LOERIEFEES

Middag uit George

Op soek na ‘n Knysnaloerie? Ek sal jou na ‘n boom verduidelik waar jy eintlik nie kan mis nie.

Toe ons in Februarie in die Suid-Kaap was, was dit voor ons boshut in die Nasionale Wildernispark ‘n ware loeriefees en/of vyefees. Die besem-trosvy voor ons tuiste is druk opgesoek.

Die ryp vytjies was duidelik ‘n lekkerny soos min.

Nou was ons weer in die park. Die boom is nog kalerig, want die winter se byt is nie verby nie. (Vra ons na vier grys, nat dae.) Maar die loeries bly kom, van vroeg tot laat.

Selfs die vrot vytjies op die grond kry oop en bloot sterk aftrek – nogal ‘n verrassing as ‘n mens in aanmerking neem hoe berug skaam ‘n loerie is.

Laas was ons in boshut 28. Hierdie keer was dit langsaan in 29, wat, weens die lekker bome, groter privaatheid bied. Van albei se stoepies af kan jy loeries in die vyeboom na hartelus afneem.

Die besem-trosvy se nasionlae boomnommer is 50, vir diegene wat hom in ‘n boomboek wil gaan soek.

Terloops, my vriend Pierre le Roux van Mosselbaai het my na die kampus van Saasveld-bosboukollege (nou deel van die Nelson Mandela-universiteit van die Baai) en die ou pad van George na Wildernis beduie. Albei bied moeitewerd-ervarings.

Saasveld lyk soos ‘n nasionale parkie in eie reg, en daardie smal paadjie wat so kronkel tussen die ruie bosse deur is werklik ‘n natuurplesier soos min.

Moet net nie haastig raak nie. (HvD)

PROFESSOR GROOTLIEG

Middag uit Melkbos

Vir die Saterdagbylae By skryf ek nie meer briewe nie. Soos ‘n donkie nie sy kop twee keer teen dieselfde klip stamp nie, nooi hierdie gryse koerantman van weleer nie dieselde By om hom twee keer te steek nie.

Dis mos gewoon dom om jou soos ‘n lam ter slagting beskikbaar te stel om uit kwaadwilligheid, onkunde, kwaadwillige onkunde of onkundige kwaadwilligheid getrap te word!

As ek wel nog vir daardie publikasie briewe sou geskryf het, sou ek iets van die hart wou kry na aanleiding van Sandra Troskie se Bysaak vanoggend (Saterdag 4 September) oor “Seks, skandes en mag”, en die onsin wat ‘n sogenaamde “gerespekteerde” akademikus – “een van die mees gerespekteerde” op die kampus – “aan ‘n groepie jong en ontvanklike siele meegedeel het”, soos sy dit stel.

Troskie is duidelik ietwat ongemaklik oor die sappige brokkie dat die moord op dr. H.F. Verwoerd “deur sy eie kabinet georkestreer” sou gewees het. Sy noem dit – in selfverdediging? – ‘n “stukkie sensasionele skindernuus” en ‘n “wilde aanspraak”.

Al bevraagteken sy die “waarheidsaanspraak” sien sy tog kans om sito-sito ‘n growwe versinsel te versprei en haar bron die weelde van identiteitloosheid te gun. Hoekom so gulhartig, Sandra?

Om nie daardie “kleurryke persoonlikheid” (nog een van haar beskrywings van Professor Grootlieg) verantwoordbaar te maak vir sy misleiding van studente met roekelose historiese onjuisthede nie, vind hierdie waarnemer nie besonder heuglik of hoogstaande akademies nie, jammer. Trouens, Troskie kan gerus maar oor die akademiese en morele meriete van sulke wolhaar-skrywes gaan besin.

As sy uit respek, kollegiale lojaliteit, verleentheid of om watter ander beweegrede ookal, nie geroepe voel om die geleerde se masker af te haal nie, sal hy hopelik manmoedig genoeg wees om dit self te doen.

‘n “Gerespekteerde akademikus” is tog nie skaam om in die openbaar pa te staan vir die “waarheid” wat hy in ‘n beskermde akademiese omgewing aan jong grootoog-kollegas en weerlose studente kwytraak nie.

Of is die waarheid dalk in hierdie geval te “kleurryk” om vaderskap daarvan te erken? (HvD)

WAS JY AL DAAR?

More uit Melkbos

Kaap Infanta – die naam het vir my ‘n romantiese klank. Telkens as ek dit op weervoorspellings hoor, het ek gewonder: waar le die plek, hoe lyk dit daar?

Enkele jare gelede het die walvisse ons Witsand toe gelok. Oorkant die Breederivier (mooi breed daar by die mond, moet ek sê ) het Infanta dapper kop bo water probeer hou in ‘n digte mis.

Op Kaap Infanta self het ek egter toe nog nie ‘n voet gesit nie – tot nou die dag. Tussen die De Hoop-hek en die Potberg-hek van die De Hoop-reservaat swaai ‘n pad weg Infanta toe. Op die ingewing van die oomblik vat ek dit.

