“SKOOLGELD”

More uit Melkbos

Op hierdie einste blogplek is ek onlangs, wanneer. nogal kwalik geneem oor my onvriendelike opmerkings oor die Hof van Kleineise (‘n “hof met melktandjies”) en my gebrek aan motivering om met ‘n aksie voort te gaan uit vrees vir onnodige beslommernis en ekstra koste.

Toegegee, nie alles wat ek kwytgeraak het weerspieel uitermate kundigheid oor die funksionering van daardie eerwaarde liggaam en sy regspreking vir sogenaamd die gewone man nie. In die proses het ek heelwat geleer, en ek dank medebloggers vir hul geduld met die ou man en hul vriendelike advies.

My lugtigheid en bedenkinge was egter nie volledig uit die lug gegryp nie. Na die pynlike ervaring van Melkbosse vriende met ‘n ” klein eisie” is ek hoegenaamd nie meer onseker oor wat my te doen staan nie. Ek bly ver weg!

Die vriend se Venterwaentjie is van agter flenters gestamp in Blouberg. Telkens as dit by die betaalslag kom, trek die skuldige egter kleinkoppie.

Toe’s dit Hof vir Kleineise toe. Maar o wee, die eerste keer beland almal voor dooiemansdeur. Vername amptenare van die hof skitter in hul afwesigheid. Vir my sou dit beteken het dat ek, soos kiepie, twee vrugtelose reise van Melkbos na George onderneem.

Die derde keer is almal op hul plek. Die hamer val. Doef. Die hof kom in sitting.

Gelukkige einde? Moenie glo nie.

Waar’s die deskundige getuie wat oor die Ventertjie se agterligte kan getuig, wil die voorsittende beampte streng weet.

Maar hier’s dan drie skriftelike kwotasies vir die stukkende ligte, protesteer die klaer.

Aikona, dis onvoldoende en gebrekkig. Hier moet iemand wees vir wie vrae gestel kan word. Daarmee basta.

Daar stap die verweerder – wat boonop sonder rybewys was – toe skotvry by die deur uit. Die arme slagoffer byt op sy tande en gaan huis toe. Geen ander uitweg nie: hy sal maar self moet opdok.

So laat hierdie duusman hom nie moerak nie. Ek skryf maar my skade af as “skoolgeld” – blerrie duur “skoolgeld” . (HvD)

SEWE DAE BY DIE VAN D’S

Middag uit Melkbos

Sewe dae by die Van Ds is nie van dieselfde opspraakwekkende aard as “Sewe Dae by die Silbersteins” nie. Twyfel of selfs die ryke verbeelding van Etienne Leroux die valer alternatief prikkelend vir ‘n leser sou kon maak.

Een resultaat wat “ons sewe” dae wel het, is dat dit op die die uwe se badkamerskaal wys. Sedert HvD op ‘n gewigtige 117 kilogram die sewe-dae-siklus begin volg het (met een lang en verskeie korter onderbrekings), kom die digitale syfertjies op die skerm agter die glasvenstertjie soggens nou op só plus-minus 97 kilogram te staan. Bygesê al my klere, absoluut alles, lê dan in die gangetjie voor die badkamer gesaai, ek het klaar my oggend-draaie geloop en selfs my bril is van my oë af.

Buiten dat ek nou baadjies kan vasknoop wat ek lank nie sou waag om aan te trek nie, het ander newe-bonusse ook uit die ligter massa gevloei. ‘n Dreigende heup-vervanging is vir eers van die baan en ek het ‘n slaapmasker vrygespring. Die simptome van die slaap-apnee wat gediagnoseer is, verg nie meer kunsmatige asemhalingshulp nie, soos voorheen al gemeld. Kortom, ek snork nie naatenby soos eers nie!

Omdat ek nie in die besigheid is om diëte te bemark nie – diëte en bemarkers is volop genoeg! – gaan ek nie ‘n stap-vir-stap- of, eerder, ‘n dag-vir-dag-uiteensetting van die sewe-dae-program hier gee nie, buiten om te verklap dat ‘n bepaalde soort sop (met ‘n streng voorgeskrewe resep) ‘n basiese element is. Die sop vloei sewe dae in liters! Die dieet is inderdaad, kan ‘n mens maar sê, ‘n “sopstorie”.

Die ou Superman, wyle Christopher Reeves, het sy vrou (Emma, meen ek) die kompliment gegee dat sy ‘n hoender gaarmaak “that it is an honour to the chicken”. Vir Tokkie ditto t.o.v. hierdie wondersop (wat toevallig ook fyn hoender daarin het). Party mense kla hulle kry dit nie in hul lyf nie. Nadat my vrou klaar daarmee getoor het, sal ek daardie sop (a la Tokkie) waaragtig in ‘n restaurant bestel!

Verder eet jy hope groente (een dag minstens ses tamaties) en genoeg vars vrugte (een dag minstens drie piesangs). Op dag vyf eet jy biefstuk amper na hartelus, en een aand kry jy ‘n groot aartappel as beloning. Jy ly nie honger nie.

In daardie sewe dae is alkohol egter ‘n absolute nee-nee – nie eens ‘n kelkie wyn vir die pyn nie!

