KEREWeN-KRONIEKE

Die epiese Gypsey-vakansie deur die bril van Fred Mouton in Weg.

More uit Melkbos

Aan die “kerewên”-kultuur het ek ondanks my voorliefde vir ver paaie en die ooptes nooit vat gekry nie. Moet nou nie vir my kwaad word nie, liewe vriende van die Woonwagilde, maar dit klink al te veel soos harde werk en is in belangrike opsigte vakansie-onvriendelik, o.m. weens die legio slaggate – letterlik en figuurlik – wat ‘n mens sonde kan besorg.

Nadat ek in die jongste Weg my karnallie-kollega met die goue pen, Johan van Wyk, se kroniek gelees het van Koos Kerewên van Knelpoort se krisisse op sy epiese reis met ‘n lendelam ou Gypsey agter ‘n kragtige Ford F100-bakkie aan deur die Suid-Vrystaat Gonubie toe is ek taamlik oortuig dat my instinktiewe weerstand nie misplaas was nie.

Wil niemand die plesier ontneem om Johan se storie eerstehands te lees nie. Sal verklap dat die Gypsey, namate die reis vorder, ook in flentergat-geid toegeneem het. Bloudraad en ‘n tang moes oortyd werk. Maar stukke wat in die ry verlore raak, kan jy darem nog op ‘n manier vaswoel. As rook eers by die wiele begin uittborrel, breek die nag aan, boeta. Nag met ‘n hoofletter-N.

Al rede hoekom die Gypsey nie ‘n hoenderhok geword het nie, was, soos ek dit verstaan, dat ‘n pophuis vir die meisiekind daardie tyd ‘n groter prioriteit op Knelpoort was.

Laat my dink aan ‘n ander Volksblad-kollega, Philip van Rensburg, se beproewende kennismaking met ‘n Gypsey, Sprite of iets dergeliks, jare gelede toe die ekonomiese aspekte van gesinsuitstappies noodwendig swaar geweeg het, en hotel-akkommodasie eenvoudig vir ‘n jong joernalis onbereikbaar duur was. Gastehuise was nog nie deur slim entrepreneurs uitgedink nie.

Eerste komplikasie was dat Philip nie geweet hoe om die geleende (of gehuurde) affêre weer agteruit in die straat te stoot as dit eers op die werf sou wees nie. Hy parkeer hom dus nonchalant in die straat voor die huis. Die hele buurt was omtrent toeskouer toe die gesin die voorraad vir ‘n “rustige” naweek by Bethlehem se Loch Athlone by hul Bloemfonteinse huis begin uitdra.

Daardie nuuskierigheid was klaar nie bevorderlik vir ‘n ontspanne vakansiestemming nie. Toe kom die Rit. Ek skryf dit ook met ‘n hoofletter R, soos die Nag hierbo se N. Dit was ‘n Sukkelrit (met ‘n hoofletter S), soos Philip kleurryk kan vertel. Stadig, bitter stadig, het hulle aangekruie Oos-Vrystaat toe terwyl hul motor se enjintjie proes en protesteer. Die petrolnaald val soos ‘n klip. Sowat van petrol suip, het Philip nog nie voorheen gesien nie.

Nance en die twee dogters was nie geïmponeer nie. Vraende kyke, verwyte en vrese dat hulle nooit Bethlehem gaan haal nie, het die arme Philip se lewe heelpad versuur. Net toe hy begin voel hy bereik nou die limiet van sy stamina, hoor die Van Rensburgs meteens ‘n aaklige skeur- en klapgeluid. Toe’s dit al goed donker en in die dowwe maanlig is dit nie dadelik vir hulle duidelik watter lot hulle getref het nie.

Die karretjie bokspring terselfdertyd vorentoe en die enjintoere sak dadelik tot ‘n gemakliker vlak. Die motortjie begin oustryk aanstoot asof ‘n yslike gewig van sy skouers is. “Die blerrie woonwa is weg!” Dit is al gedagte wat deur die stomme man se gedagtes flits. Sy vrou en dogters dag insgelyks en weens die algemene paniek ontstaan ‘n hele relletjie in die motor oor wie se skuld is wat.

Maar nee, nadere ondersoek bring aan die lig die woonwa het nie, soos vermoed, losgebreek en veld-in koers gekry nie. Die koppeling is steeds stewig. Nou wat de ongeluk? Die rede vir die groter beweeglikheid word eers later ontdek. Uit onkunde het my jong kollega die hele pad nog met die woonwa se handrem aan gery! Nou-ja, metaal kan ook net soveel vat. Uiteindelik breek die geteisterde rem los met ‘n knal.

