KRUISIE TEEN TOKKELOSSIE

More uit Melkbos

Die voorvadergeeste waarmee ongestofistikeerde kiesers nou bang gemaak word, herinner my aan ‘n vers van Henk Malan van Potchestroom wat ‘n groot waarheid van ons diverse samelewing vir my nogal pikant raakvat.

Ek het Henk se vers gaan uitdolwe, en bied dit hiermee as relevante leesstof voor Woensdag se verkiesing aan (hoop Henk het hiermee vrede!)

Eers: wie’s Henk Malan? Hy is ‘n oud-dosent in Afrikaans met wie my paaie gekruis het toe ek dringend op soek was na T.T. Cloete se bloemlesing, Faune (ja, dis Faune, nie Fauna nie!).

Dis ‘n publikasie waarvan ek total onbewus was todat ek skielik ‘n jaar of vyf gelede die “blink ingewing” kry om die mooiste natuurverse in Afrikaans in een bundel byeen te bring; het selfs al by Kerneels Breytenbach begin aanklop iir tegniese kwessies soos tantieme, en dies meer.

Toe lees ek op Beeld se boekeblad in ‘n resensie ‘n verwysing na die Cloete-boek, wat my laat besef dat my “blink ingewing” dekades al deur iemand anders tot uitvoer gebring is – niemand minder nie as die ou meester van die digkuns, T.T. Cloete, self, wat ook ‘n Potchefstromer is.

Nietemin, ek begin soek en soek vir sy boek; rig my versoek oplaas aan Beeld se boekeblad wat dit publiseer. Toe laat weet Henk Malan uit Potch: “Kom haal vir jou die boek.” Dit staan nou tussen my ander “wilde boeke” op my Sabiepark-boekrak.

Ons was ‘n Sondagoggend by hom, en om die een of ander rede wat my nou ontgaan, vertel die vrygesel oor ‘n teetjie van sy vers Drie gode. Hier volg dit. Ek is ‘n leek maar na my oordeel het dit groot meriete:

Drie gode
Vir Anna, my huishulp

As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het … Lukas 17.6

Met skelrooi bloes en kraakwit kraag
Doen sy Sondae haar kruistoggang –
Waar Jesus leepoog aan die kruishout hang
Om hom te loof met kreungesang.

Vanaand sal sy voor haar ysterbed
-drie baksteen bo die beesmisvloer –
Prewelend, beangs iemand vra
Dat die Tokkelos haar nie moet pla.

More sal sy met gesuiwerde siel
Op die kombuisvloer seer-knie kniel
Om so ‘n ander god te dien
Wat haar maand’liks van haar loon voorsien.

Godvresend sal sy deur die lewe gaan –
Al het sy die drie-enig God nie mooi verstaan.

Henk Malan

(HvD)

OUPA SE VULLETJIE!

Thomas in sy rugbytrui. Agter is Jacob, die spanfotograaf.

Middag uit Melkbos

Geen oupa het seker al anders na ‘n rugbywedstryd gekyk waarin sy kleinseun speel nie, maar ek glo Thomas was vanoggend die ster van sy onder sewe-span van Welgemoed teen die Laerskool Van Riebeeckstrand hier te lande (op Melkbos).

Thomas het van die” afskop” (wat nie regtig ‘n skop is nie, maar ‘n aangee van die skeidsregter) feitlik dwarsdeur gehardloop. Die laaste verdediger het hom net kort van die doellyn beetgekry. In die volgende klompie sekondes het hy twee laagvatte uitgevoer.

Hy is nog twee keer na sterk lopies deur ‘n desperate laaste verdediger gestuit. ‘n Keer was hy losdeur en het trouens gedruk, maar die skeidsregter het die “Blessies” teruggeroep. Kort daarna het niemand ‘n vinger op hom kon lê nie. Hy het die buitegaping gevat en langs die kantlyn af genael vir die drie van die wedstryd in my boekie.

Welgemoed het vyf keer gaan druk; Van Riebeeckstrand drie keer. (Laasgenoemde se ster was ‘n stewige witkop met nommer elf op sy rug, die jongste seun van Ludi de Jongh van Melkbos. Hy het twee van sy span drieë gedruk. Albei kon dalk ook kwalifiseer as die drie van die wedstryd as jy deur ‘n ander bril na verrigtinge gekyk het, soos waarskynlik die witkoppie se oupa met wie ek plegtig voor die wedstryd ooreengekom het: “Mag die beste span wen”. )

Deesdae in die Super 15 hou hulle mos statistieke van elke speler: hoeveel meters veld hy gewen het met die bal in die hand en met skoppe, hoeveel laagvatte hy uitgevoer het, ens. Thomas se statistieke sou indrukwekkend gewees het, glo ek.

