HOLTZEMFROMFLOPPEN

More uit Melkbos

‘n Tannie van Tshwane se frisheid bolangs was ‘n komplikasie vir die dokter wat ná ‘n motorongeluk plate van haar borskas wou neem. Ondanks die beste voorsorg is die eerste x-strale dof en uit fokus.

Oom Koekies haar man sit bekommerd eenkant. Hy word ingeroep – nie om die uitslag meegedeel te word nie, maar om te om te kom hand bysit. “Hou Oom hier vas,” beveel die dokter. “Dan neem ek die plate.”

Oom Koekies laat hom nie twee keer nooi nie. Toe die dokter aankondig hy is klaar, laat die gewillige assistent ook nie dadelik los nie.

Eers vorm sy lippe die woordjie “foei” — met groot deernis uitgespreek. Daarop kry elkeen van die omvangryke voorwerpe in sy hande om die beurt ‘n klapsoen!

Hierdie storie is bedoel as ‘n vrolike naskriffie by die vorige blog, Lamtietie, Damtietie (vermoed dis ook iewers in “Praat-praat in Tamatiestraat” opgeteken, en het regtig gebeur, met ‘n goeie vriend van my wat ‘n dokter was, toe ‘n politikus en nou weer ‘n dokter. Die “Tshwane”-element is sommer ‘n bietjie “camouflage”).

N.a.v. die blog oor oortolligheid het heelwat wyshede oor die onderwerp my ore bereik.

‘n Dapper vriend laat weet uit Namibië die fases van die vrouebors kan in terme van produkte beskryf word wat by die Fruit & Veg-winkel gekoop kan word: die suurlemoen die peer en die ui. Vir eersgenoemde twee het ‘n mens nie veel verbeelding nodig nie. Maar stadium drie? Dit is wanneer hulle ‘n mens net laat huil, waag hy!

Iemand diep op dat ek iewers aangeteken het (dalk toeka al in “Flaters en Kraters?”) van die student wat gevra is om die voordele van moedersmelk op te noem. Die eerste waaraan hy kon dink was: Dit kom in sulke mooi houers!

‘n Man stap by ‘n onderklerewinkel in en kondig aan hy wil ‘n mooi ietsie vir sy vrou koop. “Watter soort?” Nee, hy ken nie die verskillende soorte nie. Kan die vriendelike dametjie help, asseblief.

Die duisternis van groottes, vorms, kleure, style, pryse en wat nog word voor hom uitepak. Toe voeg sy by (en nou laat ek haar maar Engels praat, soos baie winkelmeisies in elk geval in die praktyk, omdat ek dalk sal sukkel met die vertaling):

“Actually, even with all of this variety, there are really only four basic types to choose from, sir: there are the Catholic, Salvation Army, Presbyterian and the Baptist types.

“The Catholic type supports the masses; the Salvation Army type lifts the fallen; the Presbyterian type keeps them staunch and upright; The Baptist type makes mountains out of molehills.”

Terloops, het u, soos ekke, al gewonder waarvoor staan die A, B, C, D, DD, E, F, G, en H waarmee bra-groottes aangedui word?

‘n Ingeligte verskaf flink die antwoorde. Party kan lekker in Afrikaans omgesit word, party nie. Ek hou maar weer by die Engels:

{A} Almost.

{B} Barely there.

{C} Can’t Complain.

{D} Dang!

{DD} Double dang!

{E} Enormous!

{F} Fake.

{G} Get a Reduction.

{H} Help me, I’ve fallen and I can’t get up!.

En die opskrif van die blog: wat sou daardie vreemde woord beteken? Dis glo ‘n diensbare, doeltreffende Duitse model: Holtzemfromfloppen – spreek dit stadig uit. (HvD)

LAM-TIETIE, DAM-TIETIE

More uit Melkbos

Wil nou nie ligsinnig wees oor ‘n saak wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, maar ek stem: dit moet sekerlik bra ongemaklik wees as twee gewigtige aanhangsels jou gedurig suidwaarts rem.

Alle simpatie dus aan die dame wat in Huisgenoot kla haar “enorme EE’s” het haar teen die grond, as dit ‘n gelukkige uitdrukking in die omstandighede is. Begrip vir haar eggenoot ook wat uit edel motiewe bly lottokaartjies koop om sy “Aspoestertjie” uit haar penarie – die as as’t ware – te help.

‘n Knap chirurg met ‘n kreatiewe skalpel is ‘n klaarblyklike antwoord. Die Bybel draai immers nie doekies om nie: as iets jou pla, kap dit af. Dalk help die rondborstigheid van die Huisgenoot-ontboeseming tog om ‘n paar randjies vir die begeerde chirurgie te in – niks betaal immers soos ‘n goeie advertensie nie.

Dat die dame kla, is nie onverstaanbaar nie. . Maar dames kan oor die omvang van hierdie aspek van hul lywe nogal wisselvallige voorkeure hê, lyk dit. Het “advokaat Barbi” nie juis haar onvoldoende vooruitstrewendheid tot geil dubbel-D’s laat opbou nie? Die verskil tussen dubbel-D’s en E’s is waarskynlik, raai ek, net ‘n aks of wat.

