Apr 21, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Môre uit Melkbos
Van my pa, Seun, wat in `n koue wintersnag in Kimberley op 21 Junie 1946 op 35-jarige leeftyd oorlede is, het sy seun, wat presies op `n dag na dertig jaar jonger is, vae herinneringe.
Weet wel dat hy `n boer by Babanango was wat t.w.v. sy eerste kind se swak borsie sy grondjie moes verkoop en uitwyk stad toe – Kimberley was die keuse om verskeie redes. Hy het by De Beers as sekuriteitsbeampte gaan werk.
Pa sou op 21 Junie nagdiens doen, maar het skielik begin sleg voel en huis toe gekom, sy fiets op sy plek neergesit, sy klere netjies opgevou, in die bed geklim … en gesterf. Vinnige hartaanval. Ek was in die kamer, `n onbegrypende toeskouer. Vaagweg onthou ek `n ongewone geskarrel om my pa se sterfbed. Ouma Elsie het soort van bevel oorgeneem en alles in die stryd gewerp om hom weer te laat asemhaal. Niks kon gedoen word nie.
Herinneringe aan Pa Seun se dood, die begrafnis en Ma Baby se alleenheid daarna – ek onthou haar eensame figuur op haar fiets as sy in haar rouklere werk toe ry by die telefoonsentrale in Kimberley – is nuut oopgeboor toe ek by die Speelgoedmuseum op Simonstad (vorige twee blogs) onder meer ook Dinky-modelle van die oorlogstydse Hillman Minx gesien het.
Pa is dood met `n gebruikte Minx nuut in ons motorhuis – `n bloue met swart modderskerms. Dit het die groot Plymouth vervang. Ek staan my iets voor van `n eerste kennismaking met die plaasvervanger as Van D-gesinsvoertuig op blokke iewers in ‘n agterplaas, terwyl sy eerste eienaar iewers as soldaat in die “noorde” geveg het (of dalk gesneuwel het?).
Wonder hoeveel myle (natuurlik nog nie daardie tyd goeters soos kilometers en liters geken nie) met die Minx gery is voordat hy, kort ná Pa se dood, `n derde eienaar sou vind. Ma het die gedagte dat sy leer bestuur, beslis verwerp. Het nooit in haar lewe aan ‘n stuurwiel geraak nie.
Maar ek wil eintlik by die briefie hierbo uitkom. Aldus `n inskrywing in `n ou album van Ma is dit op 15 Junie geskryf, ses dae voor sy dood. Dit was die laaste keer dat hy pen op papier gesit het – om vir sy “liefste Baby” te vra om vir die motortjie drie pinte olie te kry, en `n olieblik by my oom Willie Smith (hy was diamantspeurder in Kimberley).
Van Pa onthou ek nie sy hande nie – was dit grof soos die hande van `n boer? – of sy stem nie – het ek sy stem geërf? Ek weet darem dat hy ‘n sterk handskrif gehad (met minder irriterende krulletjies en draaitjies as my eie, seg Tokkie). En dat hy Ma as “liefste Baby” aangespreek het selfs in `n haastige briefie oor drie pinte olie!
In dieselfde album is `n koevertjie wat hy die dag voor sy dood as loon ontvang het. Dit was met sy dood nog onoopgemaak. In die koevertjie was 11 pond, 19 sjielings en 11 pennies. Sou dit `n week se verdienste gewees het?
`n Mens wonder oor baie dinge as jy aan die rofies van die verlede begin krap. Hoe sou my lewe anders geloop het as Pa nie jonk dood is nie? Dit is `n vraag om oor te tob. Een ding is redelik seker: ek sou by Diamantveld in Kimberley matriek geskryf het, nie by Volkies op Potch nie. Ek sou seker nog altyd joernalis geword het, Volksblad toe gegaan, Tokkie ontmoet en getrou het en daardie klas ding? Maar `n Pa Malan sou daar dan natuurlik nie gewees het nie.
