Oct 11, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
‘n Gryse volbaard was so tien jaar gelede een vakansie deel van my “bos-uniform”. Avontuurlike vriende het allerlei skalkse opmerkings gemaak oor ‘n ooreenkoms in voorkoms met die AWB-leier, Eugène Terre’Blanche, wat hulle sou bespeur het.
Na aanleiding van twee berugte Terre’Blanche-insidente van daardie tyd – die keer toe hy in Pretoria van sy perd geval het en die keer toe ‘n groen onderbroek in ‘n sappige storie ter sprake gebring is – het oud-kollega Pierre van Manen vir my laat weet: “As jy ‘n perd het, ek het vir jou ‘n stukkende groen onderbroek!”
Pierre se spitsvondigheid het my maar wrang laat glimlag – daardie mede-oud-Volkie was nie juis vir die uwe ‘n politieke rolmodel nie! (Terloops ander bekende politici wat daar langs die Mooirivier op Potchefstroom matriek geskryf het, was o.a. Pik Botha, Ferdi Hartzenberg, Louis la Grange en Hilgard Muller – “rather an odd lot”, sou my Engelse buurman in Randburg, Niel, opmerk.)
In Bloemfontein, in die onstuimige politieke jare 80, is my lewe deur AWB-kornuite nogal vergal. Doodsdreigemente en nagtelike oproepe elke liewe nag was soort van alledaags. Soggens in die donker het ek maar koes-koes oor Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) gedrafstap wetende dat ‘n Kriel-kêrel wat homself die Wit Terrorris genoem het, my elke beweging uit sy woonstelvenster kan bespied.
Hy het spesiaal oorkant Die Volksblad se gebou ‘n holte vir sy voet kom vind om ‘n wakende oog oor hierdie ou sondaar te hou. En ek ly nie aan vervolgingswaan of iets nie. Dit staan uit Kriel se eie pen swart op wit. Maar dis nie vandag my storie nie. Goeie aarde, die stryd van die 80’s is gelukkig lankal verby.
Wil net dat mense verstaan hoekom ek self verbaserig is om my rondom die rapportering in die verhoor van Terre’Blanche twee verdagte moordenaars op die plek te bevind waar ek wel my bevind.
Ek het gisteraand al op Facebook geskryf en wil dit ook hier van die hart kry dat die SABC se berig op sy sewe-uur-nuusbulletin veral buitengewoon diabolies was. Streng gesproke is dit minagting van die hof om bewerings in getuienis of verwere van beskuldigdes as feite – nog erger: “opspraakwekkende onthullings” – aan te bied, soos die SABC oor die ET-verhoor.
Hoe kan ‘n ongestaafde storie van iemand, aangekla van moord, ooit ‘n onthulling wees? ’n Onthulling beteken klaarblylik tog ‘n ontbloting van ‘n waarheid. In die ET-verhoor gaan teenstrydige getuienis (natuurlik ook bewerings) egter klaarblyklik aangebied word. Dan moet die hof beslis watter weergawe die toets van die waarheid deurstaan en watter nie.
‘n Mens hoef nie ‘n ET-aanhanger te wees om te begryp hoe diep sulke vrot joernalistieke standaarde in die harte van die “Groot Karwats” se mense moet insny nie, het ek bygevoeg. En ook: vir die jonger generasies moet dit seker ergerlik wees as gryses só graag na die “ou dae” teruggryp. Tog is dit waar dat ons in die “ou dae” nie sulke jolile-katrollie-joernalistiek sou geduld het nie. Die eerste linie van redaksionele beheer sou dit al ferm voorgekeer het.
Ek was dankbaar oor die reaksie van juis een van die jonger garde, Thomas Mollett van Piketberg, ‘n vorige uitgewer by Griffel Media. Hy stem saam, laat weet hy. “Ek sê netnou vir iemand dat in gebreke van regte bewyse dit darem wreed is om iemand wat nie daar is om homself te verdedig nie, só in die media te slag.
“Ek is ook nie hier begaan oor die persone betrokke nie, maar ek is soms bekommerd oor ‘n onverskillige media wat altyd maar net aan die einde van die bloedstreep wat hulle agterlaat, net jammer op p.17 sê, of ‘n lastereis betaal, maar reputasies en nalatenskappe laat wat nooit herstel nie.”
