‘N PAP-WAT-NOU-WEER?

Naand uit Melkbos

Van papsmere en dies meer weet hierdie ou – soos die meeste mans, sou ek raai – niks, maar helemaal niks.

Die grappie hierbo wat my vandag per e-pos bereik, herinner my egter aan ‘n storie wat eintlik te goed is om nie oor te vertel nie.

Dit gaan oor Tokkie, my vrou. Sy is nie juis ‘n selfoon-aanhanger nie. Hare is meesal af. Haar eie nommer ken sy ook nie, omdat, soos sy dit stel, sy mos nooit nodig het om haarself te bel nie.

Myne ken sy wel. As sy ‘n selfoonnommer moet verstrek, is dit altyd myne, nie hare nie.

Op ‘n dag loop ons twee in ‘n winkelsentrum. Trieng-trieng-trieng, kondig my selfoon ‘n boodskap aan.

Ek delf die instrument uit ‘n baadjiesak en druk die knoppie vir “messages”.

Toe ek die boodskap oopmaak, lui dit kort en kragtig: “Papsmeer normaal”.

“Wat’s dit?” verneem sy nuuskierig.

“Weet nie,” antwoord ek, “iets oor een of ander pap-besigheid – maar klink darem na goeie nuus!”

Om ons het mense verbaas opgekyk toe sy skielik vrolik uitbars van die lag. (HvD)

“SCOOP” OOR ‘N TREIN

My liewe Rapport

Geluk met jul “scoop” van vanoggend (3 Oktober) oor die Shosholoza Meijl wat slegs op twee roetes in Suid-Afrika nog loop – en ook slegs in sy duur, weeldeformaat, Die Premier Classe.

Ander koerante, die TV, die radio, nuustydskrifte en wat nie al nie, swyg hieroor soos die graf, hoewel duisende der duisende treinreisigers die laaste twee maande al (korrek!) deur die trein-fiasko ontwrig word.

Dit sluit honderde buitelandse toeriste in, honderde Suid-Afrikaners wat ten duurste pakkette gekoop het waarin ‘n reis of reise met die Premier Classe tussen Kaapstad en Port Elizabeth ‘n sleutelelement was, maar veral duisende, dalk tienduisende, gewone treinreisigers, wit en swart, wat doodgewoon van punt tot punt B met die trein wou/sou reis.

Hoeveel mense sonder werk sit en tande tel weens die wiele wat nie meer draai nie, sal ek nie eens probeer raai nie. Hoe die padverkeer toegeneem het van swaar busse wat al hoe meer slaggate in die teer ry, is ook nogal ‘n vraag.

Ek haal die woordjie “scoop” aan, omdat ek bedoel om sarkasties te wees. Op hierdie nimlike blog het ek al op 13 Augustus oor die gemors op ons land se spoorlyne geskryf. Dis nie ‘n nuwe storie nie.

Ek, liewe Rapport, het in daardie stadium self gesit met R3 000 se kaartjies op die Premier Classe van Kaapstad na George en terug vir my en Tokkie – vir “a journey that will live in your memory long after the trip has ended”, aldus die (peperduur) glansbrosjure. Ons moes maar inderhaas alternatiewe reisplanne maak.

Om die een of ander rede het die land se media die storie bly misvat. Geen fotograaf en verslaggewer was ooit, soos ‘n mens sou verwag, op ‘n stasie om met woord en beeld oor die verslaenheid van gefrustreerde reisigers te berig nie. Geen inligting is ooit, soos ‘n mens sou verwag, verstrek oor watter treine loop en watter almal staan nie. Geen ontleding het ooit, soos ‘n mens sou verwag, verskyn van die geldkrisis, en die hondegeveg tussen Transnet en Prasa, wat die kern van die saak is nie.

Slegs klein, verwarrende beriggies het hier en daar opgeduik, wat oningeligte lesers laat vra het: “Is die ‘staking’ dan nog nie verby nie?”

Dit is asof die land se media oor hierdie groot storie – een wat dae op die voorblad kon geloop het – met ‘n blindheid en hardhorendheid geslaan is.

Nee, maar op 3 Oktober ontdek Rapport darem dat net die Premier Classe-roetes tussen Kaapstad en Jhannesburg en Durban en Johannesburg op die oomblik operasioneel is (na ‘n onderbreking).

Die beriggie is ook maar flenterig, met amper meer klem op die gesukkel om inligting te bekom as op die feite, omvang en implikasies. Sou dit nie dalk gehelp het om ‘n reisagentskap te nader nie?

Liewe land, as jy ‘n gryse, afgetredene is, moet jy liewer maar jou bek hou oor hoe dinge nou in koerante gedoen word. Oor die skreiende misvat van Suid-Afrika se groot treinstorie van 2010 sal die klippe dit egter uitroep as almal sou bly swyg terwyl die miljarde, as ‘t, ware in rook opgaan. (HvD)

VAT HULLE, MEDIA-TRIBUNAAL!

More uit Melkbos

Bring die mediatribunaal dat ons die bokkers kan vasvat wat persvryheid so misbruik! Dis Sewende Laan se Hillside Times wat ‘n mens amper van die spoor af dwing om so te voel.

Soos Sanjay en Linda darem al saamgesweer, gespioeneer, onder vals name gevaar en gelieg en -bedrieg het om Bright Star aan die pen te laat ry maak van koerantetiek ‘n grap. (Linda is natuurlik nou weer holderstebolder terug Kaap toe, maar die stoere Sanjay bly vreesloos sy ding doen.)

Nou kyk, Bright Star (en Gita) is sonder twyfel skuldig soos die houtjie van die galg. Maar daar is maniere en maniere van ‘n storie oopkrap. Respektabele koerantmense is nie ‘n spul bedrieers nie.

In my loopbaan was ek gelukkig genoeg om ondersoekende joernaliste soos Jack Viviers, Freek Swart, Harry Shaw, Max du Preez, Tim du Plessis, Mike van Rooyen en vele meer aan my kant te he. As jy soggend by die kantoor instap en jy sien een van hulle agter sy tikmasjien was die gevoel altyd: Laat vandag gebeur wat wil gebeur, my koerant is reg vir enigiets.

Ek was ook ongelukkig om van my eerste dae by Die Volksblad teen sulke gedugte teenstanders soos Kitt Katzin (The Friend en later The Sunday Express) te werk. As jy kleitrap met ‘n storie sou hy jou gou rede gee om spyt te wees oor jou gesukkel.

Maar hierdie kollegas was sierade vir hul beroep – g’n jakkalse nie.

Wel, Sewende Laan is seepskuim – alles sommer storietjies wat uit die duim gesuig is. Maar is dit regtig nodig om koerantmense so kommin en onderduims (en in die algemeen maar uiters onprofessioneel) uit te beeld?

Meen te se, ou Aggie is omtrent die beste van die vrotsige lot! (HvD)