Jun 10, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
‘n Vriend het 54 jaar lank die oggend op 9 Junie sy vrou gevra om haar trouring af te haal en vir hom te gee. Die deurklokkie het teen 10:30 se kant gelui het. Dan het hy deur toe gestap en vinnig omgedraai: “Dis ‘n vriendin van jou.”
Hoe bly sy altyd was as die bloemiste buite gestaan het met ‘n ruiker, is iets wat hy altyd sal onthou, sê hy.
Presies om 15:00 het hy die bandjie aangeskakel. Dan het hulle weer geluister wat in die kerk gesê is, en het hy weer haar trouring aan haar vinger gesteek. Daarna het hulle geluister wat by die onthaal gesê is.
Gister, op wat hul 55ste troudag sou gewees het, het hy, ook namens hul enigste kinders en kleinkind, wat in die buiteland is, alleen blommetjies op haar graf gaan sit.
Watter trooswoorde het jy vir hom? (HvD)
Jun 8, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Oor die wispelturigheid waarmee modes deur die eeue bejeën word, het ene James Lever die volgende uitspraak gelewer:
“Een en dieselfde ontwerp sal tien jaar voor sy aanvaarding as onfatsoenlik bestempel word, vyf jaar voor sy tyd as skaamteloos, een jaar voor sy tyd as gewaag en eers as dit in die mode is as deftig.” Daarna, betoog hy verder, raak dit in stappe al hoe ouderwetser in mense se oë totdat dit mettertyd weer mode word.
Oor die meriete van elke bewering van die heer Laver laat ek my nie uit nie. ‘n Verstandige man hou hom uit die weer en uit modes uit.
Maar ek het ‘n belofte gemaak om by my onderrok-tema terug te kom, en daarom doen ek dit vandag. Met my aankondiging had ek ‘n motief. Ek bely dat ek die foto van die pragtige Prinses Diana (toe nog Diana Spencer) sonder onderrok wou gaan opdiep – omtrent die eerste foto wat die wêreld in 1981 van die fraaie Di gesien het pas nadat dit uitgelek het prins Charles kuier by ‘n nuwe nooi.
Diana het destyds by ‘n kleuterskool in Londen gewerk. Die Britte het gejubel oor die oulike nooientjie wat Charles, daardie ou droë bokkem, as moontlike toekomstige koningin losgeslaan het. In haar deursigtige rokkie sans onderrok kon hulle ook sommer sien watter buitengewoon mooi bene die kind het.
Ek het in 1981 40 jaar oud geword, maar ek was nie te oud om Diana se skoonheid (en haar bene!) te waardeer, of om twee keer na die foto te kyk waarop die “stoute son” (Kammakazi op Linet se mooi begrip) bewonderaars van vroulike bene ‘n guns doen nie. Ai, ai, fraaie Di!
Ek dink nie ek het daardie “mode” as onfatsoenlik of skaamteloos beskou nie, dalk tog as effens gewaag.
Oor die mate waarin Diana se deursigtigheid wel ‘n nuwe mode ingelui het, kan ek my nie uitspreek nie. Ek is wel bewus van ‘n “see through”-periode daarvoor of daarna toe vooruitstrewende meisies veral bolangs min aan die verbeelding oorgelaat het. Deur die dunnerige materiaal was soms allerlei bekoorlikhede waar te neem vir iemand met die moed en selfvertroue om stip te kyk.
Dit sou ek ook nie as ontfatsoenlik wou bestempel nie – wel, miskien, skaamteloos?
In elk geval, wat die Dianafoto ten minste bewys, is dit: dat die stywe onderrok met sy lae en valle teen die derde kwart van die vorige eeu bepaald nie meer mode was nie. Die eenvoudiger halflengte-onderrokkie (“slip” genoem in Engels) het in die plek gekom, en is soms in die kas gelos vir ‘n bietjie vars lug, soos in Diana se geval.
Die moeilikheid met die halfpad-affêrinkie was dat sy rekkie maklik gebreek het. Dan verloor hy op ‘n sleg tyd. Is dit dan nie Helen Suzman s’n wat in die Volksraad na benede gesak het terwyl sy aan die woord was nie? Toe skop sy die dingetjie eenvoudig uit en gaan voort met haar voordrag!
Tokkie s’n het een keer in Bloemfontein op die stoep verloor, terwyl ‘n buurvrou (gelukkig, ja) by haar staan en gesels het. “Sê Hennie moet vir jou ‘n nuwe koop,” was die buurvrou se advies.
