Jul 11, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Vyf hotels figureer in my en Tokkie se wittebroodsdae aan die begin van 1967. Hul geskiedenis is, helaas, oorwegend maar droewig.
Ons is op Oujaarsdag 1966 op Bultfontein getroud. Die eerste nag het ons op Winburg geslaap – die Winburg Hotel, skuins oorkant die kerk. Dié kasarmte word nou omgeskep in ‘n “herberg” nadat klaarblyklik ‘n steil afdraandepad geloop is. Dit kon erger gewees het. Die ander hotel op die dorp, die Ford Hotel (Fordsons?) is ‘n jammerlike bouval.
Die tweede nag was ons in die Royal Natal Hotel aan die voet van Mount-Aux-Sources. Toe ons tien dae gelede die aftakeling aanskou van hierdie eertydse baken in die Drakensberg was ons geskok. Onkruid staan twee meter hoog waar die deftige eetsaal was, en in die koninklike kwartiere waar Koning George en sy gesin in 1947 uitgespan het, is stukke dak weg.

Prinses Elizabeth, die huidige koningin van Engeland, het hier haar mondigwording gevier. As jy dit nie weet nie, sal jy dit nie glo nie.
Die derde nag was ons in die Beach op Amanzimtoti – ‘n gewilde gesinshotel op die strandfront. Tot siens, Beach. Hy was al lankal in die pad van ontwikkeling, hoor ek.
Van die vierde nag af was ons ‘n week of wat in die Lonsdale in Weststraat, Durban – nie uitsonderlik nie, maar netjies, skoon, gesellig en, boonop, bekostigbaar. Drie goeie etes per dag aangebied. Drie sterre.
‘n Jaar of wat gelede het ek en Tokkie die Lonsdale gaan soek. Liewe land, “ons hotel” is nou ‘n “boardinghuis” vir immigrante uit Afrika. Lyk maar oes.
Vir die laaste nag het ons genoeg geldjies oorgehad om op te gradeer. Ons was in Sol Kerzner se Beverly Hills in Umhlanga Rocks, destyds sy vlagskip. Die BH is al lank nie meer Sol se plek nie. Maar dis die enigste van die Van Deventer-vyf wat uitgestyg eerder as agteruitgegaan het.
Toe ons laas daar op sy dek ‘n wyntjie gaan drink het, was John Smit se Springbokke in die hotel tuis. Tariewe is hemelhoog. ‘n Glasie witwyn op die stoep kos ‘n klein fortuin. Moenie jou verontwaardiging só luidkeels verkondig nie, het Tokkie gemaan.
Maar dankie tog vir die Beverly Hills (steeds die toonbeeld van elegansie daar langs die Oyster Box). Anders kon ‘n mens maklik die indruk gekry het ons wittebroodsreis was getoor. Tokkie sê hoeka ons huwelik self is omtrent al van destyds wat nie verbrokkel het nie!
Van al die verbrokkeling is die plundering van die Royal Natal die hartverskeurendste. Dié plek het glo ‘n paar jaar gelede leeg graak toe die huurders se kontrak verval. Nie lank daarna nie het die vandale toegesak. Die strakke murasies teen die agtergrond van die asemrowende panorama van die Amfiteater in sekerlik een van die heel mooiste landskappe in die ganse Drakensberg is nie ‘n mooi prentjie nie. Oordeel maar self.
My kennismaking met daardie historiese hotel was in 1964 toe die rolprent Zulu daar rond verfilm is. Die werklike slag wat uitgebeeld is, was eintlik by Rorke’s Drift. Natuurskoon is egter soms vir filmmakers belangriker as feitelike juistheid.
In elk geval, ek en wyle Kas Dreyer is deur Die Volksblad gestuur om te gaan verslag doen van die rolprentmakery. Kas het treffende foto’s geneem van veral een nagtelike brandtoneel. Die Royal Natal het só ‘n indruk op my gemaak dat ek en Tokkie eenvoudig daardie draai moes ry op pad Durban toe vir die wittebrood.
Die Royal Natal was ‘n vyfster. Al sterre wat oorgebly het, is die sterre aan die hemelfirmament snags – plek-plek sy enigste dak. Sic transit gloria mundi – ‘n klassieker definisie van hierdie spreuk sal jy ver soek.
Naskrif: In Sabiepark skyn die son vanoggend belowend. Gister was dit steeds ver van warm. Gistermiddag het ons ‘n vleisie gebraai. Ons het styf teen die vuur gesit! Die bosnagape het toe Saterdagaand weer hul verskyning gemaak, sommer drie in ’n bondel. Die “lugverkeer” by Tarlehoet was skielik weer op sy lewendigste. Vanoggend was drie leeus by die piekniekplek. Ons kon twee gesigte tussen die gras uitmaak. (HvD)
Jul 8, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Slang, spinnekop, skerpioen …. Binne die eerste 24 uur in Sabiepark was al drie die vreeslike S-e op ons lysie van vakansie-ervarings.