Tweelingbroer Jacob is die amptelike spanfotograaf. Hy is meer ‘n ou vir fietsry en sou nou die dag sy eerste ren gewen het met sy “fiets met ratte” as hy nie te opgewonde geraak het en neergeploeg het nie. Dit het ek op gesag van sy ma, Marisa.

Ons is vanoggend almal al voor 08:00 al veld toe vir die opwarming en so. Ek dag ons sal maklik parkeerplek kry, maar watwou. Toe ons by die skool kom, staan die karre tot doer. Klein seuntjies se rugby is ‘n ernstige saak het ek agtergekom, ook uit die luidkeelse aanmoediging van die kantlyn af.

Klein Christopher (tweejarige kleinboet van Jacob en Thomas) het sy ore toegedruk vir sy ma se kantlyn-krete. Aan die oorkant van die veld was ‘n Melkbosser wat ek ken omdat ek al ‘n skrapie aan my CR-V by sy plek laat verwyder het. Sy entoesiasme en uitgebulderde advies (wat hy met die swaai van sy arms beklemtoon het) kon geen twyfel oor sy lojaliteite by enigiemand laat nie.

Die laaste wat ek uit sy keel gehoor het, was: “Nog net een drie! Nog net een drie!” Maar toe druk nie die tuisspan nie om gelyk te trek nie – toe druk Thomas sy pragdrie om sy span verder te laat wen.

Oupa het nie geraas gemaak of niks langs die veld nie; hom soos ‘n waardige grysaard gedra. Maar ek skryf hierdie blog met voldoening en ‘n genoeglike trots in die hart! (HvD)

GEEN GRAP NIE

More uit Melkbos

Hoeveel boeke sou daar wees wat van voor tot agter uit grappe bestaan?

In my boekrak is vier of vyf. Een is ‘n bundel grappe uit die ou Finansies & Tegniek (nou Finweek), wat in Duwweltjie se rubriek op die agterblad verskyn het.

Duwweltjie was nogal ‘n voorloper met grappe. Die rubriek het gereeld glimlagte uitgelok … soms proesbuie .. en soms stikke van verontwaardiging. Hy KON stout raak!

Duwweltjie leef voort in Finweek. Maar, soos die kanarie wat in die stofsuier beland het, het die ou sy tjirp verloor. Sy sprankel is weg. Die stikke van verontwaardiging wat hy uitlok, is nie oor gewaagdheid nie, maar vir onderskatting van sy lesers met soveel opgewarmde kos.

Met die koms van die internet het ‘n grap se leeftyd korter geword. Kort nadat ‘n nuwe sy buiging gemaak het, is hy oor die hele e-pos-kringloop geblits.

Wat daarna volg, is herhalings, herhalings, herhalings. Party kom tot tien keer by dieselfde bestemming aan.

Vernuwings soos om ‘n Suid-Afrikaanse konteks ‘n Ierse konteks te maak, en vir Koos Paddy, werk nie. ‘n Grap is nie meer ‘n grap nie as die leser of toehoorder presies weet hoe dit gaan eindig.

Dis waar die “nuwe” Duwweltjie telkens in die slaggat trap. Hy dink blykbaar as iets die eerste keer by hom aankom, is dit waarskynlik nog varserig. Maar hy began ‘n fout. Week vir week dis hy “grappe” met baard op.

Duwweltjie se “humor” is, soos die Duitsers s’n, nie iets om oor te lag nie!

In die uitgawe van 12 Mei verskyn op die Duwweltjieblad byvoorbeeld voorbeelde van onsinnige koerantopskrifte. Die opskrif is: “Die Kuns van proeflees sterf uit”.

Joe, Duwweltjie, ek sweer die eerste keer toe dit op my skerm beland het, was drie jaar gelede. Presies dieselfde, identies, ditto. Selfs die opskrif. Al wat verander het, is dat dit in Finweek se Afrikaanse uitgawe in Afrikaans is. Die oorspronklike was Engels.

Op die voorblad van die einste Finweek verskyn die word “Oeps” in groot letters.

“Oeps” vir Finweek oor Duwweltjie se grappies waarvan die rakleeftyd lankal verby is!
(HvD)

HASIE, HASIE VAALJAN

Naand uit Melkbos

Nie alle studenteliedjies wat ek lustig gesing het, sal ek vir my kleinkinders leer nie. Die enetjie in die vorige blog is twyfelagtig – veral daardie “laaste wens” van “just pickle my bones in alcohol”.

Een wat ek hulle vrymoedigheid sal leer, is Hasie, Hasie Vaaljan, ‘n onskuldige liedjie wat Peet Langley van Alldays (broer van Thomas, politikus, en David, verspring-atleet) altyd in Kollege op sy kitaar uitgetokkel het.

Sien, ons was soms voorbeeldige jong manne wat nie net altyd met skuinse grappies besig was nie.

