KRUIK VOL NAASTELIEFDE

Links: Ouma op 90 – geen agterkleinkinders.
Regs: Ouma op 95 – vyf. Nou’s daar vinnig-vinnig 7. Nommer 8 is op pad.

More uit Melkbos

Dalk die bemindste figuur op Bultfontein in die tweede helfte van die vorige eeu was my skoonma, Marietjie van Wyk, wat Saterdag ‘n geseënde 98 jaar oud word. Sy is al 63 jaar weduwee, een wat dit nooit te breed gehad het nie, maar wel een met ‘n kruik vol liefde en diensvaardigheid vir kerk en gemeenskap. Daardie kruik het nooit leeg geword nie.

Ouma Marietjie is nou in ‘n rolstoel in die siekeboeg van die Groeneweide-tehuis op Darling. Saterdag kom sy op Melkbos ‘n tjoppie eet, haar koningskos waarmee sy ook meermale haar kinders, Tokkie en haar ouer broer, Fanie, verras het as hulle van die skool kom: die rooster van ogiesdraad op die kole van ‘n stronkvuur, beskut deur los bakstene, plat op die grond.

Hoe sal ek Ouma onthou? Waarskynlik as enigste mens ter wêreld wat my nooit een harde woord toegevoeg het nie. Nooit. Sy is die lojaalste skoonma denkbaar – die lewende rede waarom ek niks van skoonmagrappies hou nie.

Wel, ek het in Hertzogstraat, Bultfontein, ook die eerste keer pampoen geëet wat lekkerder is as soetpatats, aan haar geurige, bros frikkadelle verslaaf geraak en weggelê aan die skons waarvan sy vir elke liewe begrafnis ‘n bordjie moes lewer. In later jare was sy die een wat met ‘n papierbord my vuurtjie help aanwakker het terwyl dit op Buffelsbaai swaarkry in die wind.

Tokkie onthou duisende pikante dingetjies, waaronder die ferme hand van ‘n moeder wat nie aan enige vorm van buitensporigheid geglo het nie. Op ‘n telegram is byvoorbeeld die minimum woorde gebruik, want elke woord kos geld, allakragtie. Mej. Gesina van Wyk (vier woorde) het net geword Gvanwyk (een woord). Fanie het Ouma se wrewel ontlok deur sy “duur” pen by die skool te vergeet. Hy is siedend teruggejaag – so woordryk dat ‘n buurman, Oom Willie Koster, besig om ‘n venster te herstel, stil-stil met sy troffel en al die hasepad gekies het.

Ene “ Ou One Light” – so genoem weens sy pêreloog – het ook agtergekom dat Ouma nie “twak vat nie” toe hy vir hondelisensies kom snuffel. “Man, hier blaf ek sommer self,” het sy hom kortgevat,

In sy gelukwensing Sondag van die kansel van ons kerk op Melkbos het dr. Francois Hanekom vertel van ‘n onlangse besoek. Hy het ‘n Psalm gelees. Soos altyd, het sy intens geluister en aan die einde die kernversie agterna woord vir woord met haar lippe gevorm. By bidure het sy tot in haar 90’s altyd almal verstom omdat sy elke woord van elke ou geestelike lied uit die vuis ken.

Sy het ‘n leeftyd lank haar alles vir haar dorp, kerk en gemeenskap gegee. Ouma Marietjie het in 1949 op 35 haar intrek in Hertzogstraat geneem. In 1991 op 77 het sy by ons in Bloemfontein kom woon.

In die kerk was sy van jongs ‘n pilaar. Sy het onvermoeid derduisende pannekoeke vir elke geleentheid op haar primusstofie gebak, Sondagskool en Kinderkrans gehou, die kerk se breekgoed beheer, kerkklok gelui – al het die swaar klok haar by geleentheid spartelend die lug in gepluk – en in die algemeen as “doomnie” se regterhand ageer. Een van die gelukwensings wat sy Saterdag sal ontvang, sal ongetwyfeld wees van een van haar Sondagskoolkinders van 60 jaar gelede, Helena Sullivan (voorheen Borman) van Pretoria. Dit sê nogal iets van haar.

