Jan 15, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Ben en Hannetjie saam met my seun, Johan, op Melkbos se stoep.
More uit Melkbos
Uit die Kimberley-fase, die tweede van tien, het my neef Ben Smith van Randburg Kaap toe gekom vir my 70ste verjaardag. Vir Ben ken ek nou 65 jaar.
Ek ken net ‘n niggie, Elsa, langer. Ek en Elsa (Maritz) het op buurplase in die distrik Babanango ons eerste jare deurgebring. Ons ma’s, Dinah en Baby (nooiens Visser van Paardeberg), was susters, en ons pa’s, Marthinus en Seun, halfbroers. Soos dinge maar gebeur, het ons paaie mettertyd geskei geraak.
Ek en Ben het as seuns in die jare 40 vlieërs (“swallows” en “diamonds”) gevlieg op die mynhope agter Transvaalweg. Die twee neefs het deur die jare vele ander dinge saam gedoen, o.m. een aand, ongeveer 1959 rond, ‘n pragtige kloostermeisie gedeel in ‘n inryteater in Pretoria.
Ons het vrybeurte gemaak (darem nie blybeurte nie): hy voor pouse en ek daarna.
Ek het my verbeel die meisie – Heather was haar naam – was ietwat traag vir die ruil. Ben was nie onwillig nie. Ek was vuur en vlam.
Ben is vyf jaar ouer as ek en onthou sekere dinge uit my prille jeug beter as ekself. Hy vertel byvoorbeeld hoe jaloers hy was op ‘n selfvervaardigde hout-raamwerkie wat vir my as sitplek gedien het voor op my pa se fiets.
Ons sien mekaar redelik gereeld. Hy en sy vrou, Hannetjie – ‘n tuinmaker soos min wie se stukkie Eden in Kelland, Randburg, al op TV en in hoeveel tydskrifte was, het van Donderdag 6 Januarie af ‘n week lank by ons gekuier. Toe ek hulle Woensdag 12 Januarie op die lughawe gaan aflaai, was ons nog nie uitgesels nie. (HvD)
Volgende: Volkies, Potchefstroom
Jan 14, 2011 | Hennie van Deventer se Blog


More uit Melkbos
Ek vra my vrou, Tokkie, onlangs hoeveel maande, weke, dae en ure is in 70 jaar – die geseënde ouderdom wat ek op 3 Januarie bereik het. Sy antwoord: “Ek weet net dis ‘n helse lot”.
‘n ‘Helse lot’ – dit slaan die spyker op die kop. In 70 jaar is, om presies te wees, 840 maande, 3,653 weke, 25,567 dae en 613,617 uur.
Dis hoe lank my lewensreis duur, van Babanango tot Melkbos, soos in die opdrag voorin van my boekie “In Kamera” (Protea, 2003) gemeld word. In daardie opdrag staan naamlik: “Die lewe was vir my goed. Op die pad van Babanango tot Melkbosstrand het baie mense waarde toegevoeg.”
En hoe bevoorreg was ek nie dat van elke stilhouplekkie langs daardie pad iemand verlede Saterdag, 8 Januarie, by my verjaardagviering by die Dale’s Black Angus-restaurant in Milnerton teenwoordig was. Dale is my buurman op Melkbosstrand – hy het self ook waarde toegevoeg met sy lekker kos, as ek dit self mag sê.
Uit die Babanangodae was ekself ongelukkig die enigste. Pa Seun is in 1946 al dood – hy was net 35 – en Ma Baby in 1993 op 73. Pa Seun sou op Dinsdag 4 Januarie 100 jaar oud gewees het. Maar hy is bloedjonk graf toe in die kaalhaaie Kimberley nadat sy enigste seun se kroepborsie die gesin van die plaas Middelin in die tuinprovinsie, Natal, na die dorre klimaat gedwing het.
Ma Baby, onthou ek soos gister in haar rouklere op haar trapfiets sentrale toe. Dit is waar sy na Pa se dood gaan werk het. Sy is later, in 1950, met Pa Malan getroud. Hy is in 1988 dood. Hulle lê saam begrawe in Pretoria-Oos-begraafplaas in Garsfontein.
Ook Bongile wat my Zoeloe geleer het en hoe om poetoepap in ‘n gemoedelike kringetjie met die hand uit ‘n driepootpot te eet, is dood. Bongile was lief vir die tradisionele drag van die Zoeloes, ‘n kort rompie van veelkleurige kraletjies – seker een van die redes waarom ek ‘n tietieman is tot vandag toe.
