Nov 18, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Aan die vooraand van my 70ste (op 3 Januarie 2011) wonder ek in sentimentele oomblikke oor wat van enkele ou meisies geword het. Minstens een lig in my jong lewe, weet ek, is in haar fleur langboompies toe ná ‘n motorongeluk.
Ek wonder voorts aan wie almal ek my onthou-liedjie sou opgedra het as ek ‘n minnaar in die liga van Julio Iglesias was:
“To all the girls I’ve loved before
Who travelled in and out my door
I’m glad they came along
I dedicate this song
To all the girls I’ve loved before …”
Probleem een is dat ek nie Julio Iglesias se strelende fluweelstem het nie. Die HvD-stem is rasperig en die nootvasheid twyfelagtig. By die matriekafskeid in 1957 by Volkies op Potch was ek een van die matrieks wat versoek is om liewer nie die harmonie van stemme in die klaskoor met my bydrae te versteur nie.
Probleem twee is dat nie danig baie name in my opdraglysie sal voorkom nie. Ek was nooit juis ‘n wafferse vryer nie.
Maar soentjies en drukkies het darem nie op Volkies en Tukkies ontbreek nie, en dis nogal pret om van die opwinding daarvan in herinnering te roep. Synde ‘n verbete versamelaar van ou foto’s is in my albums hier en daar enetjie (‘n foto’tjie bedoel ek) wat gawe oomblikke in my gedagtes laat herleef.
Waarskynlik die opsienbarendste meisie-foto in my skool-album is een volkspele-aand gedurende pouse voor mnr. Frans de Klerk se biologie-laboratorium geneem: ek en ‘n nooi wat liewer anoniem sal bly, in ‘n innige omhelsing.
Vir daardié foto (hierbo) moes ek iets soos ‘n halfkroon (twee sjielings en ‘n sikspens of 25 sent in vandag se geld) uithaal vir my matriekmaats Wol Steyn en Blommetjie Viljoen wat, op bestelling, soos wafferse papparazzi die flitse laat blits het.
‘n Langdurige liefde was dit egter allermins. Maar, meisie, jy is darem nie vergete nie, hoor. Ja-nee, ek sluit jou in as ek saam met Julio Iglesias die volgende glasie op die goeie ou dae klink:
“To all the girls who shared my life
Who now are someone else’s wives
I’m glad they came along
I dedicate this song
To all the girls I’ve loved before.”
Klaar sentimenteel geraak oor die “loved befores” wat my hartsnare voorheen geroer het (verlede tyd), wil ek ook sentimenteel raak oor die “love still” wat my hartsnare steeds ná baie jare roer (teenwoordige tyd) .
Vir daardie doel beweeg ek van Julio Iglesias na Noel Coward.
Daardie ou jakkals het hom in 1956 (my standerd nege-jaar) oor die huwelik sinies soos volg uitgelaat: “I’ve sometimes thought of marrying, and then I’ve thought again.”
Noel, ou paardner, as jy maar kon geweet het watter loutere onsin jy daar kwytgeraak het.
Jy het nie my vrou vir 44 jaar geken nie.
Ou Tokkie is tops! (HvD)
Nov 17, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Die hatch-, match- en dispatch-kolom of die cradle-, altar- en tomb– kolom – so is dit by Engelse koerante bekend: die kennisgewings van geboortes, huwelike en sterfgevalle.
Lesers blaai graag daarheen, om verskeie redes. Die lotgevalle van medemense is boeiende leesstof. Trouens, tydskrifte oor mense is voor in die sikulasiekoor, en ‘n tydskrif soos “People” glo daardie drie onderwerpe bied die beste temas vir omslae wat die lesers lok.
Vir “People” beteken dit watter glanspaartjies verlief is, watter bekendes se babas op pad of pas gebore is en wie in die openbare oog langboompies toe is (verkieslik op ‘n buitengewone wyse – hoe buitengewoner des te beter).
Ouer mense soos die uwe (moet ek weer herinner dat ek op 3 Januarie 70 word?) lees veral die “dispatch”-gedeelte. In Afrikaans sou ‘n mens dit ook vir ons generasie kon noem die “byl-in-my-bos”-kolom, a la die titel van my vorige boek.
Dit is opvallend dat ouens wat in daardie kolom opduik, dikwels jou model is – soms selfs later modelle. Dit boei jou op ‘n morbiede manier om die geboortedatums deeglik deur te kyk.
