TUSSEN LEEUS, TIERS EN RENOSTERS

Middag uit Melkbos

Oor die waarde van reünies het kollega Sarel Venter van Bloemfontein een keer o.m. geskryf: “ Is dit nie veral om te sien wat van ou maats geword het nie? Wie waar in die lewe gekom het; watter een die diepste spore in die lewe laat; om te sien (veral by die vroue) wie met WIE getroud het; en by die mans: wie met watter ryding oor die weg kom.”

Natuurlik is nuus oor bekendes van doer gunter gesog. Deesdae is reünies en die weersiens in lewende lywe ook nie meer plus-minus die primere kanaal vir sulke nuus nie. Die internet is ‘n impakspeler van groot betekenis. Bring boonop die bonus dat dit netwerke kan bloot lê waarvan jy salig onbewus was.

Het pas weer so ‘n geval beleef. Gister het ek Marguerite Deale, Tukkie-joolkoningin van 1961, se foto hier geplaas. Vandag kan ek heelwat oor haar doen en late rapporteer – alles met die komplimente van ‘n ou Tukkiemaat, Andrew Murray, ingenieur van Bloemfontein.

Hy laat weet dadelik: “Daar waar die mooie Marguerite (op gister se foto) in haar mooi rok staan, het ek haar ook gesien! Presies wanneer kan ek nie onthou nie, maar daar was ook amptelike foto’s geneem op die trap net voor die snoekerkamer.

“Haar tweelingbroer, Franz, en ek was van ons standerd-twee-dae op Pretoria-Oosskool beste maatjies, wat ons steeds is. Ek het juis op 4 April met hom gesels toe hy en Marguerite 71 geword het. Hy het Aptekerswese op PUK studeer en werk steeds in Pretoria. Ek het dus baie in daardie huis gekom en baie daar snoeker gespeel.

“Marguerite is nou mev. Hern. Sy is met die makelaar Ed Hern getroud. Hulle besit en bedryf die Renoster- en Leeupark in Krugersdorp se geweste. Marguerite was al op TV met hul wit leeus.

“‘n Paar jaar gelede het haar oudste seun uit haar eerste huwelik, toe reeds 41 en ‘n vlieënier van beroep, daar in die Noord-Transvaal (dit sal altyd vir my so wees) met sy vliegtuig verongeluk – dit was vir haar ‘n baie moeilike tyd.”

Ed, sien ek op die webwerf www.rhinolion@co.za is, benewens sy belangstelling in roofdiere, ‘n ywerige renosterboer. Op die reservaat van sowat 1 200 hektaar naby die Wereldêrfenisgebied die “Wieg van die mens”, sowat 40 km noordwes van Johannesburg, is iets soos 600 stuks wild van 25 verskillende spesies. Aanvanklik was daar net twee renosters, “Bulle” en “Ounooi”. Tot op datum is 18 renosterkalfies daar gebore. Teelprogramme bestaan o.m. ook vir die wit leeus, Kaapse wildehonde, Bengaalse tiers en Siberiese tiers.

Wens ek kon my hand op ‘n foto sit van Marguerite tussen haar leeus en tiers. Wys nou maar net een van die welpies, wat ek op hul webwerf gekry het. Maar as ou maats wil gaan kuier, stel net jul GPS’e in!

Dankie, Andrew, my gewaardeerde “mede-outeur” van vandag se blog. (HvD)

MOOISTE LANGS VELD

Vyftig jaar gelede: joolkoningin Marguerite Deale

More uit Melkbos

‘n Slegte ommissie in gister se intervarsity-inskrywing was ‘n foto van die “mooiste meisie langs die veld” .

Hier is nou, in haar volle glorie, Marguerite Deale, die joolkongin wat in my denkbeeldige stuk voor die Matie-stryd saam met Tukkie-dirigent Jan Lombard ‘n glasie met hul Matie-eweknieë klink.

Op die foto is Marguerite natuurlik nie geklee vir ‘n middag/aandjie langs die rugbyveld nie. Lyk meer soos ‘n “Southern belle” uit die 1939-Hollwood-treffer “Gone with wind”. Dit kon net sowel Scarlett O’Hara (Vivien Leigh), ster van dié immergroen rolprent, gewees het wat soos ‘n standbeeld daar staan.

