Nov 10, 2011 | Hennie van Deventer se Blog


More uit Melkbos
Stem vroeg, stem reg, stem dikwels. Dit was op X-dag die slagspreuk in die ou dae toe ‘n onnoembare bedeling in gang was en ‘n party wat, ter will van politieke korrektheid, liefs Zonder Naam moet bly, nog die ondemokratiese septer in ons verskeurde landjie geswaai het.
Wantrouiges oor daardie bose generasie sal terstond uitoep: “A, uitgevang!” Kon ons ou klomp werklik so onder morele degenerasie gebuk gegaan het, dat ons, volgens ons bekrompe siening van die belang belang van volk en vaderland, stemvee sou aanmoedig om goedsmoeds die wet te oortree en onwettig meervoudige stemme op die een of ander slinkse manier uit te bring?
Onstspan. mense, ontspan! Die “stem-dikwels”-been van die driehoek was ‘n stukkie ligsinnige vrolikheid – humor, pret, grapjastery. Onskuldig. Nie ernstig bedoel nie.
Deesdae is dit anders. Darem nie die Brigalia Bam-brigade as die nasie opruk om of vir die ANC ‘n tweedederde-meerderheid te besorg of dit te probeer fnuik nie, maar in elke ander stemmery is die beginsel van “stem dikwels” die goedgekeurde norm (toemaar, ek weet sy is nou afgetree, maar ek weet nie hoe om die naam van haar opvolger te spel nie).
Skaamteloos word mense deur gerespekteerde instansies soos RSG (en mooi gesigte van RSG soos Amore (Amorei) Bekker opgevorder om hul burgerlike plig by herhaling te doen. Op Mxit, hoor ons, kan jy teen 2c per gooi vir Tafelberg stem – d.w.s ‘n 100 stemme teen die prys van een stem per SMS. Dis ‘n winskoop, mense. Wees tog patrioties! Laat die vingers fladder!
Wen is nie meer meerderheids-gedrewe nie, want des te flinker jy kan organiseer en mobiliseer, des te rooskleuriger raak jou kanse om met die kroon weg te stap. Mintag, toe die vingers vir Tafelberg lostrek, hier styg die barometer skielik met rasseskrede … op, op, op abseil ons berg teen die gewildheidsleer, oornag van diep in die dieptes van ongerekendheid tot verby die afsnygrens op pad na glorie en biljoene se beleggings vir die Moederstad. Werkgeleenthede, mense, werkgeleenthede by die kruiwa-vol! Uitasem jubel die Frans Stroebels en andere.
Niemand vra: wat as die berg nou uiteindelik Mohammed bereik en die toeriste Boeings-vol instroom om die “nuwe wonder” te kom bewonder, maar die skare nuutgewerfde arbeiders raak lui of gatvol en begin hul klimstewels uittrek soos nou se stakers op Robbeneiland nie? Skande en skaamte wag dan, of hoe?
Askies, maar ek ly nou eenmaal aan die kwaal om oor sulke dinge te wonder, en ek glo nie my wonder is altyd ‘n ipekonder nie.
Maar waarom die berg-kampanje alleen vir vermelding uitsonder? In die koerant lees ek nou anderdag die vrou van ‘n bekende atleet wen ‘n motor in dieselfde “ysterman”-kompetisie wat haar man gewen het. Haar prestasie? Dat sy die meeste stemme vir die wenner kon monster. Baie lojaal binne huweliksverband, natuurlik, maar na my oumens-oordeel op vele gronde as gesonde praktyk bevraagtekenbaar.
In Idols, liewe Idols, kom die wenner tweede en die naaswenner eerste – alles weens ‘n verstopping in die stemvloed van “fans” wat soos betaalde roubeklaers hul ding doen om die uitslag te bekook.
Selfs op onse ou dorpie by die see spring ons hierdie nuwe mode van die moderne demokrasie nie vry nie. By die Bybelstudie, nogal, kom ‘n dierbare vriendin aan met ‘n dringende oproep: stem vir my kleinkind, asseblief – “stem vroeg, stem reg, stem dikwels” – sy’s ‘n finalis in die een of ander gedoente op die radio.