Omdat sy ‘n soort rolmodel was van ‘n deugdelike Christelike vrou en moeder, was dalk haar donkerste oomblik toe ‘n meerkat een Sondag die kerk binnesluip en by haar enkels begin rondsnuffel. Sy het vervaard haar bene opgeruk en, voor sy kon keer, die Allerhoogste aangeroep: “O God!” Sy het dae lank oor daardie verspreking trane gestort.

Later jare was ‘n donker oomblik toe sy op 70 met die binnekant van ‘n hof kennis maak – maar darem net haar geil potplante te kom uitken wat sy getrou met skoppies perdemis uit die straat gevoer het. ‘n Dief kon daardie sierade eenvoudig nie weerstaan nie.

‘n Derde laagtepunt was toe ‘n wildvreemde in die graf langs haar ontslape man, Kotie, inglip net toe sy haar rug uit Bultfontein draai. Sy het jare nougeset gewaak oor daardie graf met ‘n blikplaatjie waarop “Van Wyk” geverf was. Ná groot marakkas het die munisipaliteit as vredesgebaar skoonpa Kotie se graf van ‘n sementblad voorsien sodat dit haar ook sou kon akkommmodeer.

Sy was ‘n regterhand nie net vir die dominee nie maar ook vir Bultfontein se artse. Nooit het sy geaarsel om in die middel van die nag net ‘n japon aan te pluk en haar na ‘n siekbed te haas om bystand te verleen nie – sou dit net wees om die drupsakkie omhoog te hou of ure te waak by ‘n kandidaat vir ‘n moontlike allergiese reaksie op ‘n inspuiting.

Vir die skool was haar huis ‘n soort noodhulp-“anneks”. Elk kind wat salf of verband nodig het, is na “Tannie van Wyk” gestuur. Sy het haar oor almal ontferm en het daadwerklike hulp verleen, ook in die geval van die verleentheid van ‘n ontydige glipsie. ‘n Roosknop wat in die neus van ‘n stout seuntjie opgedruk is, het sy sommer met haar borsspeld se speld uitgegrawe terwyl sy hom met haar knie platdruk.

Oor Ouma kan ‘n mens ‘n boek skryf. Een hoofstuk sou kon wees oor die petalje toe Ouma en die huishulp Griet Williams se foto’s per abuis deur Binnelandse Sake in hul uwe ID-boeke omgeruil is. Die twee het mekaar altyd oor en weer geterg oor wie se voorouers dan bobbejane was. Weet nie of die fotoruilery lig op daardie dispuut sou werp nie!

‘n Keer koop Tokkie, ewe avontuurlik, vir Ouma (al verby 90) ‘n bloedrooi nagrok vir Kersfees. Later kom sy agter die nagrok verdwyn periodiek uit die Seapark-tehuis, Melkbos, waar Ouma eers was – waarskynlik vir jong personeel se stomende naweek-uitstappies.

Sal ek ooit vergeet toe ons Ouma vir oulaas saamgevat het om te gaan stem. Sy was toe al immobiel en ek dring toe aan dat die kiesbeamptes na die motor kom. Opskudding. Ons word na ‘n ander stemburo gestuur waar leidsliede van die OVK dan teenwoordig sou wees. Hulle is egter nie, en ons word teruggestuur.

Van D. se lont raak korter en dit ruik na kruit toe ek uitklim om my eis, taamlik adamant, luidkeels te herhaal. “Meneer, ons sal ‘n senior kiesbeampte van elders laat kom. U sal moet wag.”

“Dan wag ek”. Toe wag ons.

Daardie kiesbeampte was nie net oor die bult nie. Ons weet dat ons gewag het. Toe hy eindelik opdaag, vereis die letter van die wet dat die verteenwoordigers van die verskillende partye teenwoordig moet wees waar Ouma kruisie trek. Ek maak egter beswaar dat hul kringetjie om die motor intimiderend vir haar is. Die partyverteenwoordigers retireer. Ouma stem.

Die volgende oggend se Tokkie vir haar “ons” party het dit met een stem gemaak – hare. “My kind,” se ouma. Maar natuurlik het Tokkie sommer haar ma se been getrek. (HvD)

LIKKEWAAN IN DIE GRAS(-DAK)



Permanente “onderdak”?

More uit Melkbos

‘n Slang in die gras spel gevaar. ‘n Likkewaan in die gras spel net moeilikheid. Groot moeilikheid.

