TELEGRAM VIR TOKKIE

More uit Melkbos

Op 15 Maart 1965 skuins na 13:00 het ek by die Leeusig-poskantoor in Kaapstad ingestap en ‘n telegram vir Tokkie van Wyk in die McDonaltehuis aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gestuur. “Baie hartlik geluk,” lui die telegram, “Nou is jy ampertjies groot. Liefde. Hennie.” Sy was toe 19 jaar oud.

Donderdag is sy “clickety click” – in Bingotaal. Telegramme bestaan lank nie meer nie. Ook nie die Leeusig-poskantoor nie, sien ek in die boekie met poskodes. Maar daardie telegram van 15 Maart 1965 bestaan nog. Dit is saam met ‘n hopie telegramme, gedateer 31 Desember 1966, in ‘n hoekie van Tokkie se swaar embuia-trousseaukis in die slaapkamer – ‘n ware skatkis van kosbare herinneringe.

Op 31 Desember 1966 – Tokkie was nog nie 21 nie! – is die Van D’s op Bultfontein getroud. Vriende en familie het van oral per telegram – party ernstig, party luimig en party amper-amper stout – hul gelukwense oorgedra. Sy het nog elkeen.

Dat telegramme nie meer bestaan nie, het ek enkele jare gelede eers agtergekom toe ek na ‘n soektog Hazyview se goed versteekte poskantoor opgespoor het om ‘n telegram te stuur. ‘n Wat? Die dametjie agter die toonbank was uit die veld geslaan.

Die ontdekking van die telegram se heengaan het ons nogal geskok. E-pos is nie oral beskikbaar nie. SMS? Is dit werklik so persoonlik-intiem soos ‘n telegram wat ‘n posbode per fiets by die huis kom aflewer? Om sy nek was so ‘n leersakkie met die telegramme, onthou?

In poskantore het die klerke gou geweet as daar ‘n belangrike verjaardag, ‘n huwelik of ‘n nuwe baba op die dorp is. Die telegramme het van vroeg ingestroom – sommige sierlik geraam met allerlei blommetjies en dinge. Dit was ‘n sogenaamde groetetelegram.

Daar was, helaas, ook telegramme net slegte nuus: ‘n sterfgeval in die familie, ‘n belangrike eksamen wat gedruip is of ‘n afdanking. Soos jy drome kon help bou, kon jy ook brutaal en kortaf in ‘n telegram iemand se drome verongeluk.

Die letters op die telegram is deur die teleks op sulke smal strokies getik en, vratte en al, op die telegramvorm geplak. Op die foto hierbo is my verjaardagtelegram aan my aspirant-bruid en drie ander. Dit sluit ‘n groetetelegram in.

‘n Vreemde latere ontdekking was hoe lank die telegram al van die toneel moet wees. ‘n Jong vriendin van Tokkie, ma van twee kindertjies, het byvoorbeeld nie geweet waarvan my vrou praat toe sy onlangs oor ‘n teekoppie die onderwerp van telegramme aanroer nie.

Tokkie het na ‘n vurige pleidooi haar telegramme vir my uit die kis gehaal vir doeleindes wat ek nie aan haar wou verklap nie. Ek het belowe om dit veilig terug te besorg. Sy wil vir die kinders daarvan present gee, en vir die kleinkinders. Dis “Africana”, meen sy.

Ek sou graag Donderdag vir haar ‘n telegram wou stuur op haar “clickety-click”. Dink net hoe romanties dit sou wees as die posman per fiets met klingelende klokkie voor Penguin Place 11 ‘n es sou kom gooi om my mooiste wense, liefde en waardering vir my liewe vrou oor te dra op ‘n dokument wat sy, soos ‘n kwitansie, in haar trousseaukis kan toesluit – om my, wanneer sy dit nodig en wenslik ag, aan my woorde te herinner!

FACEBOOK-VERRASSING

Middag uit Melkbos

Of Facebook vir jou fassinerend is of ‘n flou perd wat jou verveel – ek is een van diegene vir wie Facebookers se aktiwiteite soms uiters veeleisend raak! – is verrassings op die sosiale network nie uitgesluit nie.

Ons Randburgse bure van die jare 70, Neil en Estelle McLeod (foto). het na 40 jaar via Facebook weer by die Van Deventers opgeduik. Ek kon Tokkie verras met die nuus dat Mike (Mikie) McLeod verlede Saterdag trou.

Ons het in die tweede helfte van die 70’s oorkant die McLeods gewoon in Maroelastraat, Randparkrif 3. Kinders was nog klein – het saam in die stil straat gespeel en soms saam met die ma’s, wat hegte vriendinne was, gaan piekniek maak.