Ná sewe dae moet jy eers weer “normaal” eet, maar pas op: ”normaal eet” en “ooreet” is nie stalmaats nie. Gister op my eerste dag ná ‘n sewe-dae-siklus het ek dalk ietwat na laasgenoemde oorgehel. Die impak op die syfer agter die skaal se venstertjie is onmiddellik.

Dus: sewe dae, hier kom ek weer.

Laaste gedagte: “my” dieet kom oorspronklik uit Londen. Dit het in die Krugerwildtuin in Skukuza gaan draai: in ‘n stadium ook in die pastorie in Tsessebelaan. Nou-ja. ‘n dieet uit ‘n pastorie – met die nodige seënwense en só – behoort darem seker nie sleg vir ‘n mens te wees nie! (HvD)

LENTE, LIEWE LENTE?

Lentedag – Melkbos 2011

Lentedag – Kimberley 1947

More uit ‘n gryse, koue, winderige Melkbos

Beentjies blou van die koue, daag kindertjies op 1 September by die skool op om die aanbreek van die lente te vier.

Was al in my dae só – ek het ‘n foto van 1947 se lentedag-optog by Kimberley se Diamantveld Laer (hierbo). Iewers daar in die see van wit broekies, wit rompies en koddige kadotjies op die kop staan die uwe, toe ‘n brose ses jaartjies oud: ‘n seuntjie in sub B.

Vandag nog só. Maar gister, in die Kaap veral, het die premature lentedag-vierders gebars, boeta. Bibberweer, noem ek dit as die ysige motreëntjie só uit ‘n grys hemel sif en die skuimende branders in ‘n loeiende wind in stormwoede die kus peper (hierbo).

Maar lentekleertjies wil ons dra – en blommetjies in onse hare of krampagtig vasgeklem in ‘n verkluimde handjie.

Laat ons nie die kindertjies beskuldig nie. Dis nie hul inisiatief nie. Die arme bloedjies word opgekommandeer en gemanipuleer.

Iewers het die lentedag-lawwigheid op 1 September vasgehaak soos ‘n ou vinielplaat op ‘n verrinneweerde draaitafel. Opeenvolgende generasies erf maar die “tradisie” by die ouer geslag, wat uit bitter ervaring beter behoort te weet.

Nou sê iemand iewers die Kaap is nie die norm nie . As ons hier klippers kou van die koue , beteken dit nie dis oral só nie.

Rêrig?

Tokkie onthou toe sy jong onderwyseres by Wilgehof in Bloemfontein was. Op “lentedag” kon die kindertjies “gewone klere” aantrek. Siestog, die blou are op die meisietjies se arms en bene wat potsierlik by die te klein geblomde tabberdjies uitsteek, was ‘n bron van onderwyser-hilariteit. Nie dat die hoendervel-seuntjies met hul kortmou-hempies meer vanpas geklee by die skool opgedaag het nie.

In Sabiepark, in die Laeveld van alle plekke, vermy ek die begin van September só ver ek kan – en dis ‘n bekvol omdat ek só lief vir die plek is. (Skryf dan nou weer ‘n boek oor hom – maar, wag, hierdie is nie ‘n reklameflits nie!) Hoekom ek op “lentedag” ver wegbly van my geliefde bos? Omdat die plek dan op sy lelikste is, dor en droog in sy vaal winterskleed, maar met die kwik wat al na somerhoogtes begin reik. Jy begin braai – sonder die visuele kompensasie van die natuur op sy geil groen feestelikste soos in Oktober.

Leipoldt had tog ‘n punt beet met sy “mooiste, mooiste maand”!

Mense, kom ons aanvaar tog nou maar die seisoene wissel nie aan die begin van September nie. Ewe min as wat dit in die noordelike halfrond op 1 September herfs word, word dit op 1 September in die suidelike halfrond lente. (Die aangrypende verkleuring van die herfsblare in Amerika se New England het ek in my Harvard-jaar in 76/77 op sy beste begin Oktober beleef.)

Die aardrykskundiges (of watter kundiges diegene ookal is wat hulle oor geleerde goeters soos “nageweninge” en “dageweninge” gesaghebbend kan uitspreek) vertel hoeka vir ons dit daar by 22/23 September rond dat die seisoene swaai.

Wat die Kaap betref, is selfs dit dalk ‘n ietwat optimistiese beskouing. Ek het mense al hoor kwytraak winter duur hier van Junie tot November – en soms kan ek nie anders as om saam te stem nie. Maar ter wille van die ouens wat jaarliks brandend in hul blokke wag om “lentedag” te vier, kan selfs ons Kapenaars dalk maar ‘n toegewing maak.

Kom ons besluit egter hier en nou: Lentedag is NIE 1 September nie. Kom ons bêre ons somergewaadjies (en allerlei vierinkies) vir op die vroegste 21 September (dis die toegewing). Dan sal ons ten minste nie só simpel lyk met die yl bloeiseltjie in die hare of ‘n oop sandaaltjie waar die robynrooi van die toonnael en die baftablou van die verkluimde voetjie omtrent in skelheid met mekaar meeding nie! (HvD)