“Perdeby”-fotograaf Dirk Cloete het die stralende Marguerite in haar ouerhuis afgeneem by die finale passing van haar droomrok twee dae voor haar kroning. My teenwoordigheid by die geleentheid word verklaar deur my redakteurskap van die studentekoerant “Die Perdeby” in die jaar dat sy die joolsepter geswaai het. Ek was by om ‘n berig te maak vir die Vrydag se “Perdeby” oor die joolkongin wie se identiteit op daardie oomblik nog ‘n geheim was. “By” was by – ‘n “scoop” vir my koerant.

Die Saterdag met die optog was Marguerite ‘n koninklike figuur hoog op die hoofsierwa saam met haar prinsesse, Gerda de Bruyn; Ivette Bauristhene; Florence Wiid en Dawn Coetzee. Gerda het later mev. Oupa du Piesanie geword. Die kookwater-flank was Tukkies en die Blou Bulle se rugbykaptein.

Darem nie reg dat ek met alles rondom Tukkies spog en die kersie op die koek nalaat nie. Stel dit graag reg!

Naskrif: Dieselfde foto is voorheen hier geplaas by ‘n inskrywing oor joolkoninginne van my Tukkietyd. Inderdaad toe met Marguerite kontak gemaak iewers aan die Rand. Daardie spoor het egter nou weer doodgeloop. (HvD)

A-RA-RA-RATIO!

Vyftig jaar terug: Jan Lombard (dirigent) en Proppie Goosen (skrumskakel).

More uit Melkbos

Haai, Maties, julle is mos die bakermat van Suid-Afrikaanse rugby?

Vanaand is die mat onder julle uitgeduik, huh? Nou sit julle op julle bakers (blakers)!

So hoor ek in my verbeelding ‘n Tukkiedirigent koggel. Die Tukkie-skare, ‘n see van blou, rooi en goud, jil van lekkerkry.

Dis gisteraand se varsity-eindstryd wat die ou man se gedagtes op loop gesit het…. op ver paaie terug. Niks is mos vir ‘n Tukkie lekkerder as om ‘n windgat Matie nederig te sien buig voor sy meeredere nie!

Kom ons skakel die tydmasjien aan en projekteer gisteraand se wedstryd terugwaarts: tien, twintig, dertig, veertig … vyftig jaar terug.

L.C. de Villiers is nog te nuut en karig vir so ‘n bulwedstryd (watter meneer van ‘n rugbystadion is dit nou?). Die manne speel nie op die proefplaas nie, maar op Loftus.

Die dirigent wat lyk of hy in die room geval het, is die galante mediese student Jan Lombard en sy assistent die kordate Kollegman Vlooi van Rooyen. Jan het ‘n swaelstert aan, pluiskeil op die kop, en spog met ‘n enorme Tukkie-roset op die lapel. Groot soos ‘n reusepizza.

Hy en die skone Marguerite Deale, joolkoningin, klink voor die afskop op die veld ‘n glasie met hul Matie-eweknieë. Sy is die mooiste langs die veld. Die universiteitsliedere word plegtig gesing.

Sommer vroeg-vroeg slaan die Tukkie-skrumskakel ‘n bres. Dis die ratse Proppie Goosen van Kirkwood af, ook ‘n Kollegeman, wat die Maties lug laat gryp. Van die losskrum vlieg die bal langs die lyn af. Johan (Piepies) Pieterse rond af.

A-ra-ra-ratio, hef Jan Lombard opgewonde die strydkreet aan.

Ru-ra, antwoord ons soos een man.

A-ra-ra-ra-ra-ratio!

Ru-ra! Ru-ra! T.U.K … yeah Tuks! (Wanneer sou die kreet tog gesneuwel het? En hoekom?)

Die Maties probeer bra wankelend die “Besem” sing: Ons vee daar mee, ons vee daar mee, die Tukkies in die see.

O wee!

Dan korrel Nic Bojé. losskakel (en nog ‘n Kollegeman), ‘n skepskop pale. Suiwer! Hy het gisteraand oor ‘n biertjie by Ta’ Bella mos voorspel: “Bojé skop, die Maties huil!”

