TOT SIENS, PESTILENSIE!

More uit Melkbos

Die sogenaamde Pest Magic se reputasie as gedugte klaarspeler met alle peste onder die son het ons via Langebaan bereik.

Ons vriendin Rina Koen van daardie mooi Weskus-dorp aan die meer glo daaraan. As sy in die Kaap kom, koop sy ‘n voorraad, onder meer vir Langebaanse restaurants wat sy gereeld besoek. Van ‘n vlieg tot ‘n ek-weet-nie-wat nie swig glo voor die wondertoestelletjie, wat jy in ‘n muurprop druk.

Soos ek dit verstaan, werk dit ultrasonies, d.w.s via die huis se bedrading versprei dit ‘n sein wat die senuweestelsels van die meeste peste en plae so irriteer dat hulle die wyk neem.

Wel die trae lente van 2010 is op pad (soms wonder ek of dit nie vir altyd gaan wegbly nie), en met die lente kom ongewenste dinge wat zoem, vlieg, op jou neerdaal, in jou wyn val en in die algemeen ‘n oorlas van hulleself maak.

Omdat ons nie in ons huis nie enige knaagdier-verwante troeteldiere soos marmotjies of hamsters (selfs bobbejaanspinnekoppe!) aanhou nie, is ons kandidate vir die Pest Magic-resep.

Tokkie gaan koop een – R200 nogal, maar dan kry jy darem ene present.

Voordat sy haar kredietkaart oorhandig, wil sy ‘n laaste bedenking uit die weg ruim.

“Is jy seker dit werk met alle peste?” wil sy weet.

“Alte seker, mevrou,” antwoord die verkoopman vol selfvertroue. “Gee hom net ‘n maand dan is die hele lot weg.”

“My man ook?” vra Tokkie.

Die arme man stotter en begin beduie dat mans gelukkig (of ongelukkig) Pest Magic-bestand is. Toe bars die rakpakker uit van die lag en red die stomme man van sy verleentheid.

Ek dink ek het rede om geaffronteerd te voel. Maar nou ken ek my vrolike vrou. (HvD)

HAAI, WIE’S DAAI?

Hubert de V. Coetzee

Hubert de V. Coetzee

More uit Melkbos

Onthou julle die knock-knock-speletjie?

Knock-knock, kom dit van die een.
Who’s there? vra die ander.
Hendrik.
Hendrik who?
Hen druk en daar le die eier,
of
Hen druk maar die eier wil nie uitkom nie.

Na die verkrummeling van John Vorster se politieke loopbaan, was een weergawe:

Knock, knock.
Who’s there?
John.
John who?
In ‘n nabootsing van Oom John se kenmerkende diep stem: Het julle my dan so gou vergeet?

Wyle Hubert Coetzee, vermaarde oud-grootbaas van die Nasionale Pers, sou dit wel vanoggend ook kon vra: Het julle my dan so gou vergeet.

Die Burger, van alle mense!

In ‘n berig oor Alba Bouwer (‘n mens is dankbaar dat sy darem onthou word) word gemeld sy was voorheen met Hubert Coetzee getroud.

Hubert wie?

Die Burger verswyg dat Hubert de V. Coetzee een van die blink diamante van die Nasionale Pers was: besturende direkteur van 1966 tot met sy dood in 1969. In daardie kort tyd het hy veel vermag, en sy dood was vir die Pers ‘n pynlike verlies. (Moet byvoeg dat hy ook voorheen ‘n buitengewoon knap redakteur van Die Volksblad was.)

Een van die top-pryse in die Pers waarom die huidige geslag nog ywerig meeding, dra o.a. sy naam.

As ek vandag die redakteur van Die Burger, Bun Booyens, was, het ek iemand uit die venster gesmyt by die Perssentrum in die Heerengracht, Kaapstad. Dalk het ek sommer uit radeloosheid self gespring! (HvD)

SEEREUS SE LAASTE OOMBLIKKE

Middag uit Melkbos

Die moordwalvis (orca) se laaste oomblikke gistermiddag op Melkbosstrand – ironies genoeg nie ver van die gewilde seekosrestaurant Orca af nie! Die foto is verskaf deur die Nasionale Seereddingsinstituut. Sien vorige blog. (HvD)

AAI, AAI, “WALVISBAAI” !

