IN BEGRAFNISBRIEF

Middag uit Melkbos

M.M. het lank vir my net een naam in herinnering geroep: Marilyn Monroe, die skattige, blonde, pruilmond-aktrise wat ‘n Amerikaanse president (John F. Kennedy) verlei het, en saam met Tony Curtis en Jack Lemmon in die skreeusnaakse 1959-rolprent “Some Like It Hot” gespeel het.

Algaande leert men. Hoor ek M.M., dink ek deesdae ook aan Mattys Michielse Walters, Swartlander, met ‘n slag vir satire, wat heerlike verse geskep het – ook dramas en essays (Mooi foto hierbo deur Philip de Vos).

Twee jaar gelede, op 26 Oktober 2008, het ek hier oor “ontdekkings” geskryf. Op my letterkundige lysie was onder meer ‘n heerlike stuk humor deur André P. Brink met die titel “‘n Reël is ‘n reël” en die tweede ‘n treffende Audrey Blignault-essay oor Pretoria se jakarandas, met die titel “ ‘n Vrolike lied”, asook herontdekkings soos Ayn Rand se “Fountainhead” en “Paul Gallico” se The Snow Goose, wat in 1957 in matriek voorgeskryf was.

Musiek-ontdekkings (en -herontdekkings) het ‘n wye spektrum omvat – van trefferdeuntjies uit my jeug (Elvis, Pat Boone, Perry Como, Debbie Reynolds Doris Day…) tot die grootse operakore en –arias van Guiseppe Verdi, my gunstelingkomponis vir baie jare, en alle Mozart-musiek. Dit egter net terloops.

My storie gaan eintlik oor my ontdekking van M.M. Walters. Op my bedkassie lê op die oomblik sy versebundel, “ Apocrypha”, wat reeds in 1969 verskyn het. Daarin is tydlose verse oor o.m. ‘n bruilof (“Ek was ook op die bruilof te Kana”), modes (“Die jonges dra rokkies wat konstateer” en “Toe Eva haar tussen die vyebome aantrek”), asook die vrou (“Ek het haar oop mond gesien” en “En sou ook graag wou skryf”.)

Laasgenoemde handel oor sy eie vrou, en die slotwoorde is magistraal: “ A, my vrou is koningsdogter! Maar sy verstaan Afrikaans en sal nie toelaat dat ek stuitig raak nie.”)

My vriend Thys Slabber van Melkbos het “Aprocrypha” vir my vir R7,95 by ‘n winkel vir tweedehandse boeke op Clanwilliam gekoop. Vriende, hou julle oë oop vir n eksemplaar as julle weer tussen ou boeke rondkrap! Betaal ook maar gerus meer as R7,95 as dit moet!

Hoekom Thys juis hierdie bundeltjie vir my gekoop het? Dis nou ook weer ‘n ander storie, wat begin by sy ma se begrafnis enkele jare gelede hier op Melkbos. Op die begrafnisbrief, voor en agter, was twee wonderlike verse. Albei was sonder “erkenning”.

Toe ons uitstap vir toebroodjies en tee, vra ek Thys na die onbekende digter. “M.M. Walters”, antwoord hy toe, “wag dat ek jou voorstel”.

Presies wat die Swartlandse konneksie was, kan ek nie meer mooi onthou nie, maar dit is wat hierdie begaafde skrywer (sy lewe lank onderwyser en dosent in Afrikaans) daardie twee gedigte laat skryf, en hom na die begrafnis gebring het.

Dit was sy keuse dat sy naam nie gepubliseer word nie, omdat hy geredeneer het die kollig moet nie op hom kom nie, wel op die oorledene wie se begrafnis dit was.

Begaafd .. en dan nog beskeie ook.