Die Tukkies sing hul kele hees, een ingehaakte, wiegende, rooi-blou-en goue see:

Laat elke ou Tukkie se glasie vol maak,

Wie wil dan water hê?

Wie wil dan, wie wil dan, wie wil dan hê,

Wie wil dan water hê!

Die eindfluitjie blaas. Tukkies wen ver.

A-ra-ra-ratio, dreun die ganse Pretoria-Oos.

Ru-ra, weergalm dit uit duisende kele.

Lekker ou dae.

Een ding oor vyftig jaar later, en dit ter ere van die Tukkie- en Matiespelers: al is die kreet dan daarmee heen, lyk hulle nog soos ons gelyk het. Presies. Kyk maar Proppie se trui en kouse hierbo. Gelukkig het die Jakarandas nie almal pienk getoor nie!

Die Maties se maroen is eweneens soos gister en eergister se maroen … nie ook, soos mamma W.P., hul beroemde streeptruie se strepe gaan staan en “moderniseer” nie.

Nee, dit was Tukkies en Maties op die veld. Tradisiesvas in minstens hierdie een opsig. Al doen die name van die spelers plek-plek ietwat vreemd aan: Clayton Blommetjies op heelagter, nie Fanus Botha nie (Blommetjies, jou breker!), Draghoender op senter en Groepies op vleuel …

Maar, mooi manne, julle is almal die ou gryse Tukkie se helde. Ek neurie al van vroeg af: Die Tukkies wen, die Tukkies wen, die intervarsity …… (HvD)

98 “KERSIES”

Ouma en haar “doomnie”, Francois Hanekom: goue oomblikke.

Ouma, plus haar kinders, Fanie en Tokkie, en skoonkinders, Maretha en Hennie.

Ouma, Tokkie, Fanie en Maretha.

Ouma en haar blomme van dierbare Bloemfonteinse ou bure, Chris en Annette

Ouma lees aandagtig, woord vir woord, haar kaartjies en boodskappe. By haar is TvD.

JAN VAN RIEBEECK

Middag uit Melkbos

Lank-lank gelede, op 6 April 1652, het Jan van Riebeeck met die drie skepies, Die Dromedaris, De Goede Hoop en die Reyger, in Tafelbaai geland: die “volksplanting” – uit ‘n blanke gesigspunt. Lank-lank gelede het ons opgehou om Van Riebeeckdag te gedenk. Vandag is dit weer ‘n vakansiedag, want dit val saam met Goeie Vrydag.

In 1952 is in Kaapstad ‘n reuse-Van Riebeeckfees gevier. Ek het saam met ‘n groep van die Hoerskool Port Natal per trein uit Durban gekom. Destyds was ek in standerd vyf (nou se graad sewe). Die “hoerskool” was allesinsluitend. Vir die geleentheid het ek ‘n kleurbaadjie by Carl Fuchs, seun van Douglas Fuchs (die een met die stem) van die SAUK, geleen. Was maar kort in Port Natal voordat ons Potchefstroom toe is.

Wat ek veral onthou, is dat my nuwe pa. Tony Malan, met wie my weduweema pas getroud was, die oggend ‘n nuwe swart Dodge in besit geneem het. Hy was handelsreisiger by M. Bloch and Company. Ek was so trots dat ek kan bars toe ons uit Botanic Grove, Berea, stasie toe ry in die blinknuwe ses-silinder.

In die Kaap is ons groepie, soos ander skoolgroepe, gehuisves by die Kenilworth-renbaan. Ons is elke dag per voorstedelike trein (deesdae se Metrodiens) Kaapstad-stasie toe vir die feesverrigtinge op die voorstrandgebied (waar Naspers nou is). Van die fees self onthou ek min. Een aand het ons besluit om liewer in die stal te bly waar ons geslaap het. ‘n Kussing-geveg was ‘n aantrekliker opsie as die feesprogram.

My vriend en oud kollega Johan van Wyk onthou meer van die fees as die uwe. Ek leen by hom die volgende:

“Op 6 April, voorheen Van Riebeeckdag, lank reeds afgeskaf, was dit 360 jaar dat die “volksplanter”, Jan van Riebeeck, aan die Kaap voet aan wal gestap het. Sy naam het in vergetelheid verval en sy gesig verskyn nie meer op ons banknote nie, maar die herinnering aan die Van Riebeeckfees van 1952 bly onvergeetlik.

