Oct 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Piet Botes van Paul Roux
More uit Melkbos
Die belofte was om na die ernstigheid van die “langboompie”-blog en die mymeringe oor die Byl se bedrywighede in ons bos – in ons ry in die bos, verbeter sommige – vandag “iets vroliker” hier neer te pen. Maar soos die lappie nou maar rafel, ontbreek die stemming vir die pleeg van ‘n vrolikheidjie vanoggend, ondanks ‘n helder blou lug, die gemoedelike geluid van brekende branders en Desmond Tutu se woedende irritasie met die Zuma-regime, waarmee hier in Penguin Place 11 van harte simpatie bestaan.
Omtrent die snaaksste van die afgelope 24 uur vir hierdie geboeide waarnemer van mense en dinge op hierdie ondermaanse is die stommiteit van daardie slim Regeringswoordvoerder wat verontwaardig op TV volhou ‘n visum is nie vir die Dalai Lama geweier nie, dis nog onder oorweging; dit is dus die geestelike wat die appelkar omgesmyt het om sommer net sy reis af te gelas.
Op deeske aarde! Hoe moes die arme oubaas betyds hier kom vir sy Nobelgenoot se verjaardag-fees? Al is die Dalai Lama in die oë van die Chinese ‘n duiwel, reis hy darem nie, soos ‘n hipermoderne heks of ‘n ding, op ‘n turbo-besemstok wat die ruim teen ‘n asmrowende snelheid vinniger as lig deurklief nie!
Maar ek het mos al klaar oor die visumdebakel keel skoongemaak. Soek ‘n ander onderwerp, HvD!
Nou maar goed. Dalk is dit nou die aangewese tydstip om ‘n storie hier te vertel wat ek op my reis deur die Vrystaat in die winter by Tokkie se neef Piet Botes op Paul Roux verneem het. Piet is ‘n man van vele stories, die meeste met ‘n ruim knypie speserytjies opgedis.
Hierdie ene is van ‘n ryk Vrystaatse boer – naam nogal hoogs bekend in die geledere van die beestelers – wat een aand na ‘n lang, gesellige kuier en vele lafenisse vir die keel deur die drang gepak word om onmiddellik water af te slaan. Die straat is stil en in ‘n donker kolletjie- na sy oordeel – maak hy sy plassie.
Maar dit was nie donker genoeg nie. Een van die dorp se enkele polisievangwaens kom om die hoek gesny en betrap die boer “red-handed” soos die Engelse sê – met die getuienis in die hand as ‘t ware. Dadelik word hy gegooi met al die wette wat deur so ‘n skandaligheid oortree word en al die boetes en dinge wat op die skuldige wag.
Hy kry op die daad ‘n boete van R50 (goeie ou dae toe R50 nog R50 was) weens openbare onsedelikheid.
Volgende dag is hy by die hof se toonbankie met die bekende halfmaan-venster waar agter ‘n klerk die kontant van dese en gene insamel wat met die gereg in botsing gekom het. Onse boer oorhandig sy boetepapier en R100. Die R50 kleingeld wys hy hoflik van die hand.
Krisis! In geen handboek van pennelekker-edikte word vir oorbetaling van ‘n boete voorsiening gemaak nie. Die boer hou voet by stuk. Hy wil R100 betaal. Hoër gesag word ingeroep. Dié verduidelik ook hoflik maar ferm aan die onwrikbare boer sy boete is R50; daarom mag hy net R50 betaal en basta.
Wat sou die rede vir die ekstra R50 wees tensy die boer ‘n onheilige geheime agenda het, bv. omkopery, behoede dit! ”Nee,” volhard die boer, hy’t g’n geheime agenda nie. Hy wil ook niemand omkoop nie. Hy voel net in alle billikheid behoort hy R100 te betaal, nie R50 nie.”
Toe al goed moedeloos, probeer die verwarde amptenaar vir laas: “Maar, hoekom dan, meneer?”
“Omdat ek, wat julle nie weet nie, nie net in die straat ge-piepie het nie. Ek het gep..p ook!” (HvD)
Oct 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Ek en Alf Ries by ‘n vuurtjie in Sabiepark – die illustrasie by my blog van vier jaar en iets gelede.
