Mar 24, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
Naand uit Melkbos
Iets wat by die koerant van die eerste dag af by my ingedril is, is om respek te hê vir mense se name. Jy maak dubbel seker. ‘n Fout is onvergeeflik.
‘n Vriendin wat ook joernalis was, Rina Koen van Durbanville, onthou as iemand sê haar naam is Anna, het sy altyd gevra: “Anna met twee n’s of een n?”
Teen daardie agtergrond gaan skryf ek in my blog oor 7de Laan ewe onverskillig van San-Marie pleks van San-Mari, Bonnita pleks van Bonita en Isabel pleks van Isabelle.
Jammer, Laners! (HvD)
Mar 24, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Anton Goosen het ‘n liedjie gesing met woorde in die volgende trant: ” ‘n Vroumens is ‘n slegte ding, ‘n slegte ding, ‘n slegte ding …”
Lyk amper of die liedjie in antisipasie geskryf is oor wat nou in 7de Laan aan die gang is (ja, ek kyk nog, vir my sonde).
Die arme “Mince” was met sy deli goed op pad. Hier kom Bonnita met haar duistere agtergrond. Ai, ai, ai. Die arme “Mince”.
Dan sit hy boonop met die warkop Hilda as regterhand!
Eintlik is dit nie soseer die deli wat hierdie kyker se tone laat krul nie. Dis die Hillside Times. Oor daardie simpele koerantjie se wan-funksionering het ek al voorheen verbysterd hier kommentaar gelewer.
Maar dit gaan van erg tot erger.
Aggie, die “super char”, is nou ‘n besturende redakteur van formaat. Los alles vir haar: van redaklsionele spertye tot trae adverteerders. Die bekwame voorvrou vat raak en vat reg. ‘n Klein wonderwerkie, sou ek haar wou noem. Die word “klein” is egter ontoepaslik – letterlik en figuurlik.
Dan maak sy nog so tussen in trefferjuwele, beur die verdrietige Isabel op en sorg in die algemeen toegewyd dat Hillside se moreel hoog bly.
Neville is ‘n redakteur om uit jou hart te bejammer. Waar is Mandla tog? Want die ligsinnige Paula is ‘n ramp, en die katterige San-Marie is ‘n ondergewig-liggewiggie, ook in haar boonste verdieping.
Een ding darem. Ek kan aan van die land se voorste rubriekskrywers dink wat haar die kuns sal beny om net “stokkies” met nuwe rubrieke aan te dra … sommer vyf op ‘n slag, terwyl T & T Lukie-loos ronddobber en die sweet in die gimnasium rol.
By my afskeid by die Pers, vroeg 1998 het die volgende woorde uit my mond op die spyskaart verskyn: “Deur my hele loopbaan het ek daarin geslaag om op die regte tyd op die regte plek saam met die regte kollegas te wees. As ek ‘n pluimpie verdien, moet dit vir my uitstekende tydsberekening wees.”
Die arme Neville sal nie soortgelyk kan getuig nie. Hy sit waarlik op die verkeerde tyd op die verkeerde plek met die verkeerde mense, ongelukkige drommel.
En Tim? Hy pas baba op in Singapoer, die wegloper!
Hoekom het die onbekookte, ongeloofwaardige en papierdun mallemeule van mallighede my dan so beet dat ek elke aand om 6:30 die TV aanskakel?
Moet seker Clara wees. Sal darem lekker wees om met die oulike nooientjie te kan koekeliekoe (as dit naastenby die ding se naam is) ja! (HvD)
Mar 23, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
‘n Japanse kleuerskool-klassie vaar ‘n parkie in die ouwereldse stadjie Kijoto binne om skoon te maak.
Elkeen is met ‘n plastieksak gewapen Om hul hande is ook plastieksakkies gebind vir beskerming. Die juffrouens is gedurig byderhand om raad te gee en die inhoud van die sakke te inspekteer.
Die toneeltjie het op my en Tokkie ‘n diep indruk gemaak. Sulke vlytige, flukse kindertjies is net ‘n plesier om dop te hou.
