May 23, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Kyk, hierdie ou is lief vir sy wyntjie. As ware wynliefhebbers begin gesels, is dit egter dikwels bo my vuurmaakplek. Die geure van vrugte en neute wat hulle so behaaglik raakruik en –proe, ontwyk my gewoonlik. Wyn is vir my lekker (meesal) of nie lekker nie (by uitsondering).
Ek was die naweek by ‘n kelder wat die klem nie net op die neus, die smaak en die gewone sintuiglike gewaarwordinge van wyn laat val nie. Hy bemark sy wyne met ‘n ietsie ekstra; noem dit maar ‘n speelse sensualiteit.
Die name van sy produkte is al klaar prikkelend: Temptation, The Original Sin, Nymphomane …. Die simbole op sy etikette en brosjures voer die suggestie verder: ‘n naakte eva en die slang, slanke vrouefigure minus hul kleertjies in ‘n ring-a-rosy-kringetjie (kyk die Satyrica-etiket), ‘n dame met bloedrooi lippies by ‘n volmaak-ronde bloedrooi appel – ewe begeerlik.
Die kelder se naam is La Vierge (betekenisvol, die “maagd” in Afrikaans). Hy is in die prentjiemooi Hemel-en-Aarde-vallei, naby Hermanus, gebalanseer teen ‘n hang, omring van wingerd wat in diep herfskleure begin ryp raak. Draai regs, as jy van Hermanus se kant kom, by die Wine Village op die R43 na Kleinmond. Net 6,6 verder km op die R320 “sweef” die wit verdieping-gebou met sy uitnemende uitsig oor die skilderagtige vallei.
La Vierge (spreek uit La Vie-ersj) begroet jou met ‘n ondeunde lewensgroot beeld van ‘n meisie met ‘n rokkie wat doer wip by die trappies van die parkeerplek af. Die wip van die rokkie verklap die geheim van onderkleertjies wat uitdagend ontbreek.
Dit tref jou dadelik: die liefde vir die vrou en die liefde vir die wyn (die wyntjie en Tryntjie van die spreekwoord) loop hier hand aan hand, waarskynlik oor die bekoorlikheid en verleidelikheid wat aan hulle gemeenkaplik is.
Ou vriende, Chris en Annette van Rensburg wat wydsbeen in Bloemfontein en Kleinmond woon, het my en Tokkie aan La Vierge gaan bekend stel nadat ons die vorige middag al ‘n heildronkie met sy sprankelende, droë Cap Classique op die weersiens gedrink het. Die impak was onmiddellik.
La Vierge haal graag vir Oscar Wilde aan, bv. dat “the only way to get rid of temptation is to yield to it.” Hy nooi besoekers met die belofte dat “paradise awaits”.
Gaan oordeel maar self oor die “paradys”-storie. Die prentjie van La Vierge tussen die wingerde is egter diep ingegrawe in my gemoed. Ek kan dink dat as jy jonk is, ‘n wittetjie of rooietjie op die “champagne veranda” wat as’ t ware oor die wingerd sweef, die verbeelding kan laat huppel van die sensasie van nektar op die tong, tot die gevoel van sagte fluweel onder die vingerpunte, tot algemene ekstase.
‘n “Nymphomane-tjie” of twee kan by wyse van spreke tot ‘n “Affaire” lei – nog een van La Vierge se wynname. Maar wag, ek is 70 jaar oud.
‘n Mens besing verskillende kelders om verskillende redes. Vir La Vierge hef ek ‘n loflied aan oor sy ligging in daardie skilderagtige vallei; ook die smaakvolle bewondering vir die fynheid van die vrou en van goeie wyn wat hy so gloeiend uitstraal. Ten derde oor argitektoniese attribute soos strategies geplaasde toilette wat, sittend, die asemrowendste panorama bied.
Chris en Annette verseker dat die kos ewe verloklik en strelend vir die sinne is. Hulle kan oor kos oordeel, want Annette is self ‘n towenaar agter die kospotte.