Oor die ander eras, en die verteenwoordigers uit daardie eras by my 70-fees, gaan ek in die volgende dae vertel. Hou dus dop, of hou verby na gelang van persoonlike voorkeur. (HvD)
Volgende: Die Diamantstad, Kimberley
Jan 13, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
In sy aandgebedjie vermeld ons kleinkind Thomas gereeld kindertjies wat, na sy oordeel, die een en die ander ontbeer. Daardie aand in Sabiepark bid hy toe voor slapenstyd onder andere ook “vir kinders wat nie kameras het nie.”
Ouma merk tersluiks op: “Hy kan liewer bid vir die oupas en oumas van kinders wat kameras het!”
Jacob en Thomas het kameras, klein digitale Canons. Dit was hul Kersgeskenk, en hulle is met hul nuwe speelgoed om die nek saam Sabiepark toe om die diere te gaan afneem.
Hulle neem af en neem af – alles wat beweeg en nie beweeg nie. Oupa en ouma moet net maan: “Julle het al sebras”, of: “Hoeveel vlakvarke wil julle nog afneem?”
Elke dag is dit ‘n wedloop wie die meeste kere die knoppie kan druk. As een agterraak, begin hy net lukraak links en regs foto’s neem om die agterstand in te haal.
Die uitvee van oortollige foto’s word ‘n deel van die daaglikse roetine. Die taak is in omstredenheid gehul en botsende standpunte word opgewonde gestel.
Maar die kordate knape met hul Canons begin algou verras. Op die eerste, tweede Wildtuintog kry ons renosters en buffels op die Doispanepad. Die kinders se foto’s steek nie juis af by oupa s’n met sy kanonlens nie.
‘n Dag of twee later kry ons wildehonde naby die Transportdam. Hulle draf op die teerpad in ons rigting. Die Canon’tjies klik aanhoudend.
Op pad huis toe glip ‘n luiperd oor die pad op die rivierpad, die S3. Amper mis hulle hom omdat die fokus ietwat lank neem. Maar hulle mis hom nie.
Olifante is skaarser as gewoonlik, maar die ou bosreuse kry ons ook uiteindelik in die Renosterkoppies-omgewing.
Ons kry renosters amper om elke hoek en draai; ons kry selfs ‘n tweede keer die troppie wildehonde, maar leeus bly ontbreek. Die spanning laai op.
Ek begin aanvaar die kinders gaan nie die Vyf Grotes hierdie vakansie afgeneem kry nie.
Die laaste dag ry ons via Renosterkoppies Malelanehek toe. Iewers in daardie labirint van grondpaaie gewaar ek by ‘n kruising ‘n motorgewoel – ook een van die groen safarivoertuie met sy vrag toeriste. Ek druk die Honda se neus daar in.
“Leeus”, roep Tokkie. Soos mes het die kinders hul kameras uit die rugsakkies in die kattebak en begin neem. ‘n Jong maanhaar verrys uit die koelte en wys tande. Die Canons werk oortyd.
Op die foto bo is Jacob se wildehond en Thomas se leeu. Ek kon nog vele wenners gewys het.
Julle kan dink hoe voldaan is oupa. Sy een boek se titel is nie verniet “In Kamera” nie. Dis ‘n informele biografiese boek aan die hand van die foto’s in my pakke en pakke foto-albums. Saterdag op die viering van my 70ste het ek vir elke gas ‘n eksemplaar gegee.
Dink net hoeveel albums gaan die tweeling nie he nie as hulle reeds op die tere ouderdom van ses fotografie as een van hul stokperdjies kies. (HvD)
Jan 5, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Nes ‘n skilpad in sy dop in/wil jy hom kiek, dan trek hy kop in …..
Hierdie klein-klein skildpadjie, verdwerg deur die handjies van twee sesjariges, het hom klaarblyklik nie die attensies van die fotograaf laat welgeval nie.
Nietemin, hier’s hy kop, pens en pootjies binne sy dop – die lewende bewys dat dit November/Desember ook in Sabiepark se skildpadgemeenskap kraamtyd was. (HvD)
Jan 4, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.
Dit is die slotwoorde van my loopbaanboekie Kroniek van ‘n Koerantman (1998, Tarlehoet).
Geen substituut nie inderdaad – en dit nie net oor die mooi houers waarin moedersmelk (ten minste in die geval van homo sapiens) kom nie. Vir daardie ontwerp het ek op 70 nog die hoogste waardering.
Hierdie advertensie vir die heilsaamheid/heerlikheid van die produk van die moeder kom uit Sabiepark. Dit is nou in Desember geneem toe die wereld gewemel het van die klein diertjies. Een van die tweeling, Jacob of Thomas, het die knoppie van die kamera gedruk.
Klein “Funny Face” het sy wildebeesmamma se koskas met soveel entoesiasme gepak dat sy ente, ente teruggeskuif is. Sy het haar dit maar laat welgeval.
Soos ‘n moeder so opreg, gee sy haar laaste druppel weg ….(hvd)