“SNAPS” WAT SKOK

‘n Jong HvD aan Die Volksblad se subtafel circa 1964 (let op die das!). Links is Jaap Steyn (hoofsub) en Wiets Beukes (assistent-redakteur).

More uit Melkbos

Teleks – in die gesels hier en op Facebook oor die telegram-era het die woordjie telkens ter sprake gekom.

Die bewoording op ‘n telegram is naamlik op ‘n verre teleksmasjien uitgetik en is dan raserig by sy bestemming se poskantoor ontvang. Dit is in strokies op die telegram geplak, vratte (meesal tikfoutjies) en al.

Berigte het op dieselfde wyse by koerante ingestroom. Die telekskantoor met sy horde kletterende masjiene was die hart van die koerant. Die dinamiek van ‘n vorige generasie koerante is in daardie geluid vasgevang.

My eerste kennismaking met ‘n redaksiekantoor was een aand in Desember 1958. Wiets Beukes het hierdie beurshouer aan die vooraand van sy eerste skof vakansiewerk gaan rondwys. Die bedrywige telekskantoor het my geboei en my bloed laat bruis.

Die bysiende Bennie Lean het die aand diens gedoen. Hy was besig om bladsy vir bladsy af te skeur soos dit onophoudelik uit ‘n verskeidenheid bronne opdaag, en vir die hoofsubredakteur se aandag te rangskik.

Van Sapa, Sapa-AP en Sapa-Reuter (deesdae net Reuters) is woorde in die snelle tempo van geweervuur uitgespoeg. Van die susterskoerante Die Burger en Die Oosterlig (daar was nog nie ‘n Beeld nie) en van die sogenaamde buitekantore (in Londen, aan die Rand en in die Goudveld) het nuus uit hul kontreie van eie verteenwoordigers ingestroom. Oor poskantoorlyne het korrespondente hul stories oor groot pampoene en dies meer uit die platteland hoopvol aangebied.

Op Vrydagaand 22 November 1963 het ek een van my onvergeetlikste teleks-ervarings opgedoen. Ek, jong verslaggewer, het vroegaand ‘n berig kom tik. Toe roep Bennie (of was dit dalk sy adjudant, Smittie?). Uit Dallas, Texas, het een skokstorie na die ander begin rol oor die sluipmoordmoord (die dubbele “moord” is glo deesdae die korrekte vorm) op pres. J.F. Kennedy by Dealy Plaza. Die een “snap’ (flitsberig) na die ander.

Ek het die ontvouende drama met intense aandag gevolg, maar gelukkig die teenwoordigheid van gees gehad om die assistent-redakteur, Bart Zaaiman, te bel. “O, gatta, ou Hendrik,” het hy gesê (hy het nie juis sterker taal gebruik nie) en die wiele aan die rol gesit vir ‘n spesiale poging die Saterdagoggend. Die Volksblad was toe nog ‘n middagkoerant.

Die uwe was daardie Saterdag een van die herskrywers. Ek onthou ek het vertaal Jackie Kennedy was “met bloed bespat”. Oom Bart het afkeurend gefrons. Met bloed bekoek,” was sy voorstel. Dit is met akklamasie aanvaar.

Op 6 September 1966 was ek hoofsub toe Bennie Lean die middag kort na 14:15 sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantoor druk, bewend met ‘n “snap” in sy hand: “Dr. Verwoerd stabbed by knife in Assembly”. (Dit was ‘n taalglipsie in die harwar van die oomblik van ‘n Sapaverslaggewer wat klaarblyklik Afrikaans ge-oriënteer was, soos vele van sy kollegas. Verwoerd is immers “by” “a messenger” ge-“stab”. “With a knife”.

Dit daar gelaat. Wat ‘n holderstebolder middag het dit nie ingelui nie. Die gewone laat uitgawe, pas klaar, is onmiddellik ingrypend oorgemaak met ‘n banier van groot houtletters – letters wat gewoonlik vir ‘n oorlog gereserveer word – op die voorblad: “Dr. Verwoerd vermoor”.