Vanoggend kon ek in reaksie op Thomas se bydrae gelukkig meld dat ek verlig en dankbaar was om Die Burger (seker ook Beeld en Volksblad) se sobere verslag te sien. Dit is uit die “ou skool”. Sappige brokkies word beklemtoon, maar op ‘n manier dat dit nog altyd as ongetoetste bewerings uitgeken kan word.
‘n Mens wonder of die SABC nie meer daardie broodnodige ervaring in beheerposte het om sulke willewragtig-joernalistiek voor te keer nie.
In die Vrystaat is ‘n gewese regter-president in my tyd op sy hoewe vermoor. Die beskuldigdes het in ‘n “pleitverduideliking” (‘n prosedure wat, helaas, nie die toets van die tyd geslaag het nie) beweer die “oubaas” het by hulle “klippies” gekoop en wou toe nie betaal nie. Die hof het later, veel later, bevind dis ‘n bogstorie wat uit die duim gesuig is.
Wat doen ‘n koerant/radiosender dan as hy die aanvanklike “bogstorie” dawerend as ‘n “opspraakwekkende onthulling” uitbasuin het? Dis nogal n sware moreel-etiese vraag, soos Thomas ook uitwys. (HvD)
Oct 10, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Mayafudi – maaifoedie
More uit Melkbos
Is “maaifoedie” ‘n kru woord met ‘n vuige herkoms?
Oor die betekenis van die woord “maaifoedie” en die graad van belediging wat dit inhou, word in die media en op sosiale netwerke gegons nadat leidsliede van die ANC en die skeidsregter Bryce Lawrence onder andere “maaifoedies” genoem is.
My sienswyse oor die omstrede woord stel ek in my olifantboekie “Mayafudi” wat in 2005 die lig gesien het, en wat nou nog op my webwerf, www.hennievandeventer.com/hvd, te lese is. Ek haal graag uit “Mayafudi” (‘n Sjangaanse verwerking van “maaifoedie”) aan:
“Oorspronklik was ‘maaifoedie’ ‘n bra kru uitdrukking, soortgelyk aan die Nederlandse ‘moerneuker’ met presies dieselfde slegte konnotasies. Later het die woord sy taboewaarde verloor. Hedendaagse alternatiewe sluit in karnallie, rakker, klits, vabond, niksnuts, blikslaer, skorriemorrie, deugniet, Satan, skarminkel of swerkater. ‘Donnerwetter’ of ‘bliksem’ sou egter seker Dumisa se gevoelswaarde van daardie oomblik die beste oorbring.”
“Daardie oomblik” is in HvD se boekie toe die stoutgat-olifantbulletjie, “Oortjies”, ‘n veldwagter, Dumisa Sibuya, uit die bloute met ‘n vlesige, volronde maroelavrug teen sy nek tref. Dumisa tuimel vies van sy fiets.
Sake verloop soos volg:
“‘Maaifoedie’! Dié woord is een van die beskaafdste woorde wat die wit geskrikte slagoffer uit dun lippe pers toe hy op ‘n grondpad naby Skukuza pens en pootjies van sy dikwielfiets tuimel en handeviervoet in die diep sand langs ‘n uitgetrapte wildspaadjie beland ….Sy ego is aan flarde.
“Waarskynlik is Dumisa self voorheen deur ‘n Afrikaanse wildbewaarder as ‘n maaifoedie uitgevreet – ‘n naam wat in die Sjangaanse veldwagter se geheue bly steek en op die oomblik van impak deur hom vindingryk met sinonieme uit sy eie taal, Tsonga, vermeng word. Die woorde bars so hard oor sy lippe dat die ander olifante dit 200 meter ver hoor.”
Dan word vertel “oortjies” se ma, “Ukuthula” (Vrede van Binne) hou van die klank van die nuwe woord “Mayafudi”. Sy besluit dan die naam “Mayafudi” is uitgeknip vir haar seunskalf …
Ook in my nuwe bosboekie, “Duisend dae langs die Sabie” word die woord met ‘n diere-konnotasie gebruik.
