Dec 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Gloria in excelsis deo, Gloria in excelsis deo, Gloria in excelsis deo.
Met dié lofprysing, so aanhoudend herhaal, het die kleinerige Melkbosse kerkkoor ons jaarlikse Kerssangdiens op ‘n hoogtepunt met ‘n kragvertoning afgesluit. Die woorde het ‘n element van dringendheid oorgedra wat die gemeente geboei in hul plekke laat talm het. Dit was asof hulle die roerende oomblik wou vasgryp.
My laaste indrukke van die sielsverheffende diens toe ek uiteindelik by die kerkdeur uitstap, was van die drie soliste en die koorleidster in ‘n klein intieme gesinsgroepie wat bly sing en dirigeer, sing en dirigeer: Marius Falck, leraar met die goue stem, sy twee dogters, Terina en Magdaleen, en koorleidster, Wilna Falck, die pastoriemoeder met ‘n musiektalent wat haar man se stem ewenaar, indien nie oortref nie.
Glorie aan die Van Trapp-gesin van Melkbos – so het my gelukwensing gelui.
Die ou-ou lied se naam het ek later by Wilna verneem: Í will sing to the glory of the King. Stukkies daarvan herinner aan Joan Baez se onvergeetlike Khumbaya my lord. Ons wag nou reikhalsend vir die DVD wat deur die alomteenwoordige koster, Izak van der Walt, vervaardig is. Gaan dit nog voor Kersfees voos speel. Weet sommer.
Op Facebook is ‘n groepie jong vriende wat die wonderlikste musiek by wyse van webskakels met mekaar deel. Ek wens werklik ek kon van daardie koorwerk ‘n skakel opsit – op Facebook en waar nie oral nie – sodat almal in daardie glorieryke musiekbelewenis kon deel.
Met dié onhaalbare wens in gedagte, begin ek uit ons ander pak Kersmusiek – CD’s en ou langspelers – gunstelinge uitsoek. Mense, as dit hoegenaamd moontlik moontlik was, was hier nou skakels op hierdie blog na die volgende meevoerende liedere:
Uit die private Kersprogram vir 1992 van ons vriendin Nella Jacobs van Centurion: Benedictus uit A mass for peace deur die Londense Filharmoniese orkes onder leiding van Karl Jenkins.
Uit ‘n stel langspelers A country style Christmas: O holy night deur George Beverly Shea (meesterlik!), O little town of Bethlehem (Burl Ives) en I heard the bells on Christmas day (Johnny Cash).
Uit ‘n geskenkplaat van Lufthansa rondom 1970: Stille nacht deur die Bielefelder Kinderchor.
Uit die CD Christmas in Vienna (opgeneem in die Rathaus, Wenen, op 23 Desember 1992): Amazing Grace (Diana Ross op haar allerbeste) en Wiegenlied (Placido Domingo).
Uit die CD A Christmas collection: Little drummer boy (Vera Lynn) en Adeste Fideles (Nat King Cole).
Uit die Afrikaanse versamelaarsitem 30 Grootste Kersfeestreffers: Koos du Plessis se Somerkersfees (hoe dan anders?) deur Piet Smit.
Uit die CD Kersfees vir altyd deur die nimlike Marius Falck: Hierdie kind.
As hierdie musiek jou nie in ‘n gewyde Kersstemming kry nie, sal niks dit kan doen nie. Gaan luister dan maar na Jingle Bells in die opgetooide winkels.
Enkele notas:
*Die platestel van Amerikaanse Kersmusiek op die country-styl het ek en Tokkie saamgebring uit Boston na ons jaar by Harvard in 1976/77. Ek hou steeds vol dat ‘n Amerikaanse wit Kersfees jou nader aan jou Skepper laat voel as enige anders Kersfees wat ek al deurgebring het.
*Die Lufthansaplaat was ‘n korporatiewe geskenk deur die Duitse lugredery aan mediamense. Ek het myne gekry as nuusredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein.
