HOF MET MELKTANDJIES

Naand uit Melkbos

‘n Hof met melktandjies. Ja, ongelukkig het die Hof vir Kleineise nie staaltande nie. Ek het pas ‘n ontnugterende ervaring met dié regsprekende liggaam van die gewone man agter die rug. Sal regtig nie weer die moeite doen nie.

Vir eers het die hof (op George) toegelaat dat die ander party as ‘t ware, soos die Engelse dit mooi stel, met moord wegkom. Ten tweede was sy kommunikasie met die klaers bra lamlendig.

Die eis gaan oor verbloemde gebreke aan ‘n eiendom. Ná besitname blyk dit ‘n stuk dak het ‘n chroniese lek. Die water skop die woonvertrek se muuproppe uit. Ten tweede is die elektriese veiligheidshek weens lang onbruik – terwyl die plek leeg gestaan het – reddeloos buite aksie. (‘n Sogenaamde elektrisiteits-sertifikaat is uitgereik maar was ‘n ronde nul werd.)

‘n Paar duisend rand moes opgedok word om die “foutjies” te herstel. Die verkoper trek haar skouers op en maak lang stories al is sy skuldig soos more heeldag.

Ons besluit om ons skade by die Hof vir Kleineise te probeer verhaal. Prosedure verg dat ons vir haar ‘n aanmaning stuur. Dit doen ons per geregistreerde pos. Die koevert kom ongeopen terug: “Refused”. Sy’t seker snuf in die neus gekry.

‘n Lang geredekawel ontstaan nou met die hof oor hoe om haar gedagvaar te kry. Jammer, ons moet daarvoor van Melkbos George toe ry, word ons meegedeel. Uiteindelik sink die boodskap in dat dit bra onrealisties is. ‘n Dagvaarding word toe uitgereik op grond van dokumente wat heen-en-weer gekoerier word. Dank jou die duiwel.

‘n Hofdatum word bepaal – sewe weke vooruit. Twee dae voordat ons sou George toe ry vir die geding, doen ons darem net by die hof navraag of die wiele nog rol. Nee, verneem ons, die verweerder sit in Kanada. Sy het uitstel gevra tot Desember.

In daardie stadium was huisvesting al in George bespreek, ons wintervakansie verkort en ‘n operasiedatum só bepaal dat dit, en die lang “rehabilitasiefase” vir die betrokke chirurgie, die hofverrigtinge kan akkommodeer. Maar ons word niks laat weet nie van die verweerder se jakkalsdraaie nie. Dis ons indaba.

Ons maak kapsie dat ons boonop verniet George toe sou gery het as ons nie die insiatief sou geneem het om navraag te doen nie. Wat van die reis- en verblyfkoste? Die skouerophalende antwoord is: “Dit is irrelevant.”

Intussen verskyn in ‘n koerant ‘n artikel met allerlei onthutsende inligting. Jy moet “deskundige” getuies in persoon saambring hof toe – beëdigde verklarings is onvoldoende, word gewaarsku. Ten tweede: in die geval van ‘n onwillige verweerder moet jy maar self sien en kom klaar om die geld uit hom/haar te wurg. As ‘n hofbevel uitgereik is, was die hof sy hande.

Ek vra met trane in my ysblou oge: “Hoe kry jy ‘n ‘deskundige getuie’ by die hof as hy/sy nie gedagvaar word nie? Ek vra ook: het die hof ‘n benul hoe vinnig regskoste kan opstapel as jy uit jou sak moet begin regstappe doen ten einde ‘n hofbevel af te dwing?

Terwyl die uwe wag dat die wondersoete slaap (D.F. Malherbe) saggies neerdaal, besef ek skielik in die nagtelike ure: ek ry hier ‘n dooie perd. Dit gaan my geld kos – dalk baie geld – sonder dat ek uiteindelik iets vir my moeite sal kan wys. Boonop gaan ek bars van frustrasie, terwyl die steeks verweerder in Kanada (of waar ook al) al die pad bank toe lag.

Net een rasionele ding bly oor: vee die hele besigheid onder die mat. Vat jou skade soos ‘n man. Trek jou eis formeel terug. Aanvaar dit as ‘n lewensles. Dit is presies wat ek toe doen.

