LAWWE LIEFLING

Middag uit Melkbos

Kyk, ek is nou nie Leon van Nierop nie, en is waarskynlik vrotterig toegerus om oor flieks se meriete of gebrek aan meriete te oordeel. Maar ek het tog kans gesien om mense hier sterk aan te raai: Gaan kyk na “Unstoppable”.

Daarom gaan ek ook ‘n uitspraak hier waag oor die Afrikaanse musiekprent “Liefling” (die “eerste in 30 jaar”) Mense gaan van my verskil en kan maar met my raas oor my opinie. Ongelukkig moet dit van die hart: “Liefling” is vir my, ná al die verwagtinge wat geskep is (van Kwêla tot Pasêlla is uitasem saam op die reklamewa), so vervlietend soos spookasem.

Die tema is papierdun, die karakters sonder diepte, die storie te soetsappig en die verloop werklik te voorspelbaar – “boy meets girls, boy nearly loses girl, boy gets girl”. En goeie aarde, is ons nog nie verby kussinggevegte met vere wat in alle rigtings trek en roomterte in die gesig nie?

Laat my darem ook ‘n woord van lof spreek. Vat dit van ‘n ou oom met ‘n kennersoog oor die skoner geslag: daardie Lika Berning (die dogter van Jana Cilliers) is ‘n wenner in die titelrol – pragtig, ongekunsteld, sprankelend, eg. Bobby van Jaarsveld is plek-plek ‘n heel innemende Jan. Die rolverdeling spog ook met ander mooi mense (o.a. Sonja Herholdt, Anna Davel en, uit ‘n fotogeniese hoek, ook Marlee van der Merwe, al is haar karakter, die bose Melanie, so kunsmatig soos ‘n plastiekblom).

Die sterre doen dapper en entoesiasties hul ding teen mooi agtergronde wat mooi gefotografeer is langs die Hartebeespoortdam en in Switserland. Maar, jammer, saamgeflanste mooi toneeltjies is onvoldoende vir die suggestie dat “Liefling” op die spoor kan loop van “Hoor my Lied”.

Moet dit liewer ook nie in dieselfde asem probeer noem as “Mamma mia” nie.

Verskeie tonele is duidelik aangelas om geen ander rede nie as om bepaalde liedjies en bepaalde kunstenaars te akkommodeer. Carike Keuzenkamp se “Hoeka, Toeka” met haar in die uniform van ‘n verkeersinpekteur of iets, en later agter die wiel van ‘n ou tjor – wat soek sy daar? – is ‘n verleentheid.

Al het jy verwag (of geweet) Kurt Darren se “Kaptein Span die Seile” moet die een of ander tyd kom, word dit so aan die hare ingesleep dat jy moet grynslag. “Katryn, Katryn” met drie jong mans al dansende om die permanent benewelde Katryn (Sylvaine Strike) op die dek van ‘n plesierboot was pure “candid camera”.

Sekere tonele hou aan en aan. Jan se uitgerekte selfondersoek voor die spieël het hierdie kyker laat vrees die projektor het dalk vasgehaak. En dan daardie slot, met die twee verliefdes wat op die brug bly rondomtalie soos twee opgewende tolle. Het die arme kinders nie dronk in die kop geword nie?

Oor die radio het die fliekmaker vertel die 24 liedjies waarop die storie “gebou” is, is ná ‘n seleksieproses as die publiek se gunstelinge geïdentifiseer. Nou-ja, goue oues duik op wat ongetwyfeld die hartsnare sal roer. Maar totaal onbekendes maak ook hul buiging met yl woorde en yler deuntjies. Die ene oor die “feksmasjien” (om vir ‘n nooi liefdesversies te “feks”) is ‘n sprekende voorbeeld. Van waar, Gehasi, en wie se gunsteling nogal?

Laetitia Pople het in ‘n resensie in “Die Burger” vir “Liefling” ‘n beskeie twee sterre gegee. Ek het eers gedink sy is dalk te “opstêrs”. Nadat ek “Liefling” gesien het, is Laetitia se goeie oordeel by my bo verdenking.

Ekskuus, maar eerlikheid is tog verkieslik bo die heuningkwas, of nie? (HvD)

KAALBAS IN TAMATIESTRAAT

Middag uit Melkbos

O gonna, Tamatiestraat (wat uiteindelik gister verskyn het) bevind hom nou in gevaarlike geselskap, lyk dit.

Die gifpyle vlieg om die kop Van Griffel Media (uitgewer van Tamatiestraat, en ook my vorige pennevrug, Byl in my Bos). Gelukkig is dit darem, nie oor die HvD-boekies nie, maar ook Griffel se glanstydskrif Pomp 11 wat ook in hierdie dae sy buiging maak.

’n E-pos veldtog is in die omloop waarin Pomp 11 beskuldig word dat hy op sy voorblad “die vrou tot ’n verbruikersartikel verlaag.”
Kerkbode word karnuffel omdat ‘n advertensie van Griffel op Kerkbode se webblad verskyn. Op grond van onverwante webwerwe word die arme Griffel en Kerkbode sommer deur boses aan kinderpronografie gekoppel, wat darem baie vergesog is! Die uitgewer van Griffel, Hendrik Venter, noem die onsinnige bewerings tereg “onverantwoordelik, domastrant, lasterlik en ’n leuen”.

