Nov 23, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Indaba in Parys. Ek en wyle Steve Tswethe in ‘n ornate balsaal.
More uit Melkbos
In die wonderskone Parys aan die Seine lui ‘n kerkklok iewers aanhoudend in ‘n laaste vaarwel aan Danielle Mitterand (87), gewese presidentsvrou. In Suid-Afrika is Afrikaans-aktiviste Breyten Breytenbach en André P. Brink se gesigte op die voorblaaie weens vuurspuwende uitsprake op “Swart Dinsdag” teen die vryheid-skendende ANC-“regime”.
Eienaardig hoe die twee onafhanklike nuusgebeure saamvloei om die uwe se gedagtes 22 jaar tot einde November 1989 terug te lanseer – na ‘n indaba in die Paryse voorstad Marly-le-Roi, aangebied deur madame Mitterand onder die sambreel van haar Frances Liberté-beweging.
Thabo Mbeki en Trevor Manuel was twee van die sowat 25 van die latere ANC-leierskader wat teenwoordig was (‘n hele paar is al oorlede is, o.a. die wellewende Steve Tswethe van wie ek nogal gehou het.)
Die uwe het, ná ‘n nagvlug uit Johannesburg, vreemd en meer as net effens lugtig by die konferensiesaal opgedaag en is ietwat koelerig deur Breyten verwelkom. Ek onthou hy het daardie oggend swart gedra. Dit was egter geen “Swart Dinsdag” nie. Die man was in sy element. Sy swart rolnektrui was eenvoudig net modieus en klaarblyklik eksieperfeksie vir die Franser-as-‘n-Fransman-heer met sy Franse maniertjies en foutlose uitspraak, wat gedurig, soos ‘n skim, aan die gedugte madame Mitterand se sy was.
Konferensiegangers het oudergewoonte woes teen die “apartheidsregime” getier, ook mede-Afrikaanspratendes soos die intense André P. Brink, Max du Preez, Antjie Krog en wyle Chris (“Boetman) Louw, wat in minstens een gerugmakende Monitoronderhoud op die SABC geen geheim gemaak het van sy aversie in my “naiewe” politiek nie!
Vanoggend, 22 jaar later, word Brink oor die ANC se nuwe Inligtingswet soos volg aangehaal: “Bring die piesangs dat die bobbejane kan peusel.” Breytenbach verhef sy stem ewe skerp. Gisteraand betoog Du Preez op TV onder ‘n yslike swart hoed soos ‘n seilskip en verklaar stroef dit gaan nou erger as in die “apartheidstyd”. Hoe meer dinge verander, des te meer bly hulle dieselfde!
Maar terug na 1989. Later kon ek die konferensiegangers se aanvalle nie meer verduur nie. Ek het my hand opgesteek, en myself voorgestel as ‘n Afrikaner-Nasionalis wat De Klerk admireer. “Nee, aarde,” het ek gesê “julle is darem net te negatief.” Ek lig die verbaasde (en skeptiese!) groep toe in dat F.W. de Klerk se hervorminge na my oordeel “geen siniese oefening is om die een of ander strategiese voordeel te behaal nie. Dit het ‘n diep morele oorsprong en spruit uit ‘n toenemende Afrikaner-sensitiwiteit oor basiese regverdigheid. Die hervorminge laat De Klerk en die Afrikaner in die algemeen in hul eie gewetes gemakliker, omdat dit as strewe het om reg en geregtigheid aan een en almal in die land te laat geskied.”
Albie Sachs het later aan ‘n Volksbladman vertel sy redakteur het daardie oggend “man-alleen” gestaan. Dit is presies hoe ek op daardie oomblik gevoel het: man-alleen teen ‘n oormag. Maar Sachs het darem ook my optrede as “moedig” en “klaarblyklik goed ingelig” bestempel. Dankie, regter Sachs!
Die sosiale omgang het gou gemaklik geraak. Selfs vir die “vreemdeling in Jerusalem” uit die Vrystaat (en geswore Nasionalis). Daarvan getuig allerlei foto’s in my album: ek en Thabo in diepe gesprek; ek en wyle Steve omring deur die weelde van ‘n Franse balsaal; ek en Cheryl Carolus saam aan tafel by ‘n middagete; ek en o.a. Pallo Jordan (wat “Jan Pierewiet” so lekker kan sing!) en regter Albie die ene glimlagge op ‘n groepfoto, ek en Frederick Fourie op ‘n aandjie uit in Montmartre.
