy penarie is tog vanselfsprekend: `n hoofberig op die voorblad waarin die omvang van die misleiding, bedrog en kwaadwilligheid van die hele aanslag op hom volledig oopgevlek word, ‘n aankondiging dat hy `n klag by die Polisie indien en onmiddellik `n onafhanklike ondersoek gelas na die hele nare spul, plus `n onvoorwaardelike apologie aan almal wat kon skade gely het weens die berekende onderduimsheid van die slinkse bedrieërs.

Hierdie advies kom kosteloos – hvd is een van daardie merkwaardige spesie: `n konsultant wat verniet werk.

Weet ook nie hoekom waag draaiboekskrywers hulle aan koerantsituasies sonder om koerantekundigheid in te roep nie. Hulle laat hulleself net onbeholpe en simpel lyk.

Vir laasgenoemde sal my advies egter geld kos as hulle op Melkbos sou kom raad vra! (hvd)

ALLEEN HEILDRONKIE

More uit Melkbos

`n GOUE oomblik wat ons met ons Sabieparkse vriende Dawie en Annatjie Strydom gedeel het, pryk nou op die omslag van die uwe se eerste e-boek “Spore in die bos/swerftog van `n olifant” wat binnekort deur e-Boeke vir Afrika by Amazon beskikbaar gestel word.

Ons sou ongetwyfeld met dié vriende ‘n heildronkie op die verskyning van “Spore” by Lake Panic wou drink – die Strydoms natuurlik hul gunsteling, Cellar Cask se wit Johannisberger Select, en die Van D’s ietsie droër – maar dinge het verander sedert daardie twee magiese ure by die voëlskuiling naby Skukuza in die winter van 2008.

Vir eers mag dagbesoekers nie meer `n wyntjie die Krugerwildtuin binnebring vir sulke feestelikheidjies nie. `n Gewigtiger rede is dat Dawie, soos ek dit vroeër hier gestel het, deur daardie skêmerwereld van min onthou maar baie vergeet, van weet en ook nie meer nie weet nie, ingehaal is. Onomkeerbaar.

Die mondfluitjie waarmee hy altyd “God sy met u tot ons weer ontmoet” by die flikkerende skaduwees van die laaste hardekool-vlammetjies van ‘n Sabieparkvuurtjie laat opklink het, het stil geword. Sy herinneringe het weggesypel.

Sy verlore herinneringe sal, helaas, ook insluit vdie vreugdes van daardie besonderse Lake Panic-kuiertjie wat die geliefde plek se naam vir ons binne twee uur van “Meer van Raaisels” tot “Meer van Vreugdes” verander het. “Die hoogtepunt van al my besoeke, ” het dit Dawie ons wedervaring kort en kragtig saamgevat.

Ons kameras het reeds oortyd gewerk: seekoeie, krokodille, `n ryke verskeidenheid watervoëls, selfs twee njalabulle wat eers lank gedrink en gewei en met hul horings in die donker modder gegrawe het en toe `n misverstandjie met klappende horings besleg het …. Op daardie oomblik verskyn die troppie olifante skielik op die toneel.

Die Grootvoete het soos skimme uit die bos gekom en onverstoord op die eilandjie voor ons kom wei, naby genoeg om elke brekende takkie te hoor klap. Ons kon elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie bestudeer, selfs die wimpers.

Later was dit tyd vir waterpret. Die mammas is doelgerig na die oorkantste wal toe; die kleintjies, vier, as ek reg onthou, moes toe maar teen wil en dank agterna, hul slurpies soekende na die troos van moeder-nabyheid. Soos mini-duikbootjies met net die die tippies van hul slurpies bo die water sigbaar.

Ewenwel die foto op die omslag (hierbo) is een wat daardie gedenkwaardige oggend geneem is.

Ook op `n ander omslag-opsie wat in die pylvak ingehaal en verbygesteek is, pryk, vreemd genoeg, `n olifantfoto wat geneem is toe ons en die Strydoms saam was. Een Sondag na kerk was ons via die S3 op pad huis toe. Net duskant die hek draf twee olifante toe op `n flukse pas voor ons verby. Ene was “Langtand”, goed bekend in Sabiepark. Sy handelsmerk – sy tande – verraai dadelik sy identiteit.