Die rit het daarna darem vinniger verloop, en die petrolverbruik was sonder handrem nie meer so buitensporig hoog nie. ‘n Seën dus dat die spulletjie tog maar liewer die gees gegee het.

Presies wat alles by Loch Athlone skeefgeloop het, onthou ek nie meer mooi nie. Ek weet egter dat Philip verbaas was om in die lig van hul laat aankoms, wat hom betref, ‘n aantreklike staanplek naby die ablusieblok te kry. Hoekom alles dan daardie nag so windskeef was, het hulle die volgende oggend ligdag eers ontdek. Een wiel het gevaarlik in die lug gehang oor ‘n fris rots op daardie kol, wat Philip in die nagdonkerte nie gewaar het nie. Op die een of ander manier het hy die rots, woonwa en al, bestyg.

Toe skeur die hemele oop en dit reën en reën emmersvol dwarsdeur die nag. Nie ideale weer vir onervare woonwamense nie. Soos ek dit egter het, was die ongelyke parkeerplek darem toe op langelaas ‘n beduidende voordeel. Hoeveel ander staanplekke was kniediep onder die water. Die skuins Van Rensburg-waentjie het egter droogvoets daar in die lug gehang. Maar dis ‘n ander storie…

My punt wat ek wou maak, is dat Philip op een reis genees is van enige kerewên-ambisies wat hy gehad het.

Soos my vriend Piet Parlement van wie ek in Praat-praat in Tamatiestraat vertel. Hy’t mos so lank gedroom oor sy eie “karavaan”, en droomvakansies by eksotiese bestemmings. Met ‘n onverwagte erflating van ‘n verlangse niggie kon hy sy droom bewaarheid.

Die eerste aand verloop als volgens verwagting. Die welbehae in die lewe wel dermate in Piet se binneste op dat hy romantiese inklinasies ontwikkel. Gelukkig is die kleinkinders, wat saamgebring is, moeg gebaljaar en gou in droomland. Maar net toe dinge op dreef kom op die klein dubbelkateltjie agter in die verruklike Jurgens-model, skrik enetjie wakker. Toe nommer twee.

“Is dit ‘n aardbewing?” wil hulle bevrees weet. “Oupa, ouma hoekom skud dit so? ”

Dit was ‘n kritieke oomblik in Piet se lewe. Net daar het hy sy smaak vir sy nuwe speelding verloor. Hy’t die Maandag die koerant se advertensie-afdeling gebel en gevra om na die meisie by Woonwaens Te Koop deurgeskakel te word. (HvD)

OS EN OT

Middag uit Melkbos

Toe ek in Sub A was in 1947 aan Diamantveld in Kimberley was die 7 nog geruime tyd elke keer vir my ‘n struikelblok as ek tot tien moet tel. Een, twee, drie, vier, vyf, ses … hu…… … agt, nege ….

Nou tel my 7-jarige kleinkinders vorentoe en agtertoe in allerlei konfigurasies tot wie weet hoeveel in die honderde in.

Ek het met Dinkey Toy-motortjies gespeel – oulike klein replikas van die ware Jakobs wat in die motorhuis (waenhuis!) neffens die buite-kleinhuisie met sy emmer gestaan het. Ook met sogenaamde “vet diere” – beeste, skape, varke en so. Die naam “vet diere” het beduie daardie metaaldiere was nie plat nie.

Vandag speel die kinders rekenaarspeletjies en weet van Ipads en dinge meer as hul 70-jarige oupa, wat self dink hy is nogal oulikrig met die nuwe tegnologie.

Dalk vir my as taalman die heel indrukwekkendste is hoe lees en spelling ontwikkel het. Ons generasie het nog gespook met “os” en “ot”. Party outjies was in die diep water as hulle “os” gespot het en dan kry hulle in die eksamen “ot”. Ek het toe al tekens van joernalistieke aanleg getoon deur albei konsekwent reg te spel. A vir Afrikaans gekry!

Vandag lees die graad-eentjies in opdrag 100 boekies ‘n maand, en in die stories kom tongknopers voor soos helikoptervlieenier, ambulansbestuurder, gunstelingkleur en vaakoog-slaapkouse. So warempel!

En hulle tongetjies knoop nie eens nie. Hoe het tye nie verander nie!
(HvD)

MEVROU SKOON MELKBOS

Mev. Skoon Melkbos by haar Honoris. Drie ander eerbewyse hang teen dieselfde muur.

Middag uit Melkbos

As ‘n motor se flikkerligte skielik begin flits sonder ‘n afdraai in sig, wonder jy: wat’s fout? As die motor dadelik van die pad trek en op die geel sperstreep stilhou, hoop jy maar dis iets soos ‘n selfoonoproep – niks ernstigs nie.