More uit Melkbos
Met vier-jaar-intervalle pak die jeukerige drang my om sulke morbiede sommetjies te maak soos in die blog hieronder, Langboompies toe. So lyk dit.
Toe ek terugblaai deur die sowat 700 blogs sedertdien, kom ek af op my geskrif van 21 Februarie 2007 op hierdie einste Yahooblog by www.hennievandeventer.com/hvdblog. Sy opskrif was, nie verrassend nie: Byl in my bos. Dit is ook die titel van my boekie oor allerlei heengeganes, wat in 2009 by Griffel Media verskyn het. (Reklameflits: ek glo “Byl” is nog wyd beskikbaar!)
Een kommerwekkende aspek van die ou en die nuwe blogs is dat die statistieke nogal sterk verskil. In die nuwere weergawe is die persentasie kruisie-mense in elke kategorie ongelukkig aansienlik groter.
Kom ek herhaal daardie blog hier vir diegene wie se belangstelling voldoende geprikkel is om op ou voetspore saam met my terug te loop:
“Het iemand iets gese van die byl in ons bos?
“Tokkie se ek raak morbied om telkaart te hou, maar dit skud nogal as 20-stuks van jou nabye vriende gelyktydig onder mediese sorg is. Die laaste week of wat was nie minder nie as ses in die hospitaal. Vier het oorvleuel.
“Dis hart, kanker (prostaat, o prostaat – maar ook nie net prostaat nie), longkwale, beroertes, mantelvliesbreuke – selfs ‘n blinderderm wat op die rype ouderdom van 67 bars. Nie eens geweet die ou dermpie is op daardie ouderdom nog operasioneel nie!
“Kan maar net vir al hierdie ongestelde vriende en vriendinne aanspoor: byt vas! Hopelik skyn die son gou weer helder.
“Op die foto hierbo is kollega Alf Ries saam met my by ‘n kampvuurtjie in Sabiepark. Dit was Alf se laaste besoek – maar ons het dit in daardie stadium nie eens vermoed nie. Tot 1 Januarie 2006 was hy perdris. Op 1 Januarie 2007 was sy kersie gedoof – nog ‘n slagoffer van die groot K.
“Met Alf het ek ‘n lang pad saamgeloop, van 1963 toe ek my as groentjie by die Persgalery in die Parlement aangemeld het. Alf het my rondgewys en my touwys gemaak. Wat ‘n eersteklas-joernalis was die klein kereltjie nie! Toe kom maak jong bulletjies politieke omstredenheid rondom sy dood. Dit was bedenklik. Kom ons los dit maar daar.
“Nog ‘n oorledene van 2006 was Ganga Pillai, die eerste van ons klas Nieman Fellows van 1976/77 wat groet. Ganga was ‘n Maleisier. In die jare dat ‘n Afrikaner in die liberale akademiese kringe van Harvard nie altyd populer was nie, was die ou kalm grote uit Koeala-Loempoer ‘n steunpilaar.
“Jare later het ons twee ons eie klein reunie-tjie gehad in Hong Kong. Hy het spesiaal oorgevlieg toe hy hoor ek gaan daar wees. Hy het ‘n pewter-vaas as afskeidsgeskenk aangebied. In ‘n briefie daarby het hy in sy kunstige handskrif geskryf: ‘The presence of this vase in a South African home should at least symbolise a common thread of humanity that transcends political barriers.’
“Hier op Melkbos treur ek oor ou Ganga – soos ek oor Alf Ries treur. Ek sal albei onthou as lewende voorbeelde van daardie ‘common thread of humanity’ waarna Ganga verwys het.
“Van reunies gepraat: in September vanjaar trek ons Volkie-matriekklas van 1957 op Potchefstroom (Tolwe/Tokwe?) saam vir ons “goue bruilof” – 50 jaar later. Daaroor gaan ek weer skryf. Dit was nogal ‘n klas om iets oor te skryf, hoor!
“Nou in hierdie stadium, met HvD in ‘n morbiede bui en die tema van vandag se bloggie wat dit is, is een feit egter relevant: dis dat minstens 13 uit die 80 nie meer met ons is nie. Dis oor die 16 persent. Ons sal ‘n heildronkie moet drink op die afwesige vriende.