Dadelik is begin om kooragstig aan ‘n spesiale uitgawe te werk. Ek het nooit weer daardie middag gesit nie – net, hoewel self bleek en bewend van ontsteltenis, in staande posisie vooroor gebuig by my lessenaar berigte gekeur en opskrifte help skryf om die Bloemfonteinse leserspubliek oor die jongste nuus in te lig. In die koerant was o.m. ‘n aangrypende ooggetuieverslag van wyle J.J.J. Scholtz. Van die staatmaker (ook wyle) Alf Ries, politieke beriggewer, is ‘n raakvat-berig ontvang met al die vernaamste elemente. Van die redakteur was daar ‘n spesiale voorbladhoofartikel in ‘n rouraam.

Alles het begin met daardie “snap” en Bennie Lean wat onmiddelik gesnap het dis ‘n “snap” met nuus wat Suid-Afrika soos ‘n voorhamer sou slaan.

Die teleks is soms ook deur grapjaste misbruik, en veral een geval het nogal ‘n eienaardige nadraai gehad. Daarvan vertel ek ‘n volgende keer. (HvD)

TELEGRAM VIR TOKKIE (2)

More uit Melkbos

Toe daag ‘n “telegram” werklik jou vanoggend by Tokkie op.

Vroegoggend op haar “clickety click”!

Dit is nie ‘n regte, egte, outydse telegram nie – sien my blog “Telegram vir Tokkie” van 11/3 – maar ‘n gesimuleerde poging van Sarel en Liesbeth Venter van Bloemfontein.

Oulik en oorspronklik – en dalk die eerste “telegram” wat Tokkie op haar verjaardag kry sedert ek op 15 Maart in 1965 op haar tedere 19 vir haar uit Leeusig, Kaapstad, getelegrafeer het: “Jy is nou amper groot”.

Binne twee jaar daarna was ons voor die kansel.

‘n Foto van die rekenaar-kunswerk verskyn hierbo. Lyk werklik outentiek met die =D= =LX=, die lot.

Al is vandag se “telegram” nie deur ‘n bode met ‘n leersakkie om die nek en klingelende klokkie per fiets afgelewer nie, het Sarel en Liesbeth se e-pos-boodskap netjies daardie beeld in die gees opgetower. Dit lui:

“MORE MENEER! HIER IS ‘N TELEGRAM VIR MEV . TOKKIE VAN DEVENTER. JA, MENEER, ‘N TELEGRAM.
DANKIE, MENEER. KOEBAAI, MENEER!”

Ek voel so ietwat voorgespring. Het Woensdag mos geskryf ek sou graag weer vir Tokkie ‘n telegram op haar verjaardag wou stuur. Toe gee mede-blogger Kobus Victor van Durbanville die wenk: laat iemand vir jou een ontwerp en stuur dit saam met ‘n bos rooi rose.

Hy’s ‘n romantiese ou doring, die Kobus!

Nietemin, ek sien toe op teen die uitdaging. Fabriseer toe maar ‘n gewone kaartjie. Sit dit tog wel in ‘n koevert waarop staan: ‘n Telegram vir Tokkie.

Toe vat die Venters die gaping.

Kon my met ‘n veertjie omtik toe ek die e-pos oopmaak. En Tokkie – sy het gestraal.

Haar “clickety click” is op besonderse wyse daardeur opgekikker. (HvD)

BOBBEJAANSTUIPE

More uit Melkbos

Bobbejane word verpes deur boere oor die plundering van hul landerye en deur diegene wat gedurig “huisbesoeke” van die sekelsterte moet afweer, soos ons in Sabiepark. Duisende wrewelrige woorde het al uit die uwe se pen gevloei oor lyding aan die hand van balhorige bobbejane – ook op hierdie blog.