Buite die konferensiesaal, is hewig gekuier. Mbeki was een oggend te pê om ‘n afspraak in die Franse parlementsgebou na te kom. Die vurige Jay Naidoo moes instaan. Sjoe! Twee Suid-Afrikaners (laat hulle maar naamloos bly) het een laataand die bus terug na Marly-le-Roi verpas. Hulle kom in die vroeë ggendure per taxi aan. “Ry, ou grote, ry direk na Martie van Rooy,” het hulle die Galliese taximan gepor. Hy is direk na die regte bestemming!
‘n Ongemaklikheid was toe ons klomp ná ‘n dag se “beraadslaginge” vir ‘n deftige onthaal by die Franse premierswoning opdaag. ‘n Verpotte mannetjie wag ons by die deur in. Een van die Suid-Afrikaners eien hom as ‘n deurwag en prop sy baadjie in sy hande. Dit was nie die deurwag nie, wel die Franse premier, ontdek ons toe later oor die kaviaar en Dom Perignon!
By een van die vele vyfster-onthale van allerlei Franse kokkedore het ek en Mbeki soos ou vriende gekorswel. Sy chroniese kuggie was opvallend. Ek het my besorgdheid uitgespreek, en hy het gereageer deur terstond sy groen sigaretaansteker met die logo van Umkhonto we Sizwe vir my present te gee. Ek het dit nou nog, en steek my braaivleisvuurtjie daarmee aan die brand.
Max du Preez het gesien hoe die aansteker van eienaar verwissel. Hy het nader gestaan en geskerts hy gaan my by doeane verklap. Ek bring ‘n ontstekingsmeganisme van die ANC die land binne!
Tog snaaks né hoe ‘n relatief onbekende se dood as koppeling kan dien en ‘n mens se herinneringe op ver paaie kan aktiveer. Ai, Martie van Rooy ….
(HvD)
Nov 21, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Vyftig jaar en ‘n raps gelede was die woord ”gat” nog bra gewaagd in goeie geselskap.
In 1955 het Die Burger daarvan teruggedeins om die stout woord te publiseer in ‘n lekker versie van G.A. Watermeyr nadat die borselkop-Springbok Tom van Vollenhoven op Nuweland paaie om die rooikop-Ier Tony O’Reilly van die Britse Leeus gehardloop het. (Vollies het drie driee gedruk.)
Watermeyr se versie het gelui: “Van Vollenhoven die wilde vul/die rooikop-Ier se bitter pil/want nes O’Reilly aan die bal wil vat/ dan skuif hy gunter op sy gat. “
Die Burger het, uit goeie maniere, “gat” liewer met “blad” vervang.
Dubbelsinnige verwysings na die drieletterwoordjie het egter mettertyd al hoe meer ingeburger begin raak (sou ‘n mens kon sê). Iemand is in die openbaar ‘n slapgat of ‘n windgat genoem. ‘n Ou definisie van ‘n tuinslang is ‘n slapgat met rubber om. As slagspreuk vir Avbob is tot algemene vermaak aanbeveel: Koop jou gat nou en sien hom later. (Flaters en Kraters, HvD, Tafelberg 1996)
Selfs op Kabinetsvlak is op gat-vlak gekorswil. Piet Koornhof het Hendrik Schoeman gespot: Hy het met sy botter in die gat geval (na ‘n rusie oor botterpryse).
Die Burger het lesers ‘n skrale tien jaar na die beskroomheid oor daardie deel van mnr. O’Reilly se lyf verstom met ‘n opskrif: Ouderling in gat beseer deur latrine. Die besering het werklik gebeur – in ‘n gat. ‘n Ouderling van Lutzville was binne die gat wat hy aan’t grawe was vir ‘n nuwe latrine toe ‘n rukwind die sink-kontrepsie op hom omwaai. Sy ribbes was o.m. gebreek.
Gat (met sy vele verbuiginge) maak vandag sy buiging hier by “Op Melkbos” na aanleiding van nog n ‘n gewaardeerde stukkie saamgesels oor ons Skote Petoors-taal uit Swakopmund. Tom skryf: Wat ons Boere darem nie alles met die drieletter-woordjie gat kan aanvang nie! Ons almal weet dat gatvol sy Engelse eweknie met minstens drie lengtes klop, maar gatvol het ‘n kleinhuisie vol neefs en niggies.
