GOUE JARE

Chris en Annette van Rensburg

More uit Melkbos

My eerste skof by Die Volksblad was 12 jaar lank. In 1980 is ek terug vir ‘n tweede skof van 12 jaar, nou as redakteur van kollegas wat terselfdertyd vriende is. My eerste skuif was om Herman le Roux, sportredakteur, dadelik tot assistent-redakteur te bevorder.

Piet Theron en Sarel Venter, wat ook by die verjaardag was, is lede van die hoofredaksie gemaak. Pierre van Manen is Windhoek toe as Suidwes-verteenwoordiger. Hy het later redakteur van Oosterlig geword.

Dit was goue jare, al het die politieke broederstryd van die jare 80 hoë eise gestel.

Ek en ‘n amperse buurman, Piérre Theron, mede-UR-lid van die AB waarvan hy later voorsitter geword het, het, lank voordat sulke dinge mode begin word het, Thabo Mbeki genooi om ‘n uitgesoekte groepie Bloemfonteiners vertroulik te kom toespreek. Toe marsjeer die AWB in. Deesdae word ek en Piérre deur dese en gene verwyt dat ons verkramptes was!

Noem my maar onbeskeie. Maar ek wil iets sê oor daardie era en ek gaan dit sê in die lig van periodieke ergernis oor miskenning van ons koerante se rol deur dese en gene. Dit is die volgende: dat ek vas glo Die Volksblad het hom in daardie krisistyd, ook op die nasionale verhoog, laat geld soos nooit tevore en, veral, ook nooit weer daarna nie.

Ek maak graag ‘n buiging na elke kollega, ook die jongeres wat bygekom het, soos Philip van Rensburg, ‘n entoesiastiese nuusredakteur.

Philip en Nancé van Rensburg het jare later, op my aanbeveling, selfs ‘n huis in Sabiepark gekoop sonder om dit ooit met hul eie oë te sien. Dit beskou ek nogal as die een of ander kompliment. Ons is vriende., ondanks die generasiegaping.

‘n Vriend uit daardie era is die rolprent-baas Boet Troskie wat nou kanselier van die Sentrale Tegnologiese Universiteit is. Wie sal sy Gods Must Be Crazy ooit vergeet? Sy bankbestuurder sal nie! Uit Boet se gewillige tjekboek het ek vele Volksblad-promosies gefinansier. Dankie, Boet.

Chris van Rensburg wat afgetree as waarnemende rektor van daardie universiteit, en Annette was jare ons bure oorkant die straat; ons was saam in die Wildtuin, in Namibië en waar ook al. Ons kuier nou nog ‘n hond uit die bos uit. Ons het berge vleis saam gebraai (ook kreef een gedenkwaardige aand in die stort in Luderitz). Chris is ‘n behendiger braaier as ek. Een aand het sy “ho’durfie” van frikkadelletjies egter op die grond beland.

What a f…f…f…frikkadel! (HvD)

Volgende: die Kaap

MALLEMEULE

Pierre van Manen, Anet Pienaar-Vosloo, Ton Vosloo, HvD

Middag uit Melkbos

Ses jaar op ‘n mallemeule in dolle vaart totdat jou bloed bruis en jou ore sing. Jy het later gewonder: gaan ons ooit, ooit weer grondvat? So was die onvergeetlike tyd by Beeld, daar heel aan die begin, van 1974 tot 1980.

Uit daardie era het Ton Vosloo, Salie de Swardt, Piet Gouws en Ben van Rensburg die uwe se 70ste bygewoon. Uit latere eras was teenwoordig die opvolgende hoofbestuurders Eric Wiese, Jan Malherbe en Jean le Roux.

Ton, later Naspers se voorsitter, het by Beeld as ‘n vername mentor na vore getree wat my inklim-joernalistiek geleer het soos niemand anders nie, en ook van verligte, rigtinggewende politieke denke. In ’81 het Ton al gesê die Regering sal nog met ANC moet praat soos met Swapo in SWA. Hy kry nie genoeg erkenning daarvoor nie.

Ek en Salie (later besturende direkteur van Media24) het by Beeld ‘n pad begin saamloop waarvan ek baie plesier gehad het. Ons het dikwels saamgelag (of saamgegiggel) soos die and toe my silwer Audi die pad verlaat na ‘n onthaal by Harry Oppenheimer. Die draadheining in Judithlaan, Emmarentia, het in die slag gebly. Die Audi was vol knoppe.

