HELP-MY-KRAP

More uit Melkbos

Buig die boompie solank hy nog jonk is.

Skynbaar glo kameelperde ook aan hierdie mensespreuk.

In die bos het die buig van die boompie egter nie met inbreek, dissipline en die kweek van waardes by ‘n jongeling te make nie.

Dis die jolliejeuk wat hulle dryf.

Vermoedelik om van die alewige plaende bosluise ontslae te raak, gaan staan ‘n kameelperd wydsbeen oor die uitgverkore boom en vryf, krap en skuur dan vir die eerste span.

Sebras doen dieselfde – dikwels met ewe ongelukkige gevolge vir die jong boompie.

Jacob Claassens, ander een van die twee sewejarige kameramanne, het die foto van die kameelperd in Wildevylaan geneem. Dit is Kapous en Leonora Mouton se boompie wat verrinneweer word.

Naskrif: Die hulpvaardige renostervoëltjies sit natuurlik ook snaweltjies by om bosluise in bedwang te hou. Maar dis maar sekondêre hulp, soos ek dit sien. Soms moet ‘n mens/dier liefs self ingryp as om van ander afhanklik te wees. (HvD)

GLIMLAG OF GRIMLAG

More uit Melkbos

Ag nee, glimlag nou ‘n bietjie, ou grote!

Leeu poseer vir kamera – ewe grimmig as John Vorster destyds (“maar ek glimlag dan klaar!”)

Foto: Thomas Claassens (7-jarige kleinseun). Plek: Naby Skukuza. Ja, die jongehere ken van knoppies druk. (HvD)

VAN BABAS TOT JONGEHERE

More uit Melkbos

Tempus fugit, het die ou Romeine mekaar fronsend en kopskuddend toegevoeg as die seisoene skynbaar al hoe vinniger op mekaar se hakke begin volg. Kan nie verskil nie. Die tyd vlieg ja – die tyd het toe ook al gevlieg.

Tempus is fugitting like mad, het die Engelse omroeper Eric Egan in die jare 50/60 op die SABC kwytgeraak. Kan ook nie van hom verskil oor die tempo van die jaarwisselinge nie.

Ek noem “onsekure statistieke” in die voorwoord van my laaste bosboek, Duisend Dae Langs die Sabie, as die rede dat ek oor die presiese getal dae (bednagte) in Sabiepark ietwat in my geheue rondtas. Presies wanneer is die 1000ste dag bereik? Daardie aand moet bepaald tog gevier gewees het. Dalk is die spesiale bottel rooi eers op die 1005de dag oopgemaak, of op dag 1008.

Oor een (nuwer) aspek van ons Sabieparkse kuiers probeer ek die statistiek wel sekuur hou Dit is oor ons besoeke saam met die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (nou 7), wat een van ons verrykendste bostradisies geword het.

Ek en Tokkie was in Desember/Januarie op ons 36ste kuier by Tarlehoet in 13 jaar. Een besoek was net vir ‘n Paasnaweek. Ons het van die Kaap gery en gery en gery. Marisa was toe student in Bloemfontein en sy is die Donderdag na klas daar opgepik om Sabiepark aan haar te gaan bekend stel. Van die wintervakansies, veral aan die begin toe ons jonger, sterker en avontuurliker was, het tot drie maande elk geduur. Om twee maande die tentpenne van Melkbos na Sabiepark te verskuif, was niks snaaks nie.

Maar die seuns: hul alleenkuiertjies saam met Oupa en Ouma het hierdie somer tot agt geklim. Aanvanklik het ons ‘n soort kermisbed in ons slaapkamer geskep vir die okkasie. Nou is hulle al groot, onafhanklike, dapper seuns met hul eie slaapkamer. Wat eers bekend was as “Ouma se kamer” het ‘n nuwe naam: “Die tweeling se kamer”. Ouma sal, helaas, nie weer op Sabiepark se stoep sit en vir haar “beeste” (blouwildebeeste) en “varke” (vlakvarke) kyk nie. Sy word 98.

FOTO 1 – WINTER VAN 1906

Die tweeling se heel eerste besoek was saam met hul ouers. Toe was hulle eintlik nog babatjies. Net ouer as ‘n jaar en op hul veiligste in ma en pa se arms. Op foto een hierby is hulle in die winter van 1906 by Tarlehoet se naambord (goeie swarthout uit die Kaap) afgeneem – die eerste foto in ‘n reeks wat vertel hoe woes die tempus inderdaad fugit.