‘n Ander rede waarom gryses kennisgewings van sterfgevalle graag lees, is aan die hand gedoen deur die anonieme digter van die volgende vers, wat met ek met die verskuldigde apologie aanhaal:
There is nothing the matter with me.
I’m as healthy as I can be.
I have arthritis in both my knees
And when I talk, I talk with a wheeze.
My pulse is weak and my blood is thin.
But I’m awfully well for the shape I’m in.
Arch supports I have for my feet.
Or I wouldn’t be able to walk in the street.
Sleep is denied me night after night
But every morning I find I’m alright
My memory’s fading, my head is in a spin
But I’m awfully well for the shape I’m in.
The moral of this, as the tale I unfold
That for me and you, who are growing old,
It’s better to say I’m fine with a grin
Than to let folks know the shape you’re in.
How do I know that my youth is all spent?
Well, my get up and go has got up and went.
But I really don’t mind when I think with a grin
Of all the nice places my get up has been.
Old age is golden, I’ve heard said,
But sometimes I wonder as I get into bed.
With my ears in a drawer, my teeth in a cup,
My hair on the table until I get up.
Ere sleep comes over me I say to myself
Is there anything else I could put on the shelf?
When I was young my slippers were red.
I could kick my heels over my head.
When I grew older my slippers were blue,
But still I could dance the whole night through.
Now when I‘m old my slippers are black,
I walk to the store and puff my way back
I get up each morning and dust off my wits,
Pick up the paper and read the Obits,
But if my name is missing, I know I’m not dead,
So I eat a good breakfast and go back to bed.
Ja, natuurlik, die lees is ‘n soort ontdekkingsreis as ‘ t ware! (HvD)
Nov 16, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
As jou senuwees so dun gerafel is soos ‘n garingdraadjie, bly ver weg. Het jy egter senuwees soos staal, solied soos ‘n treinspoor, moenie aarsel nie – dis jou kos!
As jy een van laasgenoemde is en jy’t nie geld vir fliekkaartjies oor hierdie tyd van die maand nie, gryp die hamer en slaan jou spaarvarkie stukkend. Jy durf nie wegbly van Tony Scott se meesterlike aksiedrama “Unstoppable” nie. Dis meesleurend.
Die storie is op die waarheid gegrond, net ietwat gedramatiseer. ‘n Wegholtrein, nommer 777, met ‘n massiewe diesellokomotief en 47 waens vol toksiese chemiese stowwe gaan sonder drywer op loop. Dit verg uiteindelik bomenslike heldedade om ‘n enorme ramp af te weer terwyl die gevaarte onstuitbaar deur stasietjie na stasietjie snel, op pad na die digbevolkte Stanton, met sy gevaarlike brug.
Die atmosfeer is gelade. Televisiekanale is daar met swiepende helikopters om die skouspelagtige stuk werklikheids-TV uit te saai. Spoorwegamptenare jaag soos malmense met brullende monsterbakkies. Polisiemanne sak magteloos in konvooie toe op die noodlotspoor. Om sake te vererger, bevind ’n trein vol uitgelate skoolkinders hom ook in ‘n stadium op dié trajek. Krisis op krisis!
Treine is seker nog nooit voorheen so realisties gefotografeer nie. Die tonele is so werklik dat jy kan sweer dis in 3-D. Jy verduur om die beurt skok, angs, spanning en roue emosie, want in die lokomotief wat die voortsnellende 777 in ‘n noodlotstog agternasit klop twee seer harte. Hul verhale is aangrypend.
In “Unstoppable” word helde gebore; ook anti-helde. Mense van staal neem dapper besluite. Ander se ruggrate verkrummel onder die druk. ‘n Kort epiloog lig die sluier oor wat van sommige hoofkarakters geword het. Een swakkeling verkoop kitskos; ander verdwyn in die niet.
Maar daardie dinge is alles bykos – dis daai treine, ou maat, dis daai treine wat jou hart laat hamer, jou handpalms laat sweet en jou sitvlak ongemaklik op die puntjie van die fliekstoel laat rondskuif.
Rofweg soortgelyke gegewe was al op die silwerdoek. Onthou julle “Runaway Train” (1985) wat die storie vertel van twee ontsnapte bandiete en ‘n vroulike spoorwegwerker op ‘n wegholtrein wat deur die sneeuvelde van Alaska voortploeg? Onthou julle “The Taking of Pelham 123” (2009), nog ‘n Tony Scott-prent, oor die kaping van ‘n New Yorkse moltrein? Onthou julle “Speed” (1994) waarin ‘n jong polisieman die passasiers moes red op ‘n bus met ‘n bom daarin wat gestel was om te ontplof as die bus se snelheid onder 50 mpu daal?
