GENERAAL WAT LAAT NAEL

More uit Melkbos

Italianers is bekender vir hul roomys as hul mannemoed. Dit dit verg nie juis ‘n buitengewoon siniese mens nie om raak te sien dat die glipsie van die ongelukkige Italiaanse skeepskaptein – wat taamlik voor in die tou toevallig in ‘n reddingsbootjie in-“gestruikel” het – nie juis uit karakter was nie.

Dié vermaaklike insident gee aansienlike relevansie en geloofwaardigheid aan ‘n Winston Churchill-storie wat op die oomblik die ronde op die internet doen. Ek herhaal dit in zijn oorspronklike Engels, want die gedugte Churchill was, na my wete, nooit só gedug dat hy die taal van die Boere-vyand kon bemeester nie. So lui die storie:

After his retirement, Churchill was cruising the Mediterranean on an Italian cruise liner. Some Italian journalists asked why an ex-British Prime Minister should chose an Italian ship.

“There are three things I like about being on an Italian cruise ship,” said Churchill.

“First their cuisine is unsurpassed.”

“Second their service is superb.”

“And then, in time of emergency, there is none of this nonsense about women and children first.”

Relevansie het die storie bepaald. Geloofwaardigheid? Dié is twyfelagtig. Dit sê ek nie op grond van eie insigte nie, maar op werklik waterdigte Churchill-gesag: die boek “Churchill’s Wit” deur Richard M. Langworth. Dit was een van my gewaardeerde geskenke vir my 70ste ‘n jaar gelede.

Daardie boekie is die enigste – nota bene – versameling Churchill-spitsvondighede wat in samewerking met die Churchill-familie nagevors is. Elke aanhaling kan dag en datum nagespeur word.

In die inleiding lees ek vir verskeie beweerde Churchill-gesegdes wat bv. op die internet aan die merkwaardige oubaas toegedig word, bestaan geen vaste grond nie. Dis ‘n verdigsel, romantisering of verknoeiing. Die outeur noem sulke “aanhalings” “red herrings” – sommer net hase wat opgejaag word.

Getoets aan die vereiste van ‘n soliede verwysing, sneuwel o.m. die lekker Churchill-storie oor ‘n gesprek met Nany Astor:

Nancy Astor: I I’d were married to you, I’d put poison in your coffee.

WSC: Nancy, if I were married to you, I’d drink it.

‘n Hele “appendix” met sulke onsuiwerhede word in die Langworth-bundel ingesluit.

Die storie oor die bootvaart op die Italiaanse skop is NIE in die boek nie. Trouens, dit is so ‘n “red herring” of “haas wat opgejaag word” dat dit nie eens die “appendix” haal nie!

Verder verstaan ek uit die boek dat WSC, al het hy klaarblyklik die sentiment in die storie jeens Italianers gedeel, eenvoudig te slim, galant en flink in sy denke was om hom te laat vang met ‘n aanhaling wat hom sleg kan laat lyk het met ‘n aweregse siening oor vroue en kinders wat in nood voorkeur behoort te kry.

Een skerpsinnige aanhaling met ‘n Italiaanse angel wat wel in die boek opgeneem is, is die volgende:

I have never known a case of a great athlete being a great general – no prize-fighter has ever been a good general. The only ecxeption might be in the Italian Army, where a general might find it useful to be a good runner. Eina! (HvD)

SEEKOEIE KEER OOK TERUG ….

Stoelkussing in ‘n boom – simbool van Groot Water

More uit Melkbos

Vrae maal vanoggend in die kop oor gister se ontsettende vloede wat die Wildtuin van die buitewêreld afgesny het. Het Lake Panic se damwal gebreek, soos ons “betroubaar” gehoor het? Is Skukuza ‘n rampgebied? Is van ons vriende dakloos? En ons eie Sabiepark: hoe groot is die skade? Word oewerhuise weer oorstroom soos in die Groot Vloed van 2000? Hoe flenters is ons skilderagtige piekniekplek?

Toe die eerste foto’s van ‘n siedende Sabie begin inkom – hoe vinnig kom hoeveel mense nie vinnig by krisispunte nie met hul kameras en selfone nie? – het my hart dadelik ‘n paar rukkie gegee. Want ek het Maandag 7 Februarie 2000 onthou; die onheilsdag.

Om ‘n samehangende prentjie van die omvang van ‘n vloed te kry, is nie maklik nie. Dit weet ek as joernalis maar te goed. Enorme skade lê soms lank onder slik en modder begrawe. Maar sulke magtige waters kan nie oor ‘n gebied spoel sonder om diep spore te laat nie. Dit weet ek ook. Dit maak my amper bang vir wat vandag gaan oplewer, more, oormore …..