Dit is in die hoofstuk” Apies, my skapies”. Daarin vertel ek o.m. van die “neerstorting” van die oulike nagpies uit die dakbalke op Tarlehoet se stoep in Sabiepark vertel en waag ek die onheilige teorie dat daardie vallery(duikery?) dalk aspris kan wees omdat die diertjies weet hoe Tokkie hulle op moederaarde gaan pamperlang en bederf.
Die rede vir my agterdog beskryf ek soos volg: “ Party klein ‘maaifoedies’ kan darem baie sekuur ‘val’, netjies op ‘n sagte kussing!”
Uit voorgaande, soos sekere breedsprakiges graag sê, behoort dit duidelik te wees dat ten minste die uwe ‘n element van deernis aan die begrip “maaifoedie” heg. Hoogheilige ANC-leiers kan nie “maaifoedies” wees nie. Bryce Lawrence kan geen “maaifoedie” wees nie – behoede dit.
As hulle wel is, moet my olifantjie dadelik herdoop word en moet ek vir die Van Deventers se gunsteling-nagdiertjies ‘n alternatiewe beskrywing vind!
Oct 8, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Afgetakel en vervalle is die opstal op die spogplaas van Herman Louw van Komatipoort, digby, die gewilde Laeveldse vakansieplekke Marlothpark en Ngwenya Lodge, op foto’s wat die afgelope ruk op die internet rondgeblits is.
By my het daardie foto’s minstens tien keer opgedaag, van vriende op o.m. Mtunzini in Kwazulu-Natal, Stilbaai in die Suid-Kaap en Yzerfontein aan die Weskus. Woord soos “hartverskeurend” en “tragies” word gebruik om die agteruitgang te beskryf.
Herman Louw se plaas was ‘n sitruplaas, suikerplaas en piesangplaas – geil en groen. Toe verkoop Herman dit drie jaar gelede aan die Regering. Nou’s dit barre niks – tuine is tot niet, die boerdery het tot stilstand geknars, die geboue is gestroop.
Natuurlik is dit geen geisoleerde geval nie. In die media duik verpletterende voorbeelde van mislukte grondhervorming gereeld op, byvoorbeeld die teeplantasie by Letsitele wat tot niet is. Die fabriek het padgegee na Kenia. Nou voer ons dieselfde tee daarvandaan in!
Ek voel dié dinge ook (al is dit onregstreeks) aan my eie bas. Van my vriend Piet Henning (nou op Louis Trichardt), wat by Chiredzi in Zimbabwe in wanhoop moes aanskou hoe sy reuse-boerdery uitgeroei word, kry ek van tyd tot tyd eerstehandse verslae. Langs Sabiepark lê die Lisbon-landgoed waar ek nie eens verby wil ry nie. Die vrekkende boorde en die gesing van treksae soos die hout herwin word vir vuurmaakhopies maak jou siek.
Wat die Komatipoort-fiasko die trefkrag van ‘n dubbele hamerhou gee, is die aard van die foto’s: voor en ná uit naastenby dieselfde hoek. Die verval word grafies uitgebeeld, Op die laaste foto is die dop van die opstal uit ‘n helikopter – voorspelbaar dakloos. Die nuwe foto’s het Herman geneem toe die gesin onlangs die halfeeufees van hul gemeente gaan bywoon het.
Volgens Herman was die aanskoue van sy plaas se lot die hartseerste dag van hul lewe. Al die hulpbronne is opgeleef. Die begunstigdes doen absoluut niks om die plaas te bewerk nie. Hulle plak nou in klein kaias, aanmekaargetimmer uit die sink van die huis se dak en ander boumateriaal wat gestroop is. Herstel van produktiwiteit, indien hoegenaamd moontlik, sal jare duur.
“Kan jy dink hoe voel ons oor die Regering?” vra Herman. Ja, as ‘n mens in hul harte kon kyk, sal jy seker skrik.