In 1980 is ons Bloemfontein toe. Neil se besigheid – Mr. Gate – het in heersende omstandighede gefloreer, en hulle het in Sandton ‘n herehuis gebou. Kontak het, soos dit maar gaan, met die jare minder geword.

Saterdag kon ek egter vir Estelle laat weet: “Afrikaanse bure …. Afrikaanse gelukwense. Hoop Mike en die gelukkige nooi loop ‘n lang, gelukkige pad saam en die liewe McLeods van Maroelastraat, Randparkrif, kry net vreugde uit die verbintenis.” Estelle het verras gereageer: “We have all come such a long way. Best of love to all your family.”

Ek dink ek skuld die McLeods ‘n verskoning. Na ons Amerikaanse jaar in 1976/77 het ons een aand met ‘n bliktrommeltjie vol skyfies – die ou garde sal skyfies onthou – by hulle opgedaag en die arme twee drommels ure lank met ‘n amperse fotografiese totaalbeeld van die Van D’s se Amerikaanse dinge opgesaal. Dit was wreed. Die arme Estelle het later ingedut en al hoe rustiger begin asemhaal.

Neil skuld dalk weer vir Tokkie ‘n verskoning. Sy het ons posbus op die hoekpaal van die heining vasgegom. Die buurman met sy meerdere tegniese kennis was bra skepties – “sallie hou nie!” Wel, Neil, my vriend, dit het gehou – totdat ons in 1980 uit die Rand weg is. Of dit weer gom gekry het, weet ek nie, maar 20 jaar later het ons by ons ou huis verbygery. Toe staan die posbus nog op presies dieselfde plek.

Neil het nie boeremeisies van Bultfontein geken nie.

Ek en Neil het meermale saam gaan krieket kyk op die Wanderers. Ons het ook ‘n paar biere in ons lewe saam geknak. Hy had die wonderlike buregewoonte om met ‘n bottel wyn oor te stap en aan te kondig: “As jy glase het, ek het vir ons wyn.”

Tokkie onthou hoe sy een oggend haar as afgeskrik het toe sy vir Estelle bel op haar verjaardag. Toe die telefoon lui, se Neil: “Hi. Tokkie.” My vrou was in die beskutte omgewing van haar slaapkamer in die minimum onderklere. Sy dag die slimme Neil het ‘n manier geprakseer om oproepers op ‘n skerm te sien, en wil met alle geweld onder die bed induik. Toe blyk dit darem Neil het via sy kantoor verneem dat hy ‘n oproep van sy oud-buurvrou te wagte kan wees. Sy het by die kantoor aangeklop vir die nommer.

Mike, die bruidegom, moet ook al ‘n man van anderkant 30 wees. ‘n Geheimpie rakende hom wat ons al lank saam met ons dra, was sy kinderlik-onskuldige verduideliking een keer hoekom pappa nie die telefoon kan kom beantwoord nie: “Daddy is poo-ing”!

Ek dink ons moet moeite doen om vir die McLeods te gaan kuier. Buiten vir al die oor-en-weer-uitvraery en die ekskuus-vra vir dit en dat, soos hierbo uiteengesit, sal ek die geleentheid sommer ook wou benut om met my buurvrou ‘n appeltjie te skil.

Tokkie beweer die volgende woorde het op ‘n keer oor Estelle se lippe gekom: “As jy jou arm sou verloor, sou Hennie net op ‘n dag wil weet: ‘Hoekom loop jy dan so snaaks?’”

Ek wil dit nie graag glo nie. Maar ek moet. Dis nog ‘n goeie eienskap van my vrou., Buiten dat sy posbusse vir ewig kan staan maak met ‘n paar smere gom, lieg sy nie. (HvD)

DRIE GROTES

Middag uit Melkbos

Sommer ‘n lawwigheidjie n.a.v. nou die dag se foto van Tokkie by die walvis.

Ek herinner haar toe daaraan dat sy ook al saam met ‘n olifant afgeneem is in ‘n foto wat nogal taamlike opspraak onder vriende veroorsaak het. (Was o.m. op die buiteblad van my 60-boek, Halfpad Hemel Toe.)

En saam met my.

Saam met drie grotes dus.

Hier is ‘n kompilasie in dier voege.

Ek sou ook nog vir Tokkie by ‘n leeu (darem verdoof) en ‘n kameelperd kon byvoeg. Dan het ons ‘n splinternuwe Vyf Grotes of Groot Vyf, soos die meeste mense verkies om die olifant, leeu, buffel, renoster en luiperd te beskryf.

Terloops: daardie walvis had yslike swart en wit kolle. My beskrywing daarvan as ‘n orca word egter wyd bevraagteken. Was Die Burger dalk in die kol met sy “suidelike noorkapper”?

Weet iemand?