Hasie, Hasie het in Penguin Place 11 ‘n nuwe relevansie verkry met die verskyning op die toneel van ‘n werklike wit hasie met swart ore – is alle troetelhase wit met swart ore? Hy behoort aan die bure maar om redes van sy eie verwyl hy die meeste van sy tyd op ons werf verwyl. Ek sê hy. Dit kan ook ‘n sy wees. Ek weet nie.

Hy/sy en Tokkie kommunikeer lekker. Sy’t hierdie ding met diere.

Jy kan die haas nie miskyk nie as hy/sy met sy/haar kenmerkende vaartversnellings s-draaie op die voorstoep begin gooi, of agter die blombak in die voortuin skadu kom opsoek vir ‘n siesta.

Veral vir die klein mannetjie Christopher (2) is Hasie ‘n bondeltjie vreugde, hoewel die twee ouer manne, Jacob en Thomas (7), die mak diertjie duidelik darem ook oulik vind.

Sondag is hier ‘n Moedersdagbesoek afgelê – deur die haas sowel as die kinders. Ouma was in haar noppies dat die twee besoeke oorvleuel het. Christopher was onbeteueld opgewonde.

Agterna besef ek die tyd was logisties uitgeknip om die seuntjies Hasie, Hasie Vaaljan te leer.

Die woorde lui:

Hasie, Hasie Vaaljan
Olifant speel kitaar,
Slakkie blaas die saksofoon
En Skilpad sê net poing-poing, poing-poing ….

Studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai rapporteer hy het sy kleinkinders met Hasie eindeloos vermaak. Hy sing die eerste deel. Hulle val in by poing-poing, poing-poing. Dit het hulle laat kraai van plesier. (HvD)

O AARDE, HIER KOM EK!

Middag uit Melkbos

Onder “Geboortes en Sterfgevalle in die diereryk” word die volgende “persoonlike advertensie” altyd deur ons en ons bosvriende met vreugde begroet: “Gebore in Sabiepark, Mpumalanga: fris kameelperdjie. Moeder en baba albei wel.”

Elke keer as ‘n Sabiepark-nuusbrief dié blye bulletin bevat, heers groot opgewondenheid in die Van Deventerhuis. Dis ‘n okkasie.

Des te meer was dit ‘n okkasie vir ons dogter, Marisa, haar man, Brent, hul drie seuns, die tweeling Jacob en Thomas(7) en Christopher (2) en drie gaste wat die Paasnaweek toeskouers was by ‘n kameelperd-“bevalling” in ons eie straat, Wildevylaan.

Die gelukkige groepie het die hele geboorte van A tot Z gevolg, van die oomblik dat die beentjies begin uithang het totdat die nuweling, kop, pens en pootjies, kaplaks op die grond te lande gekom het.

Wat ‘n weergalose natuurervaring, veral vir ontvanklike kindergemoedere. Die foto’s daarvan is, sonder om te oordryf, met een word aangrypend. Ek plaas vandag’n kompilasie, met komplimente van Brent.

Op Melkbos is ek en Tokkie per selfoon van die vordering op die hoogte gehou. Ons is so meegesleur dat jy maar kan sê applous het hier, 2 000 kilometer ver, spontaan opgeklink toe die kleinding doer uit die hoogte drie meter ver op die grond neerplons.

Die eerste boodskap van Marisa af het die tafel vir urelange meelewing gedek: “ Kameelperd besig om geboorte te gee. Kinders kyk – ek op pad. Brent het my gou kom haal!!!”
‘n Volgende boodskap het gelui: “Bene halfpad uit. Ongelooflik!”

Toe kom die aankondiging: “Kameelperdjie gebore. Lê nou op die grond.” En kort daarna: “Te donker … kan nou niks sien nie.”

Die volgend oggend was die Claassens-span vroeg op die kraamtoneel. Tussen die takke deur het die kordate lang nekkie van die baba uitgesteek. Toe, seker weens die een of ander ongehoorsaamheid, kry die outjie skaars 18 uur na sy eerste aanskoue van lewenslig ‘n moederlike skop!

Wat ons kinders en kleinkinders beleef het, was nie my en Tokkie, en ook niemand in ons vriendekring, nog beskore nie. Die naaste was die entoesiastiese rapport van ‘n vriendin dat sy kort voor ‘n vorige kraamgeval kon waarneem “hoe die kleintjie in die kameelperdmamma se buik beweeg”.

Een van die jonger generasie kameelperde is enkele jare gelede op ons werf verwek, glo ons egter – en daarvan was ons seun, Johan, en sy vrou, Mariza, getuies. Fotografiese getuienis van die daad bestaan. Johan moes vinnig die knoppie druk. Met “vinnig”, bedoel ek “vinnig”. Sodra die ys ná ‘n tydsame toenadering gebreek is, gaan kameelperde as ‘t ware tot snelvuur oor.

Hulle poer-poer nie in die “slaapkamer” nie! (HvD)