“Die boodskap van alles is duidelik. Ons bos kom toenemend aan die beurt. So van 65 af kom die kwesbaarheid – vir sommige gouer, vir ander later, selfs baie later. Laat ons nie onverwags betrap word nie. Laat ons ook nie tyd verspil met allerlei sorge en swaarmoedighede nie.
“Laat ons voluit leef, en die tyd wat ons nog beskore is, ten volle geniet. Dis ‘n grenslose voorreg en genadegawe.”
Ek wil graag daardie laaste twee paragrafies onderstreep. Na ‘n entjie meer as vier jaar weerspieel dit steeds presies wat ek oor die onderwerp op die hart het. More skryf ek oor iets vroliker. (HvD)
Oct 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Veertien jaar later is 40 persent dood.
More uit Melkbos
Dis puur en simpel ‘n nare gewoonte om op ou foto’s te tel hoeveel gesigte al weg is langboompies toe.
Op 70-jarige leeftyd raak die kappery in jou bos bepaald onheilspellend. Moenie na jou eie baba- en kleuterforo’s begin kyk nie – dan skrik jy oor hoe allenig jy op hierdie aarde oorgebly het!
Selfs van my matriekklas, die kalwers van 1957 by Potch-Volkies, is seker al goed ‘n kwart van die 81 reeds oorlede. Veral na 2007 toe ons goue jubileum gevier het, is die ou bome vinnig omgedop.
Om die een of ander rede ag ek dit my somber plig om as ‘n soort nie-amptelike scriba my klasmaats oor nuwe sterfgevalle ingelig te hou. Op dié manier is selfs ‘n premature doodsberig oor ‘n meisie in ons klas, later die vrou van ‘n LV, al van my rekenaar af na vele ander skerms versprei.
Toe dit blyk dat my bron ietwat oorhaastig en dus onbetroubaar was, was ek natuurlik verleë, maar darem ook dankbaar dat dit een tydgenoot minder is voor wie se naam ‘n kruisie moet kom.
Hoekom dié onderwerp? Om die waarheid te sê omdat ek myself nie kon keer om te begin tel nie op die foto van die Suid-Afrikaanse Niemans wat in 1998 by Harvard die Goue 50 van die Nieman Foundation in Cambridge, Massachusetts, gaan vier het. Daardie foto was op 1 Oktober op my blog by die storie oor Zwelakhe Sisulu – een van ons.
Van die veertien op daardie foto (nommer 15 is ‘n Amerikaanse polisieman) is werklik ook al ‘n derde heen. Die vyf oorledenes is Aubrey Sussens, Tertius Myburgh, Louis Louw, Alf Ries, en Obed Kunene. Die prentjie is eintlik nog leliker. Van die eerste 25 Niemans (van 1961 af tot 1983 – enkele jare was daar meer as een) is 11 se kersvlammetjies al geblus.
Dit is natuurlik bogenoemde vyf plus Lewis Nkosi, Robert Steyn, Nat Nakasa, Percy Qoboza, Donald Woods, Aggrey Klaaste en Ameen Akhalwaya. Dit maak sommer ‘n diep snit in die hegte groepie wat in die goeie ou dae altyd elke jaar, danksy die gasvryheid van ons sogenaamde “Godfather”, Aubrey Sussens, in ‘n casino in ‘n buurstaat gaan “konferensie hou” het
Vandag se foto is geneem by die feesdinee die aand van 5 Mei 1998 in Harvard se enorme Memorial Hall. Die gesigte behoort aan die vyf Naspersers wat, danksy die direksie se vrygewigheid, destyds die verrigtinge saam met hul gades kon bywoon – ‘n fees.
Van die tien mense op die foto is vier oorlede: Alf Ries en sy eerste vrou, Maggie, Ton Vosloo se eerste vrou, Lorna, en Louis Louw van Die Burger. Veertig persent. Maar dat die syfer nie hoër is nie, is dalk eerder iets om oor dankbaar te wees.
Ek gee gewoonlik vir my vrou, Tokkie, ‘n eerste loertjie in ‘n nuwe blog. Met hierdie een gaan ek dit nie doen nie. Sy sal ongetwyfeld daardie onmiskenbare misnoegde trek op haar gesig kry as sy nie hou van wat ek doen nie, en ek weet sy hou niks van hierdie morbiede gewoonte nie.
