Mar 20, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Wie het raakgesien die naamlyn by drie vergeelde Huisgenoot-artikels oor spoke wat Saterdag in “By” as illustrasie gebruik is by Johannes de Villiers se artikel oor die donker dinge onder Afrikaners in die 1800’s is dieselfde as die naam van ons eerste Staatspresident van die RSA?

Einste, C.R. Swart, die Huisgenoot-bydraer, en Charles Robberts Swart, latere president van Suid-Afrika, is een en dieselfde mens.
Min mense weet dit, maar Swart, wat Minister van Justisie was in Malan en Verwoerd se Kabinette, was in sy jong dae joernalis (ook cowboy in die VSA, maar dis ‘n ander storie).
Touens, ek en Swart was verlangs “kollegas” – hy was in 1936 twee maande lank redakteur van Die Volksblad. Ons deel verder die reputasie van “vurigheid”. Sy “vurigheid” op een bepaalde dag, 16 Januarie 1936, kon ek op my vurigste egter nooit ewenaar nie.
Swart was daardie dag besig met ‘n heftige aanslag op die tikmasjien toe die Volksbladgebou in die latere Voortrekkerstraat (en nog later Nelson Mandelarylaan) skielik begin skud.
Swart het self vertel: “Op ‘n warm somermiddag sit ek en hoofartikel skrywe. Dit was blykbaar ‘n vurige en aggressiewe een, want meteens begin die vensters te ruk en te rammel terwyl die gebou waggel en bewe. Na ‘n vyftal sekondes besef ek eers ‘n vreemde gedoente was aan die gang.
“Toe ek by die kantoordeur uitstorm, sien ek net meisiekinders die gang afhardloop, en al wat gewerk (of gedut) het, storm die gebou uit na die grondverdieping die straat in.
“Dit was ‘n aardbewing wat ons so skrikgemaak het. Dit het mooipraat gekos om almal weer terug op kantoor te kry.”
Die storie van die vurigste hoofartikel in Die Volksblad se geskiedenis is opgeteken in my eerste boekie, “Scoops en skandes” (Tafelberg, 1993).
Swart se kort redakteursloopbaan het nie uit die lug geval nie. Hy het van 1927/28 tot 1933 al ’n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” vir dié koerant behartig. As jong politikus was hy vir ‘n rubriek, “Parlementere Praatjies”, verantwoordelik en het ook Saterdag-hoofartikels geskryf.
Sy plaas buite Brandfort se naam was “De Aap”. Dat die goedige “Oom Blackie” ‘n aap was, kon jy egter nie van hierdie veelsydige man sê nie (HvD)
* Die joernalis Johannes de Villiers het ‘n boek oor spoke, spiritiste, sektes en goëlgeeste geskryf – wonder of dit hom vir die titel “spookskrywer” laat kwalifiseer!
Mar 19, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Huguenet as Hamlet saam met Berdine Grunewald (Ophelia)
Middag uit Melkbos
Andre Huguenet se humeur was legendaries.
In die vorige blog word vertel van sy aanrandingsaak na ‘n relletjie oor vermaaklikheidsbelasting.
Nog ‘n staaltjie oor hom is dat hy een aand, toe ‘n baba onophoudelik luidkeels geskree het, die opvoering onderbreek, vorentoe gekom en uitdagend beveel het: “Mevrou, sal u asseblief u skreeuende skraapsel uit die saal verwyder.”
Ek wil eintlik vandag vertel van die dag toe die woordryke akteur, gewoond om altyd in alle skermutselings die laaste woord in te kry, na berig word, sprakeloos was. Die oorspronklike bron is my oud-kollega Piet Muller. Ek het die storie op sy gesag in “Flaters en Kraters” (1996, Tafelberg) opgeteken.
‘n Bibliotekaresse het nie besef wie hy is nie en hom in Engels aangespreek. Hy het sy gebruiklike bohaai opgeskop.
Hy het haar van ‘n kant geloop omdat sy nie so “bilingual” soos hy is nie.
Een van die senior dames het nader gestaan , hom op en af bekyk en toe, steeds op Engels, aan haar jonger kollega beduie:
” This gentleman (natuurlik met groot klem op die “gentleman”) is Mr. Andre Huguenet. He is not only bilingual but bifocalled en bisexual as well.”
