FENIKS UIT DIE AS

Skewe lamppale in Kobe - die monument van 'n enorme aardbewing.

Skewe lamppale in Kobe - die monument van 'n enorme aardbewing.

More uit Melkbos

Hoe ‘n verpletterde Japanse stad letterlik soos die spreekwoordelike feniks uit die as kan verrys ná ‘n massiewe aardbewing het ek in 1998, in ongeloof, in die stad Kobe, naby Osaka, met my eie oë gesien.

Kobe is op 17 Januarie 1995 feitlik platgevee toe die aarde 20 sekondes lank aan die ruk en beef gegaan het in ‘n skudding wat 6,9 op die Richterskaal gemeet het. Altesaam 6,425 mense is dood, 25,000 beseer en 300,000 dakloos gelaat in die ergste aardbewing in Japan sedert die Groot Tokio-aardbewing in 1923 waarin 140 000 mense omgekom het.

‘n Skrale drie jaar later is die 51ste Wêreldkongres van Koerante in Kobe gehou; ‘n moderne, mooi stad wat met die gewone Japanse doeltreffenheid funksioneer. Die afgevaardigdes kon kwalik agterkom watter verwoesting in sy onlangse geskiedenis plaasgevind het.

Met onverbloemde (en geregverdigde) trots is aan ons CD’s uitgedeel met ’n grafiese uitbeelding van die aardbewing en die merkwaardige rehabilitasie te midde van die uiterste ontreddering, chaos en ontwrigting. Binne ‘n week van wonderwerke was kommunikasiekanale weer op dreef; water en elektrisiteit grootliks herstel en die verkeer aan die vloei.

Ongelooflik! Ek glo die wonderwerk wat in Kobe vermag is, is die model waarop ook die heropbou van die stukkende stuk Japan ná die jongste reuse-aardbewing en verterende tsoenami geskoei gaan word.

Voordat ons in Mei 1998 vir die kongres na Japan vertrek het, is ons met heelwat innligting oor die aarbewing van 1995 gevoer. Ek, en seker baie ander koerrantemense vanoor die wêreld, het met ‘n sekere huiwering in grys onweer op die die Kansai-lughawe afgeklim.

Hoe heel kan ‘n stad wees net drie jaar nadat sowat 100,000 geboue verwoes en beskadig is, die padnetwerk (die vernaamste snelweg inkluis) in duie gestort en spoorlyne uitgeruk en opgevou is (die skade was minstens $132 biljoen)?

Die hoflike Japanners wat hulle met hul knap organisasie van die kongres, wellewendheid en gasvryheid onderskei het, het uit hul pad gegaan om vir die besoekers te wys dat Kobe nie net kosmeties
reggeruk is nie. Hulle het ons gou oortuig: hul stad is waarlik heel.

Die skewe lamppale wat oorgebly het, is doelbewus so gelaat – as gedenkteken.

Ek is daar weg, enersyds, met genoeglike herinneringe aan veral die beroemde “Kobe beef”, die vleis van beeste wat met massering en bier spesiaal voorberei word om koningskos te word. Ek is voorts deur die Japanners se durf, motivering en dissipline begeester.

Geen ander nasie sou hulle kon nadoen wat hulle in Kobe reggekry het nie.

Wat nogal iets sê van daardie nasie se stoffasie is dat in die dae ná die aardbewing geen, maar geen, plundering van winkels plaasgevind het nie. Selfs juwelierswinkels het onbeskermd oop gestaan. Niemand het iets gevat wat nie aan hom/haar behoort nie. Vergelyk dit met wat ná die orkaan Katrina in New Orleans aan die orde van die dag was, en ook aan optredes in ons eie land.

As ‘n mens so kyk na die tonele op jou TV–skerm van die huidige pyn en ellende van Japan wil jy moedeloos voel. As jy die Kobe-ervaring in herinnering roep, kry jy moed. (HvD)

SKIPSKOP IN NAGPUR

More uit Melkbos

Trapsuutjie-beurte aan die begin van ‘n lopie-jaagtog, warrelwind-beurte aan die einde. Voor die TV-skerm raak die hande klam van sweet wat na paniek ruik, en kou ons ons naels stompies.

Genugtig. Wanneer, soos David Kramer in Skipskop sing, hou hierdie dinge dan op?

Teen Indië was dit end wel, alles wel … maar dit kon totaal anders gewees het as Robbie Peterson nie daardie drie geïnspireerde mokerhoue in die doodsnikke grens toe gejaag het nie

Dan was dit nag in Nagpur en die jubelinge ná die kritieke Wêreldbeker-wedstryd net verslaenheid, verwyte en trane.