Die foto is in Junie 1998 geneem. Ek het dit gaan uitgrawe omdat dit so mooi inskakel by vanmiddag se geselsprogram Loslip op RSG oor Japanners se werksetiek, waardes en dissipline wat van kindsbeen af by hulle ingeprent word. (HvD)
Mar 23, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Van Tonder, jou donder!
Getroue lesers van HvD se blog (weet nie hoeveel van 2007 af oor is nie) sal weet dat ek al sedert Augustus van daardie jaar, amper vier jaar, die vent soek.
Lesers van “Praat-praat in Tamatiestraat” (weet nie hoeveel daar is nie, want ek het nog nie syfers by die uitgewer gekry nie) sal eweneens van die feit bewus wees, want my Van Tonder-blog het ‘n hoofstuk in dié boekie geword.
Maandag, Menseregtedag was dit ‘n geval van “Het jou!” ‘n Hewige heuglikheid was dit.
Laat my eers net die geheue verfris oor wie daardie vuige karakter is en waarom hy so lank gesoek is.
Wie hy is: ‘n fiktiewe karakter in ‘n limeriek wat deur oud-joernalis en oud-regsman Toon van den Heever uit Engels in Afrikaans vertaal is.
Die oorspronklike Engelse weergawe lui soos volg:
There was an old lady from Pod
Who thought all children were made by God.
But it was’nt the Almighty who lifted her nightie,
It was Roger the lodger the sod.
Waarom hy so dringend gesoek is? Omdat hy op ons wintervakansie in 2007 in Sabiepark na ‘n paar glasies wyn in die geselskap van Gustav (oud-appèlregter) en Frances Hoexter van Bloemfontein ter sprake gom het.
Almal weet van die Afrikaanse weergawe, maar nie een kan die presiese woorde onthou nie. Ek is toe grootmond. “Gee my kans – ek sal dit kry.”
Maar by die huis gekom, blaai ek verniet deur “Scoops en Skandes” en “Flaters en Kraters”, my eerste twee boekies met koerantstories, waar ek vermoed om dit te vind.
Tuis op Melkbos snuffel ek deur my leggers met stories. Ek moet ‘n handgeskrewe weergawe van die limeriek besit wat ek by Willem Wepener afgesmeek het nadat hy by ‘n direksievergadering daarmee vorendag gekom het. Daardie waardevolle dokument is egter spoorloos.
Ek vra Jaap Steyn. Hy beveel Daniël Hugo aan. Daniel sê hy het dit een keer by Stephan Bouwer gehoor. Hoop nie dis saam met Stephan graf toe nie. Gewese buurvrou Una Beukman beveel Philip de Vos aan. Nee, hy weet ook nie.
Ek stuur sms’e aan enkele vriende wat ek as waarskynlike bronne van kennis oor sulke sake identifiseer. Maar niks spring uit nie.
Toe gaan sit ek maar voor my rekenaar, kry my geheue in rat en improviseer so ‘n bietjie. Ek kom toe met die volgende vorendag (ekskuus, regter Toon, maar dis die beste wat ek kon uitrig):
‘n Onskuldige plaasnooi, Nonnatjie Nel,
Glo babas kom net op Hoër bevel.
Maar dit was nie die Almag
Wat haar laat verwag,
Dit was Van Tonder die donder die hel!
Maandag pak en ek Tokkie my ou oorvol leggers met die doel om oortollige papier weg te gooi of te versnipper (het vir my 70 ste ‘n snippermasjien present gekry).
In die voorlaaste legger kry ek sowaar die vermiste Wepener-dokument (in die illustrasie). Ek vat dit volgende vakansie saam Sabiepark toe om vir die Hoexters te gaan wys hierdie oukerel weet waarvan hy praat. Intussen kan ek gesaghebbend meedeel regter Toon se weergawe lui soos volg:
Daar was ‘n mooi jong nooi, mej. Nel,
Wat dag babas kom op Hoër Bevel.