Op die omstrede omslag van Pomp 11 verskyn ‘n skildery van ‘n nooientjie wat a la die ou-ou Afrikaanse liedjie gaan water haal daar onder by die dam, maar dan, anders as in die liedjie, slegs met ‘n Voortrekkerkappie op die kop!

Venter betoog “die naaktheid van die meisie simboliseer die emansipasie van die Afrikanervrou … ’n simbool van die durf, deursettingsvermoë en sterk karakter van die Afrikanervrou.”

Ek gaan nou hier ‘n geheimpie verklap oor Tamatiestraat, en sal dit dan maar op die kinnebak vat as dit kom. In Tamatiestraat is naamlik ook ‘n mooi kaal meisie. Sy draf met net ‘n fladderende waslappie voor haar naaktheid totaal onbeskermend uit ‘n badkamer.

Of sy ook die “durf en emansipasie” van die Afrikanervrou simboliseer? Nee, dit sal ek nie beweer nie. Sy’t net vrek groot geskrik toe die aarde skielik om haar begin rammel, skud en skeur terwyl sy in ‘n vreemde huis in ‘n warm bad ontspan.

Die arme kind was nou ferplie kaalbas in Tamatiestraat!

Sensitiewe lesers hoef nie te vrees dat ‘n foto van die Tamatiemeisie in die oomblik van haar haar vrees en verleentheid in my boekie verskyn nie. Haar verskyning in gemengde geselskap was glo net momenteel. Die volgende oomblik was die ligte af in die chaos van die aardbewing wat haar paniekbevange uit die bad gedwing het. Selfs die huisbaas kon later nie mooi onthou wat hy gesien het of nie gesien het nie – of so het hy beweer.

In elk geval, lees liewer self die boek . Dalk is daar ook ‘n paar ander verrassings aan die kaalnooi-front. Maar niks stout foto’s nie, hoor! (HvD)

* Praat-praat in Tamatiestraat sal binnekort op die rakke van boekwinkels wees (ook die CNA), en natuurlik by Kalahari, On The Dot en so. Hy kos R160,00. Die boek kan ook direk bestel word by Boekblik by die volgende skakel: http://www.boekblik.co.za/pGRIFFEL43/Praat-praat-in-Tamatiestraat.aspx

My lojale vrou, Tokkie, meen dit sal ‘n oulike Kersgeskenk wees, maar natuurlik nie vir my nie, omdat ek die inhoud ken. Ek het hoeka nuwe naskeer nodig.

LOOPBAAN OP DIE VERHOOG

More uit Melkbos

‘n Kabouterkoning in 1952, ‘n energieke klavierspeler in 1956, ‘n dominee in 1957 en ‘n mislukte oudisie as ‘n donkie (een van my beste vriende, wat later ‘n bekende regter geword het, is vir die rol verkies). Dit som so plus-minus my verhoogloopbaan op skool op na my belowende debuut as danser van die Franse minuet in 1947 (vorige blog).

Nee, ekskuus, HvD – ek was in ‘n stadium as voordragkunstenaar nogal gereken en my weergawe van “Wie het ‘n lot wat soos my lot so swaar is?” kon trane in die oë van tydgenote van die vroulike geslag bring.

Dan was daar my rol as Hennerik in ‘n Volkie-weergawe van die bekende radioprogram van doerie tyd Die Mielieblaarklub. Die klub het gereeld by debatsaande in ons matriekjaar aangeleenthede van diepe impak op die skoollewe filosofies ontleed. Hennerik was nie die ster nie, maar tog ….

Die kabouterkoning se rol was nie veeleisend nie. Ek moes bak-arm op die verhoog rondloop en geluide maak soos ‘n verergde bobbejaan s’n. Die rol het my gekwalifiseer vir ‘n satynkostuum wat tog daaraan ‘n sekere gesogtheid verleen het.

‘n Vernamer rol was dié van die prins, met ‘n kleurryker kostuum en heelwat woorde om welluidend te spreek. ‘n Mooier seun het die rol voor my neus weggeraap, al was ek, volgens eie oordeel, ‘n beter proposisie.

Die dag toe ons ons kostuums kry, kom die prins en die kabouterkoning in Nieuwestraat, Potchefstroom, op ons fietse van die skool af gery, elk met sy kostuum in die een hand. Een kyk na die mooi seuntjie agter die kleurryke satyn-kledingstuk van die prins het Ma verbaas teenoor Pa laat opmerk: “Hier kom Hennie met ‘n meisie”. Die “meisie” is vandag ‘n plastiese chirurg, wat steeds na voorkoms die destydse kabouterkoning na die kroon steek. Weet nie of hy onder sy “eie medisyne” deurgelooop het nie.