Het die Hof vir Kleineise regtig bestaansreg as hy so funksioneer (of eerder: nie funksioneer nie?) (HvD)

JOE-HOE, LIEWE OU MESHACK

Meshack, Johan en Novo in Bloemfontein, circa 1990

Naand uit Melkbos

Die tagtiger-dekade was onder meer ook die dekade van Meshack, ‘n ware karakter wat in die Van Deventers se lewe nie net kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens.

Hy was – en dit is nogal nie ‘n algemene kenmerk van tuinmanne nie – geseën met ‘n vrolike humor. Ouma kruie byvoorbeeld met haar loopraam in die motorpad af. Meshack spuit met die tuinslang ‘n paar water-esse voor haar voete. “Wat maak jy nou?” “Ek bring net ‘n bietjie Ouma se spoed,” kom die antwoord blitsvinnig.

Hy was lief om mense byname te gee. Vir Ouma het hy Winnie Mandela genoem. Sy het geprotesteer vir ‘n vale. Ek was, agter my rug darem, Mike Schutte. Het natuurlik geen idée hoekom nie!

Tokkie was sommer net “ou Tokkie”. Kenmerkend van hul onderlinge kommunikasie was dat hulle mekaar geroep het met ‘n uitgerekte: “Joe-hoe.” Amper 14 jaar gelede het ons Meshack gaan soek by die Sentrale Universiteit van Tegnologie waar hy later gaan werk het. Ons is na die Loubsersaal verwys, wat dolleeg was. Toe roep Tokkie: “Joe-hoeee!” Iewers van agter die verhoog kom die antwoord: “Joe-hoeee!”

Hoekom skryf ek vanaand oor Meshack? Wel, Tokkie, laat val nou die dag dat sy dikwels wonder hoe dit met hom gaan. Asof ‘n mikrofoon in ons huis op Melkbos versteek is, kry ons enkele dae later ‘n SMS. “Jy sal nie raai nie!” roep Tokkie uit. Nee wragtig, ek sou nie raai nie.

Meshack SMS: “Gooie naand ou tokkie. meer as 13 jaar sien ek nie vir julle nie. Ek dink altyd van Johan (ons seun) die hond novo (Johan se staffie). Ek mis julle. My naam is Meshack Cadaffie (nog altyd sy ou streke!). Dankie Marisa (Mariza) Johan Hennie Ouma en ander Marisa (ons dogter) en sy tweeling kenders.” Gelukkig verskaf hy ‘n selnommer. Tokkie bel en die ou drade raak opgetel.

Sy herinner hom onder meer aan hoe sy hom Saterdagmiddae in haar geskenkwinkel toegesluit het om skoon te maak. Hy geniet die herinnering.

‘n Eie herinnering is aan ‘n Kaapse Paasnaweek-besoek in 1993 om hom die vreemde wêreld te wys. Waterfront, Tafelberg, Houtbaai – waar was hy nie oral nie? Ek wou destyds by hom weet wat die grootste indruk op hom gemaak het: Dit was die “lughawe van die bote”. Die Waterfront (en hawe) was eenvoudig vir hom ‘n verbysterende belewenis.

Hy was die Sondag saam met ons in Welgemoed se NG kerk. Dit was nogal iets daardie tyd.

Die vrolike Meshack het ook ‘n ernstige streep. Toe al het die bediening hom getrek. Hy was reeds gekwalifiseer om kinders te begrawe. Op pad Kaap toe het Tokkie met hom uit die aard van die saak deur Laingsburg gery. Die groot Paaskruis op die dorp wat tevore onder só ‘n geweldige vloed deurgeloop het, was vir Meshack treffend. Op sy inisiatief is ‘n bus gehuur en het ‘n groep van sy gemeente die volgende jaar vir Paasfees al die pad Laingsburg toe gekom.

Ek hoor hy het ver gevorder op die pastoorsleer – kan deesdae huwelike voltrek en ook volwassenes begrawe.

Goeie ou Meshack. Ek sal nie die geheim verklap van “pastoor Cadaffie” se witleuentjie om by sy ander werkgewer verlof vir die Paasnaweek te kry nie. Dié was Waldie Greyvensten, die oumotor-man.