Nietemin, ek het skielik die vrees dat veral daardie prag-gedig oor “Swartland se grond” op die voorblad van daardie begrafnisbrief verlore kan raak, en dat niemand later sal weet dit is ‘n klein M.M. Walters-meesterstuk nie. Wag, laat ek sommer nou oorry na Thys toe en gaan kyk of hy nog vir my ene het …. (HvD)

IN TAMATIESTRAAT!

More uit Melkbos

Laat my vandag weer die kleed van bemarker aantrek, wat ietwat ongemaklik is omdat dit baie persoonlik is en dus as onbeskeie of ydel gebrandmerk kan word (gebrandmerk SAL word in sekere kringe, ongetwyfeld … dit is maar altyd die geval as ‘n mens jou eie basuin blaas, wat ook al die omstandighede).

Hier’s my storie: my humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat” is uiteindelik aan’t roere nadat verskeie vertragings opgeduik het. Griffel Media (ook uitgewer van “Byl in my bos”) is vasebeslote dat hy ‘n Oktoberbaba moet wees (wel, dalk met so ‘n paar dae speling na die verkeerde kant toe, soos dikwels die geval ook by mensebabatjies is).

In Tamatiestraat is’ n seleksie van (hopelik) humoristiese blogs/stories uit die HvD-stal, wat in die laaste jaar of drie hier, op my eie webwerf, www.hennievandeventer.com/hvdblog of op MyBeeld en in Huisgenoot verskyn het.

‘n Arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy “sterfbed” onder hom uit gekaap. Ouma se rooi nagrok verdwyn geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies. ‘n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.

Stories soos hierdie, dalk onthou julle.

Van die temas wat ontgin word, is die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laat liefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.
Griffel noem dit ‘n “plesierige storiebunde” wat allerlei verleenthede, skades en skandes weerspieël wat die uwe in sy omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het.
Oor daardie”self oorgekom het”, trek ek hier liewer die sluier – koop die blerrie boek, soos Nataniël altyd sê. Maar daar is nogal ‘n paar dingetjies waaroor ek bloos!

Ek hou van humor, en my eerste skryfwerk, onder meer “Scoops en Skandes”, “Flaters en Kraters” en “Oos, Wes – Reismoles!” val ook in daardie kader.

Ek weet hierdie skoot is dalk prematuur – sal nader aan die tyd weer die basuin afstof – maar ek is so bang ‘n vriend of iemand wil ‘n lagboekie as ‘n Kersgeskenk aanskaf, en koop sommer ‘n oue op ‘n rommeltafel omdat hy onbewus is van “Tamatiestraat” se koms! (HvD)

OPGERUIMDE OOMBLIK

More uit Melkbos

Met almal wat gereeld navraag doen oor die welstand van klein Migael wat as pleegkindjie van Johan en Mariza in ons lewens gekom het, en nou nog net op sy ID-boek wag voordat hy amptelik Migael Cornelius van Deventer word, deel ek graag hierdie opgeruimde foto.

As hy en sy ouma Tokkie aan’t ‘speel raak, is die vrolikheid volop.

Die foto is ‘n week gelede op George geneem. (HvD)

GELUK, GOUE NOOI!

Die uwe en Margaret Wessels – Matrieknooi 1991

More uit Melkbos

In snerpende koue in die snerpendste Amerikaanse winter in jare – die “big freeze” het die media dit gedoop – het ek in Januarie 1977 in ons kelderwoonstelletjie in Crimson Court, Cambridge. Massachusetts, ure deurgebring voor die swart plastiekboksie, wat as die Van Deventers se TV-stel moes dien.

Ek was destyds Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit, nogal ‘n taamlike status vir ‘n joernalis om te verwerf, maar ‘n beroepseer wat nie juis deur die bankrekening van die verwerwer weerspieël is nie. Ons huisgebondenheid had ook nog ‘n ander oorsprong: my tweedehandse Toyoto Coronoa Merk II-stasiewa (1992-model) was feitlik daardie hele Januarie op sy oop parkeerplekkie onder ‘n berg sneeu begrawe.

