Feb 8, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

BO Alida en Tokkie
ONDER: Servette met ‘n glimlag

More uit Melkbos
Papierservette gee party mense die ritteltits. Dit weet ek, omdat my gunsteling-seekosrestaurant op Melkbos sulke dun wit papierservetjies dek – tot die klaarblyklike ongemak van sommige gaste wat “beter” verwag.
Dat ek na ons vriendin Alida Fourie se 70ste gaan en agterna oor die papierservette rapporteer, is derhalwe buitengewoon. Alida is ‘n buitengewoon eksie-perfeksiemens.
Haar praghuis in Durbanville, haar tuin, haar meubels, haar skilderye, haar kos, haar keramiekwerk, haar naaldwerk – alles, en nog meer, is buitengewoon, soos Tokkie, my vrou Sondag in haar gelukwensing opgemerk het.
Ook die 70-ete was buitengewoon – keurig aangebied in Pieter en Alida se eetkamer-cum-woonkamer, met ‘n verskeidenheid fynproewerskos (en –wyn), so salig op die verhemelte dat die gedugste skanse van die mees verbete verslanker in ‘n japtrap soos mis voor die son sou verdwyn.
Die tafels was vrolik (maar nie oordadig) gedek met mooigoed, onder meer wit en rooi lapservette met ‘n bedagsame knoopsgat aan die punt om die bultende hemde van die gesetter gaste te beskerm.
Dan ook die papierservette – kaarblyklik om ‘n buitengewone rede, omdat dit nie werklik nodig was nie. Daardie rede was gou duidelik: die tikkie humor wat dit tot die feestelikheid bygedra het.
Op die een kant was die prentjie wat hierbo afgedruk is met die rein gedagte: “Lets not age … let’s just marinate!” Agterop was vyf sogenaamde “Truths” en vyf sogenaamde “Dares”.
“Truths” het ingesluit die vraag: “What was your strangest date ever?” en “Dares” die taamlik avontuurlike uitdaging aan die adres van die gaste: “Swap bras with the person to your left.”
My skoonseun, Brent, was agterna verstom. “Doen julle nog sulke dinge op jul ouderdom, wou hy betreffende die gesuggereerde omruilery van bra’s in ongeloof weet! Maar ontspan, Brent – dis maar net oumense se manier om die ys te breek en die geselskap dadelik te laat vlot.
Met die vraag oor “strangest date” was die uwe gewapen met ‘n wenstorie wat hy in ‘n rondstuur-e-pos teengekom het: Die storie van die meisie wat (op ‘n eerste afspraak, nogal) in digte sneeu die kêreltjie moes vra om sy motor van die pad te trek dat sy kan gaan neus poeier.
Sy doen toe haar ding half gebukkend teen die agter-modderskerm. Maar toe sy klaar is, kan sy nie roer nie. Haar kaal boud het teen die metaal vasgevries. Die galante ridder agter die stuurwiel het na haar buitengewone lang afwesigheid besluit om te gaan ondersoek instel. Hy kry haar toe so, magteloos deel van sy motor se bakwerk met haar G-string om haar enkels.
Wat nou? Na kajuitraad is besluit al raad is om haar los te kry met die ruimskootse aanwending van die een of ander warm vloeistof – waarvan ‘n verskeidenheid in die gegewe omstandighede nie beskikbaar was nie. Sy rits moes af en met ‘n herhaling van die aktiwiteit wat haar so duur te staan gekom het, is sy stromend en stomend vinnig losgewikkel. Die twee is later getroud – wat die storie darem ‘n ordentlike einde gee.
Maar Alida se gaste het vrolik daarop gereageer, soos sy ongetwyfeld op gereken het. Alles aan haar is immers buitengewoon, soos Tokkie opgemerk het. Ook haar flinke humorsin. (HvD)
Feb 7, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
‘n Baard het sy vurige bewonderaars. Ewe vurige teenstanders beskou dit as ‘n boskasie wat hulle laat gril.