Ná `n paar oomblikke het die twee mekaar begin stamp-stamp. Hulle kry mekaar in `n kopklem beet en die slurpe knoop soos koesisters. By my was min twyfel dat dit `n uitbarsting van olifant-aggressie was. Huismoles dalk? Ander teorieë is egter ook geopper: “Dis net `n slurp-geselsie”; “Hulle speel net”; “Is romanse nie dalk in die lug nie?”

Wie sal ooit weet? Maar nou-ja, ook daaroor sal ek en Dawie nie weer kan bespiegel en ons standpunte teenoor mekaar kan stel nie. Sal maar my skelm heildronkie alleen moet drink.
(hvd)

LIED VAN DIE OLIFANT

‘n Grimmige olifant verjaag leeus – ‘n T.O. Honiball-skets in Piet Meiring se boek Die Wildtuin is hul Woning, PMP, Pretoria, 1976. In Spore in die bos gebeur dit ook – Mayafudi vlieg onder die leeus in by Leeupan.

Môre uit Melkbos

If I learned anything from my time among the elephants, it is the extent to which we are kin. The warmth of their families makes me feel warm. Their capacity for delight gives me joy. Their ability to learn and understand things is a continuing revelation to me. If a person can’t see these qualities when looking at elephants, it can only be because he or she doesn’t want to. – Douglas H. Chadwick, The Fate of the Elephant, Viking, Londen, 1993

‘n Mens hoef nie eens ‘n bewonderaar van olifante wees nie, om meegevoer te word deur die wonderlike Elephant Song waarmee Kandiah Kamalesvaran, beter bekend as Kamahl, in ‘n TV-dokumentêr oor die World Wildlife Fund ‘n ster geword het.

Synde ‘n olifant-bewonderaar gryp daardie lied my behoorlik aan. Die immergroen melodie is gekomponeer deur die Hollandse komponis Hans van Hemert en die ewe immergroen lirieke is dié van Gregor Frenkel Frank. Dit was in die 70’s vyf weke die nommer 1 in die Hollandse top 40. Kon maar vir my geld tien maal vyf weke nommer 1 gewees het.

Met die oog op die verskyning van die uwe se eerste e-boekie, Spore in die bos – swerftog van ‘n olifant, binnekort by e-Boeke vir Afrika, het ek opnuut na die Elephant Song gaan luister; ook opnuut so bekoor geraak dat ek dit opsluit op my webwerf as ‘n soort temalied vir Spore in die bos wou opsit.

Wel, hoe dit daar gekom het, is ‘n lang storie, maar nou’s dit daar, pragtig geïllustreer met olifantfoto’s. As iemand wil gaan luister, hetsy die eerste keer of vir die hoeveelste keer, navigeer net na www.hennievandeventer.com . Op die tuisblad is ‘n knopie na Mayafudi, die naam van my olifant-karakter in Spore in die bos. Klik daarop en volg daarna net die padpredikantjies. En geniet dit!

My e-boek is nou in die pylvak – sal laat weet. Die aanhaling hierbo uit Douglas H. Chadwick se The Fate of the Elephant verskyn ook voor in daardie boek as ‘n soort persoonlike credo.

Hier enkele grepe uit Kamahl se lied:

Tell me said the elephant/Tell me brothers if you can/Why all the world is full of creatures/Yet we grow in fear of man/Tell me said the elephant/Tell me why this has to be/We have to run from man and hunter/Never safe and never free ….

Die refrein spreek ‘n mens besonderlik aan: People kill without regret/Although they fly by jumbo-jet/Let the world all may remember/ Let the children not forget ….

Ook die lirieke is te vinde by www.hennievandeventer.com

Wonder meermale hoekom iemand nie in die stryd teen renosterstropery met so ‘n lied vorendag kom wat wêreldwyd aanklank sal vind nie.