Maar nou het ek my optelsommetjies gedoen en nou weet ek. Nou’t ek weer rus vir ‘n rukkie. Rus julle ook in vrede, kollegas – vir altyd. (HvD) .
Oct 2, 2011 | Hennie van Deventer se Blog


HEELBO: Jacko en Tokkie. ONDER: Barbi. Die foto’s is by ander okkasies geneem.
More uit Melkbos
Was gister by ‘n “verskriklike” verjaardag.
Verskriklik lekker, ja. Verskriklik stylvol. Verskriklik onthoubaar o.m. weens die kwaliteit van die toesprakies.
Hier gebruik ek egter die woord “verskriklik” in ‘n ander sin. Dit is die woord wat die verjaardagman op sy uitnodiging gebruik het – omdat hy 75 geword het en die gedagte (skertsend) onuitspreeklik gevind het. Darem net laat glip dat hy in 1936 gebore is. ‘n Mens hoef nie ‘n sompompie nader te trek om te bereken hoeveel jaar tussen 1 Oktober 1936 en 1 Oktober 2011 lê nie.
Die man ter sprake is Jacko Maree, oud-LV, gesoute prokureur en sakeman, kenner van die WVK (almal hoop hy gaan nog sy kennis in ‘n boek verewig) en bekwame, toegewyde stryder vir Afrikaans by sy alma mater, Stellenbosch, waar hy jare in die universiteitsraad was. (Blykbaar ook ‘n sieraad van ‘n eggenoot, aldus mev. Maree.)
Heildronke is ingestel deur die akademikus-skrywer Herman Giliomee, oud-administrateur van Natal Con Botha en politikus André Fourie – almal silwer tonge wat humor en erns sinvol kan sinchroniseer. Die seremoniemeester was Jacko se vrou Barbi. Met haar bekoorlike Duitse aksent en welsprekendheid was haar bydrae dalk nog die onthoubaarste!
Gaan nie lang stories maak nie. Herman Giliomee vertel in een asem van Jacko se selfvertroue en in die volgende asem hoe hy as heelagter vir Maties se eerste span ‘n hoë lugskop moes trotseer terwyl Worcester se gedugte pak voorspelers dreigend op hom afstorm. Net voordat hy sy arms om die bal moet vou, skree iemand: ”Mis!”. Toe gehoorsaam Jacko!
Maar luister nou hoe die man terugkap. Herman onthou daardie insident so goed omdat dit die enigste keer is in twee jaar dat hy die bal misgevat het, antwoord Jacko toe. Dis nou selfvertroue!
Aan tafel vertel ‘n ander kollega van Jacko in die ou Volksraad, Piet Welgemoed, van Jacko se aspirasies as rugbyskeidsregter. Na sy eerste wedstryd, hier in die vyfde, sesde liga, sê die verloorkaptein vir hom: “Moet jou gelukwens. Jy is die eerste blinde sonder ‘n hond wat ek sien.”
Ek maak mos maar graag rympies oor dit en dat. Het ook my hand aan enetjie gewaag oor Jacko se “verskriklike” 75. Hier volg dit:
Jacko 75 – ‘n geleentheidsversie by die “verskriklike” verjaardag van Jacko (ook uitgespreek Djak-ou) Maree:
Ons drink ‘n heildronk,
‘n heildronk:
‘n heildronk op “Djak-ou”,
op “Djak-ou”, daai bak ou –
n wys ou, ‘n grys ou,
‘n ou propvol vonk;
al sy vriende wat heuglik
aan die heildronkie teug,
bewonder die donder
vir sy ewigdurende jeug!
Hennie van Deventer
Vir Saterdag 1 Oktober 2011
Geluk Jacko. Vir jou en Barbi: Lank mag jul lewe. Dit kom nie net oor die lippe nie – ook uit die hart.
(“Ewigdurende jeug”? Wel, meer as een vrou het verklap sy wou vir hom ‘n 70-kaartjie gekoop het!)
(HvD)
Oct 1, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Zwelakhe Sisulu (regs van die polisieman) by die Nieman-fees in Cambridge, Massachusetts. Die uwe is heel links.
