Nov 10, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Pas op vir kinders. By die Fonteine, buite Pretoria, was hierdie kennisgewing vir ons Tukkies van die laat 50’s altyd ‘n bron van verkneukeling.
Ons kon raai die bedoeling was: ry versigtig dat jy nie ‘n spelende kind tref nie. Diaboliese studente-gedagtes het die waarskuwing gekoppel aan die amoreuse aktiwiteite van jong verliefdes wat in die donker (soms selfs in die lig) onder die bome privaatheid kom opsoek het.
Naby die Zwartkops-lughawe op die ou Johannesburg-pad was daardie tyd ‘n kennisgewing: Pas op vir vliegtuie. Ek het altyd gewonder hoe trap jy in jou spoor vir ‘n vegvliegtuig van die SA Lugmag wat teen mach1 uit die bloue hemel op jou motor neerswiep.
Naby Skukuza is Wiltuingangers vermaan: Pas op vir olifante. Ook maar ‘n brae vae opdrag. Hoe ontsnap jy die wrewel van ‘n bronstige bul as sy liefdesavontuurtjie pas deur toeriste met klikkende kameras kortgeknip is?
Desember staan ons koppe Sabiepark toe. Ons kry ons huidige “Bosbus”, die ou Honda, op O.R. Tambo. Op die skof Nelspruit toe ry jy
in Witbank se omgewing by meer as een “hijack hot spot” verby. Hoe nuttig daardie inligting is dat kapers graag in daardie omgewing uithang, weet ek nie. As jou motor die nuk kry om presies op daardie kol te stol, sal hy stol – dreigende gevaar of te not.
Maar ten minste weet jy dit is nie die aangewese plek om stil te hou vir ‘n toebroodjie en koffie of om bestuurders om te ruil nie!
Gelukkig is ek op die drumpel van 70. Die mylpaal wink op 3 Januarie 2011. ‘n Gerusstellende e-pos oor die plusse van gevorderde jare meld dat kapers min erg aan ou mense het. Trouens, as jy die ongelukkie sou oorkom om in ‘n groep as gyselaar aangehou te word, kan ‘n gryse daarop reken om van die eerste te wees wat vrygelaat word – met of sonder losprys. (HvD)
Nov 9, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Oupas is nogal ‘n spesiale spesie – ‘n oupa se knie word kamma-perd, hy ken al die antwoorde op al die vrae, hy kerf biltong met sy knipmes in dun opkrul-happies.
Uit ‘n seuntjie se hoek: ‘n Oupa is ‘n man-ouma. Hy gaan stap saam met seuns en hulle praat oor visvang en trekkers en sulke goed.
Uit ‘n meisietjie se hoek: ‘n Oupa is soos Kersvader. Hy gee jou altyd presentjies. Hy deel altyd drukkies (en suiglekkertjies) uit en hy vertel mooi stories wat sulke wye draaie loop.
Ná dese, met die sepie “Sewende Laan” se ontstellende nuwe storielyn is ‘n oupa ook iets geheel anders as die gawe ou wat in Anakke Müller se boekie “Spesiaal vir Oupa” geskilder word: dalk ‘n nare ou man wat snags kug-kug jou slaapkamerdeur binnesluip en aan jou vroetel.
Die arme Christelle is ‘n wrak soos sy in die Laan onder haar ou vuilgoed van ‘n oupa deurgeloop het , en ma Madel het eenvoudig oë toegeknyp. Ondenkbaar.
Hierdie oupa het net seuntjies as kleinkinders. Vir hulle is hy baie-baie lief, maar hy merk tog by geleentheid skertsend op dat hy graag ook ‘n kleindogter sou wou hê wat hy lekker kon soen en druk.
Watter impak het “Sewende Laan” se kinkels egter op oupa-kleindogter-verhoudings? Vrees, suspisie, misverstand oor die allerbeste en onskuldigste bedoelinge – dit lyk vir my of dit party oupas se lot kan wees.
Hoeveel mammies skrik hulle nie eensklaps boeglam oor die gevare wat ‘n skewe oupa vir hul vrolike krullebolle kan inhou nie, of word gepak deur die vrees dat hulle soos ‘n Madel hul kinders in die steek kan laat? “Kleinsus, jy moet vir mamma sê as oupa aan jou vat,” hoor ek in my verbeelding die waarskuwings.
En hoeveel vrugbare klein verbeeldinkies word nie geprikkel tot oortyd-aktiwiteit nie? “Mamma, mamma weet, oupa het my kamer se deur laas nag so stadig oopgedraai….”
Nou-ja, sepies is sepies. ‘n Mens moenie te ernstig raak oor die intriges wat draaiboekskrywers bedink om kykergetalle hoog te hou nie. Verder word darem elke aand mooi gewaarsku dat tonele op die skerm die kleingoed kan ontstel en dat ouerleiding onontbeerlik is.
Maar dan broei tog vaagweg by hierdie oupa die vrees dat ‘n klomp gif nou in “Sewende Laan” gesaai word, wat plek-plek skade kan aanrig.
Ek weet nie hoeveel oupas vang sulke nare dinge aan nie, maar is ek verkeerd as ek vermoed veral in die stand van die Terblanche-familie van “Sewende Laan” moet dit maar bitter yl gesaai wees?
Dan voel ek amper geroepe om namens die oupas van Suid-Afrika in die veel oorwerkte woorde van Jeanne Goosen uit te roep: Ons is waaragtig nie almal so nie! (HvD)
Nov 6, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Van ‘n joernaliste-egpaar van ‘n jonger generasie is hul pragtige, talentvolle 13-jarige enigste kind weggeruk – die slagoffer van ‘n intense, pikdonker depressie, wat haar haar vonk en lus om te lewe ontneem het.