Maar moenie dink om te swig vir La Vierge se versoekings kom goedkoop nie. Soos elke temptasie het dit ‘n prys – die Cap Classique kos iets soos R130 ‘n bottel. Vir liefhebbers met dik beursies is dit seker nie buitensporig nie, ek weet. Maar ek kan die wete nie uit my kop verdryf nie dat ek Nuy se voortreflike vonkeltjie (‘n vrugtige Sauvignon Blanc) teen R30 ‘n bottel kan opraap as ek tussen Worcester en Robertson reis. (HvD).
May 22, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Maar ‘n ongemaklikheid as ‘n mens na ‘n formele dinee moet gaan en op die nippertjie trek jou metgesel kop uit omdat hy/sy siek geword het. Nog erger as dit met jou gebeur wanneer jy die eregas is.
Met Koos Myburgh, joviale wynboer van Melkbos (dink Perdeberg se wyne), het dit Donderdagaand gebeur toe hy ingehuldig is as ons Probusklub van Blouberg se nuwe president.
Sy vrou, Ralda, was afwesig – plat in die bed met ‘n ontydige rugbesering.
Natuurlik kan geen mens hom daaroor verlekker nie. Nee, o aarde. Maar ek sit al lank op ‘n goeie storie, en hier ontstaan toe skielik ‘n situasie wat daardie storie kraakvarse relevansie gee. Ek het my nie twee keer laat nooi om my storie te vertel nie.
Julle ken die Engelse word “spoonerisms”. Dis as jy Engelse woorde verfomfaai soos Oom Oubaas (Septimus van Zyl) Van 7de Laan Afrikaanse woorde verfomfaai. Oom Oubaas sou byvoorbeeld maklik praat van “‘n staande ovulasie” as hy ‘n staande ovasie bedoel.
Wel die vader van die begrip “spoonerisms”, eerwaarde W.A. Spooner, wat by uitstek ‘n gewoonte daarvan gemaak het om oor woorde te struikel, beland een aand in ‘n soortgelyke penarie as my vriend Koos. Hy moet ook sonder sy vrou na ‘n formele geleentheid in Engeland gaan nadat sy skielik siek geraak het. Hy val vinnig rond en kry ‘n vriendin om hom te vergesel.
Vir sy gasvrou wou hy iets soos die volgende sê: “Oh good evening, Mrs. Wellsley. I’m so pleased to be here. And you will be pleased to know that I have, due to the illness of my wife, produced a substitute”.
Wat oor sy lippe kom, is toe: “You will be so pleased to learn that because of my wife’s illness, I have managed to seduce a prostitute.”
Dit is nie opgeteken wat die metgesel se kommentaar was nie!
Naskrif: In die tyd toe spanne in kitskrieket plaasvervangers kon inspan, het die skeidsregter sy arms nogal energiek moes swaai om die teken vir substitusie te gee. ‘n Keer toe dit gebeur vra ‘n pa wat nie veel van krieket weet nie, sy seun wat daardie arm-swaaiery beduie.
“Daddy, he is calling a prostitute.” (HvD)
May 20, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Weet nie wie se kinders of kleinkinders sing nou Hasie Vaaljan nie. Ons het dit in Kollege-tehuis gesing in die goeie ou Tukkiedae rondom die 60’s, en nou die dag was op dit op my blog. Ander oupas en oumas kan maar kennis neem: kleinkinders hou daarvan!
Pierre le Roux van Mosselbaai by wie ek die eerste versie die eerste keer in dekades weer gehoor het, het intussen ook die tweede versie gestuur. Vir algemene kennisname publiseer ek dit hier:
Hasie, Hasie Vaaljan,
Die walvis het gelam.
Snoekie was die nursie
En sardiens was die baba …. baba … baba.
Dankie, Pierre.
Intussen nog ‘n versie gekry van Thsikilei-di-ei, Thsikilei-di-ei. Moenie hierdie een vir die kleinkinders leer nie:
Oh, you can’t get to Heaven in a strapless gown,
‘Cause a strapless gown might fall right down.
Lekker naweek.
(HvD)
May 19, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Met die Wit Trein op pad na die noorde, stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – in 1947 op Beaufort-Wes.
Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme Engelse verslaggewer in ‘n gat trap. Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die skare sy majesteit begroet het met krete van: “Hoere, hoere, hoere vir die koning!”
Ria Briers van die Goodwoodmuseum het my genooi om Dinsdag by ‘n werkwinkel oor humor van die ligter koerant van die joernalistiek te kom vertel, en die hoerestorie was een van dié wat ek opgedis het. Van my beste stories oor koerant-mistykies was al in hierdie blog ná die Woordfees op Stellenbosch. Hier’s, as toegiffie, darem nog twee of drie:
Gladys Steyn, laaste Sap-kandidaat in die Vrystaat, val uit in ‘n verkiesing. By Die Volksblad sit ‘n subredakteur met diaboliese dubbelsinnigheid die volgende opskrif op die berig: Gladys sit pot mis; hele Vrystaat Nat.
‘n Korrespondent van Die Volksblad berig uit die platteland¨ “Die bruid het pragtig in haar vertrek-uitrusting gelyk: ‘n ligblou gabardienpakkie met bypassende jassie. Albei is plaaslik goed bekend.”
‘n Ander ene, ook van die platteland, skryf: “Jannie Marais en Sannie Smit is Saterdag getroud. Dit beëindig ‘n lang vriendskap wat op skool begin het.”
Die opskrif was darem nie “Kwaaivriende” nie!
By die werkwinkel in Goodwood het prof. Frank Hendriks van UWK gepraat oor streeksvariëteite van Afrikaans. By hom leer ek toe die pragtige Boesmanlandse woord vir geslagsryp: “kweperbekwaam”.
Prof, Sandra Swart van Maties het ‘n akademiese dissertasie kom lewer oor “The laughter of the Afrikaner, towards a social history of humour”. Ek het nie geweet ‘n mens kan oor humor in die Anglo-Boereoorlog só filosofies-diepsinnig (maar boeiend, hoor!) praat nie. In my tyd was professore glad nie so jonk en aantreklik nie. Ook maar goed so!
Die uitgewer Danie Botha, onder andere redakteur van my tweede boekie, Flaters en kraters, het heerlik gepraat oor “Die lewe en humor van Fanus Rautenbach”. Hy weet dit nog nie, maar ek het by Melkbos kom aanbeveel dat ons hom hier MOET kry. Wie soek nog ‘n goeie spreker oor ‘n gewilde onderwerp?
In Die Burger was ‘n berig oor die werkwinkel, verrassend en nie op meriete nie, versier (?) met ‘n foto van die uwe in aksie (hierbo).
Die plaaslike grapjas, Danie Krynauw, stuur na aanleiding daarvan vir my die volgende boodskap: “Hennie, ek gee toe vanoggend vinnig die koerant vir Koos (gemeenskaplike vriend) en klim in die motor. Ek draai die ruit af en sê dat hy moet kyk daar is n foto in van Hennie van Deventer.
Koos: ‘In verband waarmee?’
Ek : ‘Hy is glo gevang vir dronkbestuur.’
En toe trap ek die petrol en ry weg… Groete, Danie.”
Die bokker, en dis nie eens so vreeslik vergesog nie! Gelukkig verskyn die woord “humor” in die opskrif langs die foto! (HvD)
May 18, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Vanoggend toe ek in die koue van die Melkbosse vroegwinter in ‘n onpersoonlike, stadig bewegende tou staan om vir ‘n kandidaat te stem wie se gesig ek nog net teen lamppale gesien het en vir ‘n party wat steeds vir my vreemd op die ore klink, dink ek ver-ver terug.
Dirk Smit, speaker van die stadsraad, staan ‘n entjie agter my. Ons sit ons gedagtes in herinneringsrat. Uiteindelik stem ons saam dat “those were the days” waarskynlik die beste vertaal kan word met “ai, waar is die dae?”
Die eerste verlange is na ‘n koppie warm koffie. Dié sou met komplimente by jou partytent beskikbaar gewees het – waarskynlik saam met ‘n eetdingetjie: ‘n pannekoekie vars van die primusstofie of so.
