LIGTE MISTYKIES

More uit Melkbos

Nie sonder bymotief nie, glo ek, word in Die Burger meermale in die daaglikse terugblik op dag en datum 50 jaar gelede ‘n brokkie uit die sogenaamde “Persoonlik”-kolom uitgelig.

Dit word ongetwyfeld met ‘n meewarige glimlag gedoen. Dit lyk inderdaad ietwat verspot om in hierdie “global village” waarin ons in die moderne tyd woon, te moet lees van dese en gene wat met vakansie is of sakebesoek iewers aflê of dalk onwel is.

Om met die Oranjesnel in die Kaap aan te kom, was vir verskeie pilare van die gemeenskap al klaar ‘n vrypas tot ‘n stukkie in “Persoonlik”. Die Bloutrein het die deure wyd oopgegooi: sommer iedereen wat op daardie deftige manier gereis het, het vir gepaardgaande publisiteit gekwalifiseer.

Gister in die terugblik op Die Burger van 23 Maart 1962 is die “Persoonlik” aangehaal van “mnr. En mev. Dawie van Wyk van Goodwood en hul dogter Elsabe en hul kleinseun Kobus wat met die Windsor Castle na Durban” is. Nou toe nou!

Die rapport oor die gesinnetjie se ekspedisie herinner my dat ons in ons eie tyd darem ook by geleentheid vir ‘n “Persoonlik” (verleë?) geglimlag het. Nie omdat ons sulke indringende verslaggewing op voetsoolvlak geminag het nie, maar oor die “ligte mistykies” wat maklik kon insluip.

Ek het die storie al vertel, maar vandag weer ter sake is die korrespondent van Die Volksblad wat ná ‘n vermaning om duur telekskoste te bespaar, besluit het om, uit ekonomiese oorwegings, twee brokkies saam te voeg.

Hy berig toe: Mnr. Kosie Venter van die plaas Braklaagte en mev. Annatjie Louw van die plaas Mooifontein is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wens nie.”

‘n Korrespondent berig oor bekendes in die distrik wat in die huwelik bevestig is, en van die bruidjie wat van tabberd verwissel het vir die wittebroodsreis. “Albei is in die omgewing goed bekend.”

Nog ‘n huweliksaankondiging: “ Jannie Koekemoer en Sannie Poggenpoel is Saterdag getroud. Dit beëindig ‘n lang vriendskap wat op skool begin het.”

Die Burger het in ‘n “Persoonlik” berig oor die eggenote van ‘wyle’ mnr. Marais Viljoen, oud-president, se ongesteldheid. Hy bel toe en kla: “Lyk my julle wil my dood hê.”

Die Burger maak sy fout reg, plus ‘n verskoning: “Mnr. Viljoen is nie dood nie. Ons is jammer.”

“Persoonlik” kon wel nuus oplewer – sommer groot nuus. In die dae toe die legendariese Skakel Kriek vir “Persoonlik” in Die Burger, Ronnie King, bontstaan, met die oproep van ‘n beswaarde omdat die koerant dan, strydig met sy onderneming, die naam van ‘n skenker in ‘n hartoorplanting gepubliseer het.

King het ten enemale ontken dat sy koerant woord gebreek het.

“Man, moenie vir my bog vertel nie. Hier staan dit op bladsy 21.” Ronnie blaai na pagina 21. Op daardie blad pryk Oom Skakel se “Persoonlik”. Derde van bo: Mnr. So-en-so het in die Groot Schuur-hospitaal ‘n nuwe hart gekry. Die skenker was mej. ……..” en hy noem die meisiekind se naam wat die familie graag geheim wou hou.

Verduidelik so ‘n ingewikkelde saak nou aan iemand wat nie ‘n koerant se binnewerkinge ken nie!

VAN LAG KOM HUIL

More uit Melkbos

Dr. Francois Hanekom laat sy Melkbosse gemeente soms nogal regop sit met sy onortodokse formulering van preektemas. ‘n Week gelede het ons nog regopper as gewoonlik gesit toe ons die tema verneem: “Geniet jy ‘n ‘strip-tease’?”

Natuurlik laat so ‘n buitengewone tema lidmate wonder: wat voer onse leraar dié keer in die skild?