Versinnebeeld ‘n baard manlikheid, gedistingeerdheid, waardigheid, viriliteit, gesag en status, of dui dit op ‘n verslonste willewragtig met ‘n aversie vir seep en water?
Ek sal nie ‘n algemene uitspraak waag nie. Jy kry baarde en baarde. Die rol van ‘n baard in ‘n man se beeld moet jy egter nie gering skat nie. In sekere tydvakke was yslike baarde bepaald die in-ding.
Toe ek ‘n seuntjie was, was mans in my Oupa Visser se generasie sonder uitsondering bebaard, soos die Paul Krugers, Christiaan de Wets en Koos de la Reys voor hulle. ‘n Boer dra ‘n baard en basta. So was dit destyds.
D.J. Opperman het selfs oor die verskynsel gedig:
“God het mos in die storm
ons volk se leiers tussen klip en blits
met baarde, Bybel en sambok gevorm …”
By groot feeste wat Afrikanerharte laat warm klop het, is fluks baarde gekweek, soos met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en die Republiekfees in 1961. Selfs die ouens met sagte wangetjies het dapper probeer om hul donsies na iets te laat lyk.
Baarde is egter nie kenmerkend van net “ons volk” nie. Dis internasionaal. ‘n Wêreldkampioenskap word selfs tweejaarliks gehou, en van die baarde waarmee op daardie verhoog gespog word, is waarlik indrukwekkend (of grotesk, as jy nie van ‘n baard hou nie). Vanjaar se kampioenskap is, terloops, iewers in Noorweë, het ek in ‘n koerant raakgelees.
Baarde het ‘n eeue-oue geskiedenis. Gaan blaai gerus weer deur die KinderBybel. Hoeveel gladde wange merk jy op? In die geskiedenis is mooi baardestories soos dat die Spartane lafaards in hul tyd gestraf het deur ‘n hap uit hul baarde te knip.
Later eras het beroemde baard-draers soos William Shakespeare, Leonardo da Vinci, Mohammed, Abraham Lincoln, Ernest Hemingway, Vincent Van Gogh, Karl Marx, George Bernard Shaw en die Engelse krieketspeler W.G. Grace opgelewer.
Maar ek moet erken my lysie skiet te kort, soos my eie baard wat ek met ‘n vakansie in Sabiepark in die 90’s laat groei het, ietwat te kort geskiet het.
Daardie baard was die resultaat van luiheid om te skeer. Die grys kroesies was egter erg jeukerig in my kiewe. Boonop was die ooreenkoms met ‘n bepaalde politikus van so ‘n aard dat my vriend Pierre van Manen gereageer het met: “As jy ‘n perd het, het ek vir jou ‘n groen onderbroek”. Ek het taamlik vinnig van die groeisel ontslae geraak.
De Engelse wat uitmunt met groot woorde vir klein dingetjies, noem die studie van baarde “pogonology”, na aanleiding van die Griekse word vir baard, “pogon”.
‘n Beperkte, eietydse studie van die “pogonologie” het mense in my gedagtes laat opkom soos Kersvader, “Kolonel” Sanders van Kentucky Fried Chicken-faam, tuindwergies, Fidel Castro, Osama bin Laden en …. Hashim Amla.
En die foto hierbo? Dis bepaald eietyds. Dit kom van die omslag van die begrafnisbrief van my neef Bertus du Plessis, wat my en Tokkie op 31 Desember 1966 in die eg verbind het (lees my blog van 30 Januarie).
Bertus is onlangs op Potchefstroom begrawe in ‘n kis waarom die Transvaalse Vierkleur gedrapeer was. Chris Blignaut se “O Ryperd” (later deur Dozi ietwat gemoderniseer) het in die agtergrond opgeklink, hoor ek.
Daarop lewer ek geen kommentaar nie. Oor daardie vloeiende wit baard van my neef Bertus kan ek my egter nie bedwing nie. “Maggies,” wil ek uitroep. Dis ‘n baard wat ‘n mens tot eerbiedigheid stem of jy nou ‘n Vierkleur-mens, ‘n “O Ryperd”-mens en ‘n baard-mens is of nie ‘n Vierkleur-mens, ‘n “O Ryperd”-mens en ‘n baard-mens nie. Of hoe? (HvD)
Feb 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Moenie van ‘n nat kol ‘n modder kol maak nie, waarsku my Tokkievrou gereeld. Ongelukkig het ek in hierdie opsig ‘n swakheidjie: meermale as ek ‘n penarie probeer beredder, slaag ek net daarin om die penarie te verdiep.