Fluit-fluit, my onderrokstorie is uit, maar ek sluit darem graag met die kommentaar van ‘n mooie matriekmaat, Eveleen du Plessis, op my vorige blog:
Hallo Hennie
Ek kry sommer heimwee
MY MA HET VIR ONS ONDERROKKE GEMAAK VAN ONGEBLEIKTE LINNE MET VALLE EN NOGMAALS VALLE!!!
Saterdagoggende het ons in die koshuis baklei wie eerste die yster gaan gebruik. Daar is maizena aangemaak en jou onderrok is ingedompel. Dit het omtrent langer as ‘n uur geneem om elke val so te sê droog te stryk en dan ook kort, kort die yster af te vee.
Maar boeta, as hy daar klaar is dan voel jy behoorlik soos ‘n” million dollar”-bruid op pad saal toe of Jack Pauw (seunskoshuis) toe vir ‘n dans.
Groete
Eveleen
Jinne, Eveleen, nooit besef hoe hard julle werk om vir ons só begeerlik te lyk nie! (HvD)
Jun 6, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit ‘n sopnat Melkbos
“One ‘o clock, two ‘o clock, three ‘o clock rock…rock …rock …rock around the clock!” As Bill Haley en sy Comets dié ruk-en-rol-treffer van die 50’s laat dreun, dan wip en swaai die rokkies dat die beentjie tot doer bo in die noorde gesien kan word.
Die onderrok – sogenaamd “full flair – met laag op laag stokstywe kant wat parmantig en pikant onder die rokkie uitloer – wip en swaai saam met die energieke sprongetjies van die dansers. Dis mos die bedoeling, my Sheila!
Kyk, oor meisies se ondergoedjies is ek bra onkundig. Onthou darem met bittersoet nostalgie die jare 50 en sy bekoorlike “petticoats”. Die Afrikaanse “onderrok” is mos maar ‘n verbeeldinglose, onromantiese naam. Die woord “pet” roep, daarenteen, aangename beelde op, in werkwoordvorm sowel as selfstandige naamwoord!
Dink aan “Teacher’s pet”. Maar raadpleeg liewer die woordeboek!
Hoe kom ek op dié onderwerp? N.a.v. my beeldspraak in my vorige blog. “Gerafelde onderrokke” is nie juis ‘n relevante idioom in die moderne tyd nie, is ek vriendelik deur jonger bloglesers op Litnet ingelig. (Bestaan “organdy” en “crinoline” darem nog?) Nietemin, die ligte tikkie op die ou man se vingers sit my herinneringe toe in trurat.

Meen te sê, van my eerste Tukkiemeisies in 1959 en daarna had in hul kaste sulke uitklok-onderrokke, dikwels met kleurryke ingevlegde lintjies, en by geleentheid self versterk met hoepels om lekker wyd te kan opskop. Hoor ek iemand iets van stysel, suikerwater en selfs walvisbeen sê? Dit was, as ek my reg herinner, deel van die geheim.
As daardie nooientjies hul lang hare in uitdagende poniesterte gekam het en kort, gekleurde sokkies gedra het wat net bo die skoentjies uitsteek, soos die guitige enetjie op die CD-omslag hierbo, was hulle die perfekte prentjie van jou droomnooi, oor wie jy ure kon idealiseer. Hulle moes net nog só op hul toontjies staan as hulle jou ‘n piksoentjie gee – “sexy” verby!
Ook in rolprente het ikone soos die Grace Kelly’s en Doris Day-e van my dae onvergelyklike onderrokkies gedra. Jy sit op die punt van jou fliekstoel in die voorste, goedkoop rye dat jy nie dalk ‘n beweging mis wat jou ‘n vinnige flitsie van die “spergebied” gun nie.
My niggie Elise Smith (nou Elise Viljoen) van Pretoria was in matriek toe ek tweedejaar op Tukkies was. Ek het nou nie die presiese feite met haar gekontroleer nie, maar ek onthou sy het met só ‘n onderrok-gevaarte op ‘n Kersdag agter op ons neef, wyle Bertus du Plessis, se motorfiets geklim. Ons familie het altyd Kersdag by die Fonteine in Pretoria deurgebring, en Bertus en Elise sou per motorfiets kom.