Aan die orde was die storie van Noag, die wynboer, wat te diep in die bottel gekyk het. In Genesis lees ons hoe hy kaal in sy tent sy roes gaan afslaap het, en van sy seuns Sem, Gam en Jafet, se verskillende reaksies op hul pa se verleentheid. Gaan lees gerus maar in Genesis 9: 20 -29 hoe Gam se onverskilligheid hom duur te staan gekom het. ‘n Klassieke voorbeeld van my Ouma Visser se geliefkoosde vermaning: “Van lag kom huil!”

In ieder geval, dr. Francois had nog ‘n “verrassinkie” vir sy gemeente. Terwyl almal nog ongemaklik rondskuif oor wat die “strip-tease“-preek kan oplewer, toor hy ‘n rooi bra en ‘n wit mansonderbroek onder die kansel uit. Njannies. Jy kon as’t ware hoor hoe na asems gesnak word.

Maar dit was sommer net oëverblindery. Klaar geterg, neem die preek ‘n geheel ander wending. Die gemeente luister aandagtig na ‘n oproep om nie mense verbaal kaal te stroop deur hul oomblikke van swakhede vir openbare sensasie te ontbloot nie. Hy haak aan by 1 Korintiers 13 oor die liefde wat alles bedek, en moedig ons aan om in liefde ook so ‘n bedekkende “dak” op te sit oor ander se skades en skandes.

Als in als ‘n mooi, positiewe en verrykende preek.

Oor die amperse misverstand wat die aankondiging van die preektema in die Nuusbrief en elders gewek het, het ek ‘n speelse versie geskryf wat ek, tot sy plesier, vir Francois gestuur het:

Doomnie stel vir ons ‘n wip,
Vra vir ons: Hou jy van ‘strip’?
Ek dink: O wee, hoe sê mens nee?
Toe lei hy ons op ander weë.

Lyk of ‘n nuwe versieskryf-seisoen by HvD aangebreek het. Gisteraand net voordat ek die ligte afsit, kry ek ‘n nuwe “inspirasie” – oor die Noag-stukkie self. Hier’s my Noag-versie vir wat dit werd is:

Gam dag nog hy kan maar lag;
Toe ontwaak No-ag met nuwe krag.
Verdoem, in ‘n felle donderslag,
Meteens Gam’s ganse nageslag.

Hoop ek tas met die kortpad wat dié versie vat, nie eksegeties te ver mis nie!

SALUUT, SPANMAAT

Johan van Wyk, Johan Uys en Hennie van Deventer hang uit by die rooster.

More uit Melkbos

In n dekade van hard werk en hard speel in Bloemfontein – die dekade 80 – was Johan Uys, Vrystaatse streekbestuurder van die SA Vervoerdienste – een van die groot geeste. Waar vrolikheid was, was Johan nooit ver te soek nie.

‘n Manier van trakteer met die Uys-stempel was om ‘n groepie gaste per selfaangedrewe trolliewa na ‘n stasie iewers te bring. Dan kom die piekniekmandjies uit vir ‘n eersteklas-kuier. Die stasie Olifantskop, tussen Bloemfontein en Kimberley, was veral ‘n besonderse kuierplek. Sy mooi tuin was ‘n gereelde pryswenner. Dit is (was) seker ook die enigste stasie met ‘n “trein” wat deur die stasiemuur bars – darem nie ‘n regte, egte trein nie, maar die replika van ‘n outydse stoomlokomotief.

Ek onthou haltetjies met romantiese name soos Vispan en Bosvark waar ons klikke-klak met Johan se trollie verby is. Seker ook al toegegroei onder die gras.

In die 80’s het die sogenaamde Skoutrein ontstaan. Die gaste is in ‘n skommelende eetwa van die Sentrale skouterrein na Brandfort en terug: ‘n reis met lekker geselskap, ‘n gawe spyskaart en uitstekende wyn. Johan was een van die vaders van die idee.