“Die Van Riebeeckfees was die moeder van alle feeste nog in Suid-Afrika. Die 300 jarige bestaan van Suid-Afrika is daarmee op n skaal wat sedertdien nog nie weer gesien is nie, gedenk. Uit die oogpunt van die Afrikaner se geskiedenis kan net twee ander nasionale volksfeeste, in omvang, met die Van Riebeeckfees vergelyk word: Die historiese Ossewatrek van 1938 en die inwyding van die Voortrekkermonument in 1948. Hoewel groot geleenthede was hulle vulletjies teen die Van Riebeeckfees.

“Dit het drie weke lank (van 14 Maart tot 5 April, 1952) geduur. Op n terrein van 24 morg op die toe pas drooggelegde Kaapstadse strandfrontgebied, nou toe onder hoe geboue, was dit vier keer groter as die van die voorafgaande “Festival of Britain” in England. ‘n Optog van 1 500 deelnemers, 70 sierwaens, nege orkeste, en 400 perde in Adderleystraat is deur 300 000 mense gadegeslaan.

“‘n Tydelike stadion, die grootste in daardie stadium ter wereld, het sitplek vir 50 000 mense op die feesterrein gebied. In totaal het sowat 900 000 mense van oor die hele Suid-Afrika, die destydse Rhodesie, Suidwes-Afrika en Europa die fees bygewoon en in tentdorpe oral in die Skiereieland tuisgegaan.

“Koste is nie ontsien nie. Die Nasionale Party-regering, sedert 1948 net-net aan bewind met n meerderheid setels, maar n minderheid stemme, het die kans aangegryp om sy posisie met die oog op die algemene verkiesing van 1953 te verstewig en wou ook aan Suid-Afrikaners en die wereld wys wat Suid-Afrika in 300 jaar bereik het en waartoe die land in staat is. Die fees het twee miljoen pond, in 1952 n enorme bedrag (in vandag se geld waarskynlik R500 miljoen) gekos.

“Ook moeite is nie ontsien nie. Selfs sestien wilde Boesmans is uit die verre noorde van Suidwes-Afrika Kaap toe gebring en om Suid-Afrika se wildlewe en natuurskoon uit te beeld, is n klomp leeuwelpies in die Kruger-wildtuin gevang en in Transvaal se pawiljoen vertoon. Elke provinsie en Suidwes het sy eie pawiljoen met uitstallings gehad. Engelsprekendes en die rol van die 1820-setlaars is deur ‘n model van n tipiese Engelse dorpie, “Much binding in the marsh”, vereer.

“Een-en-n-halfton spykers is gebruik om n replika van Culemborg, Jan van Riebeeck geboortestad in Holland, te bou. Uit Durban was daar 60 riksja’s en uit Oostenryk die Weense Seunskoor. ‘n Goudmyn, kompleet met skyntonnels en ‘n hysbak, en die splyting van die atoom om Suid-Afrika se tegnologiese vordering te wys, is op dramatiese wyse gerekonstrueer. Dit was ook die grootste sametrekking vir kuns en kultuur tot nog toe in Suid-Afrika. Besoekers is met padtreintjies vervoer om die honderde uitstallings oor ‘n area van sewe morg, meeste onder dak in die Spoorwee se toe reuse-, nuwe goedereloods, nou in onbruik, te kon besigtig

“Die interessantste, en sekerlik veeleisendeste aspek van die fees het egter nie in Kaapstad afgespeel nie, maar rondom spesiaal geboude poskoetse, getrek deur perde, oor duisende kilometer op die ver verlate vlaktes van Suid-Afrika. Elk van die vier provinsies en Suidwes het ‘n koets van sy hoofstad Kaap toe gestuur met groeteboodskappe van elke dorp op die roete. Dit was die grootste ge-organiseerde perdetog nog in die land. Meer as 400 perde is gebruik. Vars aflosspanne, verskaf deur boere op die roetes, het die koetse van plek tot plek tot in die Kaap getrek.