Met dié twyfelagtige kultuur al so sterk gevestig, so aanvaarbaar en so sonder wetlike of morele versperring, is ‘n uitkringende effek dalk nie snaaks nie. Hoor ons nie soms al fluisteringe van meer stemme wat by stembus A, B of C in die Groot Eleksie (algemene verkiesing, bedoel ek) uitgebring word as wat daar kiesers was nie? Of so iets, in elk geval.
Hele moeilikheid vir ons ouer garde, ons hele helse gesukkel om by allerlei nuwerwetsighede aan te pas, wil al hoe meer vir my lyk of dit tot ‘n definïeerbare oorsprong teruggevoer kan word: duidelik het wat in ons tyd grapjastery was, nou dodelike erns geword!
Soos my jernalis-kollega Johan van Wyk radeloos sou uitroep: Ohopoho! (As jy nie weet wat dit beteken nie, gebruik jou verbeelding. Dink aan Tiger Woods se joggie!)
(HvD)
Nov 9, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Watussi-vrou – Irma Stern se R13 miljoen-meesterstuk
More uit Melkbos
Of ek vandag uit selfbejammering skryf, of uit afguns, of uit onkunde, moet elkeen maar vir homself/haarself besluit.
‘n Groot advertensie op Die Burger se voorblad kondig aan: Stephan Welz is op pad Kaap toe. Dus, mense, ruk op met julle ou meesters, laat die ghoeroe vir julle vertelle of julle ‘n goudmyn teen die muur het of ‘n waardelose prul.
Die advertensie herinner my aan drie dinge:
Die eerste: die vriende, liewer naamloos uit vrees dat kunsdiewe kan kennis neem en onheilige planne begin smee, met ‘n Irma Stern aan hul eetkamermuur.
Ek loer telkens daarna wanneer ek die voorreg het om by die gasvrye mense aan tafel te kom. Sal ek of sal ek nie? Die versoeking is darem groot om die een of ander “vanishing trick” uit te voer wanneer die gasvrou vinnig kombuis toe glip en die gasheer die glasies gaan vul.
Sal hulle dadelik raaksien as daardie stukkie muur kaal geraak het? Moontlik, want hulle kan nie onbewus wees van die asemrowende pryse wat me. Stern se skilderasies oral op veilings behaal nie. R13 miljoen vir ‘n Wattusivrou – sjoe!
Die twee ding waaraan ek dink, is die relatiewe waardeloosheid van die “kunswerke” aan die uwe se eie mure, helaas. Skilders wat ge-affronteer voel omdat van hul produkte, na hul wete, in Van Deventerbesit is, moet tog maar vergewe, maar die hartverskeurende waarheid is dat geeneen van die betrokke werke mnr. Welz na verwagting buitengewoon sal imponeer nie.
Een van die uitsig op Tafelberg van onse Melkbosse stoep af was ‘n geskenk met my aftrede in 1998. Vir my nogal besonders – net ongelukkig van die yslike boom op die strand. Ek woon nou al dertien jaar op Melkbos en soek nog vergeefs na daardie boom. Dalk is dit wat die kenners ‘n surrealistiese werk sal noem!
Hoop Tafelberg word een van die nuwe “sewe wonders” – ek was een van die eerstes wat gestem het ondanks die misdadigheid in sy klowe – want net altemit slaan ek dan ook ‘n slag. Sit, so tussen ons, met nog ten minste drie ander Tafelberg-weergawes teen die muur – een buitengewoon vrolik met die flambojantste kleure.
Die skilderes, een met ‘n Melkbos-adres, het volgens eie mededeling een skemeraand met sonsondergang met ‘n bottel wyn op die stoep kom stelling inneem op wag vir die Muse. Of die kleureweelde van die Weskus-sonsondergang of die genot van die koue wyntjie die beste in haar skildery weerspieël word, is seker iets waaroor ‘n mens kan bespiegel.
Ek dink aan ‘n derde ding en dit is Gert van der Walt se suksesvolle en onsuksesvolle inskrywings vir ‘n kunskompetisie in die jare rondom ’60 by die Nasionale Museum in Bloemfontein.