More uit Melkbos

Moenie poer-poer nie. Dis geen nuwe les nie. ‘n Seldsame moordwalvis (orca) by Melkbos het my dit gister egter opnuut geleer.

Skuins na 15:00 het die foto hierbo van die ou grote van buurvrou Una Beukman op my skerm gekom. Hy/sy het naby Slabbert se klippe uitgespoel.

Toe begin ek die foto rondstuur vir vriende en bly met allerlei besig tot 17:00 voordat ons gaan soek. Niks gekry nie, maar vanoggend lees ons in Die Burger die verwydering was omstreeks 16:30. Ons moet net-net te laat gewees het.

Tokkie het moord in haar hart. Sy wou nog altyd ‘n walvis op die strand sien. Toe is hierdie eerste kans wat opduik boonop geen gewone walvis nie. Die vorige orca wat in Kaapse waters op terra firma beland het, was in die jare 60 – ook aldus DB.

My rekenaar-betotteldheid kry die skuld vir die gepoer-poer, en ‘n kans van ‘n leeftyd wat deur die vingers laat glip is. Mea culpa. ‘Skuus, my vrou.

Op Melkbos is ‘n lekker vis-eetplek met die naam Orca. Ek en my vriend Chris Moolman het Dinsdagmiddag daar aan blouneus en silwervis gesmul, terwyl die Atlantiese Oseaan lui-lui aan die wit sand lek.

Toe spoel die orca gister ‘n hanetree van Orca af uit!

Tokkie se luim het later verbeter. ‘n Stuk of vyf walvisse – noorkappers, het ons aanvaar – het teen skemer in die waters voor ons huis le en skommel, hul sterte geswaai en geblaas.

Dit was maar die tweede lente-aand dat ons buite kon sit met my koue wyntjie en T. se whiskey op ys. So windstil was dit dat jy ‘n stuk voeltjiedons op die heining kon neersit. Dit sou net daar bly le het.

Gelukkig het die “idiote in hul bote” gisteraand ook weggebly. Die verbete, indringerige walviskykers is nie juis groter vriende van die natuur nie as die spul wat so ‘n skrikbewind onder die land se renosters voer. (HvD)

NATNEUS-SPEURDERS

More uit Melkbos

Die brigade natneus-speurders op Kaapstad se lughawe gaan ‘n nuwe vuis teen misdaad bykry, lees ek in Die Burger.

Viervoete wat renosterhoring kan uitsnuffel, gaan hulle binnekort voeg by Percy die Duitse herdershond en Ziggy die labrador wat op plofstof spesialiseer, en Cola die springer-spanjoel wat ‘n dwelm-doring is.

Ditsem! Dis juis gedugte honde soos die voormeldes en koerante se voorliefde om stories oor “die mens se beste vriend” te publiseer, wat gelei het tot die publikasie tien jaar gelede van my hondeboekie, ‘n Vriend vir altyd (Human & Rousseau, 2000).

‘n Uitruikstorie in daardie boekie wat my behae verskaf het – wel, al die stories het eintlik! – was van Angus, tweejarige bloedhond, wat altyd sy baas, Nick Harrison van Londen, se rooi pantoffels gaan haal het (getroue ou honne!).

Een Kersfees koop mev. Sue Harrison vir haar man ‘n paar nuwes – baie deftig met ‘n geruite patroon soos ‘n Skotse rokkie.

Die ou paar word in ‘n vullisblik weggegooi, vier kilometer van hul huis af. Maar toe Nick daarna voor die TV skoene wil uitskop, wil Angus niks van die geruite pantoffels weet nie.

Hy verdwyn stilletjies, en loop al agter sy neus aan, oor oop stukke grond, ‘n besige pad en ‘n nywerheidsgebied.

Ure later is hy terug. Die ou staatmakers word, soos voorheen, met voldoening voor Nick neergesit! (HvD)