Miskien is dit omdat ek uit die koerante-omgewing kom. Arme koerante kan nogal in hierdie opsig kleitrap.
Die klassieke storie van ‘n nat kol wat ‘n modderkol geword, het ‘n Britse koerant oorgekom wat aan ‘n uitgetrede generaal, met ‘n bors vol dekorasies, paslik hulde wou bring.
Die eerste dag skryf die koerant toe hy was “battle scared”. Die tweede dag, toe die koerant apologie aanteken, berig hy wat eintlik bedoel was, is “bottle scarred”.
Eers die derde dag kry die verlee koerant dit presies reg: “battle scarred”.
Hierdie storie is in my eerste boekie, Scoops en skandes (Tafelberg, 1993), as ‘n voorbeeld van humor in die pers opgeteken. As jyself aan die ontvangkant is, sien jy egter nie die humor raak nie.
‘n Vriendin, Esbe Krynauw van Melkbosstrand, is oorlede en namens die gesin hanteer ek die kennisgewing in die koerant. Ek waarsku: Onthou, Krynauw kry ‘n umaut op die y.
Tot sy eer, kry Die Burger die umlaut reg. Maar anders as wat die patroon is, skryf hy Krynauw toe in kleinletters, terwyl al die ander vanne op die blad in hoofletters is.
Hoekom, wil ek weet.
Dis die umlaut, beduie die meisie. Hulle het nie so ‘n funksie met ‘n hoofletter-Y nie.
Wel, my rekenaar wat sekerlik minder gesofistikeerd is as Die Burger se rekenaars het wel daardie funksie, skop ek vas.
Later laat weet sy: Nee dis reg. Sy het die funksie gekry. KRYNAUW sal die volgende dag in hoofletters ingaan, met umlaut en al.
Toe staan daar op dag twee: KR*NAUW (met ‘n swart kol waar hier ‘n sterretjie is).
Nat kol, modder kol?
Natuurlik, maar ek aanvaar medeverantwoordelikheid. Die Krynauw in kleinletters was immers beter as Kr*nauw met ‘n swart kol. Ek moes liewer nie gekarring het nie. (HvD)
Feb 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Zoveel malen is men man
Als men talen spreken kan.
Ter ere van wyle Esbe Krynauw van Melkbos wil ek hierdie bekende woorde van Karel V, keiser van heilige Romeinse Ryk meer as 500 jaar gelede, vandag effens ombuig:
Soveel male is mens vrou
As hoeveel mense jou sal onthou.
Wat beteken dit? Eenvoudig dat jou stoffasie bepaal word deur die hoeveelheid lewens wat jy konstruktief aangeraak het. Dat Esbe ‘n grondige impak op baie mense gehad het, kan niemand ontken nie – mense oor die hele spektrum: jonk en oud.
Sy was onderwysmens in murg en been, o.m. as grondlegger en eerste hoof van die Primêre Skool Tableview. As pedagoog het sy gesonde waardes vir generasies ontvanklike kinders ingeprent. Dit behels basiese Christen-deugde soos geloof, hoop en liefde, maar ook ordentlikheid, dissipline en respek: vir mekaar, vir die natuur in al sy verskeidenheid, en vir die eie.
Haar eie dors na kennis en inligting het sy entoesiasties aan die kinders oorgedra. Ek kan my voorstel hoe hulle gretig aan die voete van die wyse Gamaliël gesit het.
Tot aan die einde van dae was Esbe die voorbeeld van ‘n gesonde waardestelsel. Sy was geen selektiewe respekbetoner nie. Almal kon te alle tye op hoflikheid reken. Hoeveel kinders vergeet nie eenvoudig van oorlede ouers nie? Esbe en haar manhet nie vergeet nie. Al in gevorderde jare is hulle nog gereeld met die Honda vol vars blomme al die pad na Beaufort-Wes om dit op hul grafte te gaan sit.