“In Windhoek het n tragedie hom afgespeel toe agt perde van n boer van Gobabis vir n proefrit ingespan is. Toe ‘n verbygaande motoris op sy toeter druk het die perde geskrik, losgebreek en op loop gesit. Ses is so erg beseer dat hulle doodgeskiet moes word. Ander perde moes dringend gevind word. Die Suidweskoets het Kaapstad nietemin betyds vir die fees gehaal.

“Naas die simboliese voorstelling van Jan van Riebeeck se landing op 5 April 1952 by Grangerbaai by Groenpunt (die presiese plek waar hy op 6 April 1652 aan wal gestap het) met die eens gevierde Afrikaanse akteur, Andre Hugeneut, in die rol en kleredrag van Van Riebeeck, was die aankoms van die poskoetse in Kaapstad die hoogtepunt van die fees.

“Hoewel die ANC, in sy doelbewuste poging om Suid-Afrika se (blanke) ontstaansgeskiedenis uit te wis, Van Riebeeckdag afgeskaf het en dit nie meer gevier word nie, het dit reeds lank voor 1994 maar net nog n openbare vakansiedag, met min deelname aan die historiese betekenis daarvan, geword. Dit beklemtoon die feit dat Suid-Afrikaners nie veel erg aan hulle verlede het nie.

“Die bykomende ironie is dat Van Riebeeck homself nooit as “volksplanter”, waarvoor hy later vereer is, gesien het nie. En sy here en meesters in Holland, die HOIK (Hollands Oos-Indiese Kompanjie, toe die magtigste internasionale korporateriewe handelsmaatskappy ter wereld) ingestel op wins, nog minder. Hy was bloot ‘n amptenaar wat die belange van die HOIK moes dien deur aan die Kaap ‘n verversingstasie op te rig om die HOIK se skepe tussen Europa en die Ooste van vars voedsel en water te voorsien.

“Hy het inderwaarheid die Kaap slegs as n afspringplek vir bevordering in die Ooste gesien waar hy vroeer gedien het, maar weens binnehandel vir sy eie sak (bedrog) skuldig bevind en na Holland herroep is. Hy het ‘n tweede kans gekry toe die HOIK besluit het om ‘n verversingspos aan die Kaap te stig – met geen doel voor oe om dit as kolonie en die totstandkoming van ‘n nuwe volk uit te brei nie. Hy het sy taak nietemin met groot doelgerigtheid en ondernemingsgees aangepak

“Van Riebeeck was diep ongelukkig aan die Kaap en was verlig om van veral die worstelinge met die bedrieglike inheemse Khoi-San, van wie hy vee moes ruil en, in opdrag van die HOIK, baie taktvol moes optree, ontslae te wees toe hy na 10 jaar na Batavia verplaas is. Dit was uit die staanspoor sy grootste kopseer. Die Khoi-San het sy versoeningsbeleid met die oog op vreedsame naasbestaan as ‘n swakheid beskou. Opstand en uittarting oor die besetting van hulle tradisionele weivelde het tot voortdurende onmin, roof en selfs moord gelei. Dis met groot moeite onder beheer gebring deur leiers van die Khoi-San swaar te straf en na Robbeneiland te verban.

“In sy laaste jare in Batavia, sieklik, bedleend en treurende oor die dood van sy geliefde eerste vrou, Maria de Quellierie, op 2 November, 1664, het hy egter sy verblyf aan die Kaap dikwels met nostalgie aan ‘n besondere avontuurlike tydperk in sy lewe in herinnering geroep, selfs oor die verlore geleenthede, wat hy toe eers besef het, getob. Hy het die Kaap en Europa nie weer gesien nie. Toe hy op 18 Januarie, 1677 op 57 in Batavia sterf het sy naam tydelik uit die geskiedenis verdwyn – om later opgeroep te word en daarna vir meer as 300 jaar in Suid-Afrika te herleef en in 1952 luisterryk op die Van Riebeeckfees vereer te word.

“Die leuse van die fees, wat na 60 jaar steeds buite bereik lyk, was ‘Ons bou n nasie’. Ek onthou dit telkens as ek by sy standbeeld in Kaapstad verbyry.”

Dankie, Johan. vir die ontroerende wandeling deur die Pad van Herinnering. (HvD)