Oct 23, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Snelbouler I. Nicholson van Zimbabwe het Vrydag teen die Proteas in Benoni 74 lopies in sewe boulbeurte afgestaan, minstens twee lelike veldwerkblapse begaan en toe, op die koop toe, sy paaltjie vir ‘n eendjie verloor.
In die idioom van sportkommentators had die stomme man waarlik
“ ‘n slegte dag op die kantoor”.
Sy l-a-a-ang agtermiddag het my herinner aan my eie “slegte dag op kantoor” op die krieketveld vyf dekades en ‘n ietsie gelede.
Ek was in matriek op Volkies, Potchefstroom, ‘n brose 16 jaar oud en is skielik ontdek as ‘n skraal outjie (ja, glo dit!) wat ‘n krieketbal nogal kon slinger. Ek was pas bevorder tot die nommer-twee-snelbouler vir die eerste span (Antonie Richards, toe in standerd nege, was ons vinnigste man), en was danig in my skik met die nuwe status.
Op ‘n middag speel ons teen Potchefstroom-Dorp. Een van die aanvangskolwers was wyle Harry Newton Walker, Springbok-voorryman met arms soos voorhamers.
Ek kom op my langerige aanloop, trap vas en bestook hom met my eerste blitsbal. Hy slaan die bal minagtend oor my kop vir ‘n ses. Die volgende dryf hy vir ‘n vier. Toe kom nog twee reuse-sesse voordat hy die res van die beurt, genadiglik, verdedigend uitspeel.
Dat my nooientjie Marie langs die veld was om die uwe se vernedering te beleef, het sake nie makliker of lekkerder gemaak nie.
Soos ek “Byl in my bos” oor die ervaring skryf, het dit die jongeling ten minste nederigheid geleer. Miskien moet I. Nicholson uit daardie woorde moed put. Hy sal werklik nie in die toekoms ‘n tekort aan nederigheid kan hê nie! (HvD)
Oct 22, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
‘n Volstruisversie vir ‘n vinnige lesie in die naweek:
Ou volstruise, baie hartseer,
hoor die afskeidswoorde weer:
“Stoffers is julle …
en tot stoffers sal jul wederkeer.”
(HvD)
Oct 21, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

FOTO 1
More uit Melkbos
Dat ‘n mens nooit te oud word om te leer nie, is ‘n waarheid wat hierdie gryse amper-70-jarige steeds van tyd tot tyd (soms pynlik) van bewus gemaak word. Dat die prikkel tot nuwe kennis soms verrassend kan wees, kan hy eweseer van getuig.
Tot gister was die Gestalt-teorie vir my Grieks, en het die begeerte om meer daarvan te wete te kom, nie juis verterend in my boesem gebrand nie. Toe herinner ‘n illustrasie in Buite-Burger my egter aan iets uit my studentejare, en sit dit ‘n proses op tou wat my by (vir my) ‘n interessante ontdekking bring.

FOTO 2
Die illustrasie in Buite-Burger was by die rubriek Fotowenke hierby (foto 2): ‘n skets van twee gesigte aan weerskante en ‘n skynbare kelkie in die middel.
Dadelik maak my geheue ‘n sprong terug na 1959, meer as ‘n halfeeu gelede, en die voorblad van my Tukkie-koshuis, die een en enigste Kollegetehuis, se huisdinee op 12 September van daardie jaar. Ek en my vriend Piet Henning van Louis Trichard was vir die spyskaart verantwoordelik.
Ek het my en Piet se produk gaan uitgrawe, en – kan jy glo? – die voorblad is feitlik identies aan die skets by die Buite-Burger se rubriek. Kyk foto 1 hierbo.
Die ooreenkoms is merkwaardig – die kelkies is feitlik eenders, buiten dat die huisdinee s’n vol vrolike borrels is; die gesigte kom ook baie ooreen, buiten dat laasgenoemde oë en ore het, en die een se hare verklap dat sy ‘n meisie is (‘n mooie daarby).
In sy rubriek in Buite-Burger wil die fotograaf Johan van Tonder weet: wat sien jy as fotograaf wanneer jy na daardie skets kyk – sien jy die kelkie of die gesigte? Die skets, voeg hy by, is een van die bekendste voorbeelde van die Gestalt-teorie, wat probeer verduidelik hoe die brein verskillende afsonderlike voorwerpe in ‘n verstaanbare geheel saamvoeg – as ek hom reg verstaan.
Maar die omslag van die huisdinee se spyskaart dan? Die sleutel moet klaarblyklik opgesluit wees in die Gestalt-teorie, waarvan ek (en ek glo ook Piet, ‘n boerseun wat regte kom swot het) bepaald doerie tyd minder geweet het as ‘n kat van saffraan.
Die nuuskierigheid was nou geprikkel, en ek doen toe wat ‘n mens deesdae doen om sulke raaisels op te klaar: ek tik die woord Gestalt in op Google.
Nou weet ek! Die Gestalt-teorie is al die tyd al van 1890 af ‘n hoeksteen van grafiese ontwerp – die kuns om uit los elemente ‘n eenheid te skep, wat die geheel aantrekliker maak as die afsonderlike deeltjies waaruit dit saamgestel is.
Toe onthou ek terselfdertyd waar ek en Piet ons voorbladskets vandaan gekry het – ons het ‘n kreatiewe argitektuurstudent, Tantor Coetzee, se arm gedraai. “And then,” soos die Engelse sê, “the penny dropped”.
Natuurlik was grafiese ontwerp deel van Tantor se studieveld.
Die omslag van ons dinee se spyskaart is sowaar by Gestalt gegaps. Hoogs intellektueel. En ek ontdek dit nou eers. Bid jou dit. (HvD)
Oct 20, 2010 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die pad van ‘n redakteur is nie met rose besaai nie.