Almal was heerlik en propvol aksie. Maar “Unstoppable” plaas vir hierdie aksievraat in hierdie genre die kroon. Dit gaan ‘n fliek tienduisend kos om hom as Koning van Aksie te onttroon – en dit sonder dat een onwerklike reuse-draak tonge vuur van ‘n ander planeet af spoeg of ‘n regiment mismaaktes teen die aarde oorlog verklaar. Glo dit as jy wil. (HvD)
Nov 13, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Op een van my seldsame bedevaarte na ‘n groot, indrukwekkende en uiters bedrywige inkopsentrum ontdek ek, taamlik verras, dis klaar Kersfees in die winkels. Krismis. Oral waar jy kyk, is boompies, blinkpapier, geskenkidees en Bing Crosby se “I’m dreaming of a white Christmas”.
My sakboekie verklap dis nog maar die tweede week in November –
nog meer as 40 “koopdae” voor die groot dag. Maar die dolle geskenke-jag begin elke jaar vroeër, lyk my. ‘n Vlugtige opname van die aanbod dui ook op ‘n prys-spiraal wat soos die lopietempo in ‘n 20-20-krieketwedstryd opwaarts vuurpyl.
Hoe duurder die geskenk, des te spoggerig voel die gewer seker. Maar is ‘n duurder geskenk noodwendig ‘n geskenk wat meer waardeer word, wonder ek.
Elke jaar na Kersfees wemel dit in ons Melkbosse advertensieblaadjie immers van “unwanted gifts” wat teen aanloklike weggeepryse aangebied word – sommige nogal heel eksoties, en waarskynlik met liefde en sorg uitgesoek.
Party ouens het duidelik ‘n bietjie kontant nodiger as ‘n duur ding wat dalk mooier as nuttig is.
Maar sê nou maar die gewer herken die ontvanger uit die gegewens in die advertensie? Ek kan dink dat so iets nogal diep kan kneus.
Kneusinge vir gewers van geskenke kom op allerlei vreemde maniere. Vir skrywers kom dit dikwels in die vorm van n ontdekking op die rak van ‘n tweedehandse boekwinkel, vertel Joan Hambidge nou die dag in “Rapport” se tydskrif.
Syself het al die ontnugtering gesmaak om op die winkelrak ‘n digbundel aan te tref wat sy aan n jong Johannesburgse digter geskenk het. Toe sy hom daaroor konfronteer, het hy geldnood gepleit.
Joan vertel vele mooi stories in haar rubriek oor “Geskenke” in daardie “Rapport”. Vir die volgende anekdote leen ek sommer ook haar heerlike vertelling in aanhalingstekens:
“Toe dink ek aan die ergste oomblik vir enige skrywer denkbaar. ‘n Digter stap in ‘n ander Johannesburgse boekwinkel in en ontdek sy bundel opgedra aan die eks-geliefde, met ‘n spesiale inskripsie aan haar, op ‘n rak vol ou digbundels.
“Die bundel, n besinging van hul liefde en verhouding, met haar as die ewig aangesprokene, weggegee.”
“Sy is die aangesprokene in sowel die vers as die klein opdrag: Vir jou, met dank en waardering.
“ Die jy in die gedig is die jy in die opdrag!
“Dus dubbele verraad.”
Gelukkig is my Tokkieversies te min (en te dof) vir bundeling. Daardie tipe kneusing spring ek dus vry.
Maar hier’s darem enetjie vir die proe:
Kersie, granaat of ryp waatlemoen,
Rooi bly ‘n kleur wat iets aan my doen;
Tooi jou in rooi, my rooibloedvrou,
Om my vir altyd aan jou voete te hou.
Miskien moet ek vir haar vir Kersfees tog maar weer iets roois koop. (HvD)
Nov 13, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Hoe skurf mag ‘n ordentlike grysaard raak sonder om die grense van stuitigheid te oortree?
Hoop nie hierdie versie word as te skurf geag nie. Dit het, sonder identifiseerbare aanleiding, na ligte uit my kop op die kopkussing uit die bloute te binne geskiet:
Skaam vir hare
Koekie droom sy dans kaal voor ‘n skare,
Ongepla deur al die manlike stare;
Net skaam vir daai kolletjie kroesietjie-hare.
(HvD)