Gert was ‘n landskapskilder uit Trompsburg se wêreld – later, na sy egskeiding, Port Elizabeth – wat veral in die jare ‘50 vele doeke met romantiese landskappe die lig laat sien het. Ek het met sy werk kennis gemaak by ‘n studentemaat wat stief-familie was, en in die distrik Philippolis geboer het – nie ver van Trompsburg af nie, wat natuurlik van hom ‘n gerieflike aflaaipunt gemaak het vir Gert se minder bevredigende produkte.
Ewenwel, een naweek toe ek en Tokkie daar kuier, sien ons die twee woelige seuntjies van ons gasheer en –vrou veerpyltjies na ‘n vreemde teiken werp. Dit was ‘n Gert van der Walt-skildery. Maar dis nie my storie nie. My storie is dat Gert hoopvol vir daardie kompetisie ingeskryf het. Toe word sy inskrywing waarin hy sy kunstenaarsiel gestort het, subiet afgekeur.
Gert was onhebbelik in sy gesig gevat. Hy gryp toe boos sy pajamabroek, doop dit in ‘n poespas van kleure en smeer dit lukraak af aan ‘n doek of twee. Daarmee sit hy af Bloemfontein toe. By die beoordelaars kry dit waarderende oe’s en aa’s. Uiteindelik hang dit teen die mure wat te verhewe geag was vir sy ernstige poging, met moeite volbring.
Was nogal ‘n verleentheid vir die Vrystaatse kuns-“establishment” toe die stuk moedswillige wraak in Die Volksblad onthul is. Wonder of mnr. Welz dit as prulle sou oormerk – en of die pajamakuns dalk regtig goed genoeg was om op ‘n veiling ‘n bieër met baie pitte se aandag te trek. (HvD)
Nov 7, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Johan van Wyk
More uit Melkbos
GESOEK: Die beste skrywer in Afrikaans van wie geen boek op die rak pryk nie. Sou so ‘n ambisieuse soektog wel geloods word, het ek ’n kandidaat wat kwalik as wenner getroef sal kan word.
Ek stel bekend: my oud-kollega Johan van Wyk, jarelange skrywer van die rubriek Stop van Myne in ons ou koerant, Die Volksblad, en deesdae, in sy aftreedae op die Strand, ‘n energieke bydraer tot veral Weg en Landbouweekblad, wat vir hom ‘n lojale gevolg opgebou het met sy heerlike humor en meesleurende nostalgie oor tye wat verby is.
‘n Ander oud-kollega, Herman le Roux, het met sy kenmerkende deeglikheid ‘n lys saamgestel van die ryke oes skrywers wat Die Volksblad deur die jare opgelewer het. Amper sestig Voksbladmense het saam byna 600 boeke geskryf, het Herman bevind.
Onder hierdie skrywers is die sukses-stoomroller Deon Meyer en kroonprins op die terrein van spanning, Chris Karsten. Van die Volksblatters is met die hoogste pryse bekroon, soos C.M. van den Heever, Jaap Steyn, Pieter W. Grobbelaar en die nimlike tweeling Meyer en Karsten. Gaan krap gerus by Volksblad.com.
As ‘n ontbrekende ding soos ‘n seer vinger met ‘n dik verband kan uitstaan, is dit Johan van Wyk se naam. Ondanks skitter-bydraes oor enige onderwerp onder die son het niemand ooit die blinkste juwele gaan uitpik vir bundeling nie. Ek het dit ‘n slag in my Volksblad-dae by Tafelberg aanbeveel en Danie van Niekerk het saamgestem. Iemand moes egter die rug buig en die werk doen. Daardie iemand het nooit na vore gekom nie.
Ek is vieserig vir myself dat ek nie die een of ander tyd self die taak onderneem het om Johan se beste werk in boekvorm te verewig nie – hoewel ek darem in van my boekies flertsies van veral sy kostelike humor-stukke opgeneem het: onder andere die hoofstukke Stop van Syne en Hef ‘n Bedpan in my eerste boekie Scoops en Skandes. Dis egter maar skrapse erkenning vir so ‘n ster. Ohopoho!