Die enetjie regs is Thomas en die enetjie wat verseg om vir die kamera te kyk natuurlik dan Jacob. Op latere foto’s kyk Jacob darem vir die kamera. Hy slaag nie elke keer om ‘n glimlag uit te forseer nie.

FOTO 2: WINTER van 1907

Foto twee is geneem op Jacob en Thomas se eerste besoek sonder mamma en pappa, Dit was in Julie 2007. Hulle was toe drie en nog in doeke. Die avontuur het begin toe ons in Kaapstad op Nationwide se Boeing klim. Die avontuur het voortgeduur, vyf jaar al. Vir al vier kleef kosbare herinneringe aan die vakansies in die bos, en ek rapporteer dankbaar dat hulle ware bos-seuntjies is – lief vir die diere en die plante (net nie vir die perdebye op die stoep nie!).

Nationwide het ongelukkig intussen stert tussen die bene gesteek (wag hoeka nog op ‘n terugbetaling uit die bankrot boedel!). Dit het ons beroof van ‘n gerieflike, relatief ekonomiese manier om by Sabiepark te kom. Die laaste paar jaar het ons ge-Kulula tot in Johannesburg. Die Honda moes daarna die kilometers vreet. Nou het ek lui geword vir daardie kwaai ryery. Die Honda is terug op Nelspruit.

Die vliegtuigkaartjies Nelspruit toe is sommer heelwat duurder, maar daardie vier uur wat jy spaar, is goud werd. Al die taxi’s en swaar vragmotors verdwyn ook met ‘n vingerklap uit jou lewe.

Intussen het Jacob en Thomas se boetie Christopher (vandag presies drie jaar oud) darem ook al ‘n keer of wat kennis gemaak met die bos, asook hul nefie Migael (5) van George. Maar jammer, Migael en Christopher, jul tydsberekening tel teen julle. Dis Jacob en Thomas wat hul buiging op hierdie dal van trane en plesiere gemaak het toe Oupa en Ouma nog opgewasse was vir die eise wat peuters en kleuters op so ‘n bosvakansie stel – en dit is hulle twee wat deel van ‘n tradisie geword het, wat, helaas, in elk geval nie vir altyd sal kan aanhou nie.

FOTO 3: WINTER 2011

Op foto drie is die drie Claassens-seuns saam by die naambord in Julie 2011. Die twee ouer boeties slaag daarin om meewarig ervare te lyk.

FOTO 4: SOMER 2012

Foto vier is op 8 Januarie 2012 geneem, ‘n dag voordat ons moes omdraai Kaap toe vir die premature opening van die Kaapse skole op 11 Januarie. Was sommer baie jaloers op die binnelanders wat nog ‘n week vakansie kon hou.

Ouma en ma Marisa is verras dat Oupa die manne toegelaat het om so windmakerig op die Tarlehoetbord te sit. Sê nou die ding het gebreek, soos een keer tevore toe Oupa en oom Herman le Roux se vaardighede as skrynwerkers hulle met die opsit daarvan in die steek gelaat het. Professionele hulp moes ingeroep word.

Deesdae staan ons bord rotsvas – storms of te not. En die jongehere lyk darem vir Oupa te oulik as hulle so grootman poseer. Ongelukkig wys dit ook maar net weer hoe tempus fugit!
(HvD)

OM STIL TE SIT EN TE ERVAAR

Middag uit Melkbos

Oor “Duisend dae in die Sabie” het Vrydag ‘n “gulle”* resensie in “Die Laevelder” verskyn. Die resensent is Marius Bakkes, ‘n media-raadgewer en redakteur van reis- en toerisme-tydskrif in die Laeveld, en bestempel homself o.m,. as “bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word.”

Bakkes skryf:

“Oud-koerantman Hennie van Deventer se “Duisend dae langs die Sabie” is ‘n hedendaagse werfjoernaal wat veral tot baie in die Laeveld sal spreek. Dis die aantekeninge en kant-aantekeninge van etlike jare se gereelde verblyf by sy vakansiehuis in Sabiepark.