Hulle daag nie op en daag nie op nie. Wat nou? Bertus, wat toe in die Kweekskool op Stellenbosch sou gewees het (of op pad soontoe), is tog ‘n verantwoordelike jong man. Uiteindelik kom die nuus: Elise se kantskepping het in die motorfiets se wiel en goeters verstrik geraak (voorbeeld op die tweede foto). Sy is semi-ontklee in die proses. Die motorfiets het aarde toe geploeg – vol duike. Bertus is plek-plek deurgeskuur.
My Tant Minnie – Elise se ma – was nie een wat haar onbetuig gelaat het nie. “Ek kan my haar-re uit my kop trek dat ek haar agter op daardie ‘mouterbaaik’ toegelaat het,” het sy die hele Kersdag deur gelamenteer.
Oor ‘n ander onderrok-mode (of sonder-onderrok-mode) skryf ek later. Hou hierdie ruimte dop – dalk vir ‘n geheime glimps! (HvD)
Jun 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Naand uit Melkbos
Die taal wat kinders praat, verskaf aan ouers en grootouers groot pret. Veral ons grootouers is nie beskroomd om oulike sêgoed oor te vertel asof ons kleinkinders ‘n eksklusiewe talent het om met allerlei oorspronklikhede vorendag te kom.
Vergewe ons tog maar – die meeste van ons is nou eenmaal só gemaak en só laat staan dat ons na ons kleinkinders se doen en late deur ‘n sterk gekleurde bril kyk. (Dis maar dieselfde met die oor en weer spoggery met foto’s en die sogenaamde “brag”-boekies wat enige tyd en oral woeps uit ‘n handsak te voorskyn gebring word).
Party grootmense buit ongelukkig hierdie nuk van ons ouer garde uit deur allerlei “kinderhumor” uit die duim te suig, wat party van ons in goedertrou vir soetkoek opeet. Party verkneukel hulle daaraan.
Tydskrifte wat beter oordeel aan die dag behoort te lê, publiseer goedsmoeds beweerde “exaaimvlaters” en dies meer, waarvan die oorsprong werklik nie bo verdenking staan nie. Trouens, die feit dat grootmense dit uitgedink het, steek gewoonlik soos ‘n gerafelde onderrok uit.
As ek nie graag die indruk wil laat posvat dat ek my mes vir ‘n bepaalde publikasie in het nie, sou ek die naam genoem het van een – gemik op lesers wat waarskynlik nie van die naïefste onder die son is of durf wees nie – wat nou die dag beweerde uittreksels uit graad-vyf-kinders se geskiedenisvraestelle publiseer. Goeie aarde, wil iemand my vertel ‘n joernalis wat sy sout werd is, kyk nie dwarsdeur sulke kunsmatighede nie.
Shakespeare het “historektomies” geskryf; die “toekoek” is ‘n voël wat nie haar eie eiers kan lê nie, en sulke tipe twak. Kan jy nou meer! Dis mos ‘n gruwelike oorskatting van die arme leser se graad van liggelowigheid!
Dierbare, goeie mense blits dié klas lawwighede ook per SMS of e-pos na hul vriende sonder om na te dink of ‘n greintjie geloofwaardigheid in hul storietjies steek.
Die uwe het selfs al kennis geneem van ‘n “gebedjie” oor hoe die Here dan dinge moet regky vir Oupa se aanstaande verwisseling van sy aardse woning met sy eindtuiste. Here, neem tog kennis: Oupa hou hiervan, Oupa hou nie daarvan nie, en dies meer. As dit nie voor ‘n rekenaar uitgedink is ter wille van vermaak nie, is hierdie ou man onder ‘n kalkoen uitgebroei.
Hoekom hierdie dinge my ontstel? Hoekom steur ek my aan snert? Hoekom maak ek e-posse in daardie trant oop? Hoekom lees ek die kolomme wat daarop gemors word, soos in die ongenoemde tydskrif? Nee ek weet nie.
“Small things amuse small minds,” sê die Engelse. “Elke diertjie het sy plesiertjie”, se ons mense. Hoekom laat ek diesulkes nie maar rustig begaan nie?
Seker maar omdat ek ‘n ongeneeslike masochis is, en ek die enigste verstandige reaksie – meerderwaardige verontagsaming – telkens eers onthou as ek my eers halfpad laat vang het. (HvD)
Jun 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Doktor Oprah? Dit val vreemd op die oor – en wat dit vreemder maak, is dat die verering van die sogenaamde “kletskoningin” van Amerikaanse TV juis van die Kovsies moet kom. Dié instansie het nogal ‘n interessante tradisie op hierdie gebied.