Ruikers proteas vir Peterson, asook vir A.B. de Villiers, J.P. Duminy, Faf du Plessis en Johan Botha, vir hul onverskrokke kolfwerk teen ‘n allemintige agterstand.

Vrot tamaties vir die kaptein Graeme Smith vir sy stadige sukkelbeurt, Jacques Kallis vir, nogeens, ‘n demonstrasie van kasuele kan nie-omgee-nie terwyl dringendheid vereis word, en vir Hashim Amla vir oorversigtigheid in omstandighede wat waagmoedigheid verg.

Dis tog nie mortiere wat die Indiese snelboulers op die top-drie afvuur nie, of is dit? As dit is, hoe kry Peterson dit dan reg om in die laaste boulbeurt teen een van die einste “verskrikkings” so los te trek?

As ek ‘n sportskrywer was (een van my gefrustreerde ambisies), sou ek graag vir Smith en die afrigter, Corrie van Zyl, ‘n paar indringende vrae wou vra.

Hoe struktureer hulle ‘n jaagtog as hulle so plus-minus 300 lopies nodig het? Vir hoeveel mik ons span na 10 beurte, vir hoeveel na 20, vir hoeveel na 25?

Hoe hoog mag die vereiste lopietempo maar klim voordat die “topkolwers” hul sterte begin roer?

Watter lopietempo is billik om op die arme drommels ondertoe op die kolflys af te laai om te prober behaal?

Is dit nie ‘n skande nie om wedstryd na wedstryd soveel druk op veral die skitterende A.B. de Villiers te sit? Want Kallis is tog nie minder talentvol nie – wel ouer, luier en klaarblyklik minder avontuurlustig en vol vuur.

Maar vandag se sportskrywers vra mos nie vrae met byt nie. Hulle probeer net slim skryf, veral mooi skryf, en voer die lesers hul eie wyshede, terwyl ons smag na ware insig en voorligting. (HvD)

Naskrif: ‘n Mens kan ook nie jou rug draai nie. Terwyl hierdie blog in reses was, het die temas opgelaai. By almal gaan ek nie uitkom nie, maar oor die verering van Nelson Mandela ná sy dood gaan ek nog skryf. Ook nog ‘n ietsie oor die Woordfees n.a.v. die gesprek met Francois Lötter in die Boektent.

SOPRAAN EN DIE VARKSOG

More uit Melkbos

Sewentig jaar oud het ek geword en nog nooit het iemand betaal om my te hoor praat nie. Dit was die geval tot Maandag 7 Maart. Toe gesels ek en Francois Lötter van Die Burger in die Boektent by Stellenbosch se Woordfees – nogal amper teen R1 per minuut.

‘n Volle R40 elk moes die toehoorders opdok vir 50 minute se gesprek tussen HvD en Francois (darem met ‘n vrywillige toegiffie van 5 minute of wat).

Maak dit nou van ons “celebrities”?

Dit daar gelaat. Dankie aan al die wonderlike, dierbare mense wat kom luister het. Hoop nie dit was te goor nie!

In 50 minute kan ‘n mens wye draaie gooi. Een van die draaie het gevolg op die nie-onverwagte vraag van Francois: waar het die skryfwerk aan boeke begin?

Dit gee my toe kans om ‘n paar stories te vertel oor allerlei koerant-kalamiteite met omgeruilde onderskrifte en dies meer wat in my debuutwerkie, “Scoops en Skandes”, en sy opvolger, “Flaters en Kraters” – albei in die laat jare 90 deur Tafelberg uitgegee – opgeteken is.

Een van my gunstelinge kom uit Walvisbaai, as ek reg onthou. Die onderskrifte by ‘n foto van die vroulike burgemeester en ‘n skip wat beter dae geken het , is omgeruil.

By die foto van die burgemeester staan toe: “Hierdie ou balie (tub) het verlede week die hawe aangedoen om haar bodem te laat skraap”.

Nog ‘n loeloe was die onderskrif in ‘n ander blad by ‘n mooi meisie wat op die tennisbaan die bal dien dat haar kort rokkie doer opwip: “Mev. So-en-So wat by die hengelkompetisie op Barberspan die prys vir die grootste barber gewen het.”

‘n Varksog en die formidabele sopraan Cecilia Wessels is op ‘n keer soortgelyk met mekaar verwar. Konsternasie! Mense, daar was pyn vir die arme nuusredakteur!

Lekker storie in koerantgange (dalk apokrief) is van die jong verslaggeefster wat die enigste beskikbare personeel was toe ‘n bom iewers ontplof. Sy kom uitasem terugrapporteer sy kon nie naby kom nie. Die polisie het ‘n “kondoom” om die hele gebied gegooi.