Salie, Ben en Piet (nou Kaapse stadsraadslid) sal kan getuig hoe hard ons moes werk, dag en nag. Darem nie letterlik dag en nag nie – hoewel dit soms so gevoel het. Een berugte partytjie in Beeld se eerste jare het in die raadsaal begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton sy sekretaresse aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.

Feitlik die hele hoofredaksie – o.a. Ton, ek en Salie – asook senior redaksielede soos Piet, ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis) en twee sekretaresses het gaan aansit.

Daarna het ons gaan “koffie” drink by een van die meisies se woonstel in Bedfordview. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was na ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank voortgewoed….

Volgende: tweede skof in Bloemfontein, ens.

OP DIE “MAP” GESIT

Chris Moolman en Mariette van Manen

More uit Melkbos

Herman le Roux, sport-ghoeroe, se aanspraak is dat hy my as verslaggewer “op die mêp gesit” het met ‘n storie wat hy by sy haarkapper, Fred Joseph, gehoor het oor lyke wat omgeruil is. Dit het ‘n woeste jaagtog van lykwaens afgegee. Ek het die storie, teen die sin van die bedroefde naasbestaandes, in Brandfort se kroeg losgewoel.

Piet Theron, Cas Jacobs, studentemaat, HvD, Herman le Roux en Sarel Venter

Hoe lekker was dit nie om hierdie wellewende kollega by HvD70 teenwoordig te hê nie. Uit daardie era was ook Piet Theron, Sarel Venter, Pierre van Manen , Ben van Rensburg. Chris Moolman, Johan van Wyk, Nancy Oosthuysen, Piet Gouws en Kootjie Geldenhuys.

HvD en Johan van Wyk

My loopbaan as verslaggewer was, helaas, te kort. Heel gou het ek die juk as hoofsubredakteur van Die Volksblad gedra. My woonstelmaat Piet Theron was een van die subs. Daardie span subs het nie minder nie as vyf redakteurs en adjunk-redakteurs gelewer: onder wie Piet, Pierre van Manen en Sarel Venter.

Ben van Rensburg, bekroonde motorskrywer en latere woonstelmaat, was die beneukste lid van die subspan – hy is vandag nog ‘n taalpuris, wat nie geduld met kabouters het nie.

Chris Moolman, Londense verteenwoordiger en latere redakteur van Rapport, het vir my op Trafalgar Square die blye nuus gebring oor ‘n Valiant Charger wat ek in ‘n limerick-kompetisie gewen het – ses weke tevore het ek ‘n Dodge SE gewen.

Johan van Wyk, berugte/beroemde skrywer van die rubriek Stop van Myne – ‘n “skermunkel” het P.W, Botha hom genoem – het vir baie opsprake gesorg, o.m. toe hy, te midde van ‘n kwaai droogte skryf oor boere se vet vroue wat in “tjoeps” in Maselspoort se swembad ronddobber. Ohopoho!

Kootjie Geldenhuys, wie se onbenydenswaardige taak dit was om hierdie woelgeeste te bestuur, is die enigste wat ek uit respekte “meneer” bly noem het, ondanks al sy teenstribbelinge. Maar, dêmmit, 70 is 70 – van my verjaardag af is Kootjie Kootjie, al het hy op my 70ste, 3 Januarie, die status van oupagrootjie verwerf.

Onder nie-koerant-vriende uit daardie era was Toy Vermeulen, ‘n oud-politikus, en Joha ons bure, asook dr. Willem Kotzé, skrywer van ‘n rits Kalahariboeke, en sy vrou Alice.

Almal het al gehoor van ‘n buurman wat sy broek vir jou sal uittrek – volgens Fanus Rautenbach is daar ook sulke buurvroue! – maar het julle al gehoor van bure wat tydens waterbeperkings hul boorgat vir jou leen? Toy en Joha het, en die polisie was nie geamuseerd oor die tuinslang oor die pad in die nagtelike ure nie.

Dok Willie was private sekretatis van die administrateur, Oom Sand du Plessis. Reeds in 1963 het ek soggens by hom gaan inloer op soek na nuus uit die administrateur se kantoor.

Die Van Wyks van Bultfontein het ek in daardie era leer ken – arm, maar ordentlik en gereken in hul gemeenskap. Een het hope musiekpryse ingepalm. Haar bynaam was in ‘n stadium Donsie. Die meeste mense ken haar as Tokkie, my vrou.

Fanie , haar broer, was ‘n kranige atleet, SA 0/19-kampioen in die 440 en houer van ses rekords wat nog staan. Hy en Maretha woon in die aftree-oord Klaradyn in Brackenfell.