Kinders (en heelparty grootmense) geniet bobbejane se manewales langs die pad in natuurreservate en wildtuine – hulle is “dan so baie amper-mens”. Bobbejaanmoeders se sorgsaamheid is ‘n kenmerk.

In die politiek is enige verwysing na “bobbejaan” taboe – party ouens se nerwe is bra dun oor die moontlike konnotasie. Selfs “baviaan” soos in “Baviaanskloof” word met agterdog bejeën.

Bobbejane sorg vir humor. T. O. Honiball het Adoons-hulle geskep – ‘n tekenreeks oor bobbejaanstreke wat die harte van generasies van waarderende lesers verower het. Deesdae spot spotprenttekenaars lekker met bobbbejane, soos Fred Mouton vanoggend in Die Burger n.a.v. die fees van die bobbejane na die Argus-fietsren. Ek “leen” by Fred die prentjie hierbo van die “Koning van die Berge”.

Bobbejane figureer in talryke spreekwoorde.

My studentevriend Arend de Waal van Windhoek opper ‘n ander bobbejaan-element: die gevaar wat daardie nare geel slagtande vir mens en dier inhou.

Arend sluit hom aan by die internetlys oor gevaarlike diere en ons koshuismaat, Piet Henning, se reaksie uit Louis Trichardt (vorige blog).

Arend skryf:

Ek het met groot belangstelling gelees van jou lys van gevaarlikste diere en Piet se aanvulling daarby. Ek ondersteun Piet se standpunt oor die luiperd.

Waar ek groot geword het in die omgewing van Otavi het ons met leeus en luiperds te doen gehad. Nou sê ek vir jou as iemand wat op albei se spore gestap het (natuurlik met `n geweer), jag ek te voet eerder leeu as luiperd. Hy is uiters gevaarlik omdat hy slu is . `n Gekweste luiperd jag jy nie sonder honde wat weet wat om te doen nie; honde wat nie op jou spoor draf nie, maar wat in sirkels om jou beweeg om hom op te spoor.

Daar is egter een dier vir wie `n luiperd nogal ontsag het. Dit is `n bobbejaanmannetjie. `Mens misgis jou maklik met `n bobbejaan. Het jy al so `n groot mannetjie se slagtande gesien? Mense sien nie die bobbejaan as so gevaarlik nie, want hy beweeg gewoonlik weg van mense af . Maar moenie hom vaskeer nie.

Luiperds is mal oor bobbejaanvleis en val gewoonlik in die nag aan as die bobbejane in hol kranse slaap. Maar as mannetjies stelling inneem, maak hy spore . In `n geveg is daar geen dier wat die spoed van die `n bobbejaanmannetjie klop nie. Hy skeur sy vyand eenvoudig uitmekaar.

Moet sê: persoonlik sou ek verkies om in die veld skielik ‘n bobbejaanmannetjie teen te kom eerder as ‘n luiperd of leeu. Maar ek kan nie van Arend verskil nie dat mense wat bobbejane as onskuldige pretmakers beskou, buitengewoon naïef is.

‘n Vasgekeerde bobbejaan is bepaald nie kinderspeletjies nie. Die woord “bobbejaanstuipe” vir ‘n uitbarsting van woede is nie uit die lug gegryp nie. (HvD)

GEVAARLIKSTE KALANTE

More uit Melkbos

En die luiperd dan? Sou jy hom nie in die Top Tien moet plek gee nie?

Dit is die vraag wat by my ontstaan het n.a.v. een van daardie lysies wat gereeld op die e-pos-kringloop opduik: hierdie keer ‘n lys oor die tien “vreesaanjaendste roofdiere op aarde”.

Op die internetlys verskyn: die bobbejaanspinnekop, die mamba, die pirhana, die wolf, die komodo, die grizzliebeer, die Nylkrokodil, die orcawalvis, die haai en die leeu. G’n luiperd.