Met sy gesteurdheid het hierdie blogskrywer natuurlik simpatie. Met sy kapokhaan-houding nie. Dit het gemaak dat daardie troef sy verdiende loon was. (HvD)
Mar 18, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Cobus en sy vrou, Sandra Kotze, in “Mattewis en Meraai” in 1979 Middag uit Melkbos
Koerantmense se helderste herinneringe wentel dikwels om die politiek en politieke figure. As dit die vaste spyse van jou onthou is, is sport en die uitvoerende kunste die poeding.
Die herinneringe van die kordate “klein mannetjie” van die verhoog, Cobus Rossouw, regisseur van die rolprent “Getroud met rugby”, was vir hierdie soettand soos die koekstruif wat Tokkie, my vrou, vir spesiale okkasies maak.
Verleidelik ryk en lekker!
In Die Burger van ‘n week of wat gelede het Rossouw vir Murray la Vita boeiend van sy luisterryke loopbaan vertel.
Met die lees was ek skielik terug in die jare 80, ge-aandpak en ge-strikdas in die losie van die imposante Sand du Plessiteater waar ek bevoorreg was om soos wafferse wie-weet-wat elke Sukovs-opvoering of -uitvoering by te woon.
As redakteur van Die Volksblad het ek komplimentêre kaartjies vir die “Sand” ontvang. Die beste Suid-Afrikaanse kunstenaars in die wonderlikste operas, blyspele, toneelopvoerings en wat nog is dus in gloriedae vir die kunste as ‘t ware op ‘n skinkbord gratis en verniet aan my gebied. Ek moes maar net opdaag – ‘n vyfster-vooreg wat ek destyds nie na waarde geskat het nie.
Rossouw se verhoogloopbaan, soos hy dit aan La Vita geskets het, het vir my ‘n boek laat oopval. Flitse van elke skitter-rol waarin ek daardie intense, passievolle, amper verbete, akteur leer ken het, het weer helder voor die gees verbygerol. By uitstek koning Lear. Rossouw se koning Lear was manjifiek.
In daardie veeleisende rol het die statuur die “kort mannetjie”, soos iemand dit eendag iewers gestel het, letterlik voor die gehoor se oë gegroei. Die impak was onvergeetlik.
Maar by koning Lear hou Rossouw se impak nie op nie. Verreweg nie. Op die verhoog van die “Sand” was hy sonder twyfel die Speler van die Dekade. Van die Afrikaanse toneel (en rolprentwese) was hy een van die grotes in sy era. Punt.
Rossouw se terugblik het nie net kosbare herinneringe aan daardie jare ontsluit nie. Hy het die gordyn verder teruggeskuif tot veterane met wie hy in sy jong dae saam op die verhoog was, toneel-legendes soos André Huguenet, Wena Naudé, Patrick Mynhardt, Mathilde Hanekom e.a. wat vir die huidige generasie waarskynlik vreemdelinge is.
Oor een van hulle, die vermaarde Huguenet (gebore Gerhardus Borstlap), wil ek graag ‘n staaltjie deel wat in my 1996-boekie “Flaters en Kraters” opgeteken is. Dit is “geleen” by my oud-kollega Piet Muller wat in sy rubriek “Flitslig” in “Rapport” vertel het hoe Huguenet die land weke lank vermaak het met die sage van sy aanrandingsaak, spruitende uit ‘n ligte verskilletjie oor die betaal van vermaaklikheidsbelasting op ‘n dorp in die Swartland.
Muller vertel: “ … die verskyning in ‘n plattelandse hof was een van die groot oomblikke van sy loopbaan – ‘n vertoning wat kon vergelyk met sy Hamlet of selfs sy Hassan, waarvoor hy internasionale erkenning gekry het.
“Nee, hy het nooit iemand geklap nie, en veral geen amptenaar nie. Edelagbare moet darem onthou hy is ‘n toneelspeler en weens sy beroep is hy soms in die gewoonte om sulke wye Griekse gebare te maak …” (HvD)
Mar 17, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Mount Nelson?
More uit Melkbos
Moet een van die pieke van die Drakensberg – of dalk sommer die hele berg – na oudpres. Nelson Mandela genoem word?