Ek en hy was spanmaats in die krieket-uitnodingspan “Colin se Kallers”. Ons het jaarliks teen “Bill se Bulle” kragte meet. Colin was Colin Hickling, Bloemfontein se burgemeester; Bill was Bill Odendaal, Welkom se eerste burger. Die “Bulle” het die “Kallers” in ons eerste wedstryd in 1986 met 40 lopies afgeransel. Van Deventer en Uys was teen die einde van ons sukkelbeurt in ‘n hardnekkige maar vrugtelose vasskop-vennootskap betrokke.

Ons was dieselfde jaar ook spanmaats in die Hennie van Deventer-braaispan teen ‘n span van Ewald Fichardt en Flip Barnard, boer van Dewetsdorp. In my span was, buiten Johan Uys, ook Johan van Wyk, die nimlike Oom van Stop van Myne, en Piet Theron, ‘n kollega en braaier van faam.

In ‘n epiese stryd by die rooster op ‘n perfekte aand in laat April in die pragtuin van Job en Alida Pretorius in Besselsenstraat, Universitas, het vleis van die beste gehalte op die kole van doringhoutstompies gesis: biefstuk, tjops, wors en lewer in netvet. Die HvD-span het alles ingewerp om sy neus voor te kry , o.m. met bykosse soos ‘n unieke groentepotjie van die Oom en les bes ‘n geurige paptert van Petro Theron, wat, volgens Van Wyk, “Maximes van Parys se hong-pelong na ‘n mietpaai sou laat smaak”.

Uiteindelik het die beoordelaars onder aanvoering van prof. Hennie Heyns, vleisekspert van die Vrystaatse Universiteit, net-net ten gunste van ons teenstanders beslis. Ons was gekrenk, maar het nie omgegee om ‘n paar stewige vonkelwyntjies in blink glase saam met ons oorwinnaars te klink nie!

In my huis op Melkbos het ek twee soeweniers uit die Johan Uys-stal waarop ek nogal ‘n ogie sou hê indien ek my eie ‘n erfgenaam kon wees. Albei dra ‘n Spoorweg-etiket uit ‘n verbygegane era. Een is ‘n koper-lokomotieffluit, gemonteer op ‘n stuk soliede dwarslêer. Stoomtrein-entoesiaste se hande sal seker begin bewe as hulle dié versamelstuk sou sien. Die tweede is ‘n koffietafel. Die blad is van ryk kiaat wat uit dwarslêers herwin is. Dit rus op pote van rowwe, onafgewerkte hout. Die bonkige boute is van die sort waarmee treinspore vasgewoel is.

Johan Uys het lank, te lank, van my radarskerm verdwyn. Gister kry ek uit Bloemfontein die nuus dat hy oorlede is. Die gewer van daardie twee geskenke na aan my hart – amper vyf jaar jonger as ek – se hart en lewer was kapoet. Hy word vandag langs sy eerste vrou, die dierbare Lettie wat begin 90’s oorlede is, in die familiebegraafplaas op Elandskraal, distrik Mooinooi, begrawe.

Daarmee is nog ‘n skakel na ‘n goue verlede, helaas, daarmee heen.

Ek salueer my spanmaat met ‘n versie uit die Joan Baez-weergawe van “Freight train, freight train going so fast”:

“When I’m dead and in my grave
No more good times shall I pray,
Place a stone at my head and feet,
Tell the world that I’ve gone to sleep;
Place a stone at my head and feet,
Tell the world that I’ve gone to sleep.”

“Slaap” rustig, ou vriend.

Naskrif: Een van ons destydse maats, wat ons ongelukkig halfpad deur die dekade ontval het, was Carel Leonhartdt, fyn beskaafde streekbestuurder van die SAUK. Gister, kort ná die nuus van Johan Uys se dood, kom ‘n poskaart van Joan Leonhardt om te rapporteer: als wel aan daardie kant. Sulke periodieke skrywetjies skerp die herinneringe verder in oor die netwerk van vriendskap wat in die 80’s in die Vrystaatse hoofstad oor so ‘n breë spektrum ons almal se lewens verryk het. (HvD)

SPIEeLTJIE, SPIEeLTJIE ….

More uit Melkos

Deur hoeveel onderskrifte vir foto’s ek persoonlik in my koerantdae in wrewel ‘n woeste streep getrek het oor een en dieselfde, vervelige rede, weet ek nie eens naastenby nie.