Vir wie sou ek kon vra? In my vriendekring kom onmiddellik een naam na vore: Piet Henning, studentemaat op Tukkies, boorling van die Waterberg en boer van Chiredzi, nou in ‘n regstryd gewikkel om die eienaarskap van SY grond.

Piet se antwoord, plaas ek graag hier volledig – verstommend vir my op grond van die man se kennis, insigte en spesiale slag met formulering, veral vir iemand wat primêr in Engels kommunikeer.

Piet reageer soos volg:

Interessante lys. Soos jy vra, en wat van die luiperd?

“Ten most feared predators…” Dalk moet ‘n mens liewer ‘n onderskeid tussen “vreesaanjaendste” en “gevaarlikste” tref.

Die bobbejaanspinnekop is allermins gevaarlik, behalwe in Suid-Amerika waar glo ‘n redelike giftige spesie is. Ons s’n maak eerder bang as wat hy enige gevaar inhou. In SA is mos vier nare spinnekoppe, nl. die sak-, knopie- , viool-, -en sandspinnekop (dodelik). Australië het ‘n taamlike wye keuse in hierdie verband, met die tregterweb (funnelweb) van Sydney vooraan die lys; een hap en jy moet baie vinnig by die hospitaal kom.

Die mamba … Wat meer kan ‘n man sê van “bangmaak”? Australië het egter tien slange wat giftiger is as die swartmamba, party wat met aldrie giwwe bewapen is om via jou senuwees, bloed of verrotting van die weefsel (soos in pofadder) jou lewe te verkort.

Almal weet nou al die piranha se vermoë is oordryf.

Die wolf is die duiwel van ons Westerse kleuterverhale en legendes, ‘n aansien wat hy nie maklik kan verloor nie. Hoeveel mense eet hy egter jaarliks op teenoor ‘n krokodil byvoorbeeld?

Die komodo vul my met walging, ‘n kêrel wat ek sou vermy, want byt hy jou aan die been en jy ontkom, dan val die vrot ledemaat buitendien na ‘n week af weens die bakterië in die ding se bek.

Die Nylkrokodil (en wat van die soutie van Oz, Inonesië ens?), is meedoënloos en laat my my doodgril. Herinner my in my verbeelding aan die Russiese OGPU of NKVD van ouds. Krok, die haai en skerpioen. Wil hulle nie sien nie, altans nie van naby nie.

Ek hou ook nie van die reusagtige grizzlie nie. Hy bly vir my ‘n tamaaie slobberjak, erger as tien rottweilers en mastiffs saam, venynig en onvoorspelbaar, vlugvoetig en gulsig. Hoop nie ek ontmoet hom op ‘n voetpad in Alaska of Kodiakeiland nie.

Die orca? Gevaarlik, natuurlik, maar uitsoekerig, en skyn nie eintlik homo sapiens (weet nie van homo poefterensis nie) op sy spyslys te hê nie. Ek hou van die orca, hy’s ‘n aantreklike vent met aansien.

Haaie – vir my die nagmerrie-ongedierte. Vreesaanjaend.

En ons eie vuilbaard? Die Koning van die Aarde. Soos ek al voorheen geskryf het: listig, sterk en hou daarvan om dood te maak. Maar nie sonder verdraagsaamheid nie as ‘n mens moet glo wat jy op die TV sien – daai ou wat met hulle stoei, of die Amerikanertjie wat hulle binne meters in die veld benader met sy kierie.

Die lys van tien laat ‘n paar menere uit. Eerste op my lys sou die luiperd wees. Hy is relatief baie dunner gesaai as die leeu, dog ek weet van meer luiperdaanvalle op mense as aanvalle deur leeu. Die KNP alleen kan in die afgelope tien jaar getuig van etlike slagoffers.

Dink jy nie die Bengaalse tier verdien ‘n plek nie? Byna ‘n kombinasie van leeu en luiperd, wat dan ook graag swem?