Verstaan mooi, ek beweer nie daar is bymotiewe met die graad vir Oprah nie. Ek het geen bewys nie, hoewel vererings met bymotiewe geen onbekende verskynsel is nie. Dit sluit alle vererings in. Maar dit is nogal opvallend juis hoeveel eredoktorsgrade toegeken word aan mense wat dik beursies het. Universiteite moet ook lewe …
Om net die Kovsies daaroor te hamer, sou onregverdig wees. ‘n Mens sou ‘n lysie kon maak, ook met ander name van instellings en ontvangers daarop. Boonop het ek ‘n sagte plekkie vir daardie “tweede alma mater” wat hierdie geswore Tukkie destyds in Bloemfontein “aangeneem” het. My raadspossie (laat ek maar bieg) het my na aan die hart gelê. Ek het dit nogal geniet in daardie akademiese “portale van mag” (destyds darem sonder enige vergoeding).
Oprah se D.Phil het ou herinneringe egter afgestof. Skielik onthou ek: in die UV se geskiedenis van doktorgrade honoris causa val ook name soos Louis Luyt en Barnie Human op. Ek beweer hoegenaamd nie dat hulle nie verdienstelike kandidate was nie, maar dat hulle geld had, val ook nie weg te redeneer nie.
Die Callie Humansentrum op die Kovsiekampus is die sprekende bewys van geldelike vermoë in Oom Barnie se geval. Oom Barnie was, terloops, ‘n goeie vriend wat ek hoog gerespekteer het vir sy diep spore in die motorhandel, kerk en gemeenskap. Hy het selfs in Margate ‘n kerk gebou ter herinnering aan sy ontslape seun, Callie. Hy het die universiteit op vele terreine gedien.
Ek wys dus nie vinger na hom of iemand anders nie – noem net die feite. En hier’s nog ‘n feit:
Die aanstaande dr. Oprah is natuurlik, by haar enorme internasionale publisiteitswaarde, ook bekend vir haar belangstelling in en oop hand vir die onderwys in Suid-Afrika. Sy het al stewig daarin belê. ‘n Mens weet nooit …
As iemand sou vra: “Hoekom dan vandag só sinies, ou Hennie?”, gaan haal ek my antwoord by ‘n eie ervaring in 1989. Ek en Tokkie het van die Publisiteitsvereniging van Bloemfontein “goue medaljes” (nie regtige goud nie) gekry vir gemeenskapsbetrokkenheid. Ondanks aanvanklike bedenkinge (is daar dalk bymotiewe?), het ek my dit laat welgeval. Elke mens het ‘n ego – kleiner of groter.
Die Publisiteitsvereniging was ‘n arm van die stadsraad, wat my koerant, Die Volksblad, kort daarna nodig gevind het om (soos meermale) oor die vingers te raps oor iets. Die burgemeester (laat hom maar naamloos bly!) vra ‘n onderhoud aan. In my eie kantoor kom sê hy vir my skaamteloos: “Ons het darem gedink jy sal ná die medalje minder skerp wees in jou kritiek”.
Dit was nie ‘n gemoedelike gesprek nie. Ek wou die medalje daar en dan teruggee. Hy is betraand uit my kantoor.
Hopelik bring dit die boodskap tuis dat ek my nie hoogheilig probeer hou nie. Ek staan as ‘t ware self agter die deur.
Verskeie naskrifte:
Die Kovsies het darem nie net vir rykes eredoktorsgrade gegee nie. Een van sy vreemdes was vir ‘n “vrou en moeder”, mev. Nellie Swart, eggenote van die eerste Staatspresident, C.R.
Die universiteit het ook vir my voorganger, Bart Zaaiman, ‘n eredoktorsgraad gegee – maar daarmee kon darem nie bymotiewe gewees het nie. Oom Bart was toe nie meer in die posisie om Die Volksblad se nuusdekking en kommentaar te beïnvloed nie.
Die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein het vir my baie ryk (en ook hoog gerespekteerde) vriend Boet Troskie ook ‘n eredoktorsgraad gegee. Dit sou onregverdig wees teenoor die Kovsies as ek daardie feit nie in hierdie konteks vermeld nie.
Die aankondiging van ‘n eredoktorsgraad op Twitter moet ‘n wêreld-eerste wees. Hoekom klink dit dan nou vir my só onakademies? Maar, natuurlik, Oprah twitter ook. (HvD)