Johan is in die 90’s met die FAK-prys vir Afrikaanse joernalistiek bekroon. Daarvoor eis ek darem vir myself ook krediet op, want ek het die boer van “Kafferrivier” (soos dit destyds geheet het) by Henno Cronje opgevysel. Maar “die Oom” het meer pryse verdien, soos Naspers se Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit – dalk selfs die eksklusiewe Markus Viljoen-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Zandra van Wyk
Ek weet sy elegante vrou, Zandra, het ‘n plakboek gemaak van sekere van Johan se rubrieke, onder meer briewe aan sy kinders wat hy in Stop geskryf het. (Hy het aan vele mense “briewe” geskryf soos aan ‘n bloedjong Anneline Kriel se Tukkie-kêrel, Jacques Malan, vir wie hy mooi beduie het hoe om so ‘n mooi meisie te vry – maar tevergeefs!)
Van dié plakboek het ek te hore gekom toe ek nou die dag een van sy roerende Stoppe – een oor ‘n plaasbegrafnis – raak-Google. (Tik net in: plaasbegrafnis, die volksblad, johan van wyk). Hy het dit in Oktober 2001 geskryf toe ek in my laaste skof as redakteur was – mintag maar ek is ingenome met so ‘n mooi stuk wat in my koerant verskyn het.
Dit begin so: “Van al die mooi dinge in hierdie gebroke, maar tog mooi wêreld waarin ons leef, is ‘n mooi plaasbegrafnis op ‘n mooi lentedag ná vroeë reën vir my een van die mooiste.
“ Hartseer ook ja, natuurlik, maar dis ‘n mooi soort hartseer. Amper half lekker.”
Ek gaan nie verder aanhaal nie, want dan sal ek nooit kan ophou nie. Ek beveel egter aan dat iemand daardie plakboek gaan bedel/steel en as boek publiseer. Toe, uitgewers, hier’s ‘n geleentheid. Carpe diem!
Ewenwel, ek het die betrokke Stop vir Johan gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?” Ek het bygevoeg dat in ‘n kompetisie om sy mooiste skryfwerk te vind die traantrek-mooi plaasbegrafnis-rubriek voor sal hardloop saam met ‘n stuk oor sy verswakte 85-jarige pa se afskeid van sy vervreemde geboortgerond by Calvinia, wat onlangs in Landbouweekblad was.
Daardie stuk het ek onlangs na vriende geblits met die opmerking: “Dit moet van Johan van Wyk se mooiste skryfwerk wees.”
Sy meesterlike atmosfeerskepping blyk onder meer uit hierdie paar paragrafies:
“By sy vader, my oupa, oorlede in 1921, se eenvoudige graf, nou net ‘n hopie uitgewaste grond, omring deur n stukkende heining met n skewe hekkie tusssen gannabosse, het hy sy hoed afgehaal, met sy een hand bewend op die verweerde tuisgebeitelde kopklip van ruwe sandsteen moeisaam op ‘n knie neergesak en ‘n handvol grond opgetel. Trane het oor sy wange gerol.
“Ruimte en tyd het skielik stilgestaan, die ewigheid ‘n vlietende werklikheid. Dit was een van die roerendste, hartseerste, en tegelyk mooiste, mees deernisvolle oomblikke van my lewe.
“Toe gooi ek vir ons n Mellowoodjie vir versterking en toe eet ons die koue skaapnek daar langs die ou voorvader.”
Hierdie wellewende ex-Calvinianer, ex-Vrystater mag maar skryf. Iemand wat nie saamstem nie?
Nov 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
As ek oor die word “dankie” skryf, sou ek dit graag so eenvoudig-opreg wil doen soos my tydgenoot (grysgenoot) Lance James in sy immergroen-trefferliedjie: “Dankie vir hierdie skone more/dankie vir hierdie nuwe dag/ dankie dat U oor my gewaak het deur die donker nag.”
Lance gaan dan voort met ‘n lys treffende dankies: vir al die goeie vriende, vir elke boom en blom, vir al die die seëninge wat na hom toe kom; vir elke kinderlaggie, vir elke sonnestraal, dat hy sy weg terugvind waar hy ookal dwaal, en wat daarop volg.
