VEREDELDE STAAL

Middag uit Melkbos

Hier is nou ‘n goue “senior oomblik” wat ek graag deel.

Bedoelende dan nie ‘n stukkie geheueverlies of ander verleentheid weens stygende jare nie, maar soos ek graag “senior oomblik” definieer: ‘n oomblik van uitmuntendheid of prestasie.

Die man na wie ek ‘n buiging wil maak. is die 88-jarige ds. Ockie Raubenheimer, voorheen van die die Londense NG gemeente (sy seun Ockie is nou daar). Die wellewende ds. Ockie senior woon die laaste paar jaar in Parklands en kom Sondae op Melkbos kerk toe.

Donderdag sou hy ons Melkbosse gryskoppe by ons kerkvereniging Silwerkrag toespreek oor “Suid-Afrikaanse getuienis in die buiteland.” Hy daag op met ‘n kierie in die hand wat ek nog nie voorheen raakgesien het nie.

Die voorsitster, Elna Smit, kondig aan dat sy hom nie aan die woord gaan stel nie – hy voel “‘n bietjie olik”.

Dit blyk die man het uit sy hospitaalbed opgestaan, sy dokter se besware vriendelik maar ferm van die hand gewys, hom – soos altyd – netjies uitgevat en siek-siek sy afspraak kom nakom.

Met sy kenmerkende glimlag stap hy daarop self na die kateder, betuig sy spyt dat hy nie die toespraak kan lewer nie, groet vriendelik en keer terug hospitaal toe waar hy vir ‘n vry-ernstige bloedprobleem behandel word.

‘n Kloeke daad, wou ek dit noem – maar waarskynlik is “kloek” ‘n te ligte ou woordjie om sulke durf, dapperheid, pligsgetrouheid en gedrewenheid te beskryf. Gebruik maar die verbeelding en voeg self na smaak ‘n raker woord in.

Weet net, ds. Ockie, dat almal in daardie kerksaal Donderdagoggend opnuut ‘n lewensles by u geleer het wat dalk dieper ingesink het as wat enige knap toespraak sou kon doen: dat ‘n mens se ware stoffasie nie met die jare hoef af te slyt nie.

Dit kan selfs veredel. (HvD)

CUSTOS OF VERWOESTOS?

Middag uit Melkbos

Hartverskeurend as “custos naturae” “verwoestos naturae” word.

Ongelukkig is die hofverskyning van die vier uniformdraers van Sanparke in verband met renosterstropery nie die eerste omkering van rolle in die laaste jare in die geliefde Kruger-wildtuin nie.

Ek onthou nie alle onderduimshede nie, maar ‘n besonder pynlike geval was toe arme rooibokkies wat in die kampong van die KNP staan en wei het, op ‘n Sondagmiddag na ‘n fuifparty met stokkie en ysters getakel is en pap gemoker is vir die pot.

Die skuldiges is aan die man gebring, maar die hantering was tog maar ietwat suutjies-suutjies. Ook die media moes, na my oordeel, gerus maar hul knaldempers oor hierdie insident meer afgehaal het.

Of daardie “sagte benadering” ‘n rol gespeel het dat Sanparkmanne toenemend voor die versoeking swig om hul missie onder die mat in te vee ter ere van die god Mammon, kan ‘n mens maar net raai. Die vrees om vasgetrap te word, skrik ‘n sekere seksie nie juis af nie.

Toegewyde natuurbewaarders soos die Stevenson-Hamiltons, Wolhuters, en later ook die Salomon Jouberts en Tol Pienaars sou seker lang trane stort oor die verwording van die nasionale bate van die Krugerwildtuin wat hulle met liefde, sorgsaamheid, sensitiwiteit en doelgerigtheid opgebou en uitgebou het.

Ek kry ook die huidige geslag leidsliede jammer. Hulle moet moedeloos en tam voel. Taakspanne neem deel aan die stryd, weermag-eenhede word ontplooi, helikopters woer-woer in die lug, swaar militere vragmotors woerts by wildkykers verby op anti-stroper-sendings, ekstra veldwagters word aangestel, maar stropery duur op groot skaal voort.

Selfs veeartse neem uit gierigheid lustig deel ter wille van vulgere selfverryking.

Die koste van die operasie om ons kosbare renosters teen die bose aanslag te beskerm, moet miljoene der miljoene bedra. Op die foto is van die plakkers wat Desember/Januarie by die hekke van die NKP in pakke uitgedeel is, en wat self ‘n mooi klompie moet gekos het. Van die huidige span wetsoortreders was skynbaar so sinies (uitdagend?) dat hulle safarivoertuie vir hul duiwelswerk verrig met sulke plakkers op prominente plekke opgeplak!

Die idee om daardie gewetenlose vente in die openbaar van sekere van hul eie bates te stroop, raak vir my al hoe aantrekliker.

G’n renosterhoring sal daarna as plaasvervanger kan dien nie! (HvD)