Dit gebeur nou die dag voor my in Otto du Plessisstraat, Melkbos. Ek herken dadelik die wit Mercedes. Dit behoort aan Chan de Kock. Maar dis nie hy agter die stuur nie, dis Blanché, sy vrou wat herstel van ‘n rugoperasie. Sy loop nog maar sukkel-sukkel.

Ek skrik – dalk keil die arme vrou se rug haar op – maar is sommer dadelik ook vies vir haar. Goeiste, waar ry die vroumens rond? Sy hoort nog die huis. Nog beter: plat op haar rug op ‘n harde bed!

Ek bring die Honda ook tot stilstand om ridderlik te gaan navraag doen wat skort en, indien nodig, ‘n ondersteunende arm aan te bied.

Toe bemerk ek in my truspieël die aktiwiteit langs die pad. Dis Blanché, stywe rug en al, besig om stukke plastiek op te tel wat deur ongepoetste morsjorse argeloos by motors se venters uitgesmyt is.

Morsjorse se wegsmyt-plastiek – en dit in haar toestand, bid jou dit aan!

Maar eintlik moet dit my nie verras het nie – dis dan presies waarvoor ons in 1993 by Probus (‘n klub vir afgetrede beroepsmense en sakelui) vir Blanché ons eerste Honoris-eretoekenning (die enigste tot dusver) gegee het: morsjorse se plastiek en ander gemors.

Aan: Mevrou Skoon Melkbos – die vrou wat ons ou dorpie ‘n skoner, mooier, aangenamer plekkie gemaak het om soggens op wakker te word en saans vir die sonsondergang oor die see te sit en kyk juis deur dit van morsjore se plastiek en dinge te reinig. Sy het later van drie ander instansies vir haar ywerige gemeenskapsdiens eerbewyse ontvang.

‘n Stuk of tien, twaalf jaar al pak Blanché en haar span Donderdae die dorp se besigste strate en die breë kilometers-lange strande met die golwende duine, gewapen met plastieksakke. As hulle klaar is, ken jy die wêreld nie.

Voor hierdie toegewyde, fluks vrou en haar arbeidsame “assistente” op die toneel gekom het, moes ‘n mens soms maar op jou tande byt oor die toestand van Melkbos se strande. Ek onthou hoe ek en swaer Fanie van Wyk een oggend deur die opdrifsels moes trippe, trappe, trone, en my lam verduideliking dat dit nie altyd so is nie; slegs wanneer matrose hul plastieksakke vol rommel oor hul skepe se dekke in die see stort voordat hulle Tafelbaai binnevaar.

Later het ek gehoor daardie storie is nie honderd persent in die kol nie. Dis maar die seestrome wat hierlangs só maal wat die strand dermate bemors. Hoe ook al, dit was ‘n bron van verleentheid vir ‘n Melkbosser as jy saam met besoekers so deur die hope onsierlikhede moes koers kry wanneer jy met die uitsig op Tafelberg wil spog.

Toe span Blanché en ds. Stefan van Heerden, gewese Melkbos-NGK-leraar, saam. Uit Melkbos se gemeenskap kom dadelik ondersteuning. Uit ‘n gemeenskappie wat destyds letterlik onder Melkbos se port jacksons gewoon het (hulle het intussen netjiese huisies in die nuwe woonbuurt Olive Grove betrek), word ‘n span saamgestel. Vriende stoot ‘n geldjie vir sop of toebroodjies ná die ure arbeid in son, wind en reën. Die bal rol.

Sedertdien behartig Blanché die volledige logistiek, wat in ‘n stadium ingesluit het die agterna-was van die amptelike uniforms – aanvanklik geel T-hemde. Borge uit die gemeenskap het na vore gekom, o.m. die eiendomsgroep Rawson, en die Lotto dra sy deeltjie om die boeke te laat klop. Blanché se Bybelstudiegroep maak beurte om die mae te vul.

‘n Vername rat in die wiel is Chan se donkerblou Bantam-bakkie waarmee sy die spanne rondkarwei (jare lank boonop op sy petrol!). Hyself, ‘n senior oud-amptenaar van die Reserwebank, spring nie vry nie. As jy met Blanché getroud is, is jy altyd op roep, moes hy gou leer. Sy “Skattie” sorg daarvoor dat hy ook nie verveeld raak van sit en wag nie!

Die munisipaliteit se samewerking is teen wil en dank ingekatrol met die verskaffing van plastieksakke en dies meer. Só, met al die hupstootjies uit ‘n verskeidenheid bronne, kon die projek deur goeie en slegte tye oorleef. Op die oomblik is dit ‘n goed gevestigde gemeenskapsprojek, wat voordele na weerskante inhou. Een groep pluk die vrugte van die skoner dorp, die ander van ‘n gereelde geldjie – party se enigste van die week.