Sê iemand iets van “waar die hart van vol is ….”?

Vergeet dan ook nie van die nuusleser (ongelukkig ook vroulik) nie wat ‘n brokkie moes lees oor die Rooi Gety, met die volgende verduideliking: Dit is as gevolg van al die giftige “orgasmes” in die water.

Nie net die Suid-Afrikaanse media trap in sulke slagysters nie.

Lord Desborough sterf in Londen. The Times (van alle koerante) berig dis lord Bessborough wat die tydelike met die ewige verwissel het.

Lord Bessborough bel verontwaardig oor die premature afsterwe wat verkeerdelik aan hom toegedig is. “Julle skryf hier dat ek gister dood is,” blaas hy.

“Lord Bessborough, sê my net gou eers waarvandaan bel jy?” wil die verskrikte sekretaresse weet.

Natuurlik is daar nog hope lekker sulke stories. Daarvoor sal julle “Scoops” en “Flaters” egter maar in die biblioteek moet gaan uitneem. Elke “goeie biblioteek” het ‘n eksemplaar of wat! (HvD)

Naskrif: Om alle misverstand uit die weg te ruim: die uwe dink werklik nie hy’s ‘n skrywer of outeur nie – net maar ‘n lewenslange joernalis wat graag stories op skrif sit wat hy hier, daar en oweral gehoor het of self oorgekom het. Dat dit op boekies uitloop, is maar net ‘n stokperdjie (en genade).

.

OOR SPOEG EN SEMENT

More uit Melkbos

Desmond Tutu is bereid om sy persoonlike genoom met die wêreld te deel, “want ek vertel in elk geval altyd vir almal oor alles myself.” Heeltemal só openhartig is ek nie.

Dus: geen verduideliking oor hoekom ek nie langer Woensdag ingaan vir my heupvervanging nie. Die operasiedatum word tot Oktober/November verskuif. Dis al.

Voldoende om verder te laat val dat ek intussen die Groot Stryd teen Gewig aandurf.

Ek eet klaar soos ‘n mossie, drink soos ‘n kameel – net een keer per week (indien wel) – en beur met my stram litte wind-op op verpligte wandelinge om die blok.

Die skaal staan beskuldigend op die badkamervloer by die deur. Kan die bleddie ding nie miskyk nie, al wil ek!

In die aanloop tot die abortiewe heup-chirurgie het ek ‘n paar dinge geleer – oor myself en my eie broekbewerigheid oor sake soos narkose, waakeenhede, lang wit kouse, kateters, en dies meer. Ook oor die vreemde weë van mediese fondse.

Moet sê wat van die sogenaamde “spaarfonds” verhaal word en waarvoor die fonds opdok, bly vir hierdie waarnemer ‘n verrassingspakkie. Elke verrekening wat op die rekenaarskerm verskyn, lok verbaasde krete uit.

“Kyk, Tokkie, vir hierdie bloedtoets betaal die fonds jou werklik!” “Ai, kyk net hoe roei hulle nou weer ons spaarfonds uit met daardie plate!”

Iets om voor fyn dop te hou, is “prosedures” waarvoor glad nie betaal word nie. ‘n Reeks verskillende kodes verklap die redes. ‘n Kode om spesiaal voor lig te loop, is daardie een wat aandui dat ‘n bepaalde “lyn” nie gelees kon word nie.

Aan die arme, verwarde siekefondslid word te kenne gegee dis weens ‘n swakheidjie op die faks wat ontvang is. Ek wonder soms of dit nie is wanneer die betrokke amptenaar sy/haar oë geknip het nie.

Siekefonds het merkwaardige uitsluitings, het ek opnuut geleer nadat ek as jong vader al verbaas was dat vir my seun se insulien betaal word maar nie vir die spuitjies waarmee dit toegedien moet word nie. Vraag: hoe kry andersins jy die goed in jou lyf?

Nou het ‘n soortgelyke probleem opgeduik met die sement (gom?) waarmee ‘n porseleinkroon aan ‘n gebreekte tand geheg word. ‘n Goue kroon is goed en wel – vir daardie sement (gom?) word gewillig opgedok. Maar met die porselein-weergawe moet jy klaarblyklik maar ‘n ander plan maak.

Toe ek my verbasing daaroor luidkeels te kenne gee, bel ‘n vername jong man om “alles mooi vir die oom te verduidelik”.

Uit die staanspoor vererg ek my toe. “Kyk, man, ek is 70 maar nie onnosel nie, hoor!”

Só sukkel ons kommunikasie voort totdat ek gebelgd by hom wil weet: “Waarmee sit ‘n mens dan jou krone vas? Met spoeg?”

Hy het my ‘n antwoord skuldig gebly. (HvD)