Hier’s my lysie (ek is seker daar is talle meer wat my tans ontglip):
Bakgat Suurgat Windgat Vetgat Maergat Langgat Kortgat Skreeugat (soos my kinders was die eerste paar maande ná hul geboorte) Ougat Rykgat Armgat Drinkgat (soos in “hy is ‘n opperste ou drinkgat”) Klagat Slapgat Vuilgat Gatslag Gatsak Gatvlieg Banggat Gatgabba Gatsaag (‘n alternatiewe woord vir ‘n fiets).
Dat kan ‘n mens ook iets deur jou gat trek, jou gat sien, gat oor kop slaan, ‘n gat van jouself maak, iemand ‘n gat in die kop praat of met iemand gatskeer. En as jy poegaai is, hang jou gat of jou gat is lam.
Kan die Souties hiermee kers vashou? Watwou!
Tom laat weet in dieselfde asem twee van sy ander gunsteling-woorde is boeglam en poegaai.
Tokkie – die gedugte mev. Van D – het al heelparty woorde tot hierdie oefening bygedra, Tot dusver het ek hulle, op die beginsel van “gemeenskap van goedere” sommer as my eie aangebied. Hierdie dra egter so sterk haar eie stempel dat ek haar eienaarskap sal erken: Kat uit die boom kyk Koeitjies en kalfies Lepel-lê, Rienspring Rooihakskene.
O gaats …. Die blog word (al weer) te lank. Hierdie onderwerp is egter nog ver van uitgeput, vrees ek. (HvD)
Nov 20, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Of Superkok Sarel boerewors braai, vetkoek bak, souskluitjies optower of biltong maak, hy het altyd die een of ander spesiale doepa byderhand. Mapstieks man, sy padkos is iets uit ‘n ander wêreld. Selfs sy slaptjips is superieur.
Nee, hierdie blog gaan nie oor kos nie, wel oor Afrikaans, soos belowe. Die uitdaging wat ek wil stel, is vertaal daardie liplekker-inleiding in idiomatiese praat-Engels. Nie so maklik nie, né!
Al daardie woorde kom uit ‘n lysie van oud-kollega Tom Ferreira van Afrikaanse woorde en uitdrukkings wat hulle nie sommer so woerts-warts in Engels laat omsit nie. Dit, in reaksie op ‘n e-pos van ‘n stuk wat Irene de Bruyn vir die SA Klub in Perth geskryf het.
Irene skryf: “ Although I am now living in Australia, where English is the prevalent language, I still find myself using Afrikaans words and expressions, either because there are just no equivalents in English, or the Afrikaans version is so much more pithy. Often the Australians I speak to are intrigued by the words and find them expressive, even when I give them a censored translation of their meaning. (It depends on the company).”
Sy gee dan voorbeelde soos gril (nie ‘n “mixed gril”l se gril nie!) , sommer, bakkie (in die kombuis en op die pad), voetstoots, dwaal, gogga, moffie, gatvol, gat sien, donder, jol, muti en kak en betaal.
Ek het daardie stuk rondgestuur met die opskrif “Hoera vir Afrikaans!”
Tom se reaksie: Pragtig! ‘n Mens kan byvoeg ….. dan noem hy al die woorde in die inleiding asook onderonsie, dit gaan klopdisselboom, kierang, luilekker, ondeund, niksnut, bossie, fundi, eish, taboe, kweperlat, en aangrypend (“gripping” is nie naastenby so aangrypend nie). Hy voeg ook die klassieke strikvraag by: Hoe vertaal ‘n mens “die hond kruip onderdeur die tafel”?
Ferdie Preller, ou skoolmaat, dra uit Pretoria die volgende by: skuins (dalk “slanted”, “at an angle from”, ens.) drafstap/draffie (nie dieselfde as ”jog” jnie), slenter (werkwoord en naamwoord) , bont/ rooibont (“red speckled”?), randjie (“ridge”, “hill”?) en vaal (beslis nie “grey” nie, nie dieselfde as “drab” nie, dalk iets tussenin.)
Eric Wiese, ook ‘n oud-kollega noem die woord vaak. “Lekker woord. ‘n Kind is vaak. Dis nie “tired” nie, dis nie “sleepy” nie. Dis vaak.” Aldus Eric.
Suné Greeff, mede-Sabiepark-eienaar, se bydrae is die woord bolangs, soos in bolangs skoonmaak.