Die buurpark Marlothpark se mense, weet ek, hou self hart vas, want in die middel van Marloth, op die rivier, is die Maritzplase wat ook in ander hande is. Marloth-eienaars sê vir my hulle wag maar almal dat die bom ook daar gaan bars – dit is waarom die misdaad by Matloth ook so moeilik is om onder beheer te hou (Dit is waar die skrywer Pieter Pieterse vermoor is.)
Hoe treurig dit presies in Lisbon-landgoed, langs Sabiepark, gaan, weet ‘n mens nie, want die paaie is so verspoel jy kan nie daar inry om van naderby te gaan kyk nie. Maar wat jy van ver sien, is erg, erg, erg. Op die murasietjie van die gewese netjiese Lisbon-padstal het iemand met spuitverf groot die volgende graffiti aangebring: “Nog ‘n plaas in sy moer”. Jy verstaan die boodskap goed wat onelegant maar met trefkrag oorgedra word
Waarby ek eintlik wil kom, is ‘n onheilsprentjie wat ‘n vriend van Kwazulu-Natal skets. Na aanleiding van die Komatipoort-foto’s laat weet hy ‘n vriend van hom werk al jare met plaaslike Zoeloekapteins. Verlede week spog een dat al die plase in die Empangeni-omgewing in “grondeise” teruggevat gaan word. Dan gaan alle gelos word om te vergaan met geen verdere boerdery nie.
“Hoekom?” wou die vriend se vriend weet. ” Wel, jy sien, ons wil net die grond terugkry. Die wittes moet net weg.”
“Waarvan gaan julle leef?” vra hy.
“Wel, jy sien, die mynbedrywighede gaan groot geld (tantieme?) vir ons almal bring sodat niemand ooit weer hoef te werk nie.”
Net sit en niks doen! Nooit weer werk nie! Lotusland! Kan dit waar wees!
Ek e-pos vir Piet Henning dit klink vir my ongelukkig “onheilspellend geloofwaardig”
Piet laat weet terug: “Ek ys behoorlik. Nie skrik nie, maar ys.
“Onheilspellend geloofwaardig? Ja, dit is inderdaad wat ek ook glo. Nie dat die Zoeloekaptein se voorspelling oral of selfs in ‘n beperkte mate SAL gebeur nie, maar dat dit KAN. ”
Ai tog, kom ons hoop maar die Bokke wen môre!
(HvD)
Oct 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Bill Swing in geselskap van Theunie Steyn en Louis Botha by my 50ste
More uit Melkbos
Waar in die wye wêreld bevind William Lacy Swing hom?
As diplomaat het hierdie oud-ambassadeur van die VSA in Suid-Afrika heelwat stof op sy skoene versamel. Ek het aanvanklik kontak gehou danksy kettingbriefies van hom en sy Oosterse vrou, Yuen, en ook sy periodieke TV-verskynings. Hy het sy land nogal op ‘n paar brandpunte verteenwoordig.
Toe word hy direkteur-generaal van die internasionale immigrasie-organisasie of so iets … en weg is hy.
William Swing, of Bill Swing, soos ek hom geken het, is op my agenda nadat Tokkie my gister herinner het hoe vinnig hy ‘n Afrikaanse toesprakie leer afsteek het. Hy was twee maande in die land toe kon hy met vertroue opstaan en kortliks iets van betekenis in dié vreemde taal kwytraak. Selfs die “g’s” had hy taamlik goed onder die knie.
Bill is die lewende bewys van as jy wil, kan jy – of as daar ‘n wil is, is ‘n weg. Hy het eenvoudig vasgebyt, Afrikaans-klas geloop en nie gehuiwer om oefen-oefen in die openbaar sy weg te vind nie. By my 50ste verjaardag op 3 Januarie 1991 in Bloemfontein het hy opgedaag met ‘n pikante Afrikaanse toesprakie in sy binnesak.

Bill Swing en HvD (kyk, ma – geen gryshare!)
Ek wou daardie notas uitkrap – moet iewers tussen my dokumente wees – en hier publiseer, maar Tokkie sê: “O gonna, sal klink soos jakkals prys sy eie stert” Glo my dus maar dat sy Afrikaans “pikant” was.