‘n Honderdjaarvloed. So het ons gepraat van 2000 se Groot Waters, wat oral in die Wildtuin-kontrei nuwe vloedlyne, dramaties hoër as die voriges, gedefinieer het. Altesaam 1 280 mm het daardie somer uitgesak, ‘n rekord der rekords. Dis 225% bo die jaarlikse gemiddelde.

Honderd jaar? Dit was dalk te optimisties. Maar ek wil ook nie alarmisties wees nie. Laat ons hoop dit is hierdie keer minder erg. Vandag kan die prentjie al duideliker begin word…..

In elk geval, al wat ek met sekerheid weet waar ek vanoggend hierdie blog tik, is dat die Sabierivier op Maandag 7 Februarie 2 000 rasend geraak het. Sabiepark is in ‘n ommesientjie van die buitewêreld afgesny. Vyftien huise is deur die vloedwater ingesluk. Die piekniekplek is verwoes. Die wandelpad is van die aarde gevee. Die waterwerke, keerwal en wildheining het stuk vir stuk stroomaf verdwyn.

Sabieparkers, onder wie die bekende wildfotograaf wyle David Hughes en sy destyds nog dowe vrou, Carol, moes van hul huis se dak gered word.

“Auk, die water hy kom, hy kom. Hy loop, hy lóóp.” Die kostelike beskrywing van die waterwoede deur ‘n afgetrede veldwagter, ou Willie, het mense later laat glimlag. Maar, let wel, dit was agterna. Midde-in die vloed was nie vir glimlag tyd nie. Toe was dit doodsake.

Sabiepark self is dae lank volledig afgesny — geen toegang per pad nie, geen telefoon of selfoonsein nie, geen elektriese krag in die kantore nie. Eers ‘n week na V-dag, op Maandag 14 Februarie 2000, is Sabiepark se fakslyn herstel. Drie dae later bereik ‘n faksboodskap van Zeller eienaars. Die opskrif: Vloedramp — Februarie 2000: Sabiepark was “te midde (van) die rampspoedige wattermassa” en “geweldige skade” is aan die rivieroewer aangerig.

Ek en Tokkie draai op Maandag 13 Maart met angstige harte by Sabiepark se hek in om self te gaan kyk. Die ramp kry toe eers werklik ‘n skokeffek. Die piekniekplek is platgevee. Van ons skilderagtige wandelpad het niks oorgebly nie. Om by die oorstroomde oewerhuise van vriende te kom, moet jy voetjie-vir voetjie deur die donker modder ‘n weg baan. Dis soos makabere oorlogtonele wat hulle voor jou ontvou. Vuil gordyne wapper deur die stukkende ruite. Patetiese hopies meubels, beddegoed en kombuisware staan rond. Stoelkussings hang in bome. Hoog teen die smerige mure streep die vloedmerk.

In die Skukuza-personeeldorp – dalk nou weer die episentrum – is enorme verwoesting aangerig. Altesaam 61 huise het deurgeloop. Die skooltjie (waar al by geleentheid leeus op die stoep ‘n slapie kom vang het) het sy rekenaars, boeke en ander toerusting verloor. Sowat 150 mense — almal lidmate van die gemeente — was dakloos. Die kerk moes die eerste paar dae etes aan die vloedgeteisterdes verskaf.

“Ons het ‘n krisis,” het ons ds. Carl Louwrens oor die radio hoor se. Toe het ons die goeie mense van Skukuza nog nie so goed soos nou geken nie, maar ons harte het na hulle uitgegaan in hul nood. .

Die volgende vakansie was ons terug. By Skukuza se kerk kry ons die laaste Sondag ‘n Kerkbode met ‘n pragtige stuk deur die boekeman Charles Fryer. Fryer se gevolgtrekking: “Die goue gloed van hoop glim tog deur die donker op donker van koerantnuus.” Hy haal ook die bejaarde skilder Robert Hodgins aan: “Dit is wonderlik om te lewe. Die bome gaan bot, al is ons omring deur rampe.”

Die bome gaan weer bot, al is ons omring deur rampe. Ja, selfs die seekoeie keer ook terug, soos ons self gesien het. Watter heerlike sekerheid om in jou hart te hê terwyl jy angstig sit en wonder … en vrees … en naels kou. (HvD)

Naskrif:

09:15 – Uit Skukuza pas goeie nuus gekry. Lake Panic se boonste wal – die een by die gholfklub – het wel gebreek en die massa water is deur die dorp. Geen huis is egter in die ware sin van die woord oorstroom nie. Die genade is dat die rivier onbelemmerd vloei – geen bome is meegsleur om kritieke versperrings te vorm soos in 2000 nie.