Verdienstelike pogings die hele lot, meen ek. Ek beveel almal graag aan vir die lys wat iemand iewers skynbaar besig is om op die internet saam te stel en waarop tot dusver o.m. die volgende verskyn:
Van Irene de Bruyn self: jou bliksem, wag ‘n bietjie, nie so haastig nie, sakkie-sakkie, ou swaer, ja-nee, doedoe en doeks.
Van ene Rosie: naar (letterlik “bilious” maar ook “horrible”, “nasty”, “terrible” ens.), tjoepstil, moerse, morsdood en vrot.
Van ene Gavin: drol (“turd”, soos in daar’s ‘n drol in die drinkwater – “a turd in the drinking water”)!
Die uwe gooi graag ook ‘n paar in die pot. Sommer in die bondel is my kandidate: bleeksiel, wasbleek, wiktgeskrik, doodmoeg, potblou, hemelsblou. muisvaal, skreeulelik, spiertier, penorent, koekerig, rot en kaal, oumeide met knopkieries, op die koffie en pimpel en pers, plus ‘n paar uit die natuur: duiker, wildebees, klipspringer, kruidjie-roer-my nie, haak-en-steek en piet-my-vrou.
Kan nie al wees nie, kan dit? Lekker speel met jul eie lysies! (HvD)
Nov 19, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
‘n Joernalis se gevoeligheid vir sy lesers en vir dinge wat hul hartsnare sal aanraak, verklap sy of haar stoffasie. Party het daardie spesiale aanklank. Ander het dit eenvoudig nie. Een van my generasie wat dit gehad het, is Johan van Wyk. Een van die huidige generasie wat hiermee uitmunt, is Dana Snyman.
Sy Burger-rubriek in netjiese Engels om Engelse oor die vingers te tik oor hul onwilligheid om Afrikaans te praat, was weer ‘n Dana-treffer. Ditsem, Dana, hoor jy uit alle oorde. Ander rubriekskrywers klim ook in, sien ek. Dis ‘n groot kompliment. Gewoonlik wil elkeen sy of haar eie ding op sy of haar eie manier doen.
Dana slaan natuurlik die spyker kadoef op die kop – maar ek wonder of ons Afrikaanspraters nie gerus maar in ‘n groter mate hand in eie boesem kan steek nie. Is die hele skeefgetrekte praatpatroon in ons land nie maar grotendeels ons eie skuld nie? Ons laat ons Engelse landgenote immers begaan in hul dwarsheid. Ons slaan alewig oor in hul taal. Ons laat toe dat die teenwoordigheid van een van hulle ons so intimideer dat ons met mekaar “is” en “are” en “have” en “has” selfs wanneer dit nie regtig nodig is nie.
Mense, ons goeie maniere/bedagsaamheid/hoflikheid kos ons duur. Dit word skynbaar as ‘n kruiperige soort minderwaardigheid beskou. Dit word opportunisties misbruik en uitgebuit om ons “hairy backs” op ons plek te hou.
Wens iemand wil ‘n kampanje begin om die onding uit te roei. Ons moet vasbyt en Afrikaans bly praat met mense wat Afrikaans behoort te verstaan. Ons moet Afrikaanse gesprekke rustig in Afrikaans bly voer as die meerderheid in die geselskap Afrikaans verkies. Ons sal sien hoe vinnig sal ons die styfste van stywe bolippe laat skeef opkyk.
Op my lysie is vyf of ses voorkeurkandidate wat ek graag sal wil skud deur nie, soos hulle al gewoond geraak het, my beste Engelse voet voor te sit as hulle in die nabyheid is nie. Maar, alla kragtie, wat is dit dan dat ek so huiwerig is om hierdie stuk broodnodige “regstellende aksie” dadelik aan te pak?
Dis pure vrotsigheid waaroor ek my in my binnekamer skaam, vrees ek.
Naskrif: In private e-pos-korrespondensie het verskeie vriende hulle die laaste paar dae verkneukel oor die lang lys Afrikaanse woorde wat ‘n ding pront, kort en kragtig, skerp en treffend kan sê terwyl jy in Engels sal moet rondtas na ‘n omhaal van woorde om naastenby dieselfde oor te dra. Juweeltjies het na vore gekom. Volgende blog gaan weer oor ons besonderse taal, waarop ons gerus maar trotser mag wees as wat uit ons kop-onderstebo-igheid blyk.