Ná ‘n uitputtende potjie met ‘n neurotiese tannie, en later ook met haar ewe neurotiese vriendinne, oor die afwesigheid van nuus in sy blad oor ‘n kleindorpse hondeskou het ‘n Amerikaanse redakteur by die mashoof van sy koerant die raaiselagtige anagram THWTB begin plaas.
Op navraag oor die betekenis was sy verduideliking: The hard way is the best. Later is onthul die eintlike betekenis was: To hell with the bastards!
Ja, lesers kan uitmergelend wees.
Party redakteurs kies die lafaard se pad en slaan op vlug. In my boekie Praat-praat in Tamatiestraat wat op pad is, vertel ek van so ‘n ou uit n vorige generasie – toe ons nog so half Hollands gepraat het in hierdie land. Hy had ‘n nagmerrie waarin lesers hom verskreeu oor allerlei, van groot pampoene tot die sleep van ‘n trourok. “De volgende morre,” eindig die storie dan lakoniek, “het hij sijn ampt bedankt!”
Ek het hierdie stories en ander gaan opgrawe in my boekie Flaters en Kraters (hierbo) wat in 1996 verskyn het, n.a.v. die nuus dat die redakteur van die te stigte pro-ANC koerant, New Age, Vuyo Mvoko ‘n dag voor die eerste uitgawe bedank het.
In sy geval kon veeleisende lesers nie ‘n rol gespeel het nie. Daar was dan nog nie lesers nie. Miskien moet ons die rede vir sy bedanking soek in ‘n ander storie in FenK: die pittige aanhaling van ene Robert McHugh.
McHugh verklaar dat almal glo ‘n koerant moet onverskrokke sy sê sê, en, as bewys daarvan, elke dag ‘n redaksionele opinie moet uitspreek. “Klaarblyklik neem hierdie benadering nie die embarrasserende moontlikheid in ag nie dat daar dae kan wees dat selfs die mees ingeligte redakteur sonder ‘n sinryke idee sal wees wat die moeite werd is om uit te spreek.”
Ek wil nou nie ligsinnig wees nie, maar dalk het mnr. Mvoko in sy eerste uitgawe ”mvôkol” te se gehad!
Nietemin, sy bedanking die dag voor verskyning moet die een of ander rekord wees. Tot dusver was die kortste redakteurskap aan die uwe bekend (dis ook in FenK) dié van Ken Owen, eerste redakteur van Business Day. Dié latere suksesvolle redakteur van o.a. die Sunday Times het ná net vier dae ‘n ander pos gekry.
Voorheen is die rekord gehou deur Martin Spring wat 17 dae lank die redakteur van The Citizen was.
Ns. Flaters en Kraters is al lank nie meer op die rak nie. Hierdie is dus nie ‘n verskuilde bemarkingspoging vir hom nie. Tamatiestraat is nog nie op die mark nie … (HvD)
Oct 19, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
‘n Satussimbool verklaar die HAT, is “ ‘n uiterlike beeld van ‘n persoon se vernaamheid, bv. ‘n swierige motor, deftige kantoortapyt.”
Die swierigheid van jou huis weerspieël gewis jou stand (of ten minste die stand van jou bankrekening). Ook jou gholfklub. Jou horlosie. Die handelsmerke van jou klere en skoene.
Selfs jou vrou (die sogenaamde “trofeevrou”), of die koffiewinkels waar jy of sy rondhang.
As jy baie ryk is, is die fabrikaat van jou private vliegtuig sekerlik ‘n simbool van jou status – en as jy net welvarend is, die feit of jy eerste klas vlieg of “net” besigheidsklas.
Maar moenie dink dis net ryk mense wat statusbewus is nie. In armer gemeenskappe is die besit van ‘n selfoon dikwels die groot onderskeid tussen “hetters (haves)” en “nie-hetters (have nots). Agtergeblewenes in lande soos Rusland en China heg groot waarde aan ‘n beskeie pakkie Marlboro-sigarette.
In die 80’s was ‘n pakkie Marlboro in Rusland ‘n omkoopgeskenk duisend. Dit het vir ‘n mens (ook vir die uwe) byvoorbeeld toegang verkry tot restaurants waar jy sekondes tevore by ‘n toe deur bot weggewys is.
My swaer Fanie wat in ‘n aftree-oord woon, het agtergekom dat jy in daardie wyke aan ‘n eie stel maatstawwe gemeet word. Hoeveel hartomleidings jy al gehad het, bepaal onder meer of jy byhou by die Vannermerwes (“keep up with the Jones’s”) of nie. Ook hoe groot jou skoonseun se plaas is. En in hoeveel lande jy al voet gesit het.
Die slegte nuus uit Penguin Place 11 is dat HvD geskeduleer is vir n heupvervanging. Die proses om daarby uit te kom, het my met nuwe statussimbole laat kennis maak. Die kritieke vrae is “watter dokter”, “watter hospitaal”, “watter tegniek” (word dit “ingekap” of nie)?
Ek het altyd geglo die beste hospitaal vir jou, soos die beste skool vir jou kinders, is die een die naaste aan jou huis. Aikona. Jy kan bors uitstoot as die regte man met die regte tegniek in die regte hospitaal in jou geval die skalpel gaan hanteer, al moet jy ook daarvoor lang togte aandurf … en dubbel betaal.
Ja-nee, jy voel die status deesdae as’ t ware aan jou bas!
Die groot nee-nee is om ‘n knie-man jou heup te laat vervang of ‘n heup-man aan jou skouer te laat opereer. Pleeg jy so ‘n dwaasheid moet jy maar jou bek hou waar oor dokters, hospitale en snytegnieke gepraat word. Jy is eenvoudig nie in tel nie. Arme sot. (HvD)