Esbe se dors na inligting, kennis en begrip vir die wêreld om haar het tot aan die einde springlewendig gebly. Haar koerant het sy elke dag van van hoek tot kant verslind. Sy is gereeld met stapels boeke onder die arm by die biblioteek weg. Hoe ironies dat die laaste stapeltjie ongelees langs haar hospitaalbed moes bly lê …..
As burgemeeestersvrou van Milnerton was sy ‘n rots aan haar burgemeesterman, Danie, se sy. Sy het waardigheid, uitgestraal; ook bekwaamheid, innemendheid en sjarme. Haar deernis vir oumense het toe al ‘n fokuspunt geword. By haar bugemeesterlike onthale was die bejaardes van die gemeenskap meesal die eregaste. Daardie goue hart vir oumense het sy behou deur bv. gereeld met ‘n pakkie lekkers by een op te daag.
Vir my en Tokkie se eie Ouma Marietjie in haar “koshuis” hier op Melkbos, soos sy Seepark genoem het, was Vrydae Esbe-dag – altyd ‘n hoogtepunt waarna sy reikhalsend uitgesien het, en wat altyd ‘n pakkie lekkers opgelewer het.
In haar vriendekring was sy beroemd/berug – afhangende van persoonlike voorkeur – weens haar legendariese liefde vir katte. Haar reputasie vir die onoortreflike bereiding van boontjiesop het wyd gestrek. Sy is geag as ‘n omgeemens, wat met navrae, gelukwensings en bemoedigende woorde innigheid uitgestraal het. Op spesiale dae het sy graag met ‘n suurlemoentert opgedaag – ‘n saligheid op die verhemelte wat, volgens haar, die soet en die suur van die lewe gesimboliseer het.
Waarskynlik haar sterkste lewensmissie was ‘n rol wat sy met passie en toewyding vervul het: dié van eggenote en moeder. Vir Danie senior, Danita in Amerika, Danie en Marina en Daniel in Thaiand was sy altyd ‘n vaste anker, ondanks watter uitdagings ook al.
Die liefde vir, en die kennis van God het Danita en Danie aan moedersknie, ewe seer as aan vadersknie, geleer. Ook haar honger na boeke, gesteldheid op haar eie taal, Afrikaans, en liefde vir diere is aan hulle oorgedra.
Danie se eiesoortige humor – onder meer al die spesiale meisies, verloofdes en dies meer wat die galante heer en hand-kusser kammakastig op sy kerfstok sou hê – moes by geleentheid seker maar hare op die tande verg.
Selfs as hy ‘n verdwaasde winkelklerk sou meedeel dat sy vrou hom mottegif vir ”vitmaninepilletjies”, sou voer, het Esbe dit gelate, filosofies en met ‘n skewe glimlag aanvaar. Meermale het sy haar platjieman pittig met ‘n eie stukkie droë humor getroef – dan het ek altyd gedink: “Skote, Esbe!”
Danie en Esbe is op Saterdag 9 Junie 1956 getroud na ‘n skoolromanse wat floreer het. Hulle het in Junie 2006 goue bruilof gevier, en was op pad na 55 jaar se huwelikslewe in ‘n verhouding wat vir hul vriende al hoe meer soos ‘n Siamese verbintenis gelyk het.
Hulle was klaarblyklik op hul gelukkigste in mekaar se geselskap en hulle was kinderlik opgewonde as hulle die kans kry om saam na uitverkore bestemmings, soos die Tsitsikamma-park, weg te glip. Boshut R26, met sy weergalose see-uitsig, was vir hulle soos heilige grond.
Oor Tini Vorster, eggenote van ‘n vorige Eerste Minister en Staatspresident, het ek elders die volgende woorde gebruik:
“In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid , liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit.”
Ek sal daardie eienskappe bly bewonder – baie bepaald ook in die lewe van Esbe Krynauw. (HvD)