Ag, meisie, dalk moet jy tog maar vrede vind. Ons almal het maar hier en daar ‘n ietsie (of het dit nie) wat ons graag groter of kleiner sou wou sien.

En jy’s tog darem nie helemaal so uitsonderlik soos Huisgenoot dit laat klink nie, dink ek – sonder enige binnekennis van die saak. In die kerk gewaar ek gister weer ‘n plaaslike suster (nie aspris op haar gefokus nie!) wat onder haar trui tekens vertoon dat sy dalk die lint sou breek as julle tweetjies in ‘n borsslag-stryd neus aan neus by die wenpaal sou aankom.

In die Kabinet en ander hoëprofielposte – selfs kaalbors voor hutte in allerlei “traditional villages” waarheen toeriste met bewende kameravingers en bonsende harte stroom – sit waardige kandidate vir die titel “Boob Baby” van Suid-Afrika of iets. My idee is nie gepatenteer nie. Anders as ‘n Barbara Joubert-resep is dit beskikbaar vir enigiemand, sonder vermelding van bron.

Laat my nie afdwaal nie. Wou nog opmerk dat die sensus waarin oor alles onder die son intieme besonderhede ingewin is, prikkelende inligting sou kon oplewer as ‘n vraag oor keël-groottes ingesluit sou wees (let op die umlaut, asseblief, ooms wie se hande nou onwillekeurig opskiet adamsappel se kant toe). By Pep Stores en so aan word goeters bemark wat maklik vir hangmatte vir tweeling-babatjies verwar kon word. Pep gaan nie in vir produkte waarvoor g’n mark bestaan nie, glo hierdie verbruiker.

Met twee dinge oor hierdie swaarwigtige onderwerp het hierdien ou nogal probleme, en dit moet hy van die bors kry.

Die eerste is die vraag of dit regtig nuus is, selfs vir ‘n gesinstydskrif soos Huisgenoot wat hom uitgee as vennoot in alle verdrukkings, en wat oor uiters persoonlike kwessie soms verbasend openhartig kan wees.

Ek lees daar was ‘n onstuimige debat tussen die meisies met die groot borste en die meisies met die kleintjies by Huisgenoot oor die storie: of dit moes in of uit. (Dink skielik aan die susters met die groot koeke wat die susters met die klein koekies die jaar by die kerkbasaar die loef afgesteek het, maar dis ‘n ander storie.)

Hierdie sonder-borstige (wel, ook nie heeltemal sonder nie!) sou my in die betrokke debat aan die kant van die groot-borstiges geskaar het. Mamma se tieties is ‘n saak vir die slaap- en badkamer, nie vir nuuskierige oe nie.

Punt nommer twee: meisie, jou ligsinnige versugting oor kanker en ‘n mastektomie is werklik daardie goed wat jy in ‘n perdestal kry as jy daar gaan vye soek. Die Groot K is nie plastiese chirurgie nie, poppie, maar ‘n verskriklike, verwoestende, verminkende, lewensbedreigende siekte.

(Ek plaas nie ‘n foto hier van die oortollige bates nie. Wil nie Huisgenoot se outeursreg skend nie!)

(HvD)

KLINK ‘N CAP CLASSIQUE, OU MAAT!

Middag van hier onder die berg

Lesers van hierdie gereelde episteltjie uit Melkbos, doelbewus of per ongeluk, sal dalk weet dat ‘n heel omvattende versameling afbeeldings van Tafelberg in Van Deventer-besit is. Met onse berg nou in die hoogste gestoeltes, hoog op die lys van die wonderlikste wêreld-wondere, droom ek oor ‘n oornagse toename in waarde van daardie nimlike versameling aan spykers teen die mure.

(Almal droom natuurlik van die een of ander geldelike bonanza. ‘n Ander persoonlike droom is dat die uitsig uit my voortuin op die wonderberg die prys van my en Tokkie se kaia hier in Penguin Place sal opper en opper jaag. Vandag hier meer ter sake is egter die toename in waarde van daardie versameling.)

Mense, ek is so optimisties dat ek dalk meneer Stephan Welz moet oornooi vir ‘n eksklusiewe private beoordeling. Moet onthou om dit in die dagboek aan te teken.

Iets meer oor daardie versameling. Laas het ek gepraat van drie “olies”. Een sou tipeer kon word as die een met die raaisel-boom. Die tweede se kleure-seleksie kan ietwat verwarrend wees vir ‘n te werklikheidsgebonde siel. Die derde, onvermeld in hierdie ruimte tot dusver, is uit die dae her toe Blouberg nog net ‘n bekoorlike stippeltjie was. Konserwatief, selfs volgens my eie standaarde.