Op pad terug huis toe, by Drie Susters, druk Meshack hom plat teen ‘n muur en sis vir Tokkie: “Loop verby, loop verby.” Later verduidelik hy sy vreemde optrede. “’Greyvensteyn is hier”. Dit blyk toe hy het nie verlof gevra nie, maar gejok dat hy pampoentjies het. “Bly weg, jy sal my kinders aansteek,” was Waldie se reaksie.

Só het Meshack darem die “lughawe van die bote” te siene gekry (HvD).

BORDJIE BITTERBALLE

More uit Melkbos

Bols en bitterballe het ‘n ruk gelede in hierdie blog ter sprake gekom, en terstond heelwat hoofsaaklik private kommentaar uitgelok, meesal in die kategorie kwinkslae en nie altyd noord van die gordel nie.

Geldige vrae is ook gestel. Hoekom word ‘n bitterbal ‘n bitterbal genoem? Het dit ‘n bitter smaak? Só wou sekere belangstellendes weet.

Laat my eers net weer sê: dat ek uit die Nederlandse stadjie Deventer aan die Ijssel kom, kwalifiseer my nie as kenner van Nederlandse geregte nie. Ek gee my nie as een uit nie. Ik ben een domkop! Maar ek het al die goeters by Nederlandse vriende geproe, hou van die smaak en het, soos alle joernaliste, “gewoonlik betroubare bronne” om my na te wend.

Uit daardie bronne verneem ek die bitter van daardie versnaperinkie het niks met die produk self te make nie, maar met die produkte wat graag saam geniet word.

Waar Nederlanders saamkom vir ‘n skemer-glasie is ‘n “bittertje” buitengewoon gewild. Dié verwys na Hollandse “jenever”, wat – aldus my bronne – nie met die Suid-Afrikaanse jenewer (of “gin”) verwar moet word nie. Die smaak verskil en dit het meer skop.

Saam met jou “bittertje” is ‘n bitterbal – ‘n gebraaide, gekruide vleisballetjie in ‘n bruin korsie, wat jy in ‘n geurige mosterdsousie doop – die aangewese peuselkossie. Ook by jou biertjie is dit allesbehalwe te versmaai.

Die bitterbal kom glo uit die dae van die Bataafse republiek, waarvan my generasie in die vak Geskiedenis geleer het. Die vroue van jagters het die oorskietvleisies saam met brood en water in balletjies geknie, en siedaar: die voorloper van die bitterbal, wat later deur die Spanjaarde verfyn is met die byvoeging van eier en die krummels van roosterbrood om dit ‘n krapperige buitekant te gee.

Vertel ‘n rasegte Nederlander vandag van daardie Spaanse invloed, en hy sal net snork. Wat hom betref, is hierdie “snack der snacks” (die oorspronklike word was glo “schnek”) só “origineel” as kan kom.

In elk geval, in Madrid of Barcelona sal ‘n kroegman seker skeef opkyk as jy bitterballe soek. Maar in Amsterdam of Den Haag (gewis ook in Deventer!) is ‘n bordjie bitterballe die inste van in-dinge saam met jou dop.

Ik heb gezegd. As ek verkeerd “gezegd” het, moet die Hollandse familie tog maar vergewe. Ek had nie ‘n verskuilde agenda nie. My Overijsselse wortels is ná meer as drie eeue nog sterk – en dis nou nie Bols nie! (HvD)

UIT MY BADKAMER

Middag uit Melkbos

Dis seker onbehoorlik om geheime uit jou badkamer te verklap. Jammer, ek kan nie die versoeking weerstaan nie.

Die nuus uit die klein vertrekkie is dat die uwe vanoggend ‘n omgekeerde 100-tal aangeteken het. Die skaal – so ‘n plat glasgevaarte – het op 99,8 gebewe, gebewe en toe gaan stilstaan.

Die eerste keer in jare is die uwe nie meer ‘n “honderdponder” (bedoelende eintlik 100 kilogram of meer) nie. Die sop-dieet uit Skukuza skop nou in. Dankie, ds. Carl.