More uit Melkbos
Soveel rampspoedighede word deur die post-apartheid-regime van Jacob Zuma en sy trawante gepleeg dat ‘n kritikus soos die spreekwoordelike muskiet in ‘n nudistekamp voel. Hy weet presies wat om te doen maar hy weet nie waar om te begin nie!
Hoe ook al, vandag wil ek begin en eindig met een kwessie, seker nie die gewigtigste en brandendste nie, maar bepaald ‘n steurende ongemaklikheid en buitengewoon aktueel. Dit is die voeteslepery met ‘n visum vir die Dalai Lama, geestelike van Tibet.
Mense, dis ‘n onskadelike oubasie wat maar net na die land wil kom om sy vriend en mede-Nobelpryswenner Desmond Tutu se 80ste saam met hom te kom vier.
Die ANC-regering reageer met pynlike lompheid. Hy is soos ‘n trapsuutjies op ‘n hoop hoendereiers uit vrees dat hy sy weldoener en vriend, die reuse-China, aanstoot sal gee. Die land van menseregte, met ‘n grondwet uit die hemel – so hoor ons tot vervelens – deins terug om die klaarblyklik regte ding te doen uit politieke dienstigheid.
Hy klap ‘n bondgenoot soos Tutu – vader van die WVK en ‘n Suid-Afrikaner van hoë internasionale aansien – in die gesig omdat hy na die pype van Baas China wil (moet?) dans en nie die morele moed het om te sê “gaan bars” nie. .
“Big Brother” – hier’s hy in aksie!
Wil nie lang stories maak nie. Maar voel moedswillig genoeg om in die perspekltief van die Dalai Lama- situasie weer die storie te vertel van Adriaan Vlok en Zwelakhe Sisulu, wat in my loopbaanboek Kroniek van ‘n Koerantman opgeteken is.
Kom ons draai die horlosie ‘n jaar of tien terug. Die NP het nog met ‘n ysterhand regeer.
In Mei 1989 sou die Nieman Foundation by die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, sy 50-jarige bestaan feestelik vier, en die Suid-Afrikaanse Nieman Fellows, van wie ek ‘n trotse een is, sou soos een man na die verre alma mater opruk.
Een problem: een van hulle, die nimlike Zwelakhe, broer van Max en Lindi, was in die tronk weens “ondermynende politieke bedrywighede”. Negentien maande al. Sy afwesigheid in sulke tergende omstandighede sou beslis ‘n skadu werp op Suid-Afrikaanse deelname aan die Nieman-fees, het ons almal besef.
‘n Komitee, waarvan ek een was, het aan die Regering bly karring, sonder veel welslae. ‘n Openbare protes is selfs in ‘n stadium oorweeg onder aanvoering van twee senior Engelse redakteurs, Richard Steyn en Allister Sparks (die nimlike).
Toe kom besoek Adriaan Vlok, Minister van Polisie, die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond waarvan ek bevoorreg was om lid te wees (‘n Broer, ja, en sommer ‘n yslike ou knewel van ‘n Broer!).
Ek vat vinnig die gaping. Ek vertel die hele storie en spreek die vrees uit dat van Sisulu nog ‘n martelaar gemaak word soos van Steve Biko.
Ja, hy weet van die Niemans, antwoord Vlok. Gee hom kans om ‘n bietjie te kyk wat gedoen kan word. Twee weke later was Sisulu uit die tronk. Hoewel hy ingeperk is, het die Regering ook reisdokumente uitgereik sodat hy na Harvard kan reis.
Toe Sisulu – later baas van die SAUK en nou skatryk sakeman, – die aand van 5 Mei by die groot Nieman-dinee in die ornate Memorial Hall onder ‘n gejuig arms-omhoog instep, kon ek kwalik ‘n glimlag verberg oor die vermaledyde AB se rol in hierdie “triomf”.
Ek dink nog in welbehae aan daardie oomblik, maar ook in dankbaarheid aan Adriaan Vlok wat verstandig genoeg was om die regte ding te doen.
Nou-ja. Adriaan Vlok, is ‘n man wat later onder andere Frank Chikane se voete gewas het. Kan nie juis dink dat van die ANC-leidsliede ooit die inklinasie sou kry om wit voete te was nie! (HvD)
(Naskrif: Dankie aan my vrou Tokkie wat my geheue oor hierdie insident opgeskerp het. Skerp, Tokkie, skerp!)