GROEN PIESANGS

In Sabiepark: Rina, Tokkie, olifant, Herman, Wena en Pieter

More uit Melkbos

Veertig jaar gelede het ons vriende Herman en Rina le Roux van Bloemfontein ‘n Volksbladtoer na Europa gelei. In die toergroep was Wena de Kock, hoofmeisie in my matriekjaar aan Volkies op Potchefstroom, en haar man, Pieter, ook destyds van Bloemfontein.

Die Le Roux’s en die De Kocks het, soos hulle sê, dadelik ge-“kliek”. Hulle is sedertdien boesemvriende en het op dosyne toere, vakansies, naweke en ander uitstappies saam `n skatkis goue herinneringe versamel. In die winter van 2011 was hulle saam in die Laeveld net oorkant Sabiepark in `n Burchell- huisie by die Protea-hotel Krugerhek. Ons kon lekker oor en weer kuier (soos op die foto).

Miskien een van die mooiste stories van die Le Roux-De Kock-kamerade is vir my toe hulle `n keer in Londen aankom en in opgebreekte pare (Herman/Wena en Pieter/Rina) op twee verskillende moltreine beland. Die een onpaar had die dokumente; die ander die bagasie. Dit was die dae voor selfone. In blinde paniek skarrel hulle heen en weer tussen die stasies, hul moltreine swoesj-swoesj in die tonnels bymekaar verby. Todat Herman later die blink plan kry: “Wena, nou wag ek en jy net hier totdat Pieter en Rina opdaag.” Hulle het – heelwat later.

Hoeveel vakansies hulle saam agter die blad het, sal Herman, die statistikus, seker dadelik weet as jy hom sou vra. Ek het hom nie gevra nie. Hy sou bepaald ook die syfer uit sy stapels plakboeke kon gaan herwin. Dis egter nie my punt nie.

Ek wil eintlik vertel dat die vier veertig jaar van hegte vriendskap op die een of ander manier feestelik wou vier. Herman beklink toe `n sogenaamde “mid-week” by Sun City. Die De Kocks wat pas ná `n lang kuier by hul kinders Doer Onder terug in die land is, sou eers saam Sun City toe voordat hulle terugkeer na hul woonstel hoog op in `n toringblok op die Strand se Melkbaai.

Twaalf dae voor die einde van die Australiese besoek begin Pieter kla van pyn op die bors. Op die laaste skof vliegtuig toe op Sydney se lughawe moet hy telkens gaan stilstaan om asem te skep. Op die vliegtuig is dit `n gesukkel om steunend en kreunend in sy stoel orent te beur as hy `n draai wil loop.

Pieter is bra sku vir dokters en dinge. Tog laat hy hom op die lang vlug deur Wena oortuig. Van die lughawe O.R. Tambo is hulle ongevalle toe. ‘n EKG dui op `n hartaanval. Die dokter skud sy kop in ongeloof dat Pieter nog op sy bene is. `n Rolstoel word laat kom. Hy moet dadelik na die Zuid-Afrikaanse Hospitaal toe in Pretoria. Daar kry hy vanmiddag `n hartomleiding.

Daardie veertig-jaar-reünie lyk in die weegskaal – maar, aan die ander kant, Pieter is `n taai kêrel wat hom nie maklik laat onderkry nie.

Waaraan die storie my herinner, is aan `n sêding van Tokkie se wyle Tant Sina oor die koop van groen piesangs. Jy bereik `n stadium in jou lewe wanneer dit dalk nie raadsaam is om jou geld in ‘n onryp tros piesangs te belê nie, het sy geglo.

Op Melkbos is ons op die oomblik aan’t reële aan `n bootvaart op die MSC Opera in Februarie 2013 na Walvisbaai en Luderitz. Ons is al iets soos 30 in die groep – van `n 60-jarige tot `n 81-jarige; die meeste 70-plussers met ‘n verskeidenheid mankemente.

Sal nogal merkwaardig wees, merk ek vanoggend oor die laaste koppie koffie in die knusse kooi teenoor Tokkie op, as al ons oues op 21 Februarie heelhuids, fiks en in goeie gesondheid op die Opera aan boord sou kan stap. Sal wonderlik wees as ons dan nog almal die groen piesangs se skille kan afstroop wat ons nou met soveel verwagting en opgewondenheid aanskaf.
(hvd)