As daardie gras die gras op jou boshuis se dak is, en dit is boonop bedek met ‘n blikkappie (Harveyteëls), sit jy waarlik hande in die hare. Om slange te vang, bestaan raad. Om likkewane te vang – dis ‘n ander storie.

Ons kinders Brent en Marisa wat met hul drie seuns in Sabiepark kuier, bemerk vreemde agterpote onder die dak uithang toe hulle wil vuurtjie aansteek. Dadelik ‘n “telefoonkonferensie”. Hy moet uit is die konsensus.

Hulle probeer met braaitang en so. Die pote verdwyn. Die kantoor word geroep. Voel-voel met ‘n lang stok lewer niks op nie. Mnr. Likkewaan – sy tuiste is ‘n miershoop onder ‘n huilboerboon skuins agter die huis en hy het al ‘n keer moles gemaak deur skielik in die badkamer van die hoofslaapkamer te verskyn – het hom egter nou te diep ingewikkel.

Lok hom uit met hoendereier, is die raad. Tot dusver lewer die eier-strategie egter nog niks op nie. En die kinders keer op 9 April terug Kaap toe.

Vir die dak-kontrakteur het ek intussen laat weet: Jy sal moet dringend help om die probleem opgelos te kry, asseblief. Die dak is blykbaar nou sy nuwe “onderdak” en ‘n opening bo die afdak is sy “deur” waar hy inglip en uitglip. Die probleem is dat die likkewaan skade aanrig. Volgens my kinders is skade al sigbaar. Volgens die parkhoof se regterhand kan hy “verwoesting aanrig”.

‘n Mens kan natuurlik nie net die opening toe maak as jy nie seker is dat die likkewaan uit is nie. ‘n Dooie likkewaan gee glo ‘n afgryslike stank af. Ons sal dit nie kan uithou in die huis nie.

Ek het ook by studentemaat Piet Henning, voorheen van Chiredzi en op die oomblik van Louis Trichardt, aangeklop. Piet ken die bos en sy inwoners soos die palm van sy hand. Hy laat weet: “Likkewaan is inderdaad lief vir eiers; half-makkes reageer entoesiasties as jy dit na hulle op die gras rol. ‘n Wilde een moet seker dié vrygewigheid aanleer, meer moeite om hom te lok as hy onbewus daarvan onder die teёls lê en dut.

“Daarteenoor, dakstaal word vuurwarm in die son, soos jy sal weet. Selfs likkewane kan so’n hitte nie maklik in die middle van die dag hou nie – tot 70°C of meer miskien? Jy’t seker al gesien hoe bak iemand ‘n eier op ‘n kar se warm enjinkap?

“As hy gelukkig is met sy nuwe huisvesting is hy natuurlik ‘n moontlike permanente gas, soos jy antisipeer, en wat eendag te dik kan word of wat ookal en dan vassit. Ons het so ‘n ervaring met ‘n eekhorinkie in die plafon gehad. ‘n Besonderse ryp aroma het mettertyd ontwikkel en die hele huis geparfumeer.

“Waar bobbejane, ape, ens. grasdakke vandaliseer, span mense dikwels voёltjiedraad oor die hele dak om hulle te keer. Miskien dieselfde gebruik aanpas op kleinskaal by Tarlehoet vir jou gemoedsrus?”

Die jongste is dat ook Stefan Broekman, parkhoof, projekteer dat ons nou ‘n langtermyngas het. Hy meen egter die ou sal hom net gemaklik inskommel en nie te veel – nie te veel! – skade aanrig nie.

Maar ek kry nagmerries: likkewane wat uit die dak op my neerstort terwyl ek slaap. Of daar’s ‘n dooie-reptiel-aroma wat die hele huis “parfumeer”. Ons is op 9 Junie daarheen op pad. Wat gaan ons inwag?

TIEN OUTJIES OP ‘N MUUR

Middag uit Melkbos

Sing mense nog van die tien outjies op die muur? Een val af, toe’s daar nege. Nog een, toe’s daar agt. Ensovoorts. Ensovoorts.

Daardie outjies was, soos ons die liedjie geken het, in die moderne idioom bekend as agtergeblewenes. In die onderhawige geval is hulle “oorgeblewenes”.

Dit is nie my vindingryke woord nie, maar my klasmaats Wol Steyn s’n.