Of ek sou graag so wou jubel soos Lied 464 in die Liedboek: “O, Heer My God, as ek in eerbied wonder”, veral in die koor: “Dan moet ek juig, my redder en my God ….. “ Attie van der Colff, befaamde omdigter van Linden, bereik in hierdie meesleurende lied hoogtes met heerlike digterlike Afrikaans.
My oud-kollega Johan van Wyk het in ‘n wonderlike rubriek oor plaasbegrafnisse destyds in Die Volksblad geskryf hoe mooi Lied 464 klink terwyl “blink waterstrome oor die mosbegroeide keerwalle van die rivier gly, die Bitter-Karoo op die horison goudgeel bot ná die vroeë lentereën en lammerskaap steunend dik in die opslag lê”.
Synde ‘n dorpsjapie sal my tot-siens-diens nie ‘n soortgelyke landelike karakter kan hê nie, maar sing Lied 464 tog asseblief ook daar. Sing die koor met forsheid en die volume vol oop!
Liedere (en gedigte) met dankie-klankies is volop in elke taal. Van stille dankbaarheid tot uitbundige betuigings van dié prysenswaardige gemoedstoestand, van skietgebedjies tot openbare orasies, inspireer kunstenaars deur die eeue heen.
Dankbaarheid teenoor die Vader, teenoor ouers, onderwysers, kollegas, vriende, huweliksmaats – enige vorm van dankbaarheid word besing. Die sangeres Dido se kenwysie is byvoorbeeld die Engelse weergawe van dankie, haar lied “Thank you”, opgedra aan ‘n gewese minnaar: “ I want to thank you for giving me the best day of my life. Oh just to be with you is having the best day of my life” Dit was heelbo aan die treffersparade in Amerika en Engeland rondom 2000.
Dankie-liedjies, dankie-versies en dankie-kaartjies vir elke denkbare geleentheid word aangetref, van huwelike tot begrafnisse (en moenie die rol van blomme as boodskappers van dankbaarheid vergeet nie!)
Een van die mees besonderse dankie-sê-geleenthede in die ganse wêreld is natuurlik die Amerikaanse “Thanksgiving day” (vanjaar op Donderdag 24 November), ‘n vakansiedag met ‘n godsdienstige, historiese en kulturele inslag. Die pelgrimvaders word vereer, maar ook helde uit vorige generasies, almal wat vir volk en vaderland die lewe afgelê het en ontslape geliefdes. Die oë word opgeslaan uit dankbaarheid oor die gawes van die liefde en die lewe self. Vir elke aspek van die dag bestaan liedjies, versies en kaartjies.
Omtrent almal in Amerika vier “Thanksgiving” op die een of ander manier, maar meesal, meen ek, met familie-saamtrekke rondom feestafels. Die enigste ondankbares daardie dag in die VSA is seker die derduisende kalkoene wat spesiaal geslag word!
Ons in Suid-Afrika is bra haastig om elke Amerikaanse tradisie, kultuuruiting en gewoonte ons eie te maak. Verlede Sondag was ek byvoorbeeld verstom oor al die “heksies” in gitswart, gewapen met besems, op die volksvreemde “Halloween-dag” in ons gholfdorp by Melkbos.
Hoekom begin ons nie liewer “Thanksgiving” vier nie? Dit is immers ‘n opbouende feesdag.
Dankie dat ek, ten slotte, ‘n ander gedagte oor “dankie” mag byhaal wat ek al voorheen hier en elders uitgespreek het. Dit is dat ons as klein bousteentjie aan ons taal ophou om oral en altyd vir anderstaliges “please” en “thank you” te sê. Kom ons kap daardie Engelse woorde uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê.
Diegene wat nie weet wat daardie woorde beteken nie, sal gou agterkom. Dit het ‘n vinnige eksperiment by ‘n winkelsentrum geleer toe ‘n Suid-Afrikaanse parkeerwag my “dankie” vir sy Zimbabwiese kollega vertaal. Toe hy snap, is ek met ‘n breë, hartlike glimlag beloon. (hvD)
Naskrif: Hemel, hier skryf ek ‘n lang blog oor “dankie” en die kardinale punt bly onvermeld dat die woord “dankie” een van die elf is wat tot dusver deur ‘n borg by die WAT vir R5 000 eksklusief vasgemessel is.