As jy tot hiertoe gelees het, weet dan dat ek nie om dowe neute skryf nie. Ek wil hê jy moet so geïnspireerd wees dat jy net wil help – al sou dit net wees om self die rug te buig en ‘n stukkie gemors van die grond tot in ‘n drom te verskuif. Moet net nie anderpad kyk nie. Laat weet gerus as jy lus het om op enige wyse betrokke te raak. Ek sal die boodskappe by die regte adres besorg. Dan doen ek darem ook iets vrugbaar!

(Blanché is ‘n Vrystater meld ek graag. Kom van Smithfield se wêreld. Mens, jy sal nie glo hoe praat sy Sotho nie. Soos ‘n boorling. Een keer het haar vlotheid in daardie beeldende Afriktaal haar niks in die sak gebring nie. Dit was die aand toe gewapende rowers hulle langs die vleisbraaivuur aankeer in die ommuurde tuin van die De Kocks se kinders in Pretoria. Blanché betoog soos ‘n welsprekende advokaat. Geen reaksie, buiten dalk groter irritasie en ongeduld. Later blyk dit sy het met ‘n onbegrypende muur gepraat. Die kwaaddoeners was Mosambiekers of iets, wat dalk gedink het die wit vrou spot met hulle!)
(HvD)

TIP-TIP TOT SJOR!

Naand uit Melkbos


Reen, reen, lieflike reen
– Ge Korsten hoe kon ek jou liedjie vergeet toe ek my blog hieronder oor die voeltjietorts op Annette van Rensburg se kop skryf! Ek haas my om dit reg te stel.

Maar Reen, reen, lieflike reen is nie al wat vergete gebly het nie. Trouens, as jy aan reen-liedjies begin dink, dan tip-tip dit nie net, dan sjor dit behoorlik.

Ek noem net twee grotes.

Wie van ons ouer garde onthou nie Johnny Ray se Just walking in the rain nie? Ek dink ek was so 10 jaar oud toe dit op die treffersparade was.

Just walking in the rain

getting soaking wet

torturing my heart

by trying to forget ….

En wat van My favourite things, een van die immergroen Sound of Music (1965) se vele treffers?

Raindrops on roses

and whiskers on kittens

bright copper kettles

and warm, woolen mittens …

Julie Andrews het die liedjie mos ‘n jaar of wat gelede op haar 70ste verjaardag of iets gesing – maar ‘n parodie met ander, relevanter, woorde vir iemand van haar jare. Mary van Sound of Music se gunsteling-goedjies is, helaas, nie noodwendig nog die staatmakers in Julie se herfsjare nie!

New York se volgepakte Radio Music Hall het soos een man vir Ouma Julie opgestaan.

Ek vertel dit graag – dis my definisie van ‘n senior oomblik!

KOES OF NIE KOES NIE?

Middag uit Melkbos

In “Duisend dae” vertel ek van Annette van Rensburg en die geverendheid wat in Olifantskamp op haar kop getjorts het. Ons goeie vriendin was nogal verontwaardig. Gister bel sy en ons lag saam oor die insident.

Annette en haar man, Chris, is van die Wildtuin na ‘n broer in Kemptonpark naby die casino, vertel sy. Volgens hom moes sy dadelik ietsie gaan waag .. so ‘n blertsie op die kop beteken geluk. Wens ek het die stertjie geken toe ek die boek geskryf het.

In elk geval, toe sy dit noem, onthou ek ons Tukkies van doerie tyd (dalk nou nog?) het geglo as ‘n jakarandatjie op jou kop val, kan jy met ‘n singende hart eksamenkamer toe stap. Jou kop is deur … jy ook!

Sou nog sulke gelofies bestaan?

Reendruppeltjies word ook in die algemeen positief ervaar. Onthou u die Oscarwenner-liedjie Raindrops keep falling on my head uit die 1969 treffer-fliek Butch Cassidy and the Sundance Kid? Hulle maak nie meer sulke lekker flieks nie, maak hulle? Fliekmusiek is ook nie meer ewe onvergeetlik nie.

Maar een ding weet ek darem: as ‘n baksteen jou kranium tref, sou dit in geen omstandighede geluk beteken nie.

En in Amerika het ek in die middel 70’s vir John Painter van Portland, Oregon, leer ken wat altyd vies was as dit in Cambridge, Massachusetts, begin sneeu. Hy kon daardie “white shit” op sy kop nie verdra nie! (HvD)