DIE WATERKOEI MOET BLOEI

More uit Sabiepark

Toe die onaardse lawaai nou die aand losbars, vloog die SMS’e deur Sabiepark: “Hoor die leeus”. Die “ou hande” het besef dit is nie leeus nie – wel seekoeie wat veg.

Seekoeie is vernietigende vegters onder mekaar. Word die dominante bul in ’n trop uitgedaag, veg hy vir sy status – en die erotiese byvoordele wat dit behels! – soos ’n besetene. Só ’n skermutseling word ’n worstelstryd wat met ’n bloedstollende lawaai gepaard gaan.

Seekoeie se geluide herinner my aan trombone wat voor die begin van ‘n simfoniekonsert ingestel word. Die klank van daardie “trombone” trek in ’n gevegsituasie so ver dat dit klink of reuseklankversterkers
dit uitdra.

Van die hewigste gevegte vind op die grond plaas. Soms gryp die vegtendes mekaar egter in die water, net onder die oppervlak. In water is ’n seekoei in elk geval so tuis soos die spreekwoordelike vis. Swem is vir hom tweede natuur.

Boonop kan hy op die rivierbedding vinnig oor die weg kom. Hy hardloop onder water so vinnig soos ’n mens kan loop. En hy’t ’n lang asem. ’n Seekoei kan tot ses minute onder die water bly.

Hou maar dop vir daardie allemintige “gape” waarin die bekke tot 120 sentimeter gerek kan word. Dikwels toon dit aggressie. Die vegtendes wys vir mekaar hul massiewe tande as ’n vorm van intimidasie. En hul byt is erger as hul gaap. As die tande toeklap, stroom die bloed.

Met die lawaai wat tydens gevegte opklink – veldkenners glo dit is
die ergste denkbare lawaai in die bos – kan ’n mens jou maklik misgis. Een skemeraand enkele jare geelede het ek en Tokkie ook die wêreld vol SMS’e gestuur oor die verskriklike leeugebrul” aan ons poorte.

Ek dag die “leeus” hou ’n vleisfees op Tarlehoet se stoep. Die volgende oggend hoor ons by wyle Sipho, destydse opsigter by die piekniekplek,
dit was glad nie leeus nie. ’n Seekoeigeveg het vlakvoor hom op ’n sandbank losgebars. Na ’n gewelddadige onderonsie het die verloorder weggehardloop.

Later die dag gewaar ek en Tokkie ’n donker lyf oorkant die rivier van die
uitkykplatform af. Tokkie reken eers dis ’n renoster. Toe sien ons dis ’n eensame seekoei. Hy stap moeisaam ’n ver ent met die S3 ooswaarts en swenk toe in rivier se kant toe waar hy agter bosse wegraak. Deur die verkyker sien ons die rou wonde aan die kop en skof. Min twyfel dat hy in die vorige aand se geveg die verloorder was.

Gelukkig darem vir ’n seekoei met ’n eina: daardie spesiale sonroom van hom is terselfdertyd ’n wondersalf. Selfs in die vuilste water word
selde smetterige wonde ontwikkel.

Daardie nag is die kabaal eens so erg en langdurig. Die bos word oorverdowend op horings geneem. Dit hou eenvoudig nie op nie. Lank voor sonop is ek en Tokkie in ons kombi, die “Bosbus” wat nou lank ‘n ander eienaar het, in Wildevylaan op en af op soek na die oorsprong van
die verskriklike gegrom en gesnork.

Al het ons 24 uur gelede met die rumoerige klanke van ’n seekoeigeveg kennis gemaak, was ons tog onseker. Was dit nie hierdie keer dalk tog leeus nie? Maar leeus was dit nie; wel weer seekoeie.

So het ons dit op Sipho se gesag. Die onttroonde leier het vermoedelik geweier om te aanvaar dat hy deur ’n jonger uitdager oorwin, verneder en uitgeskop is. Net ’n dag lank het hy sy wonde gelek. Toe dwing sy trots hom terug om die stryd om sy eer en belange te hervat. Tokkie vermoed die tweede was ’n geveg tot die dood. Van die geluide was vir haar “soos die doodskrete van ’n dier wat pynlik sy laaste asem uitblaas”.

Die verslane alleenloper het ons daarna nie weer gesien nie. (HvD)

VYF GROTES-LEGKAART

More uit Sabiepark

Die Vyf Grotes (of die Groot Vyf, as u wil) op een slag – dit is die ietwat ambisieuse Wildtuin-wens van die tweeling-keinkinders Jacob en Thomas Claassens (6).

Hulle sal moet opskud. Die beste wat hulle nog gevaar het, is twee op een slag (renoster en buffel). Ek en Tokkie het ook al olifante en buffels (al twee mooi troppe so saam-saam) en ‘n keer ‘n buffel en ‘n saalbekooievaar (een van die Vyf Grotes van die voëlryk) op een slag gesien.

Die Vyf Grotes op een dag is hoogs haalbaar met ‘n bietjie geluk aan jou kant. Dit kan ons uit persoonlike ervaring getuig.

Jare gelede is die piekniekplek Hlanguleni in die Wildtuin deur ‘n Parkeraad-amptenaar (nou Sanparke-amptenaar) by my aanbeveel met twee oorredende motiverings: sy aardse, afgesonderde karakter en die feit dat die pad daarheen gereeld die Vyf Grotes oplewer – “tot twee maal op een dag”.

Ons is gek na Hlanguleni. Só ‘n gelukkie het ons egter nog nie oorgekom nie.

Soms sukkel ‘n mens maar om die Vyf Grotes-legkaart te voltooi. Die laaste stukkie of twee bly jou ontwyk. Vanjaar was daardie stukkie wat die Van Deventers net nie kon raakvat nie, die koning van die bos, panthera leo, of te wel die leeu.

In drie weke het ons hope olifante gesien, baie buffels, drie renosters, twee luiperds vlakvoor ons op die pad – g’n leeu van ‘n dag oud nie.

Tot Vrydagmiddag. ‘n Vinnige draaitjie by die Krugerhek in bring ons vinnig by ‘n verkeersknoop. Iewers, hoor ons, lê ‘n luiperd laag op die grond. Die mense in ‘n CL-Mercedes het glo ‘n onversperde uitsig, maar dié beskerm hulle asof hulle lewens daarvan afhang. Die Merc beweeg nie.

Gefrustreerd, ry ons verder. Op die Doispanepad dam motors weer op. Tokkie sien eerste die swartkraagmannetjie langs die pad. Toe kom ‘n tweede uit die bos. Hulle swaai en swenk tussen die motors deur, en ek kry pragtige foto’s.

Later vestig ‘n mede-Sabieparker ons aandag op nege welpies in die rivierbedding – jy sien net koppe en oortjies. Dis ‘n bietjie ver maar die Canon se lang lens maak dit net-net.

‘n Wenk: as jy op die Doispanepad ry, bekyk gerus daardie rivierbedding oorkant die uitdraaipad na die N’waswitshaka -watergat (die S65) deeglik. Rek maar die nekke. Dis nie verniet nie bekend as ‘n Vyf Grote-uithangplek.

Deur die jare het ons self ook al leeus (meer as een keer), olifante (dikwels) en buffels in daardie bedding gesien. Renoster en luiperd is nie ver daarvandaan nie raakgeloop.

En om die Vyf Grotes op jou lysie af te tik – dit bly darem maar ‘n adrenalien-opwekker soos min. (HvD)