(Naskrif: Sien iewers ‘n suidelike noorkapper kan so groot raak soos 10 olifante. Sjoe!)

(HvD)

LOS DIE LASTIGHEID LINKS!

More uit Melkbos

‘n Langer lys “verduidelikings en regstellings” “versier” vandag Die Burger se bladsy twee as in ‘n lang tyd.

Daaroor veroorloof ek my geen grinnik nie. In my eerste boekie oor koerante se feilbaarheid, Scoops en Skandes (Tafelberg 1993), het ek al geskryf: “Die alewige gejaag van koerante om saktyd te haal, open inderdaad ‘n enorme spul bose gevare van liederlike foute, wat regskape redakteurs in wanhoop uitroepe uit die weer laat maak.”

Ek verklaar ook dat ‘n wakker beskermengel onontbeerlik is om die dreigende slagysters te help vryspring wat elke dag op die loer lê.

Met terugkerende pyn onthou ek verskeie geleenthede toe my eie beskermengel ‘n uiltjie geknip het. Moet my asseblief nie daaraan herinner nie!

Dat koerante nuus misvat, is ook geen onbekende verskynsel nie. Die nie-verskyning in Die Burger gister van ‘n klaarblyklike baasbrein in die renosterstropery wat vasgetrap is met vars horings, druppende van bloed, en miljoene rande aan skynbare bloedgeld in sy besit, is iets wat in die beste koerantefamilies kan gebeur.

Die diefstal van die Oppenheimerjuwele in die jare vyftig uit Little Brenthurst in Johannesburg is byvoorbeeld deur ‘n wyd gerespekteerde Suid-Afrikaanse oggendkoerant as on-nuuswaardig gewag. (Noem liewer nie die naam nie, want ek is bang ek onthou ná ‘n halfeeu verkeerd!)

Die uwe het in die sestigs self die Beatles se aanspraak dat hulle gewilder as Christus is, soos in dit in koerantidioom lui, op die pen geslaan omdat hy dit as godslasterlik beskou het. Dit is snippermandjie toe, liewe vriende, tot konsternasie van ‘n redakteur wat nie kon glo dat sy “oulike jong hoofsub” so ‘n warkop kan wees nie.

‘n Ontsnapte luiperd het in die 70’s deur ‘n toiletvenstertjie vir ‘n pas aangestelde kollega gegrom terwyl die wêreld en sy maat in Bloemfontein op sy spoor was … en die nuwe “koerantman” het nie die gesonde verstand gehad om die insident aan sy verstomde nuusredakteur bekend te maak nie.

Ai, ai … die mens – ook koerantmense – openbaar meermale irrasionaliteite wat ‘n yslike vraagteken oor die begrip homo sapiens laat hang.

Die toets is: hoe reageer ‘n koerant as hy so ‘n “mistykie” gepleeg het? Wat ek aan die voete van my Gamaliëls geleer het en loopbaanlank probeer toepas het, is ‘n beleid van hard terugslaan. Jy span jou beste mense in om te help red wat te redde is. Jy katrol die beste beskikbare kreatiwiteit in om op dag twee die opposisie te troef met so ‘n goeie opvolg dat hulle trane in hul oë kry, en eintlik half spyt is hulle het jou die vorige dag ge-scoop.

Deesdae gebeur dinge anders. Vandag op dag twee is Die Burger steeds sonder ‘n woord oor die polisiedeurbraak op die drumpel van die Krugerwildtuin.

So ‘n beleid van “los die lastigheid links” het ek voorheen ook al rede gehad om te vermoed, juis met ‘n vorige swaargewig-renosterstorie. De Wet Potgieter het in die koerant New Age die nuus gebreek dat ‘n uiters bekende veearts en bewaringskundige deur die polisie gegryp is oor die beweerde verskaffing van spesiale moeti vir die stropers se doofpyle. DB had niks .. en die volgende dag weer niks … en die volgende dag weer niks. ‘n Week later was daar ‘n onbenullige beriggie op ‘n binneblad versteek.

Sou dit wees omdat die Wildtuin se renosters nie Stormertruie dra nie?

(Naskrif: Dalk was die renosterstorie in ander uitgawes van DB. Ons Melkbossers was vir ons inligting egter van ander media afhanklik.) (HvD)

JUWEELMENS VAN A TOT Z

Links: Swanie Human saam met haar man, Barnie, by sy 70ste. Regs: Swanie Human (nee Swanepoel) in die 40’s op Bainsvlei.

Middag uit Melkbos

Vergeet ons so gou?

Die vraag kom by my op toe ek vanoggend die volgende boodskap van ’n vriend en oud-kollega, Sarel Venter, uit Bloemfontein ontvang: “‘n AVBOB-kennisgewing by die geklassifiseerde advertensies is al wat Volksblad-lesers vanoggend inlig dat Swanie Human oorlede is en Woensdag begrawe word.”