Een ding staan egter vas: g`n mens kan jou lewe terugwaarts anders projekteer as wat dit was nie – net fiksieskrywers. Daardie kuns kon ek nooit bemeester nie. Die naaste daaraan het ek gekom met my olifantstorie Mayafudi (2005) waarin feite en verbeeldingsvlugte onherkenbaar vermeng is.
Skielik kry ek lus om Mayafudi weer af te stof; hierdie keer dalk met minder feite en meer verbeelding. Of is 71 ietwat oud vir so `n klemverskuiwing? (HvD)
Apr 20, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
In aansluiting by die vorige blog, Speelgoedparadysie, ‘n foto van circa 1946/47.
Dis die jonge heer HvD – hy het toe al graag op sy niere gesit – op die stoep van Diagonalstraat 10, Kimberley, met sy Dinkys (van sy Dinkys?).
Ek het ook ‘n foto wat blykkbaar dieselfde dag geneem is, van die nimlike outjie met sy verslete buiteband wat hy tot vervelens in die agterplaas van onse skakelhuisie gerol-rol-rol het. Die is agter glas in ‘n collage. Anders was sy voorland ook hierdie blogruimte.
As die pleisterwerk van Diagonalstraat se stoeptrappies nie waffers lyk nie, bly liewer stil. Netnou begin ek uitwei oor die kleinhuisie onder die peperboom doer in die hoek van die “agterjaart”. Dit was die emmer-era.
Ek lieg nie: ons had ook geen ingeboude bad in die huis nie. Die sinkbad het in die middel van die badkamer se vloer gestaan wanneer die tyd vir ‘n bad aanbreek.
My potjie-geleerdheid is werklik op ‘n potjie (‘n koos, man!) opgedoen. My eerste melktand het gewissel tydens een van my studiesessies. Skielik was daar ‘n poing in die pot. Dit was nie … ahem .. nie, maar die voortand.
Ma Baby moes hom herwin vir die tandemuis. Die het vir my ‘n tiekie gebring.
Apr 20, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Johan en Marisa en die geel Tonka op Buffelsbaai
More uit Melkbos
In die 40’s was die Duitse DKW’tjies, sulke koddige afslaankap-houtkarretjies, volop in ons strate. In ons motorhuis en in my speelgoedkas het Britse karretjies egter in die oorlogstyd en daarna oorheers. My pa het kort voor sy dood sy groot, swaar Plymouth vir ‘n ligter op brandstof Hillman Minx verruil. Ek had ‘n paar Dinky Toys in my speelgoedkkas – nie minder nie as twee Standard Vanguards met hul skuins kewer-ruggies. Was verknog aan my karretjies.

Standard Vanguard se kewerrug
Tokkie is in 1946 (die jaar voor my buiging in Sub A in Kimberley) gebore toe poppe van harde plastiek die in-ding geword het. Haar pa, Kotie, het vir haar in hul kort lewe saam twee sulke poppe gekoop, wat na aan haar hart was.
Ons eie kinders had o.m. in hul kleuterdae ‘n groot geel Tonka-wipbakvragmotor (Johan) en ‘n kewpiepop (Marisa). Marisa had ook later ‘n kruippop (Baby-that-away), ‘n variasie op die tema van die looppop.
Mense, die hartsgoed is die leste een daar in Simonstad se Speelgoedmuseum in St. Georgestraat (‘n gedeelte van Hoofstraat/Main Road). Dit was ‘n verrukking om tussen die vol rakke deur te dwaal en die een na die ander bekende speelding uit die verre verlede raak te loop.
Die miniatuur-loodmotortjies, merkwaardig sekuur afgewerk vir hul tyd, is my gunsteling: Dinkys en Corgis. Ek was ‘n Dinkyman. My eie Dinkys het ek vinnig geïdentifiseer, en die man in beheer van die museum gevra om vir my die glaskas oop te sluit dat ek ‘n Vanguard in my hande kan hou – meer as sestig jaar later. ‘n Entjie aan was ‘n Hornby-treintjie wat om en om op spoortjies kon loop, nes myne.
As ek geweet het, het ek vergeet dat Dinky en Hornby albei Meccanoprodukte was. ‘n Kleinerige rooi Mecannostel was ook in my kas. My pa, Seun, is te gou dood om my te help met bousels. My en my ma se hande was maar dom. Ek is nie in die wieg gelê om die ingenieursbedryf te verryk nie.