Mnr. John Tungay, stigter van die Drakensbergse Seunskoorskool, het voorgestel dat Cathkin Peak Mandela se naam kry. As beelde van Amerikaanse presidente in die berg Rushmore uitgekap kan word, kwalifiseer die oudpresident darem seker vir dié eer, meen hy.
Met die byvoeging van die stertjie “of dalk sommer die hele berg” stuur die uwe sy eie vlieërtjie op. Moet dit nie op mnr. Tungay se rekening sit nie.
Oor die meriete van die Tungay-plan (met of sonder die HvD-amendement) laat ek my nie uit die. Laat die Kwazulu-Natallers en bewaringsliede dit eers onder mekaar uitspook. Oor die meriete daarvan om kreatief te begin dink oor ‘n gepaste gedenkteken vir Mandela is ek egter vuur en vlam.
Die man is ‘n internasionale ikoon. Suid-Afrika sal nie ná sy dood kan volstaan met ‘n munisipaliteit hier, ‘n universiteit daar en ‘n straat of drie wat sy naam dra nie. En die land se grootste lughawe heet klaar na Oliver Tambo.
‘n Waardige monument sal uitgedink moet word.
As ek nog die platform van ‘n koerant of koerante gehad het, sou ek in die versoeking wees om ‘n kompetisie uit te skryf – met GROOT pryse – om Suid-Afrikaners aan die dink te sit oor hoe Mandela vereer moet word.
Tungay wil met die vernoeming van ’n piek in die Drakensberge nasiebou en nasionale eenheid bevorder. “Mandela is ’n simbool van iets wat veel beter is as wat ons op die oomblik kry. Ons is nie ’n Reënboognasie nie.”
Mnr. Tungay se voorstel kry uit talle oorde die wind van voor. Dit herinner my aan my eie ervaring toe ek in Augustus 2002 in ‘n brief aan “Rapport” gewaag het om op te merk: “ ‘n Groter en unieker eer kan Suid-Afrika sy beroemdste seun nie bied nie as om die Nasionale Krugerwildtuin te herdoop tot die Nelson Mandela-wildtuin.”
Die volgende week was daar drie kwaai briewe wat sê nee, asseblief tog nie. My voorstel is “onbekook” en “moedwillig”. ‘n Vriendin het in haar private reaksie selfs van “verraad” gepraat.
Enkele vriende het privaat wel hul eensgesindheid betuig. Een het voorgestel dat ek van die brief ‘n glansafdruk maak en dit bewaar, “want dit sal nog geskiedkundig word.” Klaarblyklik gaan dit nie gebeur nie.
Die stof het vinniger gaan lê as wat ek verwag het. Al glo ek steeds dit sou vir Suid-Afrika – en vir die Wildtuin self (uit ‘n internasionale bemarkingshoek) – ‘n goeie ding wees, aanvaar ek die plan is doodgebore.
Maar dit verander niks aan die saak nie: ons sal vinnig groot en kreatief moet begin dink. Mandela word nie jonger nie.
En dink net watter plusfaktor dit vir samebinding kon wees as die uiteindelike wen-idee uit Afrikanergeledere gebore sou word, veral as dit ‘n element van toegewing (selfs opoffering) kon bevat.
Of wat praat ek alles? (HvD)
Mar 16, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Ek het enkele dae gelede op my blog gevra of ek en Francois Lotter van Die Burger nou “celebrities” is? Mense het immers amper R1 per minuut betaal om ons by die Woordfees te hoor.
Na vandag het ek geen twyfel nie.
Ek wou die foto hierbo bestel wat verlede Woensdag op Die Burger se bladsy 3 was. Die fotografie-afdeling het my hoflik hoflik na ‘n nommer in Johannesburg verwys. Ene Marissa het teruggebel.
Sy deel toe mee dit sal my R500 (vir die lisensie) kos plus die koste van die afdruk. Dat ek die foto slegs vir my eie private foto-album soek, verander niks aan die saak nie.
Op my opmerking dat koerante in my tyd sulke foto’s vir R10 verkoop het, het sy uit die hoogte gereageer: “Dit is nie meer daardie tyd nie”.
Mense, bekyk daardie foto goed. Dis ‘n stukkie suiwer goud.
Ek het nie eens gedink jy betaal R500 vir ‘n kaalbasfoto van Kate Middleton nie! (HvD)