Nietemin, ons kyk toe maar op wintersaande TV op elke denkbare kanaal, en kom in die proses uit by ‘n wedstryd vir ‘n Mej. Junior VSA of iets, waarin van die kandidate, buiten om mooi te lyk, allerlei dieperliggende kwaliteite geverg word. Jy moes op die skerm jou talent ten toon stel – sang, klavier speel, enigiets. Jy moes in sport jou merk maak. Jy moes as leier na vore kom. Ensovoorts.

Foto-albums vir 1982 se finaliste

Dié opset het my geprikkel, en ek het die idee “vir eendag” in my agterkop gebêre. Daardie “eendag” het gekom toe ek in 1980 redakteur van Die Volksblad word. Dié koerant was in sy gemeenskap hoog geag, maar was tog by ‘n sekere seksie jong lesers as die “vaal Boertjie” bekend – n etiket wat hierdie 39-jarige nie geval het nie. In ‘n breë aksie om aan daardie “vaalheid” te ontsnap, is onder meer die Matrieknooiwedstryd gebore.

Ek is met die Amerikaanse konsep na wyle Wynand Mouton, rektor, en wyle Dawfré Roode, een van sy adjunkte, en hulle het die idee gekoop. Ons sou jaarliks begin soek na top-presteerders met vele fasette, en vir die wenner ‘n aanloklike studiebeurs gee.

Daardie boompie wat ons geplant het, het geil gegroei. Dat dit ná dertig jaar steeds groei en bloei, getuig seker dat die wortels gesond gevestig is. Eer en dank aan die res van die span boompieplanters, en eer en dank aan diegene wat die boompie in latere jare natgelei en sorgsaam vertroetel het.

Miskien klink dit onbeskeie, maar ek voel, hier aan die vooraand van my eie 70ste verjaardag, nogal groots oor wat van die Matrieknooiwedstryd geword het, en veral oor die ongelooflike massa intelligensie, talent en ander voortreflikhede wat die koerant en sy vennote deur die jare daarmee ontbloot en openbare erkenning laat kry het.

Later is seuns bygehaak – die soektog is nou na die Matrikulant van die Jaar, en verskeie wenners is van die skeermes-garde. Daaroor het ek my eie (bevooroordeelde) sienswyse – ‘n mooi matriekmeisie is altyd mooier as ‘n matriekseun! – maar ek verstaan die rasionaal. Suid-Afrika het baie verander van 1980 af, toe knap meisies nie juis met beurse oorval is nie.

Op ligter trant onthou ek die jaar toe ek Harold Verster, Vrystaatse rugbybaas, se mooi vrou, Erika, as Matrieknooi-finalis aangesien het. Ek was nogal verleë, hoewel ‘n mens dit tog as kompliment vir Erika kan sien. Ek was ook ‘n ander keer in die verleentheid: die jaar toe Minette Neuhoff van die Meisieskool Oranje ‘n kandidaat was. Die wenner daardie jaar was uit eie reg ‘n ster en waardige wenner. Ek glo egter steeds Minette is een van die beste kandidate in die dertig jaar wat onbekroon gebly het – en ek vrees daar was n bietjie suurlemoensous by ‘n swaargewig onder die beoordelaars.

Ongelukkig kan ek nie a.s. Saterdag die feesdinee in die verre Bloemfontein bywoon nie. Ek en Lukas Theron wat in die jare 90 as grootbaas van Phoenix Motors toegetree en ‘n Volkswagen Golf as wenprys geskenk het (Margaret Wessels was, terloops, die eerste Matrieknooi wat ‘n kar gewen het) sal bepaald hier op Melbosstrand ‘n heildronkie op die goue dertig jaar drink. Die here Van Deventer en Theron is weer ná al die jare lidmate van dieselfde gemeente (die NG gemeente Melkbosstrand) en vriende – sit juis op Vrydag 24 September op Braaidag hier langs die see ‘n vleisie saam op die kole.