Dit ruk ‘n mens. Sy was so ‘n vorstelike dame met soveel grasie (Swanie – die swaan!), swier, styl en vriende. Nou sterf sy so onbesonge. Maar sic transit gloria mundi – glorie van die een era gaan onglorieryk heen in ‘n nuwe. Swanie, tydloos soos sy was, het by die einde van haar era verbygeleef.

By die 70ste verjaardag in 1994 van haar eggenoot, die legendariese motormagnaat Barnie (wat in 2006 oorlede is), is ‘n gedenkboek gepubliseer, opgedra aan Barnie en Swanie, “want Barnie beteken Barnie en Swanie”. ‘n Treffende en raak woord! Wat sou Oom Barnie tog sonder Swanie aan sy sy gewees het?

Sy het die vorstelikheid in die Human-huwelik gebring, ook die elegansie en sjarme: ‘n model-vrou wat jy altyd deur ‘n ring kon trek. Een met elke haartjie op sy plek. Smaakvol en stylvol letterlik van die kroontjie tot die toontjie. ‘n Vrou van wie jy kennis geneem het as sy by ‘n deur inkom.

Haar huise, hul hoofhuis in Albrechtstraat, Bloemfontein, met sy lushof-tuin wat al dekades lank die omgewing domineer; op Ramsgate, hul prentjiemooi uitspanplek; asook die karaktervolle plaasopstal op die ou Brandfortpad, was altyd eksieperfeksie. Elkeen het die stylstempel van Swanie Human gedra. Daar, omring met die beste in elke opsig, was sy atyd die perfekte gasvrou, met gasvryheid ewe legendaries as haar man se sakesukses.

Vriende wat die voorreg gehad om by enigeen van die plekke saam te kuier – veral by al drie! – reken daardie geleenthede by die Groot Feeste in hul lewens. Ai, hoe verplaas ek my nie nou in my gedagtes Ramsgate toe nie, waar ‘n mens kon sien en beleef hoe die Humans waarlik ontspan –terwyl hul gaste soos konings bederf word!

Drie akker van eksotiese tuine met onder meer iets soos 3 000 anthiriums, private rolbalbaan, snoekerkamer, verhitte swembad en wat nog langs die dreunende Indiese oseaan. Onvergeetlik. Onvermydelik het die kosbare landgoed, soos verwag kon word, ook voor ontwikkeling moes swig.

Oor Swanie Human sou jy lank liries kon uitwei, maar om ewewigtig te wees, verg dat jy ook haar sin vir eenvoud vermeld, haar oop hart en beursie vir mense in nood (gestremdes was veral na aan haar hart, onthou ek) asook die deernis jeens haar ewemens wat sy selfs teenoor wildvreemdes kon openbaar.

My vriend Sarel onthou byvoorbeeld: “Vanjaar 44 jaar gelede het ons op Port Edward vakansie gehou. Gerhard was ‘n jaar oud. Hy kry toe herpes met sy hele mondjie vol sere. ‘n Kiem op die strand in die sand opgetel, seg ‘n dokter. Hy had verskriklike koors en ons besluit om huis toe te kom. Ry deur na Durban se lughawe. Sit hom en Liesbeth die Sondagmiddag op ‘n vliegtuig wat direk na Bloemfontein vlieg. En ek vat die pad deur die nag huis toe; skoonpa en skoonma saam met my. In die vliegtuig sit Liesbeth met die siek Gerhard toe naby Swanie en haar dogter, Christa. Swanie was moederlik besorg oor die siek kind en het aangebied om vir Liesbeth huis toe te bring van Bloemfontein se lughawe af.”

En hoeveel skatryk vroue was hul eie ondergoedjies? Swanie het al die jare, want “dit is duur en moet opgepas word”.

Barnie en Swanie het mekaar, volgens oorlewering, op 20 Mei 1943 op ‘n huispartytjie ontmoet (toe hierdie ou gryse nog net ‘n raps oor die twee was!). Sy was ‘n nooi Swanepoel van Bainsvlei. “Daar sit my vrou,” het hy glo aan ‘n vriend gesê. Op Woensdag 26 Desember 1945 is hulle in Bloemfontein getroud.

Barnie Human was ontsettend lief vir sy karre. Dit weet almal. Hy was selfs nog liewer vir sy mooi vrou, Swanie. Dié dat hy haar in ‘n goue Jaguar laat ry en met juwele oorlaai het wat in ‘n paleis se brandkas sou skitter. Natuurlik behoort hy haar te bederf het. Swanie was die juweel van sy lewe. Trouens, sy was van A tot Z ‘n juweelmens. (hvd)