Onthou, julle ouer mense, hoe kiesers met karre gehaal is om te kom stem? Op die kattebakke van die Studebakers, Chryslers, Pontiacs, Fords en Chevs was lap-plakkate gespan met die kandidate se foto’s. Elke kar word met ‘n gejuig verwelkom.
Sodra die kar met die nuwe vrag stemvee stilhou, sak die brandwagte van daardie party op jou toe. Jy word omtrent ingehaak en met hartlikheid oorval. Die verwelkomingskomitee dra elkeen ‘n yslike roset in partykleure op die bors. (Kon Felicity van Sewende Laan nie gehelp het nie?)
So word jy na die tent begelei waar ‘n ry bekwame party-staatmakers by ‘n lang tafel sit. Jou naam word doodgekrap en in ‘n japtrap kry jy jou nommer. Ervare “elekesiewerkers” – veral sekere vroue was voorslagte – kon op grond van die tentbesoeke die uitslag van ‘n verkiesing redelik haarfyn voorspel, hoewel party mense gekierang het. Die opportuniste kry hul nommers by die “regte” tent, en stem dan vir die “verkeerde” party.
Die dominee en die landdros het nie hul nommers by ‘n tent gaan haal nie; hulle moes “onpartydig” wees. Almal het egter geweet waar hul kruisies getrek gaan word. In sekere gemeentes was die suspisie sterk dat “Doom’nie” vir albei die partye sou wou stem ter wille van gemeente-eenheid.
In die referendum van 1960 oor ‘n Republiek of nie het ek met my 1953 Peugeot 203 in Rissik, Pretoria, help Ja-stemme aanry. Die deftigste verkiesingskar was daardie studentemotor nie. Die vooruitsig om telkens te gaan hand uithou vir ‘n nuwe petrolkoepon was egter sterk motivering. Die aand is ek koshuis toe met die Peugeot se tenk vol – die eerste keer in maande.
Ewenwel, vanoggend toe ek in die kartonhokkie met my lang stembrief staan, trap ek amper in die slaggat om op grond van lewenslange tradisie N.P. te stem. Ek skrik toe my hand werktuiglik na daardie blokkie beweeg, en in die oomblik van verbouereerdheid stem ek toe amper ANC.
Toemaar, Helen, ondanks die irriterende TV-beelde van jou getoi-toi in Soweto en Mpumalanga, ‘n nuk waarvoor Oom Hennie g’n trek het nie, en ondanks die gebrek aan koffie, pannekoek en hartlikheid, het jy, Patricia en die D.A. my stem.
By die stemburo onthou ek die laaste keer toe ons Ouma, Tokkie se ma (nou 97), saamgevat het om te gaan stem. Sy was toe al immobiel en ek dring toe aan dat die kiesbeamptes na die motor kom. Opskudding. Ons word na ‘n ander stemburo gestuur waar leidsliede van die OVK dan teenwoordig sou wees. Hulle is egter nie, en ons word teruggestuur.
Van D. se lont raak korter en dit ruik na kruit toe ek uitklim om my eis, taamlik adamant, luidkeels te herhaal.
“Meneer, ons sal ‘n senior kiesbeampte van elders laat kom. U sal moet wag.”
“Dan wag ek”.
Toe wag ons.
Daardie kiesbeampte was nie net oor die bult nie. Ons weet dat ons gewag het.
Toe hy eindelik opdaag, vereis die letter van die wet dat die verteenwoordighers van die verskillende partye teenwoordig moet wees waar Ouma kruisie trek.
Ek maak egter beswaar dat hul kringetjie om die motor intimiderend vir haar is. Die partyverteenwoordigers retireer. Ouma stem.
Die volgende oggend se Tokkie vir haar “ons” party het dit met een stem gemaak – hare.
“My kind,” se ouma.
Maar natuurlik het Tokkie sommer haar ma se been getrek. (HvD)
Naskrif: Nou 8:50, nadat my kruisie al ‘n uur in die boks is, kry ek ‘n SMS van Helen Zille. Meisie, jy’s seker moeg van al die dansery in die strate, maar ek hoop nie jy staan nou eers op nie!