Nog iemand met Matrieknooi-wortels woon net ‘n klipgooi van ons af. Sy is ds. Elmarie Wiesner, néé Dercksen) van die NG gemeente Bloubergstrand. Ja, ons wen-nooientjies het hulle in vele opsigte en op ‘n groot verskeidenheid van gebiede as buitengewoon gedug betoon!

SKILDERY VAN STORMSVLEI

More uit Melkbos

Langs die N2 tussen Swellendam en Riviersonderend lê die verlate Overbergse “dorpie” Stormsvlei – ‘n paar ouderwetse geboutjies en murasies onder ‘n plaat bloekombome aan die Sonderend-rivier, wat jy skaars raaksien as jy verbyry.

Draai jy in, is dit soos ‘n ou skildery wat skielik lewe kry en driedimensioneel voor jou ontvou. Voor jou geestsoog skud Stormsvlei sy verlatenheid af en herleef dit as die strategiese klein handelspos op die ou Kaapse waroete, wat dit in die 1700’s, in die tyd van die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, geword en twee eeue lank gebly het.

Voor jou geestesoog sien jy in die nou verlate straatjies die drukke wa-verkeer van vername amptenare van die NOIK, handelaars met pakke vol note, transportryers en vakansiegangers uit die binneland op pad see toe, wat lewe in die dorpie geblaas het, en veral ook in die knusse Stormsvlei Inn, waar gereeld opskoppe gehou is.

Jy sien bedrywige grofsmede en wa-makers hard besig om stukkende waens, voos geskud deur die swak paaie, op te knap en herstel; ‘n kerkie waar die klokke Sondag lui: “kom, sondaars, kom”; ‘n algemene handelaar wat na tabak ruik, ‘n slaghuis, ‘n meule …

Tot in die begin van die 1900’s, hoor jy, was Stormsvlei sommer ‘n woelige dorpie met heelparty inwoners en ‘n sterk ondersteunende distrik, ‘n eie skooltjie, drie berede polisiemanne wat die omgewing te perd patrolleer het (later ‘n motorfiets met syspan) en ‘n poskantoor met ‘n ry posbusse (wat nou ‘n skoonheidsalon huisves).

In 1921 het Stormvlei selfs voor Swellendam “elektrisiteit” gekry, met 110-volt-krag wat deur ‘n ou enjin, aangedryf deur Edison-batterye, opgewek is.

In dieselfde tyd is die Inn deur ‘n regte, egte hotel (Ta’ Mietjie se hotel) vervang, waar die Riviersonderenders graag ‘n snapsie kom maak het, omdat hul dorp in 1925 as ‘n sogenaamde “droë dorp” aangelê is. Stormsvlei was in daardie stadium ook bekend as Stokkiesbaai.

Ongelukkig was dit ‘n Dinsdag toe ons by Stormsvlei (Stokkiesbaai) inswaai – dan is die restaurant (bekend om sy kaaskoek en burgers) en blommewinkel toe. Maar die skadukol langs die skilderagtige riviertjie was die perfekte stilhouplek vir ‘n padkos-broodjie en bekertjie koffie uit die warmfles, al vermoed ek die Van Deventers het op private eiendom oortree.

By die indrukwekkende ou herehuis langs die Sonderend is drie karaktervolle selfsorg-eenhede wat op Engels seker as “rustic” beskryf sou word, en wat vir die geduldige reisiger met ‘n oog vir ou dinge ongetwyfeld ‘n aand van betowering kan beteken.

Die vraag wat my kwel, is hoekom toegelaat is dat Stormsvlei feitlik van die landkaart verdwyn. Vir my lyk dit of die intieme plekkie met sy geskiedenis, sy karaktervolle geboutjies en sy mooi rivierfront ‘n gewilde toeriste-attraksie kon geword het. Dan is dit boonop in die pragtige Overberg (HvD)