“Hierdie is ‘n uitsoek- private ontwikkeling op die walle van die Sabierivier digby die Krugerhek. Talle bekende Suid-Afrikaners en wildliefhebbers het oor die jare daar vakansieplekke en woonhuise gehad. Ek dink aan Mimi Coertse en die sakeman Werner Ackerman. Die bekende Afrika-wildlewe-kinematograaf David Hughes en sy fotograafvrou het op ‘n stadium permanent hier op Sabiepark gewoon. Oor hulle het ek weer ‘n SAUK-televisiedokumentêr kom maak na die bekendstelling van Hughes se suksesvolle National Geographic-produksie “The last feast of the crocodiles”. Die bekende argitek, kunstenaar en bewaringskundige, Hannes Meiring wat onlangs dood is en sy vrou, die joernalis Martie Retief het my en ‘n paar vriende een slag die eksklusiwiteit van Sabiepark laat beleef. Hannes en Martie het hulle lieflike Afrika-huis hier op die rivierwal vir ‘n naweek tot ons beskikking gestel nadat hulle weer op ‘n keer my wegbreekhuisie op Rhodes in die suidelike Drakensberge besoek het.

“Van Deventer was onder meer redakteur van Volksblad in Bloemfontein. Hy het as uitvoerende hoof van koerante by Naspers afgetree. Sy vol lewe as persbaas het hom egter nie verhoed om talle publikasies, meestal herinneringskrifte en vertellings die lig te laat sien nie. Duisend dae langs die Sabie is die jongste en handel oor die ervarings wat van Deventer en sy mense oor die jare hier beleef het. Die van Deventers wissel woonplekke met ‘n aftree-strandhuis by Melkbosstrand af.

“Hier op Sabiepark is hy en sy vrou Tokkie fyn waarnemers. Synde oorkant die rivier van die Krugerwildtuin bly Sabiepark met sy woonhuise verskuil van mekaar tussen die bosse die ideale plek op die wildbedrywighede te bestudeer en van naby te beskou. Dikwels is dit sommer van die stoep af, en dis dit wat van Deventer hier raakvat.

“Sy poging is ‘n goeie voorbeeld vir enigeen van ons wat graag veldnotas maak. Hy dra sy belewenis gul oor en maak mens lus om net weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar.

“Vir my as bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word, is dit ook ‘n belangrike publikasie. Dit is nog ‘n ervaring aangeteken en ‘n tydgees vasgevang. Dikwels is dit daardie enkele eenvoudige herinneringskrif bedoel net vir familie wat die geheim van mens en plek soos dit eens op ‘n tyd was die beste ontsluit. Hier is dit ‘n deurwinterde Afrikaanse joernalis aan die woord.

“ ‘Duisend dae langs die Sabie’ is te kry by die Park Shop-winkels in die wildtuin. Dis ook beskikbaar by Protea Boekehuis in die Tarentaalsentrum in Nelspruit. “
*Ek leen die woordjie “gul” by die resensent, wat bevind dat die skrywer sy belewenis “gul” oordra en ‘n mens “lus maak om weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar”. Die opskrif is: “’n Unieke werfjoernaal”. (HvD)

PANIEK OOR LAKE PANIC

Middag uit Melkibos

Oor my “Meer van Vreugdes” raak ek maklik liries. In “Duisend Dae Langs Die Sabie” besing ek opnuut die lof van Lake Panic, skilderagtige lafenis vir die siel digby Skukuza, net 15 kilometers van Sabiepark se hek af.

Lake Panic se voëlskuiling is op die S42 tussen die Krugerhek en die kamp. Dit is net ‘n klipgooi van Skukuza se gholfbaan en die skaduryke inheemse kwekery af. Watervoëls – van die yslike reusereiers tot die fyntjiese kleinkoningriethane – is gek na die plek. Ek ook. Om op die gholfbaan se stoep ontbyt te eet, is eweneens ‘n gunsteling-bosaktiwiteit.

In die duisend dae van die Van Deventers se bosbelewenis tot dusver was die nimlike Sabierivier soms rustig, soms onstuimig. Een keer, in Februarie 2000, het hy hand-uit geruk. Hierdie week, in Januarie 2012, sommer aan die begin van ons tweede duisend dae, was daar amper ‘n herhaling van daardie onheilsdag.