Daar is ook twee waterverwe: ‘n groterige wat ongelukkig deur die ongenadige Wetseson ietwat geraps is, en ‘n kleintjie, uit die “ateljee” van vriend en oud-kollega Pierre van Manen. Pierre, weet ek, sou ewe beskeie insluiting van syne bevraagteken. Ek hou egter daarvan. Dit hang geraam in ‘n berg-kompilasie in die ingansportaal, en ek sit dit sommer hierbo ook dat julle kan sien of julle met my saamstem oor die meriete of nie.

Hoe ook al, as die waarde van my belegging in verf en rame skielik dramaties sou vuurpyl, soos ek vuriglik hoop, sou ek ‘n aansienlik minder bekommerde pensioentrekker wees. Laat die markte dan maar bolmakiesie slaan. Laat Malema –menigtes dan maar opruk en opneuk soos hulle lus kry. Teen my mure hang immers dan my en Tokkie se vliegkaartjies Boston toe en dies meer vir repatriasie na die skone Cape Cod, speelplek van die rykes in Massachusetts in New England. Ons vlieg sommer besigheidsklas wat!

Vir wie sou ek dan moet dankie sê? Natuurlik vir almal wat so mooi aangesmeer en gekom het, soos Johan van Wyk sou sê, toe hier kort duskant die stemtellery ‘n bepaalde paniek rondom die welslae van die berg se kandidatuur ontstaan het. Wat ‘n eindpoging sien ons toe nie.

Op RSG hoor ek vaneffe ‘n entoesiastiese bydrae uit Brackenfell oor die laerskool aldaar se patriotiese magsvertoon om hierdie groot vis vir die Moederstad, by wyse van spreke, ingekatrol te kry. Een kannetjie het 4 000 stemme uitgebring, word uit Brackenfell gespog. In ‘n klassie met klas het ‘n hele falanks 1000-talle met stemme glo op die organiseerders gereën.

Hoera dan vir die fladderende vingers en ruim begrotings vir selfoonkoste van my landgenote, oud en jonk. Vanaand klink ek ‘n glasie Cap Classique (nee, nie sommer net my gewone Nuy Sauvignon Blanc teen net oor die R30 per bottel nie!) op die berg, op al sy lojale ondersteuners wat onvermoeid hul Blackberrys, Nokias en so aan laat gons het … en natuuurlik op my nuutgevonde groter finansiele onafhanklikheid – as dit maar sou verwesenlik. (HvD)

DIT REeN 11’s!

Middag uit Melkbos

Koes, mense, nou reën dit behoorlik 11’s!

Wat ek gemis het toe ek so hard gekonsentreer om die Canon se knoppie op die regte oomblik te druk, (foto in die blog hieronder) rwas nie net ‘n skerp fokus nie. Tom Ferreira, skerp oud-Volksblatter, laat weet as hy dit nie mis het nie, het die Proteas op daardie oomblik, 11/11/11/11:11, presies 11 nodig gehad om te wen.

Skote, Ferreira!

“Looks at the scoreboard”, soos Oom Boy Louw in ander verband opgemerk het. Ons was inderdaad op 11/11/11/11:11 125 vir een – en ons het 236 nodig gehad om te wen. Dus presies 111 lopies, soos Tom uitwys.

Daardie statistikus par excellence in die Rosestad, Frikkie van Rensburg (natuurlik nog ‘n oud-Volksblatter), kom met nog ongelooflike elf-stories vorendag.

Hy laat weet: om 11 minute voor 11:00 was die Proteas se telling 111 vir 1 (die sogenaamde Nelson waaroor oubaas David Shepherd MBE, een van die wêreld se voorste skeidsregters, altyd een-beentjie gestaan het as hy skleidsregter was.)

Om 11:01 het die telling tot 112/1 verander.

Op die tweede Nelson (222) het Hashim Amla sy paaltjie verloor. Toe was die telling 222 ( 2 x 111) vir 2 (2 x1).

Frikkie herinner my ook aan daai wonderlike eerste toets van die 1966-67-reeks, ook teen Australië, op die ou Wanderers in Johannesburg. Ek en hy (albei baie jonger en aansienlik maerder van lyf) was saam op die paviljoen en heelwat bier is oor die vyf dae se krieket in die warm Hoëveldse somer verorber.

Die Springbokke (hulle het eers later Proteas geword) is in hul eerste beurt in antwoord op die Aussies se meer as 300 vir knap oor 200 uitgehaal. In die tweede beurt het hulle ‘n skitterende 620 opgestapel.

Denis Lindsay (182) het amok gemaak. Ons het elke Lindsay-vier gesien en toegejuig. Barry Richards was ook ‘n held, en Eddie Barlow en nog ‘n paar. (Lindsay en Barlow is albei al dood – soos Dave Sheperd.)

Waar’s die dae, ou Frikman, waaar’s die dae! (HvD)

11/11/11/11:11

More uit Melkbos

Hoe’s daai vir ‘n ou man se vinger op die sneller?
Vir diegene wat nie krieket kyk nie: op die foto is die groot telbord op Nuweland.

(HvD)