Aug 2, 2010 | Hennie van Deventer se Blog


Naand uit Melkbos
Oupa raak skoon oorstelp as die seuns so hol met die bal.
Geleentheid: Jacob en Thomas (6) se eerste “ruggadag” Saterdag in Brackenfell.
Bo is die vlugvoetige Thomas op pad doellyn toe vir een van sy drie driee in twee wedstryde.
Onder vind Jacob spasie. Hy het meer aan die tekkelfront uitgeblink.
Op sy voorkop was n yslike letsel. (HvD)
Aug 1, 2010 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
‘n Selfoon het een eienskap wat dit verkiesliker maak om dit te verloor as bv. jou motorsleutels. Die ding kan kommunikeer.
Sodra jy besef jy het jou foon verloor, druk jy jou nommer. Die geluid verklap ten minste die omgewing waarin jou soektog moet konsentreer.
‘n Vriendin het dieselfde resep gevolg toe sy nie kan onthou waar sy haar foontjie neergesit het nie.
Die arme ding het gereageer met ‘n roggelgeluid asof dit gewelddadig verdrink word of iets.
Dronkgeslaan, het sy haar soektog voortgesit.
Die foon was in haar handsak, maar dit was nie al wat in haar handsak was nie. Die koue, nat, klewerige spul waarin sy haar vinger gesteek het, was die oorblyfsels van haar roomys wat ook tussen neus en ore verdwyn het.
Selfone en roomys akkordeer nie. Sy moes ‘n nuwe kry.
Ander vriende se vermiste selfoon het net een kwaak gegee en stil geraak. Volgende pogings om die verlore instrument te skakel, het op niks uitgeloop nie.
Die volgende besoek aan die vrieskas het die geheim opgeklaar. Die foon het uit die vader van die huis se hempsak geval toe hy oor die vrieskas buk.
Dit was spierwit toe hulle dit kry.
Die moeder van die huis is ‘n kreatiewe mens.Die veryste selfoon is dadelik met die hitte van ‘n elektrikese winterlaken gelawe.
Dit het na ‘n tydjie jubelend sy lui herwin. (HvD)