Die “vetdiere” (so het ons die lood-beeste, -perde en –skape genoem waarmee ons op ons “plasies”in ons Kimberleyse agterplase, omhein met sink, ge-“boer” het) het my herinner aan ‘n middag toe ‘n maatjie by John Orr nie die versoeking kon weerstaan nie om enkele mooi “vetdiere” onregmatig uit ‘n uitstalling te verwyder. Ons het gehardloop dat ons asems fluit – huis toe in Diagonalstraat, in die geloof dat die polisie kort op ons hakke is.
Ander herinneringe het deur my kop galop:
•My pa se laaste briefie , ‘n week voor sy dood in Junie 1946, dat my ma, “liefste Baby”, tog drie pinte olie vir die blou Minxie (met swart modderskerms) moet kry.

Oorlogstydse Hillman Minx
•My Oom Danie se Austin (A40) en latere Hudson Hornet wat hy met ‘n hamer in Beaconsfield, Kimberley, bygekom het toe die dakstoffering lostorring en op hom instort. Die Austin en die Hudson is albei daar in Dinky-/Corgiformaat – ook die Studebaker Hawk waarmee ‘n vergeefse vryer by my ma opgedaag het. En my en Tokkie se tweede motor, ‘n Fiat 125.
•Johan en Marisa met die Tonka op Buffelsbaai se strand. Johan het vir klein Migael, kort nadat hy by hulle in die huis gekom het, ‘n groot geel vragmotor gekoop om op Buffelsbaai se strand mee te speel. Migael was nie lus nie. Hoe kon hy geweet het van pappie Johan se Tonka-geskiedenis?
•Marisa se kewpie (genoem na Kupido) wat ons na ons jaar in Amerika in 76/77 met ‘n lelike bruin brandmerk teen die kop aantref. Die pop was te naby aan ‘n gloeilampie in die stoorkamer geberg. Amper was daar ‘n yslike brandmoles terwyl ons salig kerjakker.
•”Baby-that-away” – die oulikste ding. As jy haar opwen en die opdrag gee: “Baby that a way”, dan kruip sy in daardie koers vir ‘n vale.
Dankie, Simonstad se speelgoed-paradysie. Oupa Hennie kom weer. Die kleinkinders moet dan saam – hoop net als is nie vir sulke moderne kindertjies hopeloos ouderwets nie. (HvD)
Apr 18, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
“Nieman Reports”, tydskrif van Harvard se Nieman Foundation for Journalism, het vir sy “spring edition” ‘n sarsie Amerikaanse oud-redakteurs gevra wat sal hulle verander as hulle weer in die stoel sou sit.
Vandat ek in 1977 by Harvard weg is, lees ek “Nieman Reports” met aandag. Daardie ouens doen ‘n lot dinkwerk vir elke uitgawe. Die betrokke uitgawe het my uitermate geboei. Die eerlike gevolgtrekking waartoe ek gekom het, is dat ek nie met ambisieuse skemas of grandiose visioene weer in my ou stoel sou gaan sit nie. My resep sou eintlik doodeenvoudig wees.
Ek sou elke dag alles inwerp wat ek kan; vroeg kantoor toe gaan, laat loop; elke uitdaging wat op my lessenaar kom, my beste aandag gee; baie dink oor my koerant; self die voortou probeer neem met kreatiewe insette oor inhoud en aanbieding.
Ek sou ‘n bloudruk van die ou HvD probeer wees, soos ek myself gesien het. Onopwindend? Helaas, ja – vir die nuwe generasie slimkoppe met die wonderlikste verbeeldingsvlugte, moet dit seker maar vervelig klink. Ongelukkig is dit maar soos my ou gryskop werk: doen die basiese reg, die res sal vir jou bygevoeg word.