*Om ‘n keuse van net een enkele Stille Nag te maak, was amper onmoontlik. Die drie finaliste was die wenner hierbo (Bielefelder Kinderchor) en twee ander uiters sterk candidate, een (ook Duits) deur Placido Domingo, Diana Ross en José Carreras en die country-weergawe deur Carl Smith.
Skielik wil-wil ek twyfel of ek reg gekies het. Maar as ek nou aan een van my keuses verander, stort my hele kaartehuis (van stylvolle ou Kerskaarte uit die jare toet) in duie. (HvD)
Dec 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Naand uit Melkbos
Was kant en klaar
om te verklaar:
windstilste aand
van hierdie jaar
… toe roer ‘n blaar.
(HvD)
Dec 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Hierdie smaaklose stukkie “humor” oor ‘n soettand-beetjie is gisteraand vinnig van Facebook verwyder nadat ek dit ernstig bevraagteken het. Dalk was ek te skerp …
Maar verstaan mooi, ons gesin ken nogal diabetes na die intieme saam leef met die siekte vir 40 jaar. Ons seun, Johan, is op ses maande met “diabetes mellitus” gediagnoseer. Geen dag van sy lewe het daarna verbygegaan sonder sy insulienspuitjie nie. Dis geen grap nie. Ons vind dus geen diabeet-grappie oulik of snaaks nie.
Hierdie is geen mediese blog nie. Oor die implikasies en komplikasies van daardie slopende siekte wil ek dus nie hier probeer uitwei nie. Die statistieke vertel hul eie verhaal. Diabetes hardloop voor saam met allerlei kankers, HIV-vigs, hartvatsiektes en ander sogenaamde “killer diseases” as ‘n oorsaak van dood wêrelwyd. Google gerus “diabetes mellitus”, as julle dink ek vat sommer kanse.
Met Kobus Galloway se sogenaamde “Idees vol vrees” het ek in die algemeen vrede. Vir elke diertjie sy plesiertjie, en van sy sketsies is heel oulik. Met daardie enetjie het hy, helaas, oor die tou getrap. Ai, mnr. Galloway , oor ontelbaar ander dinge kan slim grappies gemaak word – kom ons los tog maar spitsvondighede oor siektes wat vir andere pyn, leed en ellende bring eenkant, asseblief.
Let wel, ek praat in die meervoud van siektes. Verstaan my betoog dus asseblief nie net as een net ter wille van diabete omdat ek diabetes se donker kant ken nie. Elke siekte het immers sy donker kante. Elke lewensbedreigende siekte het kwalik enige ander kant as donker kante vir slagoffers en hul geliefdes.
Wees dus tog maar bedag, liewe humoriste, komediante, grapjaste en dies meer, oor die potensiële seer wat jul grappies vir geteisterdes inhou.
Iemand wou my op Facebook die lessie leer dat “humor groter is as die individu” , en was vinnig om my van “oorgevoeligheid” te beskuldig. Die kort antwoord op sulke verwyte is natuurlik: sou ‘n grappie oor ‘n diabeet vir iemand snaaks gewees het as hy self ‘n kind op insulien moes groot maak?
Sou daardie grappie hom laat giggel het as ‘n geliefde, soos een van my vriende, pas agt weke lank in die hospital in ‘n stryd gewikkel was om sy been van amputasie te red, of as hy, soos ‘n vriendin, in dieselfde tyd langs die graf moes staan van ‘n diabeet-broer wie se toon geamputeer is?
Sou Galloway se beetjie iemand geamuseer het wat self besig was om blind te word weens diabetes?
Ek beskuldig mnr. Galloway en sy bewonderaars nie van kwade wil nie, hoogstens van onkundigheid, ongevoeligheid en selektiewe moraliteit. Oor kanker sal hy byvoorbeeld nie so maklik ‘n karikatuur teken nie – arrie nee, dis tog ‘n taboe! Almal vrees die groot K. Ook nie oor vigs nie, want politiek korrektes sou vinnig hul stem dik maak as hy daardie vigs-strikkie iets onbehoorliks sou laat aanvang.