Die ergste van almal? Weer eens Australië met sy boks-jellievis, die miniatuur-seekat wie se naam ek vergeet, en die tregterspinnekop reeds genoem. Algar absoluut dodelik, en waar daar gewoonlik nie uitkoms is nie!

Dit dan my beskeie menings!

Nou-ja, daar het jy dit. Dankie Piet. Hy noem dit in sy brief tot toestemming vir verdere verspreiding ewe beskeie ‘n “bietjie algemene kennis wat uit uit ‘n lekebelangstelling kom, alledaags”.

Piet spreek ook die hoop uit dat dit nie “verontwaardiging uit ekspertekringe” sal lok nie.

Esksperte se toon, Piet. Hoop elke leser van die blog, ekspert of te nie, put dieselfde genot uit my vriend se kommentare as die uwe.

Naskrif: Piet verskyn Donderdag weer in die smerige klein magistraatshof op Chiredzi oor sy “besetting van staatsgrond(!)”. Kom ons hou almal duim vas dat reg en geregtigheid teen alle verwagting in sal geskied. (HvD)

BLOSENDE BRUIDJIE

More uit Melkbos

In die telegram-era (vorige blog) was ‘n bruilofstradisie dat die seremoniemeester, strooijonker of so iemand gelukwensings per telegram voorlees – gewoonlik tot skaterlag-plesier van die bruilofsgangers, maar soms tot diepe ongemak van die blosende bruidjie.

Dikwels is stouterige telegramme “voorgelees” wat uit die duim gesuig is, byvoorbeeld: “Bruidegom (naam), het jy kaal foto’s van jou bruid (naam)? Wil jy koop?”

Of: “Dra sy nog ‘n kondoom in haar handsak?”

‘n Ander kamma-telegram was van die “bestuurder van die wittebroodshotel”: “Het jul gewone kamer bespreek. Hoop dis in orde?” Onthou, dit was in konserwatiewer tye, en mense kon dalk wonder. Waar ‘n rokie draai ….

Ek en Tokkie het ‘n hand geskrewe telegram met die volgende raad ontvang: “Stoot die bedjies teen mekaar en stuur die rekening aan die ooievaar” (die teleks het seker opgepak). Ook ene met ‘n waarskuwing: “Slaap maar lekker. Volgende jaar is daar ‘n wekker.” (Ons het die raad gevolg, maar die waarskuwing was nie dadelik van toepassing nie Daar was darem nie so gou al ‘n wekker nie!)

Die telegram was ‘n beproefde kommunikasiemiddel tussen ouers en hul studentekinders doer ver, studerende (of dalk nie) by die een of ander universiteit of kollege.

‘n Student sou, volgens oorlewering, vir sy pa getelegrafeer het: “No mon, no fun, your son”. Pa het abrupt geantwoord: “Too bad, so sad, your dad.”

‘n Bekommerd pa van ‘n ander ou het getelegrafeer: “Geslaag of gedruip?” Dadelik het die telegram teruggekom: “Ja.” Pa telegrafeer daarop: “Ja wat?” Seun: “Ja, Pa.”

Woordekonomie was klaarblyklik ‘n vereiste, want die afsender is per woord bereken. Skoonma Marietjie, ‘n deugsame vrou wat haar sente omgedraai het, het hierdie vername les armswaaiend met nogal ‘n stortvloed van wrewelrige woorde vir Tokkie geleer.

Die twee stap poskanbtoor toe op BUltfontein om ‘n telegram vir ‘n tante te stuur. Tokkie moet die skryfwerk doen. Sy pen by die ontvangerse naam neer : (se maar) mej. G. N. P. van Wyk.

Skoonma loer oor haar skouer, sien wat sy aanvang en raas: “Wat vang jy aan, meisiekind? Ek moet betaal vir elke woord. Daardie mej., G, N, P en aparte van is vyf ekstra woorde. Jy moenie geld so mors nie. Stuur dit net aan Sina Vanwyk!”
(HvD)