In Skukuzadorp is enkele huise langs die spruit uit voorsorg ontruim. Paaie in die omgewing is meesal steeds onbegaanbaar. Die hoogwaterbrug op die teerpad van die Krugerhek af is deels daarmee heen – ook verkeie laagwaterbrue. Skukuzadorp en Skukuza is steeds deur die waters van mekaar afgeskei.

In Sabiepark is paaie natuurlik ‘n modderbad en die piekniekplek aan die voorkant onder water. Net twee huise het egter vloedwater gevat, kom dit voor.

Lyk of ons ‘n sug van verlgting kan begin slaak. Nie nodig om te “panic” nie.

RESEP VIR HOOP

More uit Melkbos

Die eerste maand van die jaar 2012 het pas verby sy halfpadmerk gehuppel. Wonder hoeveel nuwe sogenaamde “Nuwejaarsvoornemens” (of uitgestelde spertye vir ou voornemens), hetsy formeel of speel-speel, het teen hierdie tyd al gesneuwel. Die ongeluk is dat sulke voornemens hoofsaaklik rigiede dissiplines vereis. En die vlees is, helaas, min kere opgewasse vir die wense van die gees.

Self geen uitblinker met die afdwing van eie dissiplines nie – het ek in die 80’s nie omtrent 13 keer opgehou rook nie! – hou ek gewoonlik maar verby as mense hul programme vir ‘n nuwe jaar uiteensit. Makliker om in ou spore te bly stap!

Met een vaste (Nuwejaars-)voorneme het ek egter op 1 Januarie uit die kerkie op Skukuza gekom. Dit is om voortaan positiewer te probeer dink en doen in hierdie dierbare land van ons waarin so baie dinge die laaste twee dekades so ingrypend op hul kop omgekeer is.

Ds Gerrie Doyer van Witrivier het daardie oggend vir ‘n handjie vol kerkgangers uit Jeremia 29:11 ‘n inspirerende boodskap gebring. Ek wil dit sommer ook die credo probeer maak vir my eie nuwe lewensjaar – nommer 72 – wat op 3 Januarie begin het. Dit verg só min. ‘n Mens moet eintlik maar net die Here op sy woord vat.

Jeremia 29:11 behels ‘n aangrypende belofte aan ‘n verskeurde volk nadat hulle onder dwingelandy van Nebukadneser na die vreemde land Babel toe weggevoer is. “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” (Nuwe vertaling, 1983).

In “Die Boodskap” (die Bybel in hedendaagse Afrikaans) wat ek graag raadpleeg vir bevatlike formuleringe klee Jan van der Watt en Stephan Joubert daardie aangrypende boodskap in die volgende woorde: “Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”

Hoop vir die toekoms! Ai, ons mense is darem so dikwels platgeslaan, só reddeloos terneergedruk oor wat die dag van more kan inhou. Die Here sê egter: “Ek gaan uitkoms bring, sê nie wanneer nie.”

Trouens, in die brief van Jeremia uit Jerusalem aan allerlei groot geeste word nie net vaagweg getroos en bemoedig dat beter dae eendag weer gaan aanbreek nie. ‘n Vaste resep word ook gegee vir ‘n konstruktiewe, vrugbare voluit-lewe in die nuwe omstandighede waarin ander die septer soms hard en genadeloos oor jou swaai.

“Bou vir julle huis en bewoon dit,” laat weet die Here vir hulle, “lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring.” Ook: “Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

“Die Boodskap” se vertaling lui: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad …… As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

In hierdie groot woorde, versteek in ‘n soms vergete deel van die Ou Testament is inderdaad vir ons tyd ‘n betekenis en relevansie soos min opgesluit.

Enersyds: Skud die stof van moedverloor se vlakte nou van julle af!

Andersyds: Steek die hand uit die mou! Slaan die hand aan die ploeg! Arbei en bou! Help skep ‘n beter Suid-Afrika! Help skep só jul eie toekoms!

Wens ek kon met klinkende simbale ds. Gerrie Doyer se oproep tot in verre uithoeke help versprei, tot by almal van wie die hoop wankel. Hoop veral ook dat ekself nie more, oormore al weer gaan vergeet wat Jeremia 29:11 so glashelder uitspel nie.

“Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.” Kom ons glo dit, dink dit, doen dit dit in die jaar 2012. ‘n Ander pad na ‘n eie Kanaän bestaan nie. (HvD)

OLYFIES, HIER KOM EK – VIA BLOEM!

More uit Melkbos

Met die wondere van die nuwe tegnologie kry ek deesdae in Sabiepark gereeld wenke oor waarnemings van die Groot Vyf in die Krugerwildtuin. Caroline Pols van Heerhugowaard in Nederland, ook ‘n Sabieparker, word op die hoogte gehou op haar Blackberry en “forward” vir ‘n vale. Dankbaar het ek vir haar ná die jongste vakansie laat weet: Dit werk, hoor!

Heerhugowaard, Sabiepark, Kruger-wildtuin – dis ‘n lang, lang ompad, maar nou-ja, ons leef in ‘n nuwe wêreld. Eweneens met so ‘n lang ompad ken ek nou die roete na die Goedgedacht-olyfplaas teen die hange van die Kasteelberg.

Amanda Groenewald van Naln in Bloemfontein het my blog raakgelees oor die spesiale olyfboom wat Ou Mutual op my verjaardag geplant het, en my ingenome versugting om my boom te gaan opsoek – as ek net die presiese ligging kan bepaal.

Bloemfonteinse meisies laat nie gras onder hul voete laat groei nie. Amanda laat weet: “Ek het dadelik op Google gaan kyk of ek die plaas kon opspoor. Kon dit nie via Google.maps kry nie, maar die gewone Google vir soektogte het wonderlike resultate opgelewer. Die plaas is aan die Riebeeckrivier, Malmesbury-distrik (sommer op ons drumpel dus!), geleë. Klik net op die onderstaande skakel vir volledige verwysing (ook in Afrikaans) na die plaas. Dit bevat ook die GPS-koördinate:

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=13&Itemid=31

Die plaas se kontakbesonderhede kan hier gevind word: http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_contact&Itemid=3.

“Let net op dat die plaas se telefoonlyne gesteel is (die plaas is beslis in die Nuwe Suid-Afrika geleë – ha, ha!). Die plaas kan nou slegs per e-pos of selfoon bereik word.

“Allerlei ander interessanthede is op die plaas se webblad te siene: www.goedgedacht.org.za. Gaan kyk gerus.”

Amanda vestig die aandag daarop dat hulle ook ander projekte het, o.a. “Wonderbags”, wat deur knap naaldwerksters gemaak word. Die “Wonderbag” is ’n ronde, groterige sak, gesny uit twee materiaalsirkels. Die sirkels word gevul met polistireenkorrels en heel bo met ’n toutjie toegetrek. ’n Mens kook eers vir sowat 10 minute jou kos op ’n stoof of vuur en plaas daarna die pot in ’n Wonderbag. Sit die sak se hoed op, trek die toutjie toe en laat staan alles vir so ’n paar uur. Jou kos word in hierdie tyd op ’n baie omgewingsvriendelike wyse gaar sonder enige verdere elektrisiteit, hout, paraffien of wat ook al.

“Die sak is net die ding vir kampeerders, selfs vir reisigers,” meen Amanda. “As ’n mens na ’n lang rit by jou bestemming kom, is jou kos al gaar. Dink net aan ’n Sabiepark-besoek. Na ’n rit deur die wildtuin is almal seker lekker honger. Mev. Van Deventer hoef nie nog in die kombuis rond te spring en vir almal iets te ete te maak nie, want die kos al klaar gaar as julle weer terug is by Wildevylaan.

“Die ‘Wonderbags’ is veral van groot nut vir arm gemeenskappe, wat van vuur en paraffienstofies gebruik maak om kos te maak. Dink net hoeveel bome word in die proses gespaar. ’n Mens kan ook via Goedgedacht se webblad geld aan ’n arm gesin skenk sodat hulle ’n ‘Wonderbag” kan kry.

“Goedgedacht beweer dat as ’n mens hierdie sak drie keer per week gebruik, kan jy sowat 13 kWh per week spaar, òf 1.6 liter paraffien én dat dit slegs 500 g koolstofdioksied per jaar vrystel. Laasgenoemde wil gedoen wees!

“O ja, die pot moet verkieslik van aluminium wees. Geen gietysterpotte en potte met ’n koperboom nie omdat hulle die Wonderbags sal brand. Kyk gerus op hierdie skakel (onderaan is daar ook ’n Afrikaanse brosjure om af te laai):

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=54&Itemid=172

“Die plaas het inderdaad wonderlike projekte, nie net olywe nie.”