Wol het vir my na Saterdag se matriek-plus-55- re-unie by Volkies op Potchefstroom (in die personeelkamer nie die onthaalvertrek nie omdat die trappe vir die oues van dae as te steil geag is) ‘n kort bulletin gestuur.

Aangeheg was die blad hierbo. Dit is die laaste blad van my blog van 25 Maart met daaronder twaalf handtekeninge.

“En hier is ons almal,” was Wol se lakonieke kommentaar.

In daardie vorige re-unie-blog het ek gewonder hoeveel Saterdag sou opdaag. Dit is ‘n ope vraag, het ek geskryf, want die wiel bly draai; die Byl bly kap in ons bos…. “ek skat ‘n kwart van ons klas van 81 – of meer – is al lang boompies toe”.

Maar net 12? Die “tien outjies op die muur” het vinniger minder geword as wat ek verwag het. Vyf jaar gelede was ons seker nog 30. Dalk meer.

Verrassende afwesighede staan soos seer vingers uit.

Dis oor daardie 12 getroues wat wel opgedaag het en almal HvD se boodskappie onderteken het dat ek skoon aangedaan voel oor hierdie dokumentjie.

Al waarop ons kan hoop, is dat die klasmaats in 2017 – wanneer ons matriek-plus-60 gedenk – weer in groter getalle die bedevaart sal onderneem – mits ons natuurlik die kragte behou, en die Byl nie intussen te kwaai kap nie.
(HvD)

OOM EN SY RYPERD

More uit Melkbos

‘n Koerantman behoort te weet as ‘n storie roep vir ‘n foto om dit net daardie ontbrekende ekstra dimensie te gee.

Om oor Johan van Wyk en sy Gold Wing te skryf sonder ‘n foto van die dramatis personae (man en fiets) was ergerlik onbevredigend. Maar, soos ek verskoning gesoek het, die Strand is nie net anderkant die bult nie.

Boonop had ek die vrees dat dit heelwat oortuigingswerk sou verg om die nodige foto uit die “Oom”” te wurg. Die manne van Kafferrivier se kontrei (boonop ‘n Calvinianer van geboorte) kan koppig wees as hulle wil.

Toe kom Tobie Wiese, reisgenoot op vele avontuurlike tweewiel-togte, tot my redding. Hy stuur stilletjies ‘n paar foto’s aan.

Bo is ‘n foto van Johan van Wyk en sy Honda by ‘n rusplek langs die pad in die Robinsonpas naby Oudsthoorn. Die sigaretjie in sy hand is ‘n periodieke verleiding. Hoop nie dit verskaf vir hom komplikasies by Zandra of sy artse nie.

Betekenisvoller is daardie ruim pakplek vir padkos agter op. As Johan van Wyk oor padkos begin vertel, boeta, dan water jou mond eers …. (hvd)

SING EN HUIL OP DIE LANGPAD

More uit Melkbos

Johan van Wyk en Mammie (Zandra) se gedenkwaardige motorfiets-togte – sy as klouende passasier agter op die Honda Gold Wing 1100 GL – het ek in die vorige blog oor hom en Jacko Maree en hul fietse ligweg aangeroer. Albei is oor die 70 – Jacko trouens al 75.

In een van die kommentare bevel ene Laserstraal aan: “Vra vir Johan van Wyk om te vertel hoe sy swaar Gold Wing met hom en Zandra voor Lambertsbaai se hotel stadig omgekantel het en hulle onwaardig op die straat neergesit het. Terwyl mense op die hotelstoep dit aanskou.”

Dis ‘n storie wat ek nie ken nie, en waaroor ek Johan nog nie kan vra nie. Intussen het sy eie pen by my ‘n beeldryke vertelling aangekom oor sy en Zandra se epiese reise, wat nie sonder trane – soms emmersvol trane – verloop het nie.

Ploeg nie graag met anderman se kalwers nie. Gaan wel hierdie storie by Johan gaps en hier aanbied – in daardie raconteur par excellence se eie woorde (net ietwat verkort). Hoop nie jy gee om nie, kollega!

Johan skryf: “Vreemd, ja, maar motorfietsryers huil ook soms. Meer bepaald, hul passasiers. Veral vroue. Laat ons dit nou maar erken: selfs op die gerieflikste toerfiets is dit nie juis gemaklik agter op ‘n motorfiets nie.