Wil darem byvoeg dat ek nie so ‘n uitnodiging sou aanvaar as ek nie die volle vertroue van die direksie en topbestuur (en natuurlik die redaksie) sou geniet nie. Vergeet dit dat ek vir voorskrifte – selfs “taktvolle” suggesties – te vinde sou wees. Die redakteur sou die redakteur wees. Die man met die laaste seggenskap oor sy produk. Die baas. “The buck stops here”.
Ek sou ook aandring op die voortsetting van die joernalistieke waardes wat ek steeds aanhang, twintig jaar nadat ek die deur van die mooi Volksblad-redakteurskantoor met sy kiaat-houtpanele in April 1992 vir laas agter my toegetrek het. Die nuwe benadering van onderdanigheid teenoor die “korporatiewe beeld” – soos ek sekere nuushanterings takseer – sou by die venster uitvlieg. Ek sou oor die binnewerkinge van die Pers (wel, deesdae is dit mos Media24) openhartig en vrymoedig wou rapporteer.
Die Liza Albrecht-storie (haar weggaan onder ‘n wolk en haar opgewonde mededeling nou dat sy met die Vrystaatse Universiteit oor ‘n pos “onderhandel”) sou ek bepaald ingrypend anders gehanteer het as die redakteurs en joernaliste van die nuwe millennium.
Ook in die hantering van ander nuus sou outydse waardes geld: slaan die groot storie hard, maak die skouers oop, maar strewe na korrektheid, billikheid en ewewig. Met Joost se indiskresies sou my koerant byvoorbeeld nie tegelyk rapporteur en aanklaer geword het nie. “Rapport” het dit verkeerd gehanteer deur self deel van die storie te word. Punt. Uit-en-uit reklamemakery vir mense soos Pieter-Dirk Uys se “shows” sou snippermandjie toe gaan, nie op die voorblad kom nie.
Absoluut niks nuuts onder die tweede redakteurskap van HvD nie? Wel, seker tog iets. Meer as wat my inklinasie destyds was, sou ek waarskynlik kreatiewe toekomsdenke hopelik nie weer as my persoonlike domein beskou nie. Ek sou my mense meer aanmoedig om hul gedagtes vleuels te gee, en sou graag in die posisie gestel wou wees om hulle daarvoor te beloon, veral oor aspekte soos al die digitale uitdagings wat dalk ietwat bo HvD se vuurmaakplek is.
Maar ek sou in die eerste plek redakteur van my koerant wees. Die gedrukte weergawe sou my eerste en laaste “liefling” wees. Geen mens kan twee here dien nie, en wie op twee stoele probeer sit, val dikwels tussen al twee deur kaplaks op die grond.
Natuurlik sou die huidige base so ‘n ou tradisionalis, verknog aan outydse denke, nie eens vir ‘n redakteurspos oorweeg nie. Ek kan nogal aan ‘n paar mense dink wat taamlik verlig sou wees dat ‘n tweede HvD-skof ‘n ondenkbaarheid is en sal bly.
Naskrif: Na my destydse blog oor haar skielike verdwyning uit die Media24-firmament het Liza Albrecht taamlik onstoke soos volg gereageer: “Eerstens: My dienste by Media24 is nie ‘getermineer’ nie – ek het bedank. Tweedens: Ek begin op 1 April by ‘n ander mediamaatskappy werk. Derdens: Die reeds-getekende bedankingsooreenkoms wat deur Media24 aan my voorgelê is, dwing my tot stilswye tov die redes vir my bedanking. Ek hoop u vergewis u hiervan voordat u voortgaan om agterdog te saai.”
Niks wat ek destyds geskryf het, is deur me. Albrecht se reaksie verkeerd bewys nie. Ek staan steeds by elke woord. Haar mededeling oor die moontlikheid van ‘n pos in Bloemfontein werp in elk geval interessante lig op haar “tweedens”. Wat het dan geword van daardie 1 April-storie?
(HvD)
Apr 16, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Môre uit Melkbos
Vandag presies twee maande gelede, op 16 Februarie 2012, het ek `n brief aan Kerkbode gestuur met wat ek en baie ander nou nog beskou as `n konstruktiewe, versoenende benadering tot die Belhar-konflik. Om redes wat nie aan my bekend is nie, het Kerkbode nie die brief gepubliseer nie.