Ouma Marietjie is in Groeneweide op Darling. Ek wens van harte sy kon ny die viering gewees het, want ek het baie tyd vir daardie skoonma van my. Sy’s ‘n Israeliet sonder bedrog.

Ek roem daarop dat ek ‘n lojale mens is. Ek was lojaal aan die NP en is steeds lojaal aan die AA (Automobiel-Asosiasie, nie Alkohol Anoniem nie), die NGK, en Absa. Ek en Tokkie is 44 jaar getroud. Soms was dit stormagtig. Maar ek bly vir haar baie lief. In my boek “In Kamera” is ‘n hoofstuk oor haar. Die opskrif is “Beste ding”.

Is sy werklik die “beste ding” wat met my gebeur het? In alle eerlikheid heroorweeg ek soms my uitspraak. Na haar mooi, pittige heildronk by my 70ste, gee ek haar weer die voordeel van die twyfel.

Sy was die eerste meisie vir wie ek ‘n versie geskryf het: Kersie, granaat en ryp waatlemoen/rooi bly n kleur wat iets aan jou doen/ tooi jou in rooi, my rooibloedvrou/ om my vir altyd aan jou voete te hou. By die verjaardagviering was sy natuurlik in rooi. Ek is steeds aan haar voete.

Die twee kinders, Johan en Marisa, is in Bloemfontein gebore en is in die Kaapse era met Mariza en Brent getroud. Ek dink ons kan terugkyk op goeie tye saam. Danksy die kinders het ek ses jaar gelede oupa geword – ‘n status wat my groot behae gee.

Johan en Mariza, Brent en Marisa en die vier seuntjies, Jacob, Thomas, Migael en Christopher, se bydraes tot die laate 40 jaar van hvd70 was nooit saai of vervelig nie. (HvD)

Volgende: Beeld

PIENK “BLOOMERS”

Cas Jacobs, Pierre le Roux, HvD, Piet Theron en Flip Nel. Flip was ook in Kollege. Hy’s net ‘n ouer model.

More uit Melkbos

Elke keer as ‘n opskudding oor studentemanewales iewers ontstaan, gee my gedagtes ‘n sprong, na my geliefde Kollege-tehuis toe. As 1958-ienk in Kollege (toe nog op die Tukkiekampus) is ek nog behoorlik gedril. Meer as een generasies ienk het daarna (later ook in die nuwe Kollege op die proefplaas) onder my hande deurgeloop.

Herinneringe aan modderbaddens, die “pil”, “p”-paarties; ook intervarsities, jole, lentedae, serenades, “raids , kampusromanses, byeenkomste van die “bierklub” by Ta’ Bella en wat nog bly glashelder. Ek onthou deeglik hoe ons ienks in die winter van 1958 in ou Kollege se buite-toilette altyd die sitplek vir wyle Heystek van Rooyen moes gaan warm sit. Hy het gehou van “gerief” in die “geriefie”.

In my foto-album uit my studentedae is onder meer foto’s van die modderbad toe die ienks van 1958 onthef is. Heel prominent is Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler wat as Chick bekend was, omdat hy ons altyd moes aantree met die woorde: “Haai “Chick”-ellorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm. Hy is een van verskeie van die 1958-oes wat nie die ouderdom van 70 gehaal het nie.

Op ‘n raid-foto (Kollege teen Voortrekker op die grasperk voor die Ou Lettere) is die gewese skrumskakel van Noord-Transvaal, Natal, O.P. en S.W.D., Proppie Goosen, sonder ‘n draad. Sulke raid-foto’s was glo baie gewild onder die Asters vir informele anatomiese studies.

Cas Jacobs, Pierre le Roux en Piet Theron is tydgenote wat my 70 kom vier het. Ek en Cas het ‘n Sondagmiddag my 1953-model Peugeot 203, die Santa Maria, voor Asterhof gaan parkeer met ‘n karton waarop ons groot geskryf het: hoekie vir eensames. Teen die aand was ons nog eensaam.

Pierre is die een wat die opvolger van die Santa, my Fiat 500-stasiewa, die “Skoolbus” gedoop het. Party het daardie karretjie die “Grassnyer” genoem – hulle was dalk nader aan die kol. Pierre en sy trawante het plesier daaraan gehad om die “Skoolbus” die trappe op te dra die koshuis in, veral as dit by verleentheid op die romantiese vlak kon beteken.