Daardie lot het elkeen te beurt geval wat begin het met: ”Spieeltjie, spieeltjie aan die wand, wie’s die mooiste in die land? ”, of die een of ander variasie daarop. By ‘n foto van mooi meisies, mooi honde, mooi hoenderhane noem maar op, sovele joernaliste het gemeen ‘n oulike onderskrif sou een wees wat met daardie grys-van-die baard spieëltjie-uitdrukking begin.

Hoe oorspronklik en kreatief kan ‘n joernalis nie wees nie – of ‘n koerant/tydskrif? Party “spieeltjie, spieëltjie aan die wand” eenvoudig onstuitbaar voort of dit ‘n baie spesiale persoonlike slimmigheid is wat eksklusief deur hulle uitgedink is. Julle onderrok van lui joernalistiek hang uit, liewe mense!

‘n Ander bekende spieeltjie-uitdrukking (minder geraffineerd) is die vermaning dat jy – as jy nie versigtig is nie – jou gat sonder ‘n spieeltjie sal sien. Die meeste van ons het al seker daardie akrobatiese toertjie reggekry – dikwels sonder veel moeite!

Dit is geen aangename gesig nie.

‘n Oorspronklike variasie op laasgenoemde het ek Saterdag gehoor by die dubbele viering van Van Wyk en Letricia van Niekerk van Melkbos se 44ste troudag en haar 70ste verjaardag by ‘n noenmaal om oor huis toe te skryf (met genoeg KWV se sauvignon blanc vir hierdie dors gas na ‘n week se onthouding).

Chris Mostert van Mosselbaai het by die viering van die twee mylpale by die spog-wynplaas Nitida, die heildronk ingestel. Hy het jare her as student by die Van Niekerks begin werk daar in die Perdeberg-omgewing waar hulle as voorste boere en entrepreneurs vele bakens geplant het, en ken dié twee wellewende mense klaarblyklik soos sy hand.

Hy haal toe die mooi storie op wat Van Wyk vir hom vertel het. Dié het dit op sy beurt by sy pa gehoor. Oorspronklik kom dit glo van ‘n ou oom wat mnr. Van Niekerk senior geken het.

Waarop dit neerkom, is dat ‘n jong man na sy studies met ‘n klomp slim planne op die plaas opdaag om die boerdery van A tot Z te moderniseer. Dit moet uitgekap word, dit moet gebou word, hierdie nuwe implemente is onontbeerlik, ens.

Sy pa het aandagtig geluister. Sy eerste woorde was: “Maar wat sal alles kos, ou seun?”

Sy seun het sy sommetjies gedoen en antwoord dadelik: “So R100 000, pa. ” (Deesdae seker al ‘n paar miljoen!)

Die pa haal daarop ‘n eenrand-munt uit sy sak en gee dit vir sy geleerde seun.

“En dié nou, Pa?”

“ Vat dit, ry na die winkeltjie daar langs die grootpad en koop vir jou ‘n spieëltjie. Dis beter om jou gat vir ‘n rand te sien as vir R100 000!”

Die wysheid van die grysheid darem!

Letricia (wat al die jare die egpaar se minister van finansies was) fluister in my oor sy kan verstaan hoekom sy pa vir Van Wyk hierdie spieëltjiestorie vertel het. Hy was van jongs af baie innoverend en het altyd die waagmoed gehad om nuwe dinge aan te pak. Hy was bv. die eerste boer wat pere in die Perdeberg-area vir die uitvoermark geplant het, terwyl dit n tradisionele tafeldruiwe-gebied was.

Maar Van Wyk het kennelik nooit in so ‘n spieël hoef te kyk nie!

Die mooi toto is Van Wyk en Letricia op hul troudag en haar 26ste verjaardag op 16 Maart 1968. Toe was hulle nog jonk en mooi; nou’s hulle net mooi. Maar jinne, Hennie, nou raak jy self darem bitter voorspelbaar en onoorspronklik!
(HvD)

FOP-FLITSBERIG

Die Volksblad se subtafel in 1967. Die uwe is in die hoofsubstoel. Links van hom sit Sarel Venter en Pierre van Manen. Regs van hom is Ollie Olwagen en Piet Theron. Die kerse is weens ‘n Eskom-foutjie. “Laserstraal” het die foto by die vorige blog ter sprake gebring. Dit was ook in In Kamera (Protea, 2003).