Trouens, geen erkenning van ontvangs het my ooit bereik nie. Die indruk is moeilik te vermy dat die benadering van Kerkbode is: wie nie VIR die Belhar is nie, is TEEN die Belhar, TEEN die Kerk, TEEN die sinode, TEEN Kerkbode … en sommer TEEN die Heilige Gees ook, te oordeel aan die onnadenkende uitsprake van sommige dominees.
Die inhoud van daardie brief was die onderwerp van my blog van 17 Februarie 2012. Daardie blog herhaal ek vandag in die hoop dat dit iewers nog ontvanklike snare kan raak. My “uitweg” het nogal die vorige keer positiewe reaksie uitgelok.
Ek stuur dit ook aan Kerkbode se redakteur, sonder enige verdere kommentaar, buiten dat ek my hoop daarop vestig dat hierdie blog dalk ‘n redaksionele gewete kan roer oor die vorige hantering van `n lesersbydrae wat met die beste bedoelinge gestuur is. Daardie behandeling sal kwalik enige moreel-etiese joernalistieke toets kan slaag.
Hiermee weer my blog van 17 Februarie:
Die brief hieronder is gister aan “Kerkbode” en ander kerklike forums gerig. Ek herhaal dit hier omdat dit vir my, wat die politieke broederstryd van die 80’s intens beleef het, werklik `n saak van erns is dat ons op kerklike terrein `n ewe felle broederstryd tot elke prys vermy.
Weerstand teen die Belhar-belydenis op die grondvlak van die ouer generasie in die NGK gaan nie sommer net wegraak nie. Ongelukkig word die omvang egter deur kerkleiers onderskat – derhalwe ook die potensiaal van tweedrag en vervreemding van lojale lidmate.
My kompromie is `n nuwe belydenis vir ‘n nuwe tyd´- een wat ook die positiewe in Belhar beliggaam maar sonder die verdelende politieke bagasie. Onder diegene wat daarmee akkoord gaan, is swaargewigte op vele terreine, ook teologiese swaargewigte. Een wat `n lang pad intiem met die kwessie saamkom, noem dit die “enigste werkbare alternatief”.
Verblydend is dat, ter wille van die Groter Saak en van vrede en versoening, selfs by sekeres wat die nodigheid van enige bykomende belydenis ernstig bevraagteken, `n gewilligheid tot kompromie bestaan.
So lui my brief (van 16 Februarie):
In my kring van gewaardeerde, gerespekteerde vriende is die hele Belhar-spektrum verteenwoordig: van entoesiastiese omarming tot absolute verwerping. Wie het al die wysheid in pag om te oordeel wie die absolute waarheid beet het en wie nie?
Moet die NGK werklik hierdie sensitiewe saak op die spits dryf? Is dit in die kerk se belang om hieroor opnuut tweedrag te ontketen en lojale lidmate te vervreem? Wat is dan fout met ons mense dat ons so graag tot die bittereinde `n saak wil uitbaklei terwyl `n versoenende alternatief reddend ter hand is?
Die oplossing vir die dilemma is tog duidelik: `n nuwe belydenis vir die nuwe era – een wat, saam met die ou grondwaarhede, ook die opbouende in Belhar beliggaam – maar sonder die politieke bagasie waaroor die weë op die oomblik grotendeels skei.
NGK en VGK het kreatiewe teoloë wat uitmuntend toegerus is vir die verantwoordelike taak van `n vars formulering vir vandag wat werklik die saak van versoening dien. Soos ons almal saam ‘n nuwe Grondwet kon uittimmer wat op `n breë basis van vaderskap kon reken, het ons in die kerk dieselfde uitdaging voor ons. Dit is `n verrykende uitdaging – ons mag gewis nie daarvoor terugdeins nie.
Waarom dan teruggryp na `n ‘noodkreet´ uit die verlede as die geleentheid hom voordoen om kraakvars , eietyds en vernuwend te dink? Ek begryp werklik nie.
Van ‘noodkrete” gepraat: beskou asseblief hierdie briefie ook as een. Dit is wat dit is. (HvD)