Dat die WIL die goot voorvereiste is om ‘n taalstruikelblok te oorkom, bewys ook verskeie ander mense. Een wat ek ook met waardering onthou, is my NG dominee, Tienie Zeeman, in Berg-en-Dal, Bloemfontein. Toe ‘n Engelse Andrew Murray-gemeente uit Berg-en-Dal tot stand kom, het hy hom hart en siel daarin gewerp om ‘n behoorlike preek in Engels te kan lewer. Hy’t gou geklink soos ‘n gebore Engelsman wat die Woord bring!
Maar vandag skryf ek oor die Bill Swing wat ek graag as voorbeeld voorhou vir me Lindiwe Mazibuko, aspirant-DA-leier in die Parlement, in wie se politieke repertoire my taal, Afrikaans, in sy afwesigheid skitter, en vir diegene wat reken: “Solank sy ‘n goeie ‘job’ doen, is dit ook maar ‘orraait’”.
Bill Swing se filosofie was dat hy respek wil betoon aan die sterk Afrikaanse komponent in die land (en daardie tyd natuurlik in die Regering), maar ook dat hy nie onbegrypend en met ‘n mond vol tande in Afrikaanse geselskap wil beland nie. Daarmee het hy my ewige respek verower.
Lindiwe behoort daardie respek-behoefte aan te voel. Politici wat wil suksesvolle stemwerwers wees, moet sensitief wees oor die harte van die mense wat hulle onder andere wil lei. (Hoor maar vir Desmond Tutu!) Lindiwe sal my bedenkinge onder die stof loop as sy sou opstaan en rondborstig verklaar (al is dit voorlopig in Engels): “Ek wil ook Afrikaanse mense se DA-leier in die Parlement wees, en ek gaan my inspan om die taal te praat. Gee my drie maande, ses maande …” Dit sou vir my haar staal toon.
Maar Bill: ons paaie het gekruis toe ek in 1977 in Amerika was. Hy was ‘n Kennedy Fellow aan Harvard en ek ‘n Nieman Fellow. Toe ek sy naam in die koerante sien as nuwe ambassadeur van Amerika het dit by my ‘n klokkie gelui. Ek het spreekwoordelik die ambassade se voordeurklokkie gaan lui. “Goeie more, Hennie,” het hy my gegroet, nog skeef en krom maar sonder skroom.
Hy was in Suid-Afrika van 1989 tot 1992. In daardie tyd is hy met die oulike Chinese buksie Yuen getroud – op ‘n wonderskone herfsoggend in die tuine van die ambassade in Bishopscourt – en ek en Tokkie was gelukkig genoeg om genooi te word.
Soos gesê, het hy met my 50ste in sy motor geklim en van Pretoria Bloemfontein toe gery. Ons twee het ge-“kliek”, soos hulle sê.
Daarna is hy na Nigerië (1992-93), Haiti (1993-98), and Kongo-Kinshasa (1998-2001). Hy was ook die VN se spesiale verteenwoordiger in die westelike Sahara en Kongo-Kinshasa. Die ketting-briefies (uit Yuen se pen hoofsaaklik) het later drupsgewyse begin kom en toe opgedroog. Maar ek het Bill nog van tyd tot tyd op TV gesien – net so ‘n afgeronde heer soos daardie oggend voor die buitelug-kansel in Bishopscourt. Al bars die bomme, kon jy hom deur ‘n ring trek, die rustigheid vanself en ‘n formuleerder van formaat.
Ek mis Bill skielik sommer baie. Sal dit nie wonderlik wees as hierdie onverwags op sy lessenaar beland waar hy ook al gesetel is nie (as hy diep in die sewentig nog agter ‘n lessenaar iewers is). Dan moet hy tog maar liefdegroete vir Yuen sê asseblief, en – as dit moontlik is, ‘n briefie van aanmoediging vir Lindiwe in die pos gooi. Sê vir haar sy moet skouer aan die wiel sit met die taal, toe Bill!
Oct 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
As hierdie brief (foto hierbo) in vanoggend se Burger waar is – en ek sien geen rede waarom dit nie waar is nie – is my kortstondige verbintenis met die DA verby as die op die oog af oulike dame leier word. Vergeet dan maar van my stem. Helen Zille.
HvD