Dankie, Amanda, die ou gryse staan as ‘t ware voet in die stiebeul Grootgedacht toe. Gaan beslis nie net olywe en olyfolie koop met die Goedgedacht-eitiket op nie, maar bring ook ‘n “Wonderbag” saam tuis toe. Om met minder moeite steeds lekker te eet in die liewe Sabiepark! (HvD)

MY EIE-EIE OLYFBOOM

More uit Melkbos

Hier by die punt van die pyl, op ‘n pragtige ou Kaaps-Hollandse plaas, geleë teen die hange van Kasteelberg, slegs 87 km noordwes van Kaapstad, het Ou Mutual op 3 Januarie vir die uwe ‘n olyfboom geplant ter ere van sy verjaardag.

Die frustrasie: ek weet nie presies waar die plaas Goedgedacht, en derhalwe ook my boom, is nie. Moet naby Riebeeck-Kasteel wees. As ek hoopvol op die skakel “kaart” klik op Ou Mutual se mededeling om die presiese ligging te bepaal, kry ek egter net ‘n herhaling van die foto.

En ek wil ry en gaan kyk. Lyk na ‘n spesiale plek. En moet sommer net ‘n klipgooi van Melkbos wees.

Natuurlik besef ek dis geen unieke eerbetoon wat my skielik hier op die bereiking van my 71ste lewensjaar te beurt geval het nie. Trouens, Ou Mutual plant elke dag van die jaar ‘n boom, wat elkeen van sy kliënte op sy/haar verjaardag verteenwoordig.

Maar, mense, gun dit my nou maar om ingenome met my boom te wees. Soos Ou Mutual dit stel sal my boom, soos al die ander Ou Mutualmense s’n, mettertyd “’n nalatenskap ter ere van my verjaardag” word. Reken, my kleinkinders kan ry en na Oupa se boom gaan kyk. Dan boonop nog vir ‘n goeie saak.

Goedgedacht is nie sommer enige hierjy-plasie nie, maar deesdae ‘n besige gemeenskapsontwikkelingsentrum waar, aldus Ou Mutual, ‘n “doelgerigte poging aangewend word om ‘n wesenlike bydrae te lewer tot die verligting van die ergste probleme waarmee ons almal te kampe het… armoede en klimaatsverandering”.

Goedgedacht was een van die eerste plase wat in 1704 aan die “Vryburgers” toegeken is en is gehul in die geskiedenis van die ou Kaapse Kolonie, lees ek. Ek glo van my stamvaders uit die verre Deventer het in die jare her as Vryburgers ‘n boom of wat daar rond geplant. Tulbagh figureer in die Van Deventer-familiegeskiedenis, as ek dit nie mis het nie.

‘n Trust is in 1993 gestig om op Goedgedacht tot voordeel van die gemeenskap te woeker. Met die stigting van die Trust het die trustees maniere gesoek om die ontwikkelingswerk volhoubaar te maak. Die pragtige ou Kaaps-Hollandse geboue is gerestoureer en in ‘n baie besonderse vergaderplek vir konferensies, werksessies, troues en wegbreeksessies omskep, met slaapplek vir 67 mense.

Terselfdertyd is olyfbome geplant. In die olyfboorde word olywe organies gekweek en hetsy gebottel of tot topgehalte ekstra suiwer olyfolie verwerk, en onder die Goedgedacht-etiket bemark.

Die Trust se filosofie is “om mense te ontwikkel, die gemeenskap te versterk en demokrasie te bevorder”. Dit is strewes waarmee ek my van harte kan vereenselwig.

Koop dus gerus ‘n botteltjie Goedgedacht-olywe of –olyfolie en gedenk aan my, Hennie van Deventer, gebore op 3 Januarie 1941 op Babanango, Noord-Natal, uit een van die Vryburger-families wat mettertyd hul tentpenne in die Kolonie opgetrek en diep-diep die onbekende binneland in koers gekies het.

En laat weet tog maar asseblief vir die ou man waar dit is as een van julle sy olyfboom op “sy plaas” opspoor!

Ns. Die betrokke Ou Mutual-lewenspolis is verpligtend uitgeneem toe ek in 1957 matriek slaag en ‘n Volksblad-beurs verwerf om my op Tukkies as joernalis te gaan bekwaam. Ek dink dit was ‘n polis van een duisend pond – dit was voor die dae van Daan Desimaal. Deesdae is die polisie so R70 000/ R80 000 werd. Ek betaal getrou maandeliks my premie van R3,52 per debietorder.
(HvD)