Die energieke klavierspeler “John (Lover Boy) Massey” was ek in ‘n nagklub-orkes in ‘n mimiekspel in standerd nege. Ons had in ons mimiekgroepie ook ‘n ou met ‘n Hawaiese kitaar wat ek goed onthou, en ek meen ook o.m. ‘n tromspeler. Ek wou altyd graag klavier gespeel het en kon my inleef in die geluidlose spel op die glimmende wit en swart note terwyl die dansplaat op die draaitafel dreun.

My domineerol het ek met onderskeiding gevul, meen ek, buiten op die eerste aand toe ek weens ‘n aanval van verhoog-angs of iets my preek wat oor twee bladsye gestrek het, op bladsy twee begin voordra. Dit het fyn voetwerk gekos om daardie draai gemaak te kry om die begin en die einde om te ruil. Wonder nou nog of iemand in die gehoor dit agtergekom het. Die onderwyseres wat ons afgerig het, het wel. Sy was nie geamuseer nie.

Die rol van die donkie was in ‘n musiekblyspel in matriek oor Ali Baba en die Veertig Diewe. Die rol het my ontwyk omdat ek nie eens noot kon hou as ek soos n donkie probeer balk nie! (HvD)

MINUET TOT MACARENA

More uit Melkbos

Van Brahms tot Los del Rio en van die minuet tot die macarena. Dit is die ver pad wat skoolkonserte in my ondermaanse bestaan van 69 jaar en amper 11 maande gestap het.

In ‘n bloedig warm skoolsaal by Welgemoed Primêr in Bellville het Oupa dit gaan uitsweet by die 6-jarige tweeling se verhoogdebuut. Hul graad R-klassie het ‘n Flintstone-storie opgevoer met dinosourusse en dinge. Oulik.

‘n Ander klassie het laat waai op die maat van lewendige diskomusiek, met allerlei wikkelboud-danse soos die Spaanse macarena wat die musiekwêreld in die midel 90’s soos ‘n storm getref het.

‘n Derde se bydrae was ‘n onderwater-uitbeelding met haaie, seesterre, jellievisse en wat nog. Ook meerminne – pragtige klein meisiekindertjies wat op die maat van Roy Orbison se 1964-treffer Pretty Woman hul lyfies koketterig rondgeswaai het terwyl die diskoligte swiep.

Hierdie gryse se gedagtes is ver-ver teruggevoer – sy eerste skoolkonsert, Laerskool Diamantveld in Kimberley in 1947. Die uwe was in sub A. Ons klassie het ook danspassies moes leer vir die groot aand, maar – hoe het die wêreld nie verander nie! – dit was die grasieuse, romantiese minuet wat ons elke pouse vir weke der weke moes inoefen.

Op die pragtige Brahms-wals opus 39 nommer 15 (het julle al Wessel van Wyk dit hoor speel?) het ons ge-een-twee-buig, -een-twee-buig op 3/4 maat. Statig. Stadig. Stylvol. Ons kostuums was swierig en deftig soos in ‘n Franse balsaal van die 17de eeu.

Daar is dalk al ‘n saadjie geplant wat later uitgeblom het tot ‘n smaak en liefde vir klassieke komponiste soos die beroemde drie B’s (Beethoven, Bach en Brahms) en ander swaargewigte.

Maar vandag se kleingoed word gevoer op ‘n musiekdieet van Latyns-Amerikaanse ritmes. Ai, ai, ai. (HvD)

EK ONTHOU, EK ONTHOU …

Middag uit Melkbos

Gepraat van ou meisies: in my versieboekie Polisie, Polisie, Ons Reënboog is Geroof (Tarlehoet, 2003) het ek vantevore ook die onderwerp aangeroer, met ‘n goeie skoot vrugbare verbeelding daarby.

Verbeelding of nie verbeelding nie, die slotsom is dieselfde as in die blog hieronder. Daardie buiging na my vrou (wat van Bultfontein kom) in die laaste vers het dus in minstens die laaste sewe jaar konstant dieselfde gebly.

Hier’s die bewys:

Herinneringe

O, ek onthou die rats gimnassie,
pronknooi van die dorp Makwassie
wat ‘n aand van louter passie
daar op die klapperhaar-matrassie!

Toe kom ‘n nooi van Cullinan,
‘n skitter-diamant soos min,
en ook ‘n stukkie Welkom-goud –
‘n regte skat en heerlik stout!

Die orrelis van Berg-en-Dal
soos sy kon terg, sy maak jou mal;
uit Hertzogville, bedees en stil,
kom een met hartstog – en ‘n wil!

Die strenge een van Botrivier,
party dag sy’s bra bot en suur,
maar, boeta, dit was puur plesier
soos sy kon toor op haar klavier!

‘n Bondel energie uit Vryheid
had altyd vir ‘n vrytjie ty-heid;
vergeet ook nie daai turbo-outjie –
Bikininooi van Amanzimtoti!

Maar my nooi van Bultfontein,
vir haar het ek nou goed getryn
(of sy vir my, ek sal nie stry)
dié dat ek nou die Heer kan dank
vir lewenslank se samesyn!
(HvD)