Die slang het hom in Tokkie se kombuiskas ingewurm en op ‘n slaaibak vervel – een van daardie waarin jy ‘n slaai laat stol. Sy koppie is by die deksel ingevroetel. Moet sê: die ontdekking het nogal T. se bloed laat stol! Waar hy het ingekom? Waar is hy heen? Sulke tergende vrae bly onbeantwoord.

Die spinnekop was die hele tyd op die TV-skerm – senter, mister (van D) Venter! – terwyl die Crusaders die Stormers opfrommel. Seker ‘n voorbode gewees van die droewigheid wat op Nuweland sou volg!
Die skerpioen (darem ‘n kleintjie) het by Manie Steyn se kamer ingegelip toe hy ná donker sy skietding in sy bakkie gaan haal. Manie loop nog maar stadig ná twee knievervangings. Met sy ratse swaai van ‘n skoen met ‘n swaar sool skort egter niks!
Nog ‘n kameelperdjie is gebore – twee maande ná die skouspelagtige geboorte van onse Paasbaba wat van A tot Z deur die gesin Claassens in Wildevylaan gadegeslaan is. Hierdie bevalling het in Gwarriebos begin en later Apiesdoring se kant toe verskuif. Die ma steek haar jongste nog goed weg. Ons het maar net gehoor – was nie so gelukkig soos Brent, Marisa, Jacob, Thomas en Christopher nie.
Die slegte nuus is egter: daardie eerste outjie is weg. Het ná ‘n dag of twee soos ‘n GROOT speld verdwyn. Dat die kleinding bene en al deur hiënas verslind is, klink na die geloofwaardigste teorie. Maar hoe ook al, gedwonge verskuiwings staar hoeka ons reeds kleinerige kameelperdbevolking in die gesig. ‘n Groot uitdunning van wild lê weens ekologiese redes voor.
‘n Uitdunning van bobbejane? Daarvan hoor ons egter nie.
Luiperds (‘n luiperd?) loop al die hele week die park vol. Philip van Rensburg is een van die gelukkige fotograwe. Soos in die geval van die klein kameelperdjie hoor ek en Tokkie egter ook maar net daarvan.
En ditto tot dusver ook met die leeus wat elke twee of drie dae by die piekniekplek kom drink. Eergistermiddag het ‘n olifant hom glo vir een van die wyfies vervies. Heelwat pret verskaf aan die gelukkige toeskouers.
Die kommunikasies van daardie Sjangaanse vrou van min woorde Lucy het nog ‘n gedenkwaardige sê-ding bygekry. Toe sy Tokkie die eerste keer sien, lig sy haar omtrent bo haar kop en swaai haar soos ‘n poppie in die lug. Sy kap-kap na T. se sitkussings en brom afkeurend: “Too thin, too thin”. Kan nie juis van L. se oordeel verskil nie!
Gister het Constance kom huis skoonmaak. Sy raak toe weg. Ná ‘n ruk kry Tokkie haar in die buitekamer. ‘n Vlakvark hou haar gyselaar.
Die klein nagapies vier op die oomblik fees. Die grotes skitter nog in hul afwesigheid. Slegs een het tot dusver kom oë wys. Dalk kry hulle ook koud. Sabiepark is darem nie vriesend nie, maar soos elders is temperature aan die skraal kant! (HvD)
Jul 7, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Sabiepark
Mount-Aux-Sources, die Amfiteater, Cathredal Peak, Cathkin Peak, Champagne Castle – almal magtige spitse van die Drakensberg, almal asemrowend indrukwekkend. Dit was ‘n vooreg om op pad Sabiepark toe twee dae rond te ry deur die sogenaamde “Verlore vallei” tot by Thendele, Didima en uiteindelik Monk’s Cowl in die “Sjampanjevallei” (wel, amper tot by die skoorsteen).
Elke besoeker aan die Drakensberg behoort hom genoeg tyd te gun om al vier dié hoofare van die sentrale en noordelike bergroetes behoorlik te ontgin, wat hierdie kroonjuwele (en andere) ontsluit.