Maar diabetes – dis mos sommer ouens wat nie suiker mag eet nie? En Alzheimer – nog ‘n teiken van grapmakers waaroor ek iets meer wil kwytraak – dis mos ouens wat so maklik vergeet? Sulke oppervlakkige persepsies het ongelukkig diep ingeburger geraak, en mislei mense om onnadenkend siek grappies (siek in meer as een opsig) te maak.
Hemel, ek weet van ‘n predikant met ‘n Alzheimerkliniek in sy blok, wat kans sien om van die kansel af Alzheimerkwinkslae te maak. Dan moet die geliefdes van die bejammerenswaardige pasiënte in hul doeke, gestroop van alle menswaardigheid en veilig agter slot en grendel toegesluit, maar verleë saamgrinnik.
Sulke dikvelligheid oor diepe menslike leed van ‘n in elk opsig goeie, liewe man vind ek eenvoudig verstommend.
Ek verwag om gekap te word oor my “humorloosheid”. Ek glo egter mense waag slegs grappies oor hongersnood as hulle self kos op die tafel het, oor gestremde kindertjies as hulle met ‘n normale kroos geseën is of oor siekte as hulle self blakend gesond is. Om my tot ander insigte te bring, sal kritici my moet oortuig dat hulle nie uit die geledere van daardie bevoorregtes kom nie. (HvD)
Dec 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Liewe vriende
Vir die Van Deventers het die jaar onder meer die volgende gebring:
Hennie het 70 jaar oud geword en die tweeling Jacob en Thomas 7 – die twee is skool toe; volwaardige graad-eentjies.
Johan en Brent het 40 geword. Johan is amper al 40 jaar op insulien; wat die een of ander rekord moet wees.
Duisend Dae Langs Die Sabie (HvD se 16de) het verskyn – en is o.m. deur Tigers Eye gekoop vir verspreiding in Wildtuinwinkels.
Die jaar het ‘n paar hobbels opgelewer. In die algemeen het die seëninge bly ophoop. Ons vier Kersfees as diep dankbare mense en gaan die Nuwe Jaar in met hoop, optimistisme en hoë verwagtinge.
Ons wens julle Gods rykste seën toe vir Kersfees en die jaar 2012.
Hennie en Tokkie van Deventer
Penguin Place 11, Melkbos/Wildevy 154, Sabiepark
(HvD)
Dec 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Woon my eenmansvertoning by, koop vir jou een van my kookboeke, kom saam op reis – die mees eksotiese bestemmings wag. So nooi omroepers deesdae tot vervelens toe op RSG.
Radio Sonder Grense het Reklame Sonder Grense geword.
Oor hierdie verskynsel het ek ‘n blog geskryf onder die titel Reklame Sonder Grense. Veral Ian Wessels van die gesesprogram Loslip is daarin aangespreek, want in die selfbemarkingswedloop draf hy, na my ervaring, losvoor.
Ek had ook ‘n vermaning oor allerlei slaggate vir koerante, onder meer vir die knap rubriekskryfster Hanlie Retief van Rapport, wat begin toelaat het dat die inisiatief vir rubrieke kom van mense met wie sy dan wel onderhoude voer. Gevaarligte flikker – mense kan haar nader om hul ego’s te poets of om ander minder verhewe redes, het ek gewaarsku. Vir iemand met ‘n dik beursie kan dit nogal ‘n paar rand werd wees om daardie publisiteit te probeer “koop”, kan ‘n mens byvoeg.
In elk geval, daardie stuk moes in Amerika verwyder word in ‘n sogenaamde “terugrol” van my blog om dit te herwin nadat dit onder kuberkrapers deurgeloop het. Dit het o.m. ‘n uurlange oproep na die VSA geverg om ene Tony van Yahoo in staat te stel om by die wortel van die saak uit te kom (sidder oor daardie telefoontrekening wat kom!).
Na alles is ek huiwerig om daardie blog weer hier op te sit. Die duiwel fluister in my oor dis dalk gekontamineer. Jammer, lesers. As u graag “Reklame Sonder Grense” wil lees, moet ek vra dat u daarvoor na my litnetblog gaan. Die adres is http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer
Dankie vir die moeite.
Daarmee afgehandel, sit ons dan die bloggery vandag hier op www.hennievandeventer.com voort.