Pierre – ek het hom “Leroeks” genoem – was een van drie informele “medewerkers” tot my nuwe boekie “Tamatiestraat”. Pierre is eintlik “mede-outeur”. Ons boekie is ‘n viering van ons vriendskap van meer as 50 jaar. Hy is ‘n gedugte storieverteller. Een van sy stories is oor die Namakwalandse windstilte. Koop, steel of leen die boek, maar lees daai storie oor Oom Eli en Ta’ Kotie en die windpomp wat so begin tsjierie-tsjierie-tsjierie …

By my verjaardag het hy die storie vertel van die magte en owerhede wat dwaaslik besluit het dat Kollege se onderskeidende kleur vir die iensksport van 1962 pienk sou wees. Vir die tradisionele HK-aflos (1 x 880, 1 x 440, 2 x 220) koop ons toe ‘n halfdosyn pienk 3X-“bloomers”. Ons betree die baan in ons kamerjaponne. Toe ons dit afstroop, dawer die menigte.

Ons het gewen, “bloomers” en al. Ek is eerste oor die wenstreep na die laaste 220. Ongeluklklig is die foto uit-fokus-rig. Die fotograaf kon blykbaar nie bybly by hierdie vetgesmeerde “bloemer”-draer nie.

Piet Theron, die beste haarkapper in Kollege op sy dag en ‘n bruikbare senter, is ‘n oorgangsfiguur. Hy is saam Volksblad toe – die volgende fase in my lewe. Ons was woonstelmaats in Rambler’s View, Bloemfontein. Ons was nie altyd ad idem nie, maar ons was soos die egpaar wat nooit aan egskeiding gedink het nie, wel dikwels aan moord.

Een ding wat vir my in jonger dae steurend was, was Piet se groter welslae by die meisies (soms in mededinging met HvD). Agterna besef ek hulle moes snuf in die neus gehad het hoe hy en ek onderskeidelik sou verouder. Hy lyk jonger en skraler, al is hy ouer. Hy is ook ‘n jintelman van die eerste water. (HvD)

Volgende: Bloemfontein, eerste skof

LEUEN OOR NAGBLINDHEID

Die egpaar Hartzenberg, HvD, Wena de Kock en Carel Weeber

Middag uit Melkbos

Al my matriekmaats is nou 70 – ek was die baba van die ’57-klas van Volkies, Potchefstroom.

Twee van my drie matriekmaats by my verjaardagviering verlede Saterdag in Milnerton was Willem Johannes Hartzenberg (Pretoria) en Carel Lambrecht Weeber (Klerksdorp) – ons klas het mekaar graag windmakerig op ons doopname genoem.

Hulle was saam met my lede van ‘n Volkie-weergawe van ‘n gewilde radioprogram van daardie tyd, Die Mielieblaarklub. Elke Saterdagaand om agtuur het dit valserig oor die radio opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar ….da-ra-ra-ra…da-ra-ra-ra …” Daarna was daardie gedugte viermanskap ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord oor sake wat die volksgemoed beroer.

Ons Volkie-klone was: Oom Mêrtin (Carel Weeber), Oom Gawerjal (Koos van Niekerk, wat hoofseun was), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe). Ons funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus. Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien.

Koos het Saterdag ontbreek; ons hoofmeisie, Wena Louw, nou De Kock, het wel ook uit die Strand gekom vir die okkasie. Sy was, buiten hoofmeisie, kapteine van die netbalspan, kapteine van atletiekspan, en wat nog. Sy is die ouma wat ek ken met die mooiste bene.

Willem Hartzenberg, beroemd/berug as die regter wat Wouter Basson vrygespreek het, was loshande ons Dux-leerling, maar het die rol van donkie in ‘n opvoering van Ali Baba en die 40 diewe net-net voor die uwe se neus weggeraap. Willem, sy vrou, Irna (wat in 1958 aan Volkies in matriek was), die uwe en ‘n meisie, Marie Burger, het een vakansie met H. se pa se begeerlike 1957-Ford uit die verre-Wes-Transvaal opgeruk Klerksdorp toe om te gaan fliek.

Terug, dring Willem en Irries aan ek moet bestuur, want hulle wou agter sit. Ek kan nie dink die nasionale voorsitster van die Vrouefederasie van SA was ook so stuitig nie!

Ek het geweier en beweer ek ly aan nagblindheid. Ek het gelieg! Die eintlike rede was: ek was te bang om aan die Ford se wiel te vat.

In die Volkie-era het ek oor die onderdeur begin loer. Ook oor die grensdraad. Ek en Annette van Wyk (nou Annette Visser van Worcester) het ure oor die ogiesdraad tussen ons erwe in Meiringspark, Klerksdorp, staan en gesels. Oor koeitjies en kalfies – darem nie oor blommetjies en bytjies nie, of hoe Annette?
(HvD).

Volgende: Kollegetehuis, Tukkies