Nov 17, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Praat van ‘n ouma wat haar ”moer gestrip” het, en in die verbeelding duik prentjies op van tantes met gevaarlike voorkomste wat woes slaangoed soos knuppels, koekrollers, sambrele met skerp punte en besemstokke swaai, terwyl ‘n stroom onplesierighede deurentyd deur dun lippe gesis word.
Vele variante van moerige oumas kom in my ervaring (as waarnemer sowel, helaas, as slagoffer) voor. Die wapen van botte stilte gekoppel met ‘n verpletterende kyk van afkeuring is, sonder om gesinsgeheime uit te lap, vir my nie vreemd nie.
Sondag in Rapport is ‘n ander vorm van ‘n ouma se gebrek aan ingenomendheid weerspieël. Marie Heese gryp die wapen van die rapier-pen, en klim oor sy uitsprake wat haar nie aanstaan nie, met druppende sarkasme en skaars verborge minagting in onder die jeugdige professor “Peertjie de Vos” van Ikeys, wat sy mond vol het ook oor Afrikaans op Stellenbosch.
“Hoekom moet ek stilbly as ek betig en beledig word deur ‘n akademiese liggewig wat nie eens sy werkwoorde kan regkry as hy beterweterig in Engels probeer skryf nie? (‘Taalbulle’ argues …sic),” stoom sy.
Hoekom inderdaad, ouma Marie! Nee wat, sê die kêreltjie, “tells him his fortune”!
Kwaai oumas kan soms verrassend/ontnugterend kreatief hul wrewel uitleef. Uit Australie, dink ek, kom die storie van die ouma wat ‘n skietding uitgedolwe het en die orgaan van ‘n kleinkind se vryer vol lood gepomp het (lood in sy potlood!). Uit die Wes-Rand is ‘n slag gerapporteer van ‘n ouma wat langs ‘n rugbywedstryd vir kannetjies so gefrustreerd geraak het dat sy toe die fluitjie uit die verpotte skeidsregter se hand pluk en skril in sy oor blaas. Die drommel – “arm man se Bryce Lawrence” as’t ware – is inderhaas met ‘n gebarste oortrom na ‘n oor-, neus- en keelarts gejaag, en die wedstryd is as onvoltooid in die rekordboeke aangeteken.
‘n Inspirerende storie oor ‘n ouma, vol woema het my oud-kollega by Beeld, Piet Muller, ‘n keer in sy rubriek Flitslig in ‘n generasie gelede se Rapport vertel. Ek het hom gegaps vir my destydse boekie met koerantstories, Flaters en Kraters.
Piet het vertel: Die ouma was nooit baie ingenome met die kêrel nie. Sy’t gedink hy is ‘n tang en dat haar kleindogter veel beter verdien.
Toe die dogter op ‘n dag huil-huil by die huis aankom (oor ‘n ietwat roekelose grensverskuiwing in sy inwyding van haar in avontuurlike seks of iets, dink ek) was ouma op die daad die bliksem in.
Sy het op haar Harley-Davidson gespring en brullend na sy huis gejaag. Die vryer het op sy beurt al van ver af die dreigende Harley hoor aankom en, wyslik, onder die bed gaan wegkruip.
Sy huismense wou nog mooipraat, maar die ouma het die voordeur opgeskop, die kerendes uit die pad geveeg en die verskrikte ventjie met die jeukende toerusting onder sy bed opgespoor. Toe pluk sy hom aan sy hakskene uit, dop hom net daar om en gee hom die pak van sy lewe.
Alles natuurlik met gepaste kommentaar in gevatte Afrikaans, deurspek met die soort woorde wat omgekrapte gemeentelede gebruik as dominee nie in die nabyheid nie. Hy sou nie sommer weer te voor op die wa raak voordat Ouma onder die kluite is nie!
Dan het ek ‘n vae rekolleksie van ‘n ouma wat, onder die wanindruk dat haar motortjie in ‘n stedelike parkade gekaap word, die wettige eienaars van ‘n soortgelyke model oorval, vervaard uit hul ryding geboender en skarrelend te voet op die vlug laat slaan het. Ek is die laaste ou wat die vergeledingskapsaiteit van ‘n veronregte ouma sal onderskat, maar dit wil-wil darem vir hierdie ou net-net na ‘n te vergesogte storie klink! (HvD)