Piekniek in die koninklike Natalse park, ‘n wyntjie op die dek van die Cathredal Peak Hotel, ‘n pot Vyf Rose by die serene Champagne Castle Hotel, sommer net ‘n kort wandeling by die Drakensberg Sun en ‘n aftog na die “kaalvoet-vrou” by Retiefpas is treffende ervarings met hope vars berglug, ‘n verskeidenheid attraksies en ‘n kragtige visuele impak. Kry ‘n goeie kaart en sit af berg toe – gawe slaapplek vir elke beursie is om elke draai.
Vir my en Tokkie het op ons ontdekkingsreis ‘n onverwagte ekstra gewag: ‘n tradisionele Woensdagmiddag-konsert van die Drakensberg-seunskoor aan die voet van die Sterkhorn, naas Catkhkin Peak. Dié Woensdag, 29 Junie, was ‘n seunskoor uit Dallas, Texas, op besoek. Netjiese seuns in formele kleurbaadjies.
In die atmosfeerryke ouditorium het die Drakensberg-seuns gunstelinge soos Anli van Rooyen se Halleluja, Bridge over Troubled Waters en Jerusalem (in Afrikaans) die besoekers van oral meegevoer. In die koor se weergawe was twee tenoortjies, Nathan Julius en Paul Roos, die soliste – absolute engelstemme.
Maar as een naam neergeskryf moet word vir toekomstige referensie is dit Roderick Demmings, graad 12-leerling by Dallas se St. Marks. Hy toor op ‘n vleuelklavier met jazz wat die tone laat krul. Ek ken nie juis jazz nie, maar The Saints Go Marching In was ‘n aangename herkenning. Die gehoor was op hul voete … nie die eerste gehoor en sekerlik nie die laaste wat vir die (swart) jonge heer Demmings sal opstaan nie!
Ons was bevoorreg om tuis te gaan by ‘n gasteplaas, Brandkraal, in die hartjie van die berg se toeriste-hartland. Dis huislik, gesellig, plat op die aarde, uiters billik en boonop Afrikaans-vriendelik. Ons sal weer kom, het ek in Freddy en Agnes Bondesio se gasteboek geskryf.

Op Brandkraal word meer as 1 000 koeie van 03:30 soggens gemelk. Die moderne tegnologie is iets om te aanskou. Op die laaste dag van ons kuier is seker vier of vyf kalwertjies gebore – een het ons klaarblyklik met minute misgeloop. Hy was nog steierend op dom beentjies toe ons op die plaaspaadjie langs die “kraamkamer” stilhou.
Ontbyt word op die maat van boeremusiek opgedis. Terwyl jy weglê aan vars plaasprodukte, klink die mazurkas van agter ‘n toe deur op. “Freddy dans vir oefening,” deel Agnes mee. Sy selfoon lui en – seker op die vraag hoe dit gaan – hoor jy hom lakoniek bo die konsertinamusiek opmerk: “So skud-skud”!
Oor die skoonheid van die Drakenserg-omgewing kan ‘n mens liries raak. Oor die helder blou lug bokant die magtige bergspitse. Sy baie watervalle (o.a. die Tugela) en ander waters. Sy golwende valleie. Sy tradisionele Zoeloehutte. Sy rotskuns. Elke uitdraaipaadjie lewer sy eie verrassing. Draai by soveel as moontlik in. En ‘n laaste stukkie advies. As jy van Winterton of Bergville se kant bergop ry, hou maar die oë oop vir Thokozisa. ‘n Kleurryker inligtingsentrum met lekkerder eetplekkies en winkeltjies sal jy nie maklik raakloop nie. (HvD)
Jul 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Sabiepark
Sneeu op die pieke van die Maluti’s en die Drakensberg, ryp op huise se dakke en kraakwit op die gras onder jou voete, die helderblou uitspansel van die sogenaamde “big sky country” uitgestrek bo jou, die kwik al om die vriespunt … padwerke, padwerke, padwerke. Soos die dik kokistreep op die padkaart van die AA in my deursak beskryf hierdie “bakens” ons reis van Bloemfontein na Sabiepark.
Op die ver paaie (wel, ons het uiteindelik van O.R. Tambo af tot Tarlehoet presies 2004 kilometer gery) was ook ander bakens. Op pad na Winburg, naby die imposante nuwe tolplaza by Verkeerdevlei, het die bordjie “Josephinesdal” byvoorbeeld my herinneringe teruggevoer tot die heel laaste Geloftefees waar die uwe in 1991 (nog in die ou Suid-Afrika) die spreker was.
Later, in die Oliviershoekpas het die bordjie “Retiefklip” my herinner aan die Geloftefees by Kerkenberg, naby die monument van die kaalvoetvrou. Die “saal” is in ‘n skeur tussen twee groot rotse. Die reën het op 16 Desember 1980 só op die sinkdak gedawer dat my normaalweg forse stem kwalik die mas kon opkom. ‘n Vrystater se verklaring was: “Jou stem weier om die liberale dinge kwyt te raak wat oor jou lippe kom!”