More uit Melkbos

Hierdie is die verhaal – vermaaklik (?), pynlik (?) embarrasserend (?), waarskuwend (?) – van ‘n laatnagjol by Die Burger in Kaapstad wat met lang tentakels by Die Volksblad in Bloemfontein konsternasie kom veroorsaak het.

Dit, liewe blog-vriende, is die beloofde anekdote wat die potensiële misbruik van die betroubare ou teleks uitlig, en daarmee, glo ek, ook die potensiële misbruike van verskeie nuwe kommunikasiemiddele met ewe nadelige gevolge.

By Die Burger is naamlik nadat die laaste koerant die betrokke Vrydagnag “bed toe is” ‘n paar biere in die nagkantoor geknak, soos die tradisie was. Een grapjas glip toe weg, en om sy hoofsub ‘n streep te trek, tik hy ‘n kamma-“snap” (sien vorige blog) op ‘n teleksmasjien: “Dr. Ward has died.”

Die dood van dr. Ward sou om verskeie redes nuuswaardig wees. Ons praat nou van 1963 toe die Britse foonsnol Christine Keeler en die rondloper-minister John Profumo se eskapades koerante (en hul lesers) wêreldwyd gefassineer het. Die osteopaat Stephen Ward het midde-in die skandaal ‘n oordosis pille gedrink nadat hy in die Old Bailey verskyn het op aanklag dat hy van inkomste van onsedelikheid geleef het.

Sou hy dit maak of nie om, spreekwoordelik, die aap uit die mou te laat. Vir ‘n ontstellende moment dag die hoofsub hy sal sy bier moet laat warm word terwyl hy die voorblad oormaak met die vars nuus. Toe bars sy kollega uit van die lag. “Lekker gevang heh?”

Wat grapjas-kollega nie besef het nie, is dat sy fop-flitsberig by Die Volksblad in Bloemfontein (wat ‘n middagkoerant was) sou uitslaan. Ramp op ramp.

‘n Minsame kollega (wat nou nog koue rillings kry as jy die naam Ward naby hom noem) stap die oggend van 3 Augustus, soos op Saterdae gebruik was, hier teen 04:00 stoksiel-alleen by die kantoor in om berigte te selekteer en vir persklaarmaking onder sy span subs uit te deel. A, bemerk hy, hier is gelukkig iets vars: Dr. Ward is dood. Voorblad toe!

Die eerste uitgawe verskyn met die Ward-berig. Maar snaaks, so oor die tradisionele bord ham- , tamatie- en kaasroosterbroodjies tussen die uitgawes, begin bedenkinge aan die kollega knaag: Hoekom dan geen opvolgberig nie? Gebruiklik kom na ‘n “snap” , ‘n stroom “leads” met die volle storie, weet selfs hy wat nie gereeld in daardie warmstoel sit nie. Die radio se nuusbulletyns rep ook niks.

Die nuusredakteur word terstond oor die vreemde omstandighede van die ge-isoleerde “snap” ingelig. Dié besluit wyslik om die Londense man in sy woonstel in Knightsbridge, nie ver van Harrods af nie, wakker te bel. Vaak-vaak en vies-vies rapporteer hy na ‘n ruk: Ward is NIE dood nie!

Berge bedek die arme Volksblad! ‘n Vals berig is die wêreld in, en dit nie alte onprominent nie! Vinnig word die Wardberig toe verwyder. In die tweede uitgawe word sy toestand as “stabiel” vermeld. Almal by Die Volksblad loop egter met lang gesigte, skuldige gewetes en pyn in die hart.

Maar toe gebeur een van daardie vreemde dinge, wat mense met ‘n geloof in die bonatuurlike graag oorvertel: Dr. Ward sterf ewe bedagsaam in sy hospitaalbed in Londen. Enkele ure na verskyning van die koerant in die verre Bloemfontein, maar darem nog voor die aankoms van die koerant by sy verste punte.

Amper asof daardie grapjas in die Kaap ‘n voorbode gehad het! (HvD)