“Elke keer as ek jong meisies, hulle boudjies in styfgespanne jeans doer in die lug, knieë opgetrek tot amper onder die ken, agter hulle kêrels se rug op die smal, harde sitplek van n super-fiets vir lewe en dood sien klou, kry ek hulle innig jammer. Dit moet n marteling wees.

“Ek dink hulle huil elke honderd kilometer. My vrou het darem beter gevaar op ‘n veel gemakliker Honda Gold Wing 1100 GL. Op landwye toere het sy net elke 500 kilometer gehuil.

“Maar wanneer ek weer ‘n padkaart nader trek en oor ver horisonne en interessante plekke begin droom, het haar oë geblink en het sy dadelik n nuwe jean gaan koop.

“‘n Huilende vrou agter op n motorfiets is nie n plesier nie. In hul droefheid versteur hulle jou balans deur na die verkeerde kant te leun om draaie. Wanneer hulle boudjies begin brand, skuif hulle rond, en as ‘n donderbui skielik uitsak, slaan hulle soos n nat kat hulle naels in jou lieste.

“As jy ooptrek en die naald op 180 begin bewe, verstyf hulle en tik waarskuwend met n vinger teen jou valhelm. Die ergste is wanneer hulle dreig om in die ry af te klim. (Dit kan ’ n aanloklike versoeking word!)

“Ter wille van die vrede en liefde hou jy maar uit, maar dis nie maklik nie. Jy wonder telkens hoekom jy haar nie by die huis gelos het nie.

“My persoonlike strategie om jou Mammie so minsaam as moontlik te hou, is maklik: Voer haar elke honderd kilometer roomys, sjokolade en koek. Op n toer deur Namibië het dit my duur te staan gekom, maar dit was die geld werd. Sy het net hier en daar liggies geween.

“Baie trane het egter voorgelê. Toe ons die oggend op Keetmanshoop wegtrek vir die lang terugreis Bloemfontein toe, in twee skofte oor Karasburg, Ariamsvlei, Nakop, Upington en Kimberley, besluit ek stilletjies om eerder deur te steek Kaap toe en swaai af Vioolsdrif toe vir die N7 deur Namakwaland, die Sandveld en die Swartland.

“Dis n mooi, helder herfsdag en die Gold Wing sing soos n gelukkige kanarie. Ek sing saam. Maar Mammie weet van niks. Gesus deur die fiets se sang, het sy agter my skouer ingesluimer en eers wakker geword toe ons oor die Oranje trek.

“Toe sy onthuts wou weet wat nou, het ek vet gegee en gesê: “Byt vas, vanaand slaap ons in die Kaap ! Sy het die heelpad, 899 kilometer afgery in ‘n dag se tyd, gehuil. Toe ons laatmiddag onder Tafelberg intrek was sy horingdroog.

“Vandag verkneukel ons ons daarin wanneer ons deur albums met foto’s van daardie onvergeetlike reis blaai. Dit was een van die beste dae van ons lewe … trane ten spyt.”

Weet nie waar die stuk al gepubliseer is, en of dit dalk nog gepubliseer moet word nie. Al wat ek weet, is dat ek daaraan groot plesier het.

Johan skryf voorts: “Jacko se besluit (om ook vir hom ‘n Gold Wing te koop) beteken dat hy nou 20 van sy 76 jaar kan aftrek. Dis wat met my gebeur elke keer as ek opsaal. Ná 42 jaar op drie motorfietse gebeur dit steeds.

“Soos vanoggend weer toe ek 250 km op die N2 en deur die Overberg se agterpaaie gery het. Ek ry minstens tweekeer per week. Jy moet om wakker en “bike fit” te bly. ‘n Maand gelede het ek en Tobie Wiese oor twee dae meer as 1 000 km deur die Suid-Kaap en die Klein Karoo gery.

“In Mei gaan ons deur die Oos-Kaap toer. Ons kan hom nooi om saam te ry. Dis eers op die ver paaie dat ‘n 1800cc-Gold Wing soos sy nuwe tot sy reg kom. Dis ‘n swaar toerfiets (400kg) en nie geskik om in verkeer tussen onnosel motorryers en rondom die stad mee te poer-poer nie.

“Terloops: ‘n Johannesburgse grysaard van 85 ry steeds syne. Dit het glo al meer as n miljoen kilometer gedoen. Jou kop moet net oopbly.”
(HvD)