Namate die nuus oor die siedende rivier se stygende hoogte en berigte oor die skades begin inkom het, asook die asembenemende fotomateriaal uit alle oorde, is asem opgehou. Het wat voorheen met vaste vertroue ‘n “honderdjaarvloed” genoem is, dalk nou sy siklus tot slegs 12 jaar verkort?

Toe die skoknuus kom dat Lake Panic se wal gebreek het, het die vae onrus skielik die hart van skrik laat steier. Gaan Lake Panic sy naam gestand doen, was die vraag op almal se lippe. Vrese dat die dam se muur water die personeeldorp Skukuza kon platloop, het opgewel.

Die “panic” in Lake Panic se naam beteken immers werklik “paniek” oor daardie wal – die paniek van sy bouers dat dit kon breek. Terwyl die dam in 1977 in aanbou was, het die vrees ontstaan dat die nuwe wal, nog broos en ongevestig, voor die watergeweld sou meegee.

Jeanette Coetzee van Tennessee, voorheen van Skukuza, vertel: “‘n Vreeslike donderstorm het een middag losgebars – ‘n ware wolkbreuk. Sou daardie massa vloedwater oor die grondwal stort, sou dit verby wees met die nuwe dam. Dit het ons dadelik besef. Al wat leef en beef kom toe met hul grawe en pikke. Die manne werp alles in die stryd om die dam te red. Hulle het paniekerig net bly grawe om die uitloop dieper en groter te maak. Só red hulle toe die dam – ‘n heldedaad met pik en graaf.”

Na 35 jaar gebeur die ondenkbare toe wel – die damwal breek. Maar genade van bo: die dam se water stroom wel deur die dorp; egter nie bo-oor die dorp, soos gevrees nie. Om die huise lyk dit soos mere. Maar die huise bly staan. Slegs tuine, stukke paaie en ‘n hap van die kwekery word weggevoer. Die goeie mense van Skukuza en hul vriende oral kan ‘n sug van verligting slaak.

Die paniek van 1977 was dalk geregverdig; die paniek van 2012 was gelukkig van korte duur.

Oor waarom die ergste vrese nie bewaarheid is nie, kan ek nie uit Melkbos probeer bespiegel nie. Skukuza van 1977 en Skukuza van 2012 is egter in vele opsigte verskillende plekke. Die kwesbaarheid is waarskynlik deur omvangryke ontwikkeling verminder.

Soos ek hier tik, is ek diep dankbaar dat soveel van die mooi behoue gebly het. Kom die Van Deventers in die winter weer in die bos, soos nog altyd sedert 1997, sal ons bepaald binne die eerste paar dae gaan ontbyt eet op die gholfklub se stoep. Miskien wag dan nog ‘n uitgestrekte modderbad waar voorheen ‘n plaat blink water met hope seekoeie en ‘n ryke voëllewe was. Dalk hoor ek g’n seekoei proes nie. Dalk sit die gapende gat steeds in Lake Panic se wal, soos op die foto hierbo wat op die webwerf van die gemeente Krugerwildtuin (tik Krugerwildtuin Gemeente in Facebook se soekhokkie) verskyn het. Een wete sal egter oorheers: dit kon egter soveel erger gewees het.

Trouens, die hele vloed se impak kon soveel groter gewees het. Skade aan brûe – laagwater- en hoogwaterbrûe – het nie uitgebly nie, maar happe is darem nie uit brûe geruk soos op die foto hierby van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek nie – een van die onvergeetlike herinneringe van die vloed van 2000.

Mense soos ds. Carl Louwrens van Skukuza meen dat ons juis 2000 se vloed daarvoor moet bedank. Dié het die rivier skoon gespoel. Destyds is bome meegsleur. Die stamme het teen brûe opgestapel. Hemelhoë damwalle is gevorm. Die muur van water kon nie vorentoe nie en reusegolwe het o.m. oewerhuise ingesluk.

Vanjaar was die rivier oop, die water kon vloei – see toe.

Op die houtblad van Lake Panic se skuiling het iemand lank gelede uitgekrap: “What I saw here you could not even imagine.” Mense wat die vloed van 2012 en die wonder van die relatief beperkte skade beleef het, sou ongetwyfeld met diepe dankbaarheid dieselde kon rapporteer. Dit is inderdaad bo menslike verbeelding.