Oumense is nie in die wieg gelê om kinders se begrafnisse by te woon, en magteloos die rou smart van gebroke ouers, van swaar getrefde vriende en familie en van onbegrypende skoolmaats waar te neem nie. Die ervaring wurg in jou keel.
Die drang om deur jou teenwoordigheid tog ‘n simboliese hand van vertroosting uit te reik wat jy sukkel om in sinryke woorde op ander maniere uit te druk, dwing jou egter om nie, soos ‘n lafaard, liewer die somber byeenkoms te vermy nie.
Die leraar op die kansel, praat sag, maar met diepe erns, meelewing, emosie en egtheid. Die boodskap wat hy bring, getuig van die sakke sout wat klaarblyklik met die familie-in-beproewing, en ook, voor haar keuse om haar eie lewe te neem, met hul oogappel-kind opgeëet is. Die gesin en die leraar is sonder twyfel saam deur diepe waters, wat ook vir hom onmiskenbaar gelouter het.
Juis daardie intieme binnekennis gee aan sy prediking ‘n deurleefdheid wat die jong depressielyertjie se begrafnis onderskei van sovele wat vinnig-vinnig met vae algemeenhede en – durf ek sê? – amperse oppervlakkighede afgerammel word.
Die treffende prediking dwing my om my agterna, waar die leraar alleen met sy koppie tee staan, aan hom te gaan voorstel. Ek wil met hom deel hoe diep sy woorde hierdie begrafnisganger geraak het en watter kosbare diepte en identiteit daardeur aan die troosdiens verleen is.
Vir ouer mense – seniors, bejaardes, noem ons wat jy wil – is my belewenis buitengewoon relevant, omdat ons, sonder om smartvrate te wees, vanselfsprekend toenemend oor die werklikheid van begrafnisse in eie kring dink en praat.
Opvallend, word veral een vrees deesdae meermale gelug. Ouer mense is bekommerd dat daardie soort egtheid en diepte van die kansel af, wanneer dit vir hulle ten diepste sal saak maak, afwesig sal wees, eenvoudig omdat intieme binnekennis van die oorledene se lewe en werklike meelewing met die bedroefde naasbestaandes ontbreek.
Die waarheid is immers dat bedieningspatrone in talle gemeentes hand oor hand verander. Leraars het dikwels soveel ysters in die vuur dat hulle hot en haar draf en al hoe moeiliker oral kan bykom. Die amper vanselfsprekende beskikbaarheid van dominee A om oom so-en-so of tannie sus te begrawe kom weens die diversifikasie van herderlike pligte en take toenemend onder druk.
Ongelukkig eindig jarelange vertrouensverhoudings tussen bepaalde lidmate en hul persoonlike herders in al hoe meer gevalle stomp en onvoltooid deurdat die leraar weens sy program nie, soos die verwagting van die oorledene en sy/haar geliefdes was, ‘n bepaalde begrafnis kan behartig nie. Die taak val dan op ‘n beskikbare plaasvervanger wat – al probeer hy hoe hard – eintlik nooit meer as noodshulp kan wees nie.
Nie alle plaasvervangers doen boonop ewe veel moeite met hul huiswerk nie.
Vir hierdie penarie van ons tyd het ek nie raad nie. Ek wens iemand het. (HvD)
Nov 5, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Nog ‘n naweek-versie, hierdie keer nie oor ‘n dier nie, maar ‘n vrou: Lot se vrou. ‘n Bekende Bybelverhaal kry ‘n nuwe baadjie:
Lotz se vrou
het regs gewys
maar links gehou,
nou is haar tjor
om ‘n houtpilaar
gevou.
(HvD)
Nov 4, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Alles waaraan die mitologiese Griekse koning Midas (foto bo) geraak het, het in goud verander.
Ton Vosloo van Naspers het gepraat van ‘n Sanitêre Midas. Alles waaraan die arme ou geraak het, het ook in iets anders verander – na voorkoms en reuk van ver van goud!
Elke mens wonder seker maar soms of hy/sy nie ‘n streep van Ton se ander soort Midas in hom het nie. Jy koop eiendom met pryse op ‘n hoogtepunt. Net daarna maak die grafiek ‘n duik. Of ‘n sekere aandeelprys vuurpyl boontoe. Die oomblik as jy koop, begin die “regstelling”.
Die uwe het meermale sy vingers so verbrand.
Op die oomblik is daardie besigheid met die Wildkaart die dinges in die drinkwater. Sanparke neem die Wildkaart (wat toegang tot nasionale en ander parke verleen) uit die bloute by Infinity oor, met klaarblik heelwat onmin in die lug.
Hoe lank sien ek nie al daarna uit om 70 te word nie, die magiese ouderdom vir die verkryging van ‘n lewenslange Wildkaart – ‘n voordeel wat verskeie natuurliefhebber-vriende reeds korter of langer geniet.
Maar nou, met HvD70 in sig (nog net twee maande van 69 wees!), kan ek dit op my maag skryf en met my hemp doodvee, soos my Ouma Visser altyd gesê het. Die lewenslange Wildkaart is een van die eerste voordele wat met Sanparke se oorname sneuwel.
Dus: kyk noord en betaal voort – dis mos die Wet van Transvaal, en klaarblyklik ook nou die Wet van Sanparke.
HvD verjaar op 3 Januarie. Hy mis uit met net drie dae. Drie dae! Hemel, pa en ma!
Fluister iemand iets van ‘n Sanitêre Midas? (HvD)