Ons ry die 50 kilometer of wat, onder meer deur ‘n dorp sonder naam, wat ek later, by ‘n plaaswinkel, vasstel deel van Malgas is, of Malagas, soos sommige padborde nou beduie. Die naam is Diepkloof (foto 3). Mooi, netjiese plek met sy een voet as ‘t ware in die rivier.

Vir my moeite het ek op die pad pragtige Overbergse tonele gesien: enorme skaapkuddes, baie kraanvoëls, groen koring en geel canola.

Op Infanta het die wind gewaai waar hy wil – ons koffietjie was gou koud. Maar ek is bly ek het die plek gesien: dis die naaste aan Buffelsbaai se karakter, wat ek nog raakgeloop het, en diegene wat my ken, weet hoe lief ek vir Buffelsbaai is.

Een ander ding: ek wonder hoeveel Suid-Afrikaners het al daar n voet gesit. Mense foeter mos Afrika in met hul 4×4”s om agterna te kom foto’s wys van slaggate, bedelary, jammerlike armoede en ander ellendes; of ons nie genoeg daarvan op ons eie drumpel het nie.

Maar dan ryg hulle trots die name af van al die vreemde plekkies wat aangedoen is. “Was jy al daar?” “Nee, ek was nie,” moet ek dan maar erken, en my gereed maak vir ‘n bejammerenswaardige blik.

Volgende keer as iemand my die was-jy-al-daar-vraag vra, sal ek gereed wees met ‘n antwoord: “Nee, maar was jy al op Kaap Infanta?” (HvD)

NUT VAN ‘N PETISIE

More uit Melkbos

‘n Magdom woorde word in onkunde neergepen. Myne wat volg, val besmoontlik ook in daardie kategorie.

Na aanleiding van die 509 skrywers se petisie teen die beoogde mediawetgewing het die uwe egter ‘n kwelling, wat hy tog maar gaan uitspreek.

Oor die 509 se goeie bedoelinge gaan dit nie, ook nie om die meriete van die saak waaroor hulle petisioneer nie – natuurlik is dit ‘n kwade inbreuk op die grondwet wat dreig – maar wel oor die nut van so ‘n kollektiewe protes.

Uit beginsel sit ek nie my naam op petisies nie – al is ek dit 101% eens met die strekking daarvan – omdat ek eenvoudig nie glo dat enigiemand hom aan ‘n petisie steur nie.

As koerantman het ek ook geleer jou platform is jou koerant – niks anders nie.

Ek weet in elk geval nie van ‘n petisie wat al die doel bereik het waarmee dit in die lewe geroep is nie. Die ontvangers vee hulle daaraan af. Wat het byvoorbeeld van die petisie teen misdaad geword wat met kruiwaens by die regering aangery is? Ek is ongelukkig onbewus van resultate.

As ek mistas, word ek graag met vers en kapittel op my fout gewys. Ek sal my haas om ekskuus te vra.

Tot dan sal ek bly glo n petisie is eintlik niks meer nie as ‘n instrument om idealistiese mense goed te laat voel. Maar om goed te voel, al is dit net vir ‘n kort rukkie, is natuurlik ook nie iets mee verkeerd nie – dit moet ek darem bysê. (HvD)

REGTE “KONTAKTE”

More uit Melkbos

Met die regte “kontakte” kan jy alles regkry en oral inkom. So glo sommige mos – veral sommige politici (darem gelukkig nie almal nie) van elke herkoms en generasie.

As jy sukkel om by die hemel in te kom: “Man, hoekom bel jy nie net gou vir Petrus nie?”

Die stryd is aan om my geld uit Shosoloza Meyl terug te wurg ná die ineenstorting van passasiersdienste en die opskorting van o.m. die Premier Classe se Oos-Kaapse roete.

Pleks van more op die trein klim (rooi tapyt, verwelkomingsdrankie, deftige kompartement, aandete uit die boek), ry ons nou maar Sondag met die Honda George toe. Dis ten minste goedkoper.

Nietemin, om sy geld terug te kry, is vir die arme passasier ‘n omslagtiger taak as wat dit vir PRASA (Passasiersdienste van Suid-Afrika) ‘n probleem was om sy dienste oornag op te skort en derduisende reisigers te verontrief en ontwrig.

Om te begin, moet ek my kaartjies terugvat Kaapstad-stasie toe, van waar dit na Johannesburg gestuur sal word vir verdere “prosessering”.

Hier kom Mnr. Politikus nou in die prentjie.

Hy is besig om kaartjie te koop Johannesburg toe (daardie roete is intussen weer oopgestel), en verneem belangstellend na my besigheid op die stasie. Ek verduidelik en verduidelik die jammerlike sage, maar hy bly onbegrypend.

“Man, hoekom gaan praat jy nie net met …… nie?” – en hy noem die naam van die grootbaas van die Premier Classe.

“Goeie plan, ou vriend, baie dankie,” wou ek sarkasties terugkap.

Jinne, dat ‘n mens nou so dom kan wees en nie self daaraan kon gedink het om die grootbaas te gaan spreek nie. Hy kon mos maklik-maklik ‘n spesiale trein vir jou gereël het!

“Alte seker, mnr. Van Deventer, bly om van diens te kan wees. Sê net weer hoeveel waens moet ons vir jou aanhaak!” (HvD)