Die voorneme is om die skaal net hier vas te pen. Nooit is ‘n lang tyd, veral wat ‘n groot man se massa betref. Maar HvD wil nooit, nooit, nooit weer 100 te bowe gaan nie – nie as dit in sy hande is nie.

Rietskraal is ek nog nie en rietskraal wil ek ook nie wees nie – kan ek waarskynlik ook nooit wees sonder intense verhongering en intensiewe oefening nie. Maar, mense, dis net ‘n plesier as ‘n toeknooptrui (oopknooptrui?) wat nou die dag nog om die bultende middel gespan het, nou so lekker los aan jou hang.

Dit maak die hele vasbyt-oefening die moeite werd.

In “Polisie, polisie, ons reënboog is geroof” (Tarlehoet, 2003) was die volgende versie:

Badkamerskaal

Net een skrale kilo
op die badkamerskaal
dis al wat Daan Drommel,
in ‘n week kon behaal;
toe roep hy raadop:
“Ek is moeg vir die pyn” –
en vat in sy kelder
nog ‘n botteltjie wyn

‘n Belydenis: daai Daan Drommel is ekke. Dis my alter-ego, my non-de-plume.

Nou steek ek vir ou Dik Daan tong uit. En vanaand drink ek net weer ‘n glasie water met ‘n suurlemoenskyfie.

Die wyn kan wag .. maar darem ook nie vir altyd nie! (HvD)

TOT SIENS, OU GROTES

More uit Melkbos

Olifante in die water; buffels langs die rivier – die twee ou grotes van die Groot Vyf sorg altyd só saam-saam vir ‘n mooi toneel.

Die laaste dag van ons wintervakansie in Sabiepark is ons vir oulaas piekniekplek toe. Almal by hul vuurtjies het hul braaitange neergesit, en kyk, verkyker voor die oë, na die donker lywe langs die Sabie.

Weliswaar was ons ietwat laat vir die groot verbytog van die buffels, maar ons was tog betyds om die kamera uit te pluk.

Die gewese veldwagter Lynn van Rooyen vertel in sy boekie met ‘n olifantnaam wat my nou ontgaan, van sy laaste dag in die Wildtuin. Die bedrywigheid van Olifante langs die Sabierivier het ‘n kollega laat opmerk: “Lynn, hulle kom groet jou.”

Só romantiseer ons mos maar almal die natuur. Wat aan die einde van die vakansie – en veral op die laaste dag – gebeur sien ons graag, in menslike terme, as ‘n persoonlike afskeid.

Ek onthou ‘n keer toe ek en Tokkie net wou ry lughawe toe. Op daardie oomblik gewaar ons “ons” duikertjie Witnek, ook al saliger, by die watergat. Ons het skuldig gevoel om hom alleen aan sy lot oor te laat. “Gee vir hom maar een van my eiertoebroodjies,” het ek Tokkie gebied.

Iemand wat my voorliefde vir eierbroodjies ken, sal weet hoe groot ‘n opoffering dit was!

‘n Keer skud ons vriend Manie Steyn blad om te ry. ‘n Visarend swiep oor Tarlehoet en roep sy klokhelder roep. Ek kon sweer ek hoor “Tot siens, tot siens …”

Toe Eric en Sannie Wiese van die Kaap by die voordeur uitstap, staan ‘n paar sebras rustig by die watergat hul dors en les. “Wat ‘n afskeid,” sê Sannie.

Natuurlik sou die olifante en buffels dieselfde gewaarwording skep. Dis ‘n afskeid. Spesiaal vir die bevoorregte Van Deventers.

“Gegroet is julle ook, julle ou grotes. Tot siens maar nie vaarwel”.

Naskrif: As ek terugdink aan die wintervakansie is die vreemde dalinge van die kwik in die termometer op die stoep nogal ‘n prominente herinnering. Was dit die koudste winter nog in die Laeveld? Ek dink so. Maar eintlik staan die luiperdvangs langs Maroelaan uit (blog, Bloed op die stoeptrappies, 1 Augustus). ‘n Dag voor ons vertrek het ek ook in Jakkalsbessie vlugtig ‘n luiperd gesien. Twee luiperds in Sabiepark in een vakansie? Dit was ‘n eerste. (HvD)