Op Winburg het Tokkie poseer voor die ou Hotel Winburg waar ons op 31 Desember 1966 ons eerste huweliksnag deurgebring het, en by ‘n olifantjie-spuitfontein wat na bewering die hartjie van die Vrystaat is – die presiese middelpunt. Die ou hotel is nou in die proses van herskepping tot ‘n herberg.
Later, in die Koninklike Natalse Park, het sy ook poseer by die murasies van die eens deftige “Royal Natal” by Mount-Aux-Sources waar ons ons tweede huweliksnag deurgebring het. Gras groei nou waar die wittebroodspaar Van Deventer hand-aan-hand die swier van daardie vergange tye bewonder het. Maar daaroor meer in ‘n volgende blog.
Op Paul Roux het ons oornag by Tokkie se neef Piet Botes en Retha. Die wortels van my vrou se Roux-familie lê hier wyd – op plase in die distrik en ook in die verwaarloosde begraafplaas. Piet het my met sy bakkie na die treinhalte Kaallaagte gebring (hulle spreek hom uit Ke-láágte) waar ek en ma, Baby, altyd afgeklim het as ons van Kimberley af vir Oom Danie en Tant Susie du Plessis op die plaas kom kuier, onder meer met ons padkosmandjie en rolletjie beddegoed. Oom Danie het ons kom haal met ‘n kapkar met twee spoggerige, kopspelende perde in die tuig. Die seuntjie van Kimberley het hom verwonder.
Rondom 1947 het oom Danie vir hom een van daardie plat nuwe Hudsons gekoop, wat soos ‘n sigaar lyk. Die registrasienommer was ORE … iets. Die bynaam “Ore” het die goeie mense van Paul Roux nogal irriteer. Ewenwel, eendag het die Hudson (Hornet?) se dakstoffering in Bultfonteinweg, Kimberley, skielik losgeskeur en op oom Danie neergedaal. Hy, altyd vinnig van humeur, het die kar met ‘n hamer bygedam en hom vol knoppe gevoeter. Maar dis ‘n ander storie.
Ons is van Bethlehem af deur Golden Gate na Harrismith, waar ons ‘n boks vol nastergalkonfyt uit daardie kontrei gekoop het. Sowel die effense ompad met sy skouspelagtige Oos-Vrystaatse bergtonele as die eksklusiewe konfyt van bessies wat deur spanne swart vroue met die hand in die berge ge-oes word, word van harte aanbeveel. Die roete neem jou verby Clarens waar buite die dorp ‘n bord is: “Welkom in Clarens … praat gerus Afrikaans. Dis jou goeie reg.” Mooi skoot, Clarens!
Op Ladysmith is ons langs die rugbyveld verby waar my Tukkiekoshuis, Kollege, in 1962 die doeltreffendheidsbeker op ‘n rugbydag gewen het. Hierdie skraal vleueltjie is uit die span vir die eindstryd gelaat, en het as vlagman opgetree. Die opponente skop en dis rakelings oor. Die uwe wys dis mis. Terug op my pos voor die paviljoen peper die toeskouers my: “Was dit oor of mis?” “Dit was oor,” bevestig ek die ander vlagman se aanduiding. “Hoekom wys jy dan dat dit mis was?” “Omdat dit amper mis was.”
Vir Vossie Grey, studentemaat, deesdae ‘n uithalerboer, is hierdie storie om die een of ander rede skreeusnaaks. Hy skud telkens opnuut van die lag as dit opgehaal word, soos daardie aand weer aan etenstafel op hul spogplaas, die JanVos-landgoed, naby Davel. Ek en Tokkie het by die gasvrye Greys oornag, Oor Vos se boerdery is baie om te vertel. Hou hierdie ruimte dop.
Op pad na Vos toe was daar ook nog bordjies “Dundee” en “Wakkerstroom” wat my gedagtes in trurat gesit. Op Dundee is ek op 3 Januarie 1941 in Sister Gilbert se Nursing Home gebore. Op Wakkerstroom was my Pa Malan in sy jong dae winkelier (Wakkerstroom Algemene Handelaar, was die naam, meen ek). Op Chrissiesmeer, anderkant Ermelo, het ons brandstof ingegooi. Pa-hulle het altyd by familie daar gaan kuier …. waar dit in die winter nogal ‘n gesukkel was om die ys soggens van die ou Studebaker se voorruit met ‘n knipmes en ‘n ketel warm water af te skraap. (HvD)