Maar dit was nie die Almag
Wat haar laat verwag,
Maar Van Tonder die donder die hel!”
Dat sy ‘n onskuldige plaasnooi was met die naam Nonnatjie was dus pure HvD-verbeelding! (HvD)
Mar 22, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Dit deug nie om te veel in die ou dae vas te val nie. Om “onthou jy nog?” te speel, kan egter tog prikkelend wees.
Die Burger se rubriek wat die horlosie elke dag 50 jaar terugdraai, verlei hierdie 70-jarige om gereeld te gaan loer … sê maar as ‘n soort toets van sy geheue wat roeserig raak.
Vandag 50 jaar gelede is die nuus oorheers deur dr. H.F. Verwoerd se terugkeer uit Londen waar ons vir die Statebond tot siens gewuif het. Ek was een van die 50 000 Suid-Afrikaners wat, borse bultend van ‘n amper heilige patriotisme, op die lughawe Jan Smuts aan hom ‘n helde-ontvangs gaan gee het.
Ai, hoe goed onthou ek die kleurbaadjie-kommando wat met tien munisipale busse van Tukkies se kampus lughawe toe opgeruk het.
Ek was redakteur van die studentekoerant “Die Perdeby”, en het die vorige Vrydag in ‘n hoofartikel my mede-Tukkies opgeroep om aan dr. Verwoerd “hulde te gaan betuig vir die onverbiddelike standpunt in belang van ons vaderland wat hy (oor die Statebondskwessie) op die Premnierskonferensie in Londen ingeneem het.”
Moenie skiet nie, onthou ek was nog maar ‘n brose 20 jaar oud!
Wel, die Tukkies het “Die Perdeby” nie teleurgestel nie. Die busse was voor die Ou Lettere ingeryg. Die een na die ander het propvol na die lughawe vertrek.
“Die Perdeby” van 24 Maart 1961 kon jubel: “Magtige skare verwelkom ons premier – grootste uittog in geskiedenis.” Oor laasgenoemde twyfel ek vandag. Dalk is darem meer Tukkies Johannesburg toe as dit die jaar Wits se beurt was om die intervarsity aan te bied!
Waarby ek egter wou uitkom, is by die rubriekie wat destyds gereeld op die hoofartikelblad verskyn het. By ‘n skets van ‘n vet Meksikaan met ‘n hangsnor en ‘n rokende pistol in die hand was die woorde “Ek skiet jou as jy nie saamstem nie dat …..” Die redaksie het die sinnetjie altyd spitsvondig probeer voltooi.
In daardie uitgawe is eenstemmigheid geëis dat “ons nou almal Commonwealth Old Boys-kleurbaadjies kan dra.” Nogal humoristies, dink ek steeds.
Nie net die rubriek “50 jaar gelede” sit die gedagtes in trurat nie. ‘n Gewone nuusfoto kan dit doen. Op Vrydag 18 Maart was ‘n foto in Die Burger van St. Patrick Day’s-vierings iewers.
Ek vra toe vir Tokkie: “Weet jy waar was ons gister in 1977?”
Sonder die voordeel van die foto voor haar twyfel sy ‘n oomblik.
Toe waag sy, volkome korrek: “Amerika”
“Waar in Amerika?”
Weer volkome korrek: “Boston.” Dit was die jaar van my Nieman-fellow-skap aan Harvard in Cambridge.
“Waar in Boston?” Hier had ek haar – todat ek haar herinner het 17 Maart was St. Patrick’s Day.
Toe weet sy: “Boston-Suid”.
Inderdaad het ons het met die Boston “T” (sulke groen trems) na die Broadway-stasie gery om die optog in hierdie Iersste van alle Ierse woonbuurte in hierdie Iersste van alle Amerikaanse stede te aanskou.
Kleurryke sierwaens, orkeste en mense in groen-groen kostuums is straat af, van die Broadway ‘T’-stasie tot by Andrew Square. Daarna het ons in ‘n Ierse drinkplekkie gaan keel natmaak. Uit die platespeler het opgeklink: “When Irish eyes are smiling….” (HvD)