Nov 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Van die borg van woorde gepraat (vorige blog): ek sou reken vir die borg van die woord “koeksister” behoort bataljonne bevoorskote Suid-Afrikaanse vroue as aspirante op te ruk – elke denkbare vrouevereniging se lede, gemeentesusters, klubdames, gewone moeders, noem maar op.
‘n Koeksister is immers g’n hierjy-ding in Afrikaans nie. Die enigste monument is allesbehalwe daardie yslike ene in Orania. Ouetehuise, orrelgalerye, kinders se graadsertifikate … oral verkondig iets die eer van dié gevlegde soetigheidjie wat só welaangenaam die smaakkliere van soettande kan kielie (of hoe Oom Oubaas?)
Dalk is die woord “koeksister” wel geborg, die WAT (Woordboek van die Afrikaanse Taal) maak verstaanbaar net die uitverkorenes bekend waarvoor R5 000 opgedok is om hulle vir altyd en altyd eksklusief agter die naam te kan skryf, soos onder andere “Afrikaans”. Op daardie lysie van elf is “koeksister” nie.
“Skon” is wel. Waarom dié Skotse baksel – só gewild met ‘n skeppie room by alle Ingelse op aarde (en by ‘n klomp andertaal-praters ook) – enige Afrikaanse liggaam, instansie of individu dermate bekoor, is vir die uwe nogal ‘n raaisel.
Hy het immers nog grootgeword met die Hiemstra-istiese edik dat “skon” direk uit die Ingels kom – nare anglisisme! – en dat botterbroodjie die regte naam is vir daardie stukkie fyngebak wat saam met ‘n koppie Vyf Rose só voortreflik proe.
Maar geborg is hy, en geborg is “koeksister” nog nie. Geleentheid, geleentheid! “Opportunity knocks but once,” soos my wyle kollega Blaar Grobbelaar vir ‘n maer meisietjie met die bynaam Kierie vermaan het toe sy ons huilend die onwelkome attensies meedeel van ‘n lelike vent wie se onbekende gesig een oggend skielik in die bolig van haar voordeur verskyn het.
Dit nou maar daar gelaat. Eintlik wou ek net iets sê oor die Groot Elf, wat elkeen sy storie moet hê hoekom hy in daardie erelys pryk. Afrikaans is deur Afriforum ingekatrol en om klaarblyklike redes, soos ek in my vorige blog gemeld het. Solidariteit is seker op die lys met die komplimente van die gelyknamige organisasie.
Dagbreek – sou dit die Dagbrekers van Stellenbosch wees (daardie groot Matiekoshuis waarin groot geeste veral in hul eerste jaar tuisgegaan het) wat daarvoor verantwoordelik is?
Bemagtiging – ‘n mens kan interessant bespiegel, maar een ding is seker nie altemit nie: dis nie vrind Julius Malema wat die borg-geldjies daarvoor in harde kontant op die toonbank neergesit het het nie.
Die ander vyf op die lys is “dankie”, “vrede”, “hoop” en “waardes” (vier mooi woorde in Afrikaans, elk met ‘n prysenswaardige betekenis) en dan “sukkel” (‘n woord waarvan die teenwoordigheid in sulke hoge geselskap seker by elke mens onder die son uit eie ervaring ‘n meewarige deernis-glimlaggie sal uitlok.
Dat ek nou “koerant” en “joernalis” borg, het ek al deeglik oor gespog. (Vir die sertifikaat, klaar geraam, het ek vinnig plek gemaak teen “my muur” in ons woonkamer op Melkbos.) Wens werklik ek was so dik in die pitte dat ek my borgskap van R100 vir elk kon optop tot R5 000 – om dit vir altyd net vir myself in te palm.
Iemand weet nie dalk van ‘n goedgesinde iemand